Bazaar punk – Brixton Moord en Roof Orkes

Bazaar punk is die Brixton Moord & Roof Orkes se vierde album. Die album is geskryf, verwerk en opgeneem rondom agt tracks wat Drikus “Brixton” Barnard kort voor sy dood in 2015 opgeneem het as konsepte vir ‘n volgende album. Andries “Roof” Bezuidenhout sou daarna luister en antwoorde daarop komponeer. Die tracks was rofweg en vinnig opgeneem, met stem en nylonsnaarkitaar wat deur ‘n enkele mikrofoon opgeneem is, bloot as luisterkopie vir Andries. Dis nooit bedoel as finale opnames vir ‘n album nie. Weens die spontane aard van die opnames en ten spyte van die swak klankkwaliteit, is Drikus se vocals delivery droog, rou en eerlik.

Na Drikus aan breinkanker dood is het die tracks vir jare op Andries “Roof” Bezuidenhout en Gerhard Barnard (bekend as Kapelaan Pat Plank in die band en Drikus se ouer broer) se hard drives gelê. Nie een van hulle het die moed gehad om daarna terug te keer nie.

In Mei 2021 was daar nog ‘n skok. Die band se drummer Louis Graham is aan Covid-19 oorlede. Louis en Drikus se dood het die oorblywende lede van die band laat besef dat ‘n mens maar moet doen wat jy kan terwyl jy nog asemhaal: dat jy moet aanhou beweeg en geraas maak, om Jan Rabie buite konteks aan te haal.

Andries, Gerhard en Ockert “Moord” Greeff (een van die band se stigterslede), wat in Montreal, Kanada woon, het op WhatsApp begin praat oor die moontlikheid van ‘n volgende album. As ‘n eerste stap het Andries begin om Drikus se agt tracks te restoureer. ‘n Program genaamd SpectraLayers is gebruik om die stem van die kitaar te isoleer en die gesuis op die digitale tracks te verminder. Die tracks is heen-en-weer gestuur – tussen Alice (waar Andries woon), Pretoria (waar Gerhard woon) en Montreal (waar Ockert woon). Al drie het studio’s by die huis waar hulle klank kan opneem – in Andries se geval stem, baskitaar, akoestiese kitaar en keyboards; vir Gerhard elektriese en akoestiese kitaar; vir Ockert drums, wat hy met ‘n enkele stereo-mikrofoon in sy kelder en in sy Montrealse band se rehearsal-kamer opgeneem het.

Hulle het ook begin om antwoorde op Drikus se agt tracks te skryf, met iemand wat terugkeer na die dorp waar hy grootgeword het as tema. Hierdie sewe addisionele tracks het hulle ook heen-en-weer gestuur en verwerk. Andries het die album gemeng en voor die tracks gefinaliseer is, is dit aan Willem Möller vir kommentaar en advies gestuur. Willem het die meesters van die finale tracks by Sharp Street Studio in Glencairn behartig.

Die resultaat is ‘n nuwe Brixton Moord & Roof Orkes album met vyftien tracks – “Bazaar punk”.

Stream of download hier.

Produksie

Brixton Barnard: Stem
Roof Bezuidenhout: Stem, akoestiese kitaar, baskitaar, keyboards/programmering, meng
Moord Greeff: Drums
Kapelaan Pat Plank: Elektriese en akoestiese kitaar
Willem Möller: Advies en mastering

Brixton Barnard se stem is in 2014 in Mogale City (Krugersdorp) opgeneem, die res van die album tussen Junie en November 2021, in Alice, Pretoria en Montreal opgeneem. Op 28 Januarie 2022 vrygestel deur Dikeni Records.

Bazaar punk word opgedra aan Drikus Barnard en Louis Graham.

Media

Rapport, 2 Januarie 2022

BAZAAR PUNK – BRIXTON MOORD & ROOF ORKES

[1] DIE SESDE DAG SE EERSTE BEWEGING

Met ʼn Omo-advertensie op die stasie se brug
Verwelkom my tuisdorp my terug
Ek soek bekende gesigte op die perron
Maar dis net laatnag se lywe, net oggend se son
My Liena, my Liena

Hierdie strate van ons het ek lank terug geloop
Hier en daar lê ʼn memory gesloop
Daar is winkels wat moes sterf vir ʼn ander se droom
By die bicycle shop word nou rokke gesoom
My Liena, my Liena

“Vars vis” lieg ʼn plakkaat by die kafee
Dié is mynhoop se wêreld, ons is ver van die see
Ek settle vir Pecks se anchovies op toast
My waitress bring koffie, she is a beautiful hostess
Liena, my Liena

Haar lyf nog vol lente, dit kan by mens spook
Sy vra of ek sal omgee om buite te rook
Beëindig die verhouding met papiertjie en lint
Gratuity in ruil vir een peppermint
My Liena, my Liena

Stop vir ʼn haircut op die pavement
Die barber vra: “Hoe gaan dit?” Ek sê: “Voor die wind,
“Short back and sides en hou maar die top”
He says: “No my brother, then you look like a mop”
My Liena, my Liena

Knip-knip in pare, die skêr se lem
Hy sê dat Orlando die sokker gaan wen
Sy radio skree luidkeels, ek luister maar saam
Tap selfs my voet al ken ek van skaam
My Liena, my Liena

My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
Jy sluimer nog seker, sesde dag het begin

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[2] DUIWELSBROOD

Daar’s ‘n skeur in jou hart
En jy spoeg na die son met geen rede
Die onontbeerlike donker
Die donker wat kom
Kom ongenooid, stiptelik
Noukeurig, in onwelkome groet
Met intieme naakstudies van jou gees
Jou gees en jou bloed
Jou bloed

Hul arbitreer jou beginsels
Jou nood en die taal uit jou mond
Daar is geen kwytskelding vir jou wanorde
Op hierdie opper-allerheilige
Heiligste grond

Daar is samerot in die kelders
En elders in ons soewereine staat
Trap der jeugd Nederduits-Gereformeerd
Literatuur vir die lumpenproletariaat
Ontbind tot in eenvoud, slot en einde van eie wil
Hoereer na vreemde gode en vryheid
As ons kon
As ons sou kon
As ons sou wou
As ons sou wou

Staan rotsvas in jou kruistog
Na die ongerepte vrou
En onstuitbaar in jou peiling
Deur die storm koers te hou
Na die blou-oog debutante
Met die kuislike dekreet
In die passievolle arms
Van die blonde kategeet

Staan kop-uit bo die skares
Hou jou liggie helder skyn
Jou skippie op die water
Vaar voort totdat jy rustig
In bewustelose, onvoldane
Tranerige nietigheid verdwyn

So kom kniel hier langs my, dienskneg
Ons toegewyde slaaf
Aan die dinge wat jou kortkom
Kan ons nog ‘n bietjie skaaf
En slyp aan jou fasette
Ons rowwe edelsteen
Maak toe jou oë, buig jou hoof
Kom dan nou
Ontvang gods rykste seën

(Woorde en musiek: Kapelaan Pat Plank)

[3] WHOLESALE EMPORIUM

Ahmed en son se wholesale emporium
So baie te sien hier, waar sal mens begin
Daar is altyd ʼn man met ʼn baard en gewaad in die hoek
Daar is altyd ʼn vrou met daai mysterious look

Wette bedek haar van onder tot bo
Maar sy lewe defiant, mens sien dit in haar oë
Sy los als aan verbeelding, verbeelding dié ken ek ook
Ek sien al die aand en ek sien al die dans, die wierook

Ek sien hoe die ritme sagkens kom rus op haar heup
Ek sien al haar hande, ek voel al haar greep
Kamers vol glinster, ʼn doolhof gemaak van satyn
Jy kan jouself verloor, jy kan spoorloos verdwyn

Ahmed en son se wholesale emporium
Dis hoogtyd dat ek uit al hierdie ou klere klim
Lankal geweet dit is tyd vir ʼn grênd overhaul
Die klap van my vingers moet al die shots call

Soek ʼn suit soos Belushi, ja pikswart nes my bril
Soek ʼn hemp met ʼn collar, maar sonder die frills
Chelsea se stewels, ʼn hoed om dit als af te rond
Gooi dit als op die toonbank en nou praat ons pond

“The shoes are six hundred, but I’ll give it to you for four
Twenty percent on the suit now, my friend, you know that’s a score
I’ll throw in some cufflinks, a pair of matching socks too
It’s all handmade material and it’s double knitted too.”
Ahmed en son se wholesale emporium

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[4] MET MAIN REEF ROAD LANGS

Hy was te lank ingeperk deur berge en die see
Verfynde fynbos en ontwerpersrooibostee
Nou ry hy noord deur die Karoo en die Vrystaat
Na waar hoogoond en skoorsteen oor die Hoëveld waak

Deur Beaufort-Wes en Bloemfontein
By Brandfort, Welkom en Vanderbijl verby
By Grassmere betaal hy om deur te kom
By Soweto voel hy die eerste oggendson

Wat het hy verloor as hy met Main Reef Road langs ry?
Iets wat hy moet vind het skynbaar padlangs verdwyn
Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?

Nou’s hy weer terug op die Witwatersrand
Met die bekende reuk van winter en veldbrand
Oos-Rand Wes-Rand, hier’s hy nou
Waar kragdrade steeds oor mynhope waghou

Almal hier kom mos eintlik van elders
Kelners, bankiers, hustlers en delwers
Sy anker ‘n steen in Braamfontein begraafplaas
Die M1 se draaie en die torings as sy kompas

Wat het hy verloor as hy met Main Reef Road langs ry?
Iets wat hy moet vind het skynbaar padlangs verdwyn
Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?

Op Robert Broom delf hy in die verlede
Kom op Beyers Naudé weer aan in die hede
Dink aan jou saam met die flikkerlig
Se ritme en die ligte van Mandela-brug

Wat het hy verloor as hy met Main Reef Road langs ry?
Iets wat hy moet vind het skynbaar padlangs verdwyn
Waarna soek hy van Springs tot Randfontein?

(Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout)

[5] VOETSTOOTS

Vir ʼn goeie plek moet jy vroeg op wees
Jy moet als uithaal voor die son, ou bees
Bring jou yskas, bring jou TV
Bring jou toolbox, jou hele CV
Daai exercise bike het jy nog nooit getrap
Jou vrou het nog nooit met daai masjien gelap

Bring die hosepipe uit die tuin
Paving het die gras laat kwyn
Bring die harke, bring die graaf
Boormasjien, elektriese skaaf
Verkoop dit als voetstoots

Ek het een honnerd, ek het twee honnerd, ek het drie honnerd vier
Ek het vyf honnerd, ses honnerd, sewe honnerd, ag
Ek het nege honnerd, tien honnerd, elf honnerd, twaalf
Ek het dertien honnerd, veertien honnerd, vyftien honnerd, ses
Verkoop dit als voetstoots
Verkoop dit als voetstoots

Jy moet altyd weet teen wie jy bie
Jy moet die kopers ken, die wie is wie
Ou Jaap like om ‘n prys op te jaag
Jy moet hom double bluff, voor wen kom waag
Luister my vriend, as jy geld wil spaar
Sit jou emosies hier en jou beursie daar

Want hul’s uitgeslape, wolf tussen skape
Verkoop graag beeskak as rape
Jy moet dit als inneem, jy moet dit raak kan sien
Jy moet mooi oplet, jy moet jou brood verdien

Ek het een honnerd, ek het twee honnerd, ek het drie honnerd, vier
Ek het vyf honnerd, ses honnerd, sewe honnerd, ag
Ek het nege honnerd, tien honnerd, elf honnerd, twaalf
Ek het dertien honnerd, veertien honnerd, vyftien honnerd, ses
Verkoop dit als voetstoots
Verkoop dit als voetstoots

Boeke blaaie, geel gelees
Een ou rusbank, goed gekneus
Filosowe in ‘n boks
Die Rolling Stones se Hot Rocks
Radio wat nog plaat kan speel
Kon dit alles tape en met jou deel

Yo-yo, hoola-hoop
Ice cream se primitiewe scoop
Monopoly en Twister ook
Kyk hoe gister nog by ons spook
Verkoop dit als voetstoots
Verkoop als voetstoots

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[6] STOFDORP

By die eerste stopstraat
In die klein stowwerige dorpie
Waar hy sonder geskal van trompet
In die wêreld ingeglip het
Sien hy die ou vrou en die ou man
In die klein, skewe bakkie raak
Oorkant hom
Aan die ander kant van die stopstraat

Sy met ‘n glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel
Hy met ‘n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die klein, skewe bakkie

By die tweede stopstraat
In die klein, stowwerige dorpie
Waar hy sonder geskal van trompet
In die wêreld ingeglip het
Sien hy in sy truspieël
Die klein, skewe bakkie rukkerig vorentoe skraap
Daar ver agter hom
By die eerste stopstraat

Sy met ‘n glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel
Hy met ‘n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die klein, skewe bakkie

By die laaste stopstraat
In die klein, stowwerige dorpie
Waar hy sonder geskal van trompet
In die wêreld ingeglip het

Sien hy ‘n man oorkant die stopstraat
In ‘n blink, nuwe, swart kar aankom
En hy trek sy oë op skrefies
En steek sy hand uit na die vrou langs hom

Sy met die glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel
Hy met ‘n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die klein, skewe bakkie

Dis nou hy met ‘n grynslag ‘n grynslag van swak sig
Agter die stuur van ‘n klein, skewe bakkie
Dis nou hy met die grynslag, die grynslag van swak sig
Agter die stuur van ‘n klein, skewe bakkie

Sy met die glimlag van oorgee
Na soveel jare van sukkel en swig
Hy met ‘n grynslag van swak sig
Agter die stuur van die skewe bakkie ingewig

(Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout)

[7] ROER

Henne wat kekkel om ʼn tafel kloek kloek
Opgeblaasde plastiek om elke koek
Party is meesters met vetkoek en mince
Als gemaak met liefde, die kerk vat die wins

Ek sê roer die suiker en kaneel
Die deeg staan styf in die plat pan
Koop koffie, kerrie en ‘n rys
Daar’s vars pastei vol wille vleis

Die Consol jar versmoor die vrug
Om vir altyd saam met stroop te rus
Ek wens ons was ook ingelê
Gee nie om wat jou mamma daarvan sê

Wanneer laas was daar souskluitjies in jou kombuis
Wanneer laas het jou oond gevoel hoe brood kan rys?
Sit neer die Rooi Rose, lees Kook en Geniet
Two minute noodles is pure verdriet

Hul staan by die vendusie, elke kerk kry hul beurt
Behalwe die Boeddhiste, niemand wil daai kak eet
Die NG, Hervormd, Pinkster, AGS
Die Volle Evangelie, I forget the rest

Maar roer die eiers en die spek
Die vetjies kan so lekker trek
Die oliebol is mooi gevleg
Die man se maag die middelweg

Sagte brood met harde kors
Sousie op jou boerewors
Klapperballe, moskonfyt
Waatlemoen om aan te byt

Wanneer laas het ek vir jou resep gewys
Wanneer laas het ons saam gebak in jou kombuis?
Bring die potte panne, nou toe, laat ons kook
Ek kry die kaste oop na ʼn moerse gespook

Wie presies maak deesdae ouma se beskuit?
Ek weet sy is lankal landuit met ʼn moerse profyt
Maar hier glo ons nog altyd in kwaliteit
Hier vat ons nie shortcuts, oor niks is ons spyt

Ek sê roer die suiker en kaneel
Die deeg staan styf in die plat pan
Koop koffie, kerrie en ‘n rys
Die Consol jar versmoor die vrug
Om vir altyd saam met stroop te rus
Ek wens ons was ook ingelê
Gee nie om wat jou mamma daarvan sê

Wanneer laas was daar souskluitjies in jou kombuis
Wanneer laas het jou oond gevoel hoe brood kan rys?
Sit neer die Rooi Rose lees Kook en Geniet
Two minute noodles is pure verdriet

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[8] DIE GROOT SKA-BENGA

Sy lyk so fly-fraai, sy sê sy sal my leer
Sy sal my alles wys en ek moet net probeer
Sy sal my optel Vrydagmiddag net na werk
Ek sê, nee mooi man ek sal reg staan op my merk
Wine en dine en sixty nine dis fine
Ek is die groot ska-benga

Sy’t sulke groot oë wat deur jou lyf kan kyk
My kop is vol van prentjies hoe sy sonder klere lyk
Geskape soos ‘n kruiwa, baie seker van haar saak
Ek’s vasberade om ‘n diep indruk te maak
Up for the challenge, ek’s daar
Ek is die groot ska-benga

Ek’s die master van disaster, ek’s geharde hartedief
Ek’s die meester van die peester, ek’s Le Coq Sportif
So check my uit, maar staan net wyd en hou by as jy kan
Ek ken die moves broer, ek werk hom met ‘n plan
Smooth operator, see you later
Ek’s die groot ska-benga

Sy doen ‘n sexy paaldans toe begin die ritueel
Binne vier sekondes flat sit ek met leiband om die keel
Sy sê daar is ‘n kodewoord, ek moet hom nie vergeet
Ek sê dis lekker so, al is dit bietjie weird
In for a penny or a pound
Ek is die groot ska-benga

Sy gryp my aan my hare vas en fluister in my oor
Ek dink dit was die wagwoord, maar ek kon nie lekker hoor
Sy vra of ek van pyn hou en ek wys haar my tattoo
Sy sê ag dit is niks nie, ek sê what you gonna do
Ek’s getrein op pyn en cane
Ek’s die groot ska-benga

Sy trek ‘n snaakse harnas aan en ek wil nog protesteer
Maar sy gee ‘n paar tree terug, begin haar aanloop by die deur
Ek knyp so hard as wat ek kan en vra nog hulp van bo
Verhale van my lewe rondomtalie voor my oë
Inwendige beserings, pyn en lyding
Sy’s die groot ska-benga

Vir twee en veertig ure lank het sy my gal gewerk
En met ‘n tweede asem Sondag toe sy terugkom van die kerk
Sy vra toe ook so ewe of sy my taxi kan betaal
Ek sê, nee, dis beter as die medics my kom haal
En hou maar die gebeure tussen ons
Ek was die groot ska-benga

(Woorde en musiek: Kapelaan Pat Plank)

[9] GETROU AAN DIE WIT BAKSTEENGEBOU

Op die hotel se stoep sal jy niemand hoor roep vir ʼn ronde
Waar ‘n Fox terriër lank terug geslaap het lê nou net ‘n been
Die stoele is leeg die tafels word nie meer gedek nie
Daar is niemand verdiep in ‘n gesellige gesprek nie

In die voorportaal sukkel ‘n TV-verhaal met reception
Daar’s iets fout met die kabel se male en female connection
Hartseer kuns op die muur, but its hardly worth a mention
Die klerk het nie werk nie, the hours they feel like detention

Sy lees maar boeke van Mills en boeke van Boons, sy is romanties
Studeer deur Unisa en droom van ‘n visa na elders
Sy’t ‘n chocolate en ‘n ruiker in ruil vir ‘n spyker reputasie
Deesdae almal se vloerlap, ‘n groot grap vir monde wat fluister

Ek groet haar ordentlik, weet nie of sy my onthou nie
There once was a time when I wished she was mine, maar dit is lank terug
Op die kroeg sit ou Sarel waar ek hom sewe jaar terug gelos het
Op die plek waar ons sorge met shooters by die dosyn gepos het

Hy sê, hoe gaan dit ou maat, daar is niks om te baat as mens kla nie
Dis sy vroeë pension van die myn wat stadig verdwyn oor die counter
In die huwelik getree, maar sy gat afgevee aan beloftes
Ja net twee jaar gehou voor dit alles moes vou in ‘n streekshof

Nou sit hy maar hier, sy breakfast is bier en sy lunch ook
Hy sê, almal is weg, ja, die dinge lyk sleg vir die hotel
By die water, by die mall, sit hul plekke propvol op ‘n Saterdag
Sarel bly maar getrou aan die wit baksteengebou, hoe dan anders?

Die kamers is vol, maar die spoke betaal nie hul rent nie
Die einde wat wag is nie mooi soos ‘n Hollywood prent nie
Die drive-in is dood, slush puppy is SPCA toe
Hy sê, nou toe, laat ons loop, by die off-sales koop ons ‘n bottel

En die bome staan paraat, die denne se granaat lê die straat vol
Hy sê hy’t charcoal en ‘n grid en ‘n flatty om te split, ons kan saam braai
En op sy balkon lyk die middag nou net te helder

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[10] LIENA MONDEGREEN SE FILOSOFIE

Ek is die skewe een
Die skeel een
Dis vir mooi so
Dis vir my goed so

Wie wil nou altyd gelukkig wees
Altyd perfek wees
Altyd aan die pronk wees
Spekvet van al die geluk wees?

Ek is krom en skeef
En nou is ek op dreef
Dis vir mooi so
Dis vir my goed so

Wie wil nou altyd gelukkig wees
Altyd perfek wees
Altyd aan die pronk wees
Spekvet van al die geluk wees?

Ek is die knoffelasem
Die nat ruit wat wasem
Dis vir mooi so
Dis vir my goed so

Wie wil nou altyd gelukkig wees
Altyd perfek wees
Altyd aan die pronk wees
Spekvet van al die geluk wees?

Ek is kwalik meer as spelfout
‘n Lied wat verkeerd gehoor word
The moon that went behind the clouds
The moon that wept behind the clouds
The moon that’s wet behind the clouds

Wie wil nou altyd gelukkig wees
Altyd perfek wees
Altyd aan die pronk wees
Spekvet van al die geluk wees?

Die verkeerde woord is waar ek skuil
Want dit is waar die maan kan huil
En dis mooi so
Dit is vir my goed so

Wie wil nou altyd gelukkig wees
Altyd perfek wees
Altyd aan die pronk wees
Spekvet van al die geluk wees?

(Woorde: Moord Greeff, musiek: Roof Bezuidenhout)

[11] DIE SESDE DAG SE TWEEDE BEWEGING

Mense pak op, die vendusie is klaar
Die meeste trek maar laer by die Spar
Tjoklits vir mammie, biltong vir pa
Sweets vir die kinders wat die sakke help dra
My Liena, my Liena

Steaks groot soos Texas, sakke vol ys
Bier voor die branfien, mens moet jouself pace
Armes wat maar buite rondstaan
Die land en sy kontras sal ek nooit verstaan
My Liena my Liena

Silent gebedjies om die lotto te wen
Om net soos ʼn ryk man in chloor te kan swem
Ek speel ook met nommers, leef met die hoop
Om eendag vir jou ʼn groot huis te kan koop
My Liena, my Liena

Terug op die pavement tussen all sorts
Mense gesellig, kratte vol quarts
Later vandag word die kuier ʼn lem
Kots en verdriet en bloed wat saam swem
My Liena, my Liena

Counterfeit nik-naks in sakke gepak
Die spaza is besig, goed vlieg van die rak
Ek vra vir draw, ja, ʼn sigaret los
Kan nie glo wat ‘n pakkie jou deesdae kan kos
My Liena, my Liena

Ja, party van ons gaan maar hoes-hoes hier uit
Ander neem ʼn cous-cous en vegan besluit
Gister is dood en môre is gesluit
All that now matters is that we’ve got a date
My Liena, my Liena

My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
My Liena my Liena
Mammon se sluimer bring Saterdag se rus

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[12] DEURNAGTREIN KAAP TOE

Krugerstraat se perron, ek en Liena wat lag
Vir passasiers en portiers wat op die deurnagtrein wag
Tasse deur die venster van ons tweedeklas koepee
Spoorlyn langs Kaap toe, Liena, net ons twee

Klerksdorp, Christiana, of Warrenton
Iewers sonder bagasie het jy afgeklim

Hittegolwe vlaktes, aandwind koel af
Die klap van wiel op spoor deur die Karoo in die nag
Hierdie wa ‘n wieg, jy op die bank langs my
Die ontbytghong lui, maar waar is jy

Kimberley, De Aar, of Hutchinson
Iewers, sonder bagasie, het jy afgeklim

Ek kon sien jy wou iets sê, maar jy’t toe weggedraai
Wat kan mens nou sê as jou woorde so wegwaai?

Laingsburg, Worcester, of Wellington
Iewers, sonder bagasie, het jy afgeklim
Laingsburg, Worcester, of Wellington
Iewers, sonder bagasie, het jy afgeklim

Klerksdorp, Christiana, of Warrenton
Kimberley, De Aar, of Hutchinson
Laingsburg, Worcester, of Wellington
Waar eindig ‘n spoorlyn en waar’s die begin?

(Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout)

[13] PIERNEEF-BLOU

Hy bly nou in ‘n woonstel bo ‘n kafee
Dis die meeste wat sy beursie vir ‘n landlord kan gee
Die meubels wat hul hier gelos het kan hy maar hou
Die blou bed word ‘n bank as jy dit vou

Eskom moet maar fokof, die geyser mag heeldag loop
Hy lees in die koerant hoe die regering miljoene stroop
Dit los hom ongemaklik, dit los hom omgekrap
Hy wonder oor die toekoms en die pad wat die land stap

En die lig, die lig, die lig is Pierneef-blou
Dis ‘n kleur waarvan hy nie regtig hou nie
Afrika se son skyn net te blink
Oor die karre in die straat, oor die ou dak se sink

Hy hou nie van die taxi’s, hy hou nie van die middelklas
Hy haat die botterbul van sy eie spierwit ras
Hy haat emigrasie, Brittanje, Australië ook
Hy haat dit dat sy eks se borste nog by hom spook

Hy voel fokol vir oranje, hy voel fokol vir blanje blou
Nkosi sikelel’ en Die Stem kan hul ook maar hou
Hy hou nie van Mandoza, hy hou nie van Theuns Jordaan
Hy hou nie van sy vakansies kleintyd in ‘n karavaan

En die lig, die lig, die lig is Pierneef-blou
Dis ‘n kleur waarvan hy nie regtig hou nie
Afrika se son skyn net te blink
Oor die karre in die straat oor die ou dak se sink

Hy hou van donderstorms en die spore van ‘n trein
Hy hou van mense wat e-tol ondermyn
Hy hou van Hank Williams, the moon wept behind a cloud
Bonnie Prince Billy, hy hou ook van Johnny Dowd

Dit was seker fotoboekies, dit was seker maar Ben Brand
Dit was seker James Phillips en sy hoed se breë wand
Dit was seker maar something in Sundays you feel alone
Dis seker maar sy lot, ja, no direction home

Hy hou van die lente as die bytjies die blomme roep
Hy sit op sy balkon al voel dit soos ‘n stoep
Hogehak se skoene loop nou die strate vol
Hy trim maar aan sy ferns en sy whiskey glas is vol

En die lig, die lig, die lig is Pierneef-blou
Dis ‘n kleur waarvan hy nie regtig hou nie
Afrika se son skyn net te blink
Oor die karre in die straat, oor die ou dak se sink

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

[14] VAL

Ek’s jammer dat ek sommer so
Met die deur in die huis val
Dat ek nou weer aan jou dink
Is seker net toeval

Dit val my op dat mense soos ons
Beter met dans as met stap is
Dit val my op dat mense soos ons
Beter met sing as met praat is

Ek skryf mos op papier
Jy skryf in jou kop
Papier verslaan of verval
En notaboeke raak op

Dit val my op dat mense soos ons
Beter met dans as met stap is
Dit val my op dat mense soos ons
Beter met sing as met praat is

Twee brûe het jy verbrand
Vir elke een wat ek wou bou
Maar daai pad het nie brûe nie
Net ‘n kruispad die pad van rock ‘n roll

Dit val my op dat mense soos ons
Beter met dans as met stap is
Dit val my op dat mense soos ons
Beter met sing as met praat is

Lokval van woorde bouvallige klank
Met snaar en pedaal weef ons al lank
Iets wat soveel hegter is
As enige familieverband

Dit val my op dat mense soos ons
Beter met dans as met stap is
Dit val my op dat mense soos ons
Beter met sing as met praat is

Met voete wat soos ons s’n dans
Struikel mens neer
En as jy eers begin val het
Is daar niks wat jou kan keer

Dit val my op dat mense soos ons
Beter met dans as met stap is
Dit val my op dat mense soos ons
Beter met sing as met praat is

Soms noem ons onsself digters
Maar meestal val ons vas in woorde en taal
Mens vind dit moeilik om woorde te vind
As jy konstant so vryval

Dit val my op dat mense soos ons
Beter met dans as met stap is
Dit val my op dat mense soos ons
Beter met sing as met praat is

Maar toe val jy weg en eensklaps en lig
Met ‘n halwe groet en ‘n vraag oor jou gesig
Struikel jy steeds aan die ander kant?
Sê groete vir ou Louis en vir Paul van der Zandt

(Woorde en musiek: Roof Bezuidenhout)

[15] RYM

Hierdie dorp is met heimwee omhein
Vrot mielies in die silo’s
En tering in die myn
Die duiwel het Jesus
Se plek gevat in die wyn
Na die houe by die troue
Moes polisie die saal ontruim
Hierdie dorp is met heimwee omhein

Ek was ‘n skugter digter
In ‘n literêre woestyn
Geworstel met wiskunde
Maar pappa, kon ek rym
Maar is jy effe anders
Word jou pogings daagliks ondermyn
Spoeg hul graag na jou kant
Word jy verneder en verklein
Hierdie dorp is met heimwee omhein
Hierdie dorp is met heimwee omhein

As die donker dag gepleit het
En die son nog moes besluit het of sy wou skyn
Was my oë al lankal wawyd
Met woorde uit die taal uit in my brein
Voor die wasem nog geruit het
Of die ketel mooi gefluit het soos ‘n trein
Voor ons koffie en beskuit het
Marmelade toast gebyt het was dit plein
Hierdie dorp is met heimwee omhein
Hierdie dorp is met heimwee omhein

Toe ons tafel en gebed het
En ek skelm gesigaret het, kom daar ‘n sein
Dit was Monitor se nuus ‘n
Gesin het in ‘n sinkgat verdwyn
Ons het konstabel Elias
Wat eerste op die toneel was op die lyn
Vir ‘n misdaad soos die
Is hy en sy span net nooit getrein
En die dorp is met heimwee omhein
Hierdie dorp is met heimwee omhein
Hierdie dorp is met heimwee omhein
Hierdie dorp is met heimwee omhein

Bravade, tou en flitslig
Maar die soektog en sy geesdrif het gou gekwyn
Die gat was net te wyd
Diep en donker, soos ‘n drein
Hierdie dorp is met heimwee omhein
Die honde sing die koortjie
Ek help maar met die refrein
Die kafee het nie John Rolfe
Nou rook ek maar Rembrandt van Rijn
Ek kon iewers in die song
Nog ‘n sin gebruik wat eindig met die woord “pyn”

(Woorde en musiek: Brixton Barnard)

© Brixton Moord & Roof Orkes

Derde golf

ʼn Album met gedigte deur Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis, Valda Jansen, Lydia Gittens en Andries Bezuidenhout, opname en musiek deur Andries Bezuidenhout

Vrygestel deur die Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans

Beskikbaar op YouTube, Apple Music, iTunes, Spotify, Deezer, Amazon, Tidal, ens.

Agtergrond

Ses skrywers, waarvan vyf gedigte ook skryf, woon vir ʼn maand in ʼn twee eeu-oue huis in een van die Oos-Kaap se historiese dorpe, oftewel Somerset-Oos. Dít te midde van ʼn grendeltoestand en aandklokreël as teenvoeter vir die derde vlaag Covid-19 infeksies. ʼn Voormalige president word tronk toe gestuur, vir drie dae brand winkelsentrums en fabrieke. Die inwoners probeer om op hul skryfwerk te fokus – ʼn roman, kortverhaalbundels, ʼn jeugroman, ʼn digbundel – maar wonder ook oor wat rondom hul aangaan.

Gesprekke oor aandete, oor skryf, oor als wat besig is om te gebeur. Hulle gaan gemeenskapsentrum toe om ingeënt te word, gaan stap gemasker deur die dorp. Meestal skryf hulle in hul kamers. ʼn Idee begin posvat, die moontlikheid van gedigte opneem, dalk saam met musiek. Aanvanklike twyfel en irritasie, maar dan meld gedigte aan. Nuwe gedigte word geskryf, ou gedigte word uit die argief gehaal. In die versameling gedigte word iets van die tydgreep waarin hul hulself bevind weerspieël, maar ook iets om hul tyd saam mee te onthou.

Binne die bestek van ʼn maand word sestien gedigte opgeneem en musikaal verwerk – die resultaat is ʼn album getiteld Derde golf. Die album is in ʼn ruimte opgeneem waar mense al van 1827 (so ver vasgestel kan word) af woon. Daar word vertel van spoke wat deur die huis dwaal, van daar die verwysing in Valda Jansen se gedig na spoke wat van gedaante verwissel. Die sestien gedigte op die album is soms liries, soms ernstig, soms snaaks, soms kwaad, maar bowenal probeer hulle om spoke te besweer.

Links na regs: Andries Bezuidenhout, Valda Jansen, Mercy Kannemeyer, Lydia Gittens, Sarie Marais-Nell, Salvia Ockhuis

Digterlike temas

ʼn Deurlopende tema is die spanning tussen beskermde binneruimtes en die wêreld daar buite. Mercy Kannemeyer praat oor die intieme ruimte van liefde, maar ook oor hoe ons vanuit ons binnekamers met die wêreld deur middel van sosiale media omgaan – sy skryf oor Facebook, Twitter en Instagram. Sy spot en lag, maar onder die spot draai ʼn ernstiger duiwel rond. Só ook met haar gedig oor feminisme – derde golf feminisme of andersins – ʼn gespot met erns, maar ernstige spot.

Sommige van die gedigte praat direk oor die Covid pandemie, soos Salvia Ockhuis se gedig oor ʼn familielid wat in ʼn hospitaalbed aan die lewe probeer bly, aan ʼn respirator gekoppel. Een van haar ander gedigte – komende van ʼn verpleegster – is ʼn huldeblyk aan kollegas wat op die voorpunt van die linies die pandemie moet terughou.

Valda Jansen se gedig is op Somerset-Oos geskryf en handel oor ʼn wandeling deur die dorp met die plaaslike apteek as bestemming. Die dorp se stil, rustige atmosfeer word teenoor ʼn doodgewone maar traumatiese insident opgestel om iets van daardie spanning tussen ons intieme ruimtes en die wêreld daar buite vas te vang. Engele en spoke praat met die psigiese ervaring van daardie spanning, waarvan ons op ʼn manier sin moet probeer maak.

Lydia Gittens se twee gedigte is ook tydens haar verblyf in Somerset-Oos geskryf. Een handel oor die jeugroman waaraan sy werk, ʼn hermetiese en bondige opsomming van die boek wat besig is om op haar rekenaar vorm aan te neem. Die ander handel oor ʼn kerkgebou in Somerset-Oos, naby aan die Paulet-huis, met ʼn “Reg van toegang voorbehou” kennisgewing bo die deur. Inperking neem baie vorms aan.

Andries Bezuidenhout herinner homself aan tye toe ʼn mens kon reis – ʼn gedig oor ʼn treinrit in Duitsland, ʼn ander oor liefdesbriewe op lughawens. Een van sy gedigte is tydens ʼn rockfees geskryf (die idee van soveel mense op een plek nou ʼn vae herinnering) en praat oor voëls, bome, klippe en die mens se onvermoë om te midde van harde musiek te hoor wat hulle aan ons probeer sê.

Salvia Ockhuis neem een van haar gedigte op.

Musiek en klankontwerp

Die stemme vir die sestien gedigte is in die sitkamer van die Paulet-huis in Somerset-Oos opgeneem. “Dis ʼn pragtige akoestiese ruimte,” verduidelik Andries, “so ʼn groot vertrek, met houtplafon en vloerplanke, matte en sagte meubels.” Andries het ʼn tydelike ateljee met mikrofone en ander toerusting in die sitkamer opgestel, die gordyne toegetrek en ʼn vuur in die kaggel vir atmosfeer en hitte aangesteek. “In my navorsing oor die meng van klank het ek talle onderhoude met klankingenieurs op YouTube gekyk. Soveel van hulle maak die punt dat ʼn ateljee ʼn vriendelike ruimte vir kunstenaars moet wees. Kunstenaars moet gemaklik voel, sodat hulle van die mikrofone en tegnologie vergeet en sodoende eerder op woorde en die emosionele lading wat dit dra kan konsentreer.”

Die meeste van die gedigte is ʼn paar keer voorgelees en die beste weergawes is uiteindelik gebruik. Sommige is met ʼn klankbaan van tromme voorgelees, ander sonder enige musikale beplanning of begeleiding. “Van Mercy se gedigte is skreeusnaaks en mense in die vertrek het begin lag toe sy dit voorlees. Dit was so ʼn mooi en natuurlike oomblik, dat ek die gelag behou het. Ek dink dit dra by tot die atmosfeer,” sê Andries.

Met die musikale verwerkings wou Andries hê dat die musiek die woorde nie moet oordonder nie, maar eerder die tipe atmosfeer skep wat die inhoud van die gedig onderstreep. Valda Jansen se gedig bevat byvoorbeeld klank uit ʼn video wat sy tydens een van haar wandelinge deur die dorp op haal selfoon geneem het. “Ek was verstom oor die klankkwaliteit,” sê Andries, “as jy mooi luister hoor jy hoe koeie herkou.” Lydia Gittens se gedig oor die kerk is in ʼn katedraal geplaas en Andries se gedig oor die Duitse trein bevat klankgrepe wat op ʼn Duitse trein opgeneem is. “Ek wou landskappe of klankskappe maak waarin die woorde tuis kon voel,” sê Andries.

Wat die instrumentasie betref het Andries die kitaar in sy kamer in Paulet-huis opgeneem en die res is deur middel van digitale sintetiseerders en klankmonsters geprogrammeer.

Oor hierdie proses van gedigte in ʼn album omskep sê Mercy Kannemeyer: “Dit is vir my besonders cool dat poësie in ’n ander formaat (soos ons plaat) vasgevang kan word. Ek wil nou nie ons almal se beuels blaas nie, maar dit maak my opgewonde dat ons ons skryfwerk op hierdie manier kan deel, want dit maak (hopelik!) die speelveld vir poësie wyer. Jy hoef nie tradisioneel te debuteer nie en iets soos ons plaat maak dit duidelik dat dit heeltemal okay is om net pret te hê met poësie (vir my ten minste). Ek beskou myself glad nie as ’n digter nie; ek geniet digkuns en ek geniet dit om te skryf. Boonop voel ek moerse geëerd om saam met my Paulet-huismaats op ʼn plaat te verskyn.”

Die Jakes Gerwel-stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos.

Bydraers

Mercy Kannemeyer is ʼn dokumentêre filmmaker, teater regisseur en draaiboekskrywer. Sy woon in Mosselbaai en was in Somerset-Oos om aan ʼn kortverhaalbundel te werk.

Salvia Ockhuis is ʼn kortverhaalskrywer en digter. Een van haar gedigte het pas die AVBOB digkuns kompetisie se derde prys verower. Sy woon in Kaapstad en was in Somerset-Oos om aan ʼn bundel kortverhale te werk.

Valda Jansen is ʼn joernalis, digter en skrywer. Haar roman “Hy kom met die skoenlappers” is met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon. Sy woon in Kaapstad en was in Somerset-Oos om aan ʼn volgende roman te werk.

Lydia Gittens het as skrywer kortverhale en liefdesromans gepubliseer. Sy woon in Pretoria en was in Somerset-Oos om aan haar eerste jeugroman te werk.

Andries Bezuidenhout is ʼn digter, musikant en skilder. Hy woon in Alice en was in Somerset-Oos om aan ʼn derde digbundel te werk.

Mercy Kannemeyer en Valda Jansen voor die Paulet-huis.

DERDE GOLF

1 · LIEFDE IS – MERCY KANNEMEYER

ice cream sonder brein freeze
soutwater in my mond
die titel van ’n opstelvraag
glitters op ’n birthday kaartjie met ’n surprise noot in
ekstra icing op die koek
’n pers rok na die matriekafskeid
’n hallo-drukkie en ’n hoe-gaan-dit?
Dis ook trane
sweet
bloed
kom

binne om te luister

liefde maak nie vol nie

maar dis warm.

2 · ODE AAN ONS LIEFDE – SALVIA OCKHUIS

Jare gelede het ons
ons name
in twee harte oor mekaar
op ’n akkerboomstam
uitgekerf;

jy het plegtig belowe
jou liefde vir my
sal ’n mooi skildery
van ons lewe saam verf

en dat dit sou bly lewe,
selfs nadat jy sou sterf;

jy het jou aai-hande
soms teer,
soms gulsig
oor die kontoere
van my gewillige lyf
in ’n ontdekkingstog
laat vaar

en met jou oë 
wat in myne staar
romantiese drome 
in my jongmeisiehart
gebaar:

ons weë saam
sou deur
helder sterre gaan
en in die landskap 
van ’n volsirkelmaan,
sou ons oorvloed
brood breek,
– oorstelp van liefde –
dit in mekaar
se wyn week.

Nou word
dié naskrif-gedig
in deurleefde inkverf
uitgekerf:

ons lewe was soms
skaars aan oorvloed,
ons had te dikwels
te min wyn

maar in my oë 
het jy die lig
altyd laat skyn

en al is my hande nou
bruin bevlek,
blou beaard,
verkalk aan’t bewe,

bly fier vir jou
my liefde lewe;

ek sal my bietjie brood
weer met jou breek,
my laaste leksel wyn
deur jou lippe dring,

met my mond die oorvloed 
van ons samesyn besing,

ek sal
die mooiste van my lewe
as ode
aan jou liefde bring.

3 · BEDAGS VERANDER DIE SPOKE VAN GEDAANTE – VALDA JANSEN

Ek sit in stilte
hier in Somerset Oos.

ek stap 
en kruis die stilste strate

bokke loop by my verby
koeie herkou op sypaadjies
langs leë wit kerke

die stilte druis 
tot in my kamer

ek nooi die spoke in
Soms slaap ek met die lig aan.
Wil julle nie liewers iewers anders wees nie? 

Ek raak allergies
vir al die wind en diere 
hier op Somerset Oos
en stap op ʼn oggend apteek toe

By al die stil strate kyk ek links en regs
en weer links
ek kruis die stille paaie

In die dag verander die spoke van gedaante

Ek kyk links en regs en weer links
Voor my lê die breedste wydste kruising

Ek sien die vroue van ver af aan die oorkant
hulle sit plat op die sypaadjie
ʼn kind lê en bak in die oggendson
op die muurtjie bokant hul koppe

ek nader die straat
waar ek moet oor.

alles is normaal
sereen, eintlik
ek is allesbehalwe bang

en loop oor die straat
oppad na die apteek wat niksvermoedend wag

ʼn engel moes tog saam met my gedwaal het

Ek kruis die stilste straat
op hierdie stille dorp 

ʼn engel maak my attent
in die middel van die stil straat
iemand jaag met ʼn leë minibussie van voor af
hy het sy flikkerlig onthou en draai haastig haastig
in dieselfde straat
op dieselfde plek
waar ek moet oor
hy vergeet om op die uitkyk te wees
en jaag reg op my af

maar ek verstar nie.
‘n engel fluister: hardloop hardloop

Die neus van die minibustaxi 
sekondes van my lyf af
sou my kop teen die grond kon klap
   maar het nie
sou my beendere in die stof vergruis het
    maar kon nie

Ek staan aan die oorkant by die sittende vroue en kyk
na die skreeuende bande. Die venster sak. ʼn Gesig loer uit van agter ʼn masker.
Sorry. I didn’t see you.

Ek raas vanaf ʼn veilige afstand
die vroue knik hul koppe in ʼn koor
die kind kyk verstar 

Die gesig herhaal: I didn’t see you.

En ek glo hom. Ek weet dit al te goed:
ek glip ongesiens oor baie strate
wat leeg en breed 
oneindig 
braak voor my lê
ek is onsiende onalsiende onaansienlik
ek glip ongesiens oor strate
waar vreemde vroue stilweg toekyk
stil-stil staar

Die skreeuende bande verdwyn
ek smelt saam met die stof in die lug
groet die vroue en die kind
draai om en stap apteek toe

en laat die engele begaan.

Laat ek maar nie meer alleen stap nie
Ek laat die engele begaan

4 · TRA-TRA-ENIGMA – SALVIA OCKHUIS

Winters woed die Tra-tra
kant en wal
na die brandgloed-somers 
deur die hart van Wupperthal;

maar watter doper het eens
op haar walle gestaan:
waar kry die mooi rivier
haar naam tog vandaan;

sy wat swanger 
aan geskiedenis dra:
hóé heet haar weet
so lig: Tra-tra

5 · WINDRYER – LYDIA GITTENS

Half op die grond
Half in die lug
Vry soos die wind
Sit die monsterkind.

Dood op die grond
Dood in die lug
Vas is die wind
Weg is die kind

                                              ʼn Nuwe jy  het begin’t

6 · MY FACEBOOK IS NOOIT TOE NIE – MERCY KANNEMEYER
(op bevel van Professor Marlene van Niekerk)

Die fabel van Facebook
is vir die mens ’n groot faktor.
Die fanatisme met Facebook
word oral in jou farinks afgeforseer.
Bietjie van als word op Facebook
geopenbaar:
die fat,
die feeks,
die fauna en flora,
die feitlike,
die f*@#^* ding steel my tyd
maar wanneer gaan my crush bietjie haar profile update?

Die feministe (Here, help my!)
die fetisje,
my vingers is al flenters ge-scroll,
maar tog bekyk ek
die formalisme,
die foutiewelike en fratsagtige spelling.
My brein is al fyn en
ag foeitog Vader
my professor gaan ’n floute kry,
ek sukkel om te rym, want
my Facebook is nooit toe nie.

7 · BEDINGING – SALVIA OCKHUIS

Jou naam staan opgeteken
in die Covid-19-register,
ʼn ventilator adem jou:

Maar jou naam eggo veral
in die bidgange
van my hart
waar ek
jou lewe bepleit,
die ononderhandelbare probeer beding:

ek sal
in elke spoor van jou trap,
kort-kort elke asem vir jou snak
en sweetdeurdrenk
jou covidkruis dra
of wat wie ook al
vir jou lewe mag vra:

jy kan nie nou al gaan nie.

8 · DIE WARE LANDSKAP IS EEN VAN ROTS – ANDRIES BEZUIDENHOUT
(Oppikoppi, Augustus 2016)

I

Ons weet julle kan nie Voël praat nie, sê die voëls,
nie enige dialek van Tiptols, Hoogtortel of Hadidees nie.
Nee, al is julle in hoë takke hoor julle nie wat ons fluit-fluit nie
of ons storie nie, want dis nie ons wat uit is nie.
Kyk hoe dans hulle op drum beats. Onbewus van Nonnetjiesuile
wat oorhoofs luister. Dis ʼn tweeter, dis ʼn bass bin
wat skel na bo, stamp na onder en ons nie hoor nie
selfs al bly julle stil, want ons weet
julle kan nie ʼn woord Voël verstaan nie.

II

Ons weet julle kan nie Boom praat nie, sê die bome,
nie Hardekools, Maroelees of Wes-Akasia nie.
Ons waai julle nader, trek ons skouers op
maar julle stel net in skaduwee belang.
Hoor hoe sing en snaar hulle. Daai is ʼn houtkitaar
wat hy sy axe noem. Hy chop en riff, hy saag
maar waag nie om te luister na wat ons sê nie
selfs al bly hy stil, want ons weet
julle kan nie ʼn enkele sin Boom verstaan nie.

III

Ons weet julle kan nie Klip praat nie, sê die klippe,
nie Oergneis, Rotsigs of Platskalie nie.
Ons voel die bass drum beats in ons riwwe.
Julle spring en polka en slaan soms op ons neer
maar ons is nie didaktiese klippe nie
ons praat nie preke nie, maar wou tog waarsku
want ons is die langste al hier en verstaan nou al Voël en Boom.
Voëls lewe die kortste en bome effe langer
met julle iewers tussenin. Gebruik miskien die tyd
om Voël en Boom se woordeskat te leer
want spesies gaan soos tale dood en mettertyd
is al wat aanhou klop maar net ʼn klip en nog ʼn klip
en nog ʼn klip en nog ʼn klip.

9 · TWITTER – MERCY KANNEMEYER

Die blou voël vlieg
deur die lug en
swiep deur al wat
’n slimfoon is.
Terwyl die tesourus
terug moet staan
word ons bietjie vir bietjie
uitgelewer aan opinies oor
tennis
tegnologie
televisie (kan jy glo Days of our Lives is nog aan?)
toneelspel
die toestand van ons land (ai tog!)
en talle tierlantyntjies.
Hoe kan ons die twitter-temporisasie stopsit?
Hashtag ek weet nie.

10 · PAPPA – SALVIA OCKHUIS

My pa het oud geword
en klein en krom:
oor sy gesig en moeë lyf
is in diep lyne
die kronkel-storie
van ’n arbeidslewe
ru en stram geskryf.

My pa se woorde
is aan’t verdwaal:
hy bring te dikwels
sy hande by,
laat verontwaardig 
sy gedagtes
– van sin ontsê –
deur stom vingers gly.

My pa se kyk
het dof geword:
hy sien deur waas
wat vae perspektief 
in die skemer van
sy gesigsveld plaas.

My pa se hande
het hul vasvat verloor,
sy knobbel-vingers
bewe as hy werk;
sy voete loop
’n skuifel-spoor,
hy staan nie meer
voor in die kerk.

Maar as hy stil
sy hande vou
en by sy
Heer gaan sit:
word hy weer regop,
weergalm sy woorde,
skyn sy oë
en als in hom
word helder en wit
– soos altyd –
as Pappa bid.

11 · TOEGANG VOORBEHOU – LYDIA GITTENS

                          Weet HY?
jou witgepleisterde graf.
Dat jy,
in Engeltaal
jou Meerling spreek
tot
banneling.

12 · INSTAGRAM – MERCY KANNEMEYER

Ek Instagram
daarom is ek.
My ingewande word
daagliks ingedril met idealistiese beelde oor iets.
Iets oor impalas
Iets oor immigrante
Iets oor insekdoder
Ek wil insluimer,
maar eers moet ek my foto laai
die regte filter kies (inkwell of low-fi)
die gepaste hashtag
sodat my followers kan weet dat ek my muesli met plein yogurt verkies.
Interessant of ironies
Noem dit nes jy wil
Ipso facto (ek ken selfs ’n bietjie Latyn)
Ek is ek is
inaktief,
want ek is op Instagram.

13 · OP DIE TREIN TUSSEN KASSEL EN WITZENHAUSEN – ANDRIES BEZUIDENHOUT
“er schenkt uns ein Grab in der Luft”

Hiérdie aarde, van bloed en water sat, dink ek
op die trein tussen Kassel en Witzenhausen.
As hierdie land ʼn moddermond oop kon klei, wat sou sy bely?

Moenie aan my raak nie, sal sy sug, ek is kapot, my selle versadig,
gewrigte vol jig, elmboë te stram om ʼn boek te lig. Kyk nie
na my lyf, kniekoppe of heupe nie, maar volg my lippe, kyk stip na my mond.

Op hierdie trein tussen Kassel en Witzenhausen,
watter woorde sou sy my vra om te herhaal?
Jou goue hare, Margaretha? Jou asvaal hare, Sulammiet?

Nee, vir eers slegs medepassasiers se woorde, halfbekend.
Lank gelede is ek uitsgespuug na ʼn ander kontinent. Nou skroei
hierdie oerwoorde nog my tong, beensplinters tussen tande.

ʼn Tonnel, mense flits in bedruppelde spieëls, mondhoeke gerem,
kake moeg van vokale hap, verhemeltes rou van medeklinkers rasper,
nekspiere te mat om antieke woorde te blaf.

Sal ek later vanaand in Witzenhausen ʼn voor ploeg, ʼn bed oopgrawe,
my lyf, ʼn vesel, tussen tande loods saam met soveel stukkies
organiese prulle in klei ontbind?

Vir eers ʼn trein, venster, buite die Europese epidermis
wat niks meer het om vir my te sê nie, behalwe dít:
Tale word nie in monde oud nie, monde word om tale oud.

14 · VERPLEEGSTER – SALVIA OCKHUIS

Nogeens moet haar 
moeë oë
opkyk na die lig,
weg van die snerp
van COVID-19 se kil gesig:

al lê die
olie in haar lamp
lankal veels te vlak
en moet sy te dikwels
onder meedoënlose druk
na asem snak;

al eb haar moed
soms soos die dag
se laaste sonnegloed
weg oor die kim

as donker skadu’s dreigend
uit hul skuilings klim,

bly sy die hoop
wat naarstig glim;

sy weet:
haar moeë oë
op die lig,
haar wil wat aanhou beur
is mede-voorvegter
en pasiënt 
se allerlaaste
verweer;

deur ander se heil gerig
is sy die pandemie
se beeldskone gedig.

15 · AS EK ‘N GROTER FEMINIS WAS – MERCY KANNEMEYER
“I sometimes worry that I wouldn’t be such a feminist if I had bigger tits” – Fleabag.

As ek ’n groter feminis was
sou ek nie omgee oor wat ek aantrek nie
ek sou soggens opstaan
die gemaklikste ding oor my kop gooi
en ’n verskil gaan maak.

As ek ’n groter feminis was
sou ek harder praat
ek sou nie bang wees om
ja of nee of asb of dankie te sê nie
ek sou vir mense sê as hulle
oor die lyn trap

As ek ’n groter feminis was
sou ek seker beter na myself gekyk het
gesond eet minder drink
meer vloek
ek sou alles behalwe poes vloek
poes is offensive wanneer jy nie weet waarvan jy praat nie

As ek ’n groter feminis was
sou ek  my geleerdheid prioritiseer
en seker maak dat ek saam met die groot honde kan blaf.

Ek sou op ’n moerse rots gaan staan
en nie worry oor vet bobene en of my spiere bult nie.
As ek ’n groter feminis was
sou ek dit tot die uithoeke van die aard gaan verkondig

Ek is hier! Ek is hier.

Ek sou ook
dan gaan stap
ek sou
leer swem
meer van myself hou
leer hoe om te bestuur
meer lees
leer mediteer
meer bid
minder worry of feminisme aantreklik is op iemand soos ek.

Nou is ek maar ’n kak gemiddelde feminis

Wat kakker poësie probeer pleeg terwyl die wêreld
ongelyk besig is om te vergaan. 

16 · BRIEF HUIS TOE VERTRAAG – ANDRIES BEZUIDENHOUT

hierdie is geen hawe vir briewe nie, nee
hier hik koffers oor klatermarmer teëls
wip vader ʼn kind wat slukwinde skree
moeder in die badkamer wil om     hemels     naam
vir ʼn oomblik langer handeroom insmeer

nou dink ek aan my en jou
en wat mens met sulke vertrekke vergeet
en onthou, maar die gedagte word deur ʼn selfoon oorrompel
wat die kloof tussen rock en rap net halfpad oorbrug

laat my brief aan jou dan
saam met die wiele by daardie tuig se romp ingebuig
en dan tussen hemel en aanloopbaan hang,
laat luidsprekeraankondigings kras paragrawe kaap

hierdie is immers geen hawe vir gebare nie, nee
dis net aan ware digters wat liefde op lughawens verskyn
en boonop hul briewe daaroor laat rym

Publikasie-erkennings: Mercy Kannemeyer se sosiale media gedigte is voorheen in die Penseel digbundel van 2016 gepubliseer. “Bedinging” deur Salvia Ockhuis verskyn in Maskers en mure (Turksvy Publikasies, 2021) en haar ander gedigte is op LitNet gepubliseer. “Brief huis toe vertraag” deur Andries Bezuidenhout is in Ons Klyntji van 2019 gepubliseer.

Spoorlangs

“Spoorlangs” is Andries Bezuidenhout se vierde solo album. Dit is op 1 Junie 2021 deur DistroKID vrygestel op streaming platforms: Spotify, Apple Music, YouTube, ens.

Waaroor gaan die album?

Andries skryf hieroor: “Spoorlangs gaan oor tipiese Oos-Kaapse stories, oor mense wat tussen Hogsback en Keiskammahoek verdwaal (dis ʼn mooi pad om op te verdwaal), oor klavierlesse op ʼn klein Karoodorpie, oor ʼn man van Skotse afkoms wat sy plaas verloor, oor liefde gewen en liefde verloor, oor mense wat op soek is na rigting op ʼn landskap wat hulle aangrypend mooi vind, maar van vervreem is.”

Produksie:

Sang, instrumente, programmering, opname en meng deur Andries Bezuidenhout; agtergrondsang op “Spoorlangs”, “Klavierles by Mev Kaplan” en “Waarheen vandaan” deur Joey Kok. In 2020 en 2021 in Alice opgeneem, aanvullende opnames in Oos-Londen en Nieu-Bethesda. Joey se stem is op ‘n plaas buite Bela-Bela opgeneem. Klankmeester deur Willem Möller by Sharp Street Studios in Glencairn. Alle lirieke en melodieë deur Andries Bezuidenhout, behalwe ʼn tema van Claude Debussy op “Klavierles by Mev Kaplan”, isiXhosa woorde in “Umasizakhe” tradisioneel en in “Lied vir Dikeni” deur Tiyo Soga. 

Spotify | Apple Music | YouTube | Deezer | Amazon

Media navrae hier.

Mariana Malan gesels met Andries oor die album op Netwerk24 (ook in Die Burger en Beeld gepubliseer).

Fred de Vries se resensie vir Vrye Weekblad, in Nederlands geskryf.

Izak de Vries se onderhoud met Andries oor die album vir LitNet.

Lirieke:

[1] SPOORLANGS

Hierdie storie begin by ʼn huis sonder tuin
ʼn Huis van baksteen diep in die woestyn
Die huis het nie deure of vensters nie
Hier woon ook nie eintlik mense nie

En ek vlug spoorlangs
Ek vlug spoorlangs op die outydse manier
Trein deur die woestyn
Trein deur die woestyn
Trein wat in ʼn lugspieëling verdwyn

ʼn Padkaart is daar vir inspirasie
Dis heel anders as spore en ʼn stasie
Want voete en wiele het hul eie pas
Maar treine is seker die roete vas

En ek vlug spoorlangs
Ek vlug spoorlangs op die outydse manier
Trein deur die woestyn
Trein deur die woestyn
Trein wat op die horison verdwyn

Het jy ook al die klok hoor lui?
Skrif teen die muur, lees vir my
Buitelyne kan ek nog uitmaak
Maar detail het my lankal versaak

En ek vlug spoorlangs
Ek vlug spoorlangs op die outydse manier
Trein deur die woestyn
Trein deur die woestyn
Trein op sand, trein onder ʼn duin

[2] TUSSEN HOGSBACK EN KEISKAMMAHOEK

Draai af dorp-uit by Craig en Lana se kroeg
Die pad is lank, vat padkos, ry vroeg
Daar agter Tim en Ilze se plek versteek
ʼn Mensgemaakte loch en ʼn biblioteek
Eers plantasies dan inheemse woud
Kaapse papegaai en ʼn Piet-my-vrou
ʼn Misbank lig die son loer in
In die vallei daar onder het die dag begin

Ek en jy wat rigting soek
Op die pad tussen Hogsback en Keiskammahoek
Net ek en jy ʼn grondpad en klowe
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo
Iewers tussen Hogsback en Keiskammahoek
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo

Spitsrondawels met skelturkoois mure
Aalwynheinings met grasdakskure
Beeste wat in spikkels teen die heuwels beur
As jy swartwattels uitkap groei geelhout weer
Izingcuka het eens hier geskuil
Soms kan jy hulle nog in die klowe hoor huil
Bo die gesuis van sonbesies hier
Of die stil geruis van die Wolwerivier

Dis net ek en jy wat rigting soek
Op die pad tussen Hogsback en Keiskammahoek
Net ek en jy ʼn grondpad en klowe
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo
Iewers tussen Hogsback en Keiskammahoek
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo

Gedink ons kan afpak gedink ons kan bly
Maar mense soos ons ry net verby
Gedink hier’s ʼn hawe waar ons kan vasmeer
Maar mense soos ons ry maar net deur

Dis net ek en jy wat rigting soek
Op die pad tussen Hogsback en Keiskammahoek
Net ek en jy ʼn grondpad en klowe
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo
Iewers tussen Hogsback en Keiskammahoek
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo

[3] KLAVIERLES BY MEV KAPLAN
(musikale tema deur Claude Debussy)

Klavierles by Mevrou Kaplan op ʼn Donderdagmiddag
Ek loop draaie deur die dorp om Willie Bothma te vermy
Een keer ʼn week oefen ek en Hafiza
ʼn Duet van Debussy op die upright Steinway
Soms luister ons plate, blaai saam deur ʼn boek
Mevrou Kaplan wat die opera voor die oorlog besoek
Ons praat oor museums, oor dae lank verby
Skildery wat in Wene agter moes bly

Mevrou Kaplan ek onthou nou die kandelaar op jou Steinway
In jou huis wat ruik na vla en kaneel
Ons kon luister ek lees en plate speel
Ek kon myself net somtyds ʼn ander wêreld verbeel

Die stuk van Debussy sou ons opvoer in die skoolsaal
Selfs die kerkraad vergader om die reëlings te bepaal
Maar soos als nou maar was, was die oomblik te veel
En moes ek die duet as solo improviseer

Mevrou Kaplan ek onthou nou die kandelaar op jou Steinway
In jou huis wat ruik na vla en kaneel
Ons kon luister ek lees en plate speel
Ek kon myself net somtyds ʼn ander wêreld verbeel

Die sinagoge nou ʼn pakhuis en Kaplans gesluit
Mevrou Kaplan se kinders is lankal landuit
Haar seun in Sidney, dogter in Tel Aviv
Skryf klokslag elke maand darem nog ʼn brief
Aan die weduwee Kaplan in haar Seepunt woonstel
Wat wonder oor Debussy en Karoodorp klavierspel

Mevrou Kaplan ek onthou nou die kandelaar op jou Steinway
In jou huis wat ruik na vla en kaneel
Ons kon luister ek lees en plate speel
Ek kon myself net somtyds ʼn ander wêreld verbeel

[4] FAMILIERUïNE

Hierdie is nie net ʼn straat nie
Dis iemand se sage
Hierdie is nie net ʼn huis nie
Dis ʼn familie se sake
Daai is nie net ʼn roostuin nie
Daar’s wortels en bene begrawe
In elke vloerplank se kraak
Iets waaroor niemand wil praat nie

Elkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin, die middel en die einde

Hierdie is nie net ʼn kamer nie
Dis leggerkas vir onthou
Hierdie is nie net ʼn boom nie
Dis ʼn plek van om dop te hou
Mure beskerm, mure verdeel
Elkeen sal mure anders verbeel
Rug teen die muur, rigting op soek
Elk met ʼn eie invalshoek

Elkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin, die middel en die einde

Welkom by hierdie familiereünie
ʼn Toer deur ʼn bouval, ʼn ruïne
Miskien moet ons mekaar laat weet
Oor die belangrikheid van vergeet

Elkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin, die middel en die eindeElkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin die storie sonder einde

[5] UMASIZAKHE
(refrein uit ʼn tradisionele struggle-lied)

Jou brakdakhuis teen ʼn bult in die Karoo
Luike voor die vensters teen die son daar bo
Kind wat so lees, kind wat so redeneer
As jy eers begin praat sal iets mos gebeur

Thina sizwe se Afrika
Sikalel’ umhlaba wethu

In jou huis op die eiland is jy ʼn gas van die staat
Wat jaarliks ʼn wet vir jou laat pasmaak
Woorde te gevaarlik vir mense om te lees
Woorde wat te diep raak om vry te kan wees

Thina sizwe se Afrika
Sikalel’ umhlaba wethu

Buite die dorp rus jy langs Ma Zondeni
Self vind ek nie woorde om vir jou iets te sê nie

Thina sizwe se Afrika
Sikalel’ umhlaba wethu

[6] DIE BALLADE VAN ANDREW RENNIE PRINGLE

Van die Wildekus wil ek jou vertel
En oor Haga-haga se vakansiehotel
In ʼn linnepak en krawat is Andrew Pringle uitgevat
Sy teekoppie bewe, sy oë groot
Smeer marmelade op sy roosterbrood
Ou tradisie in die Pringle-clan
Om na skeertyd kuslangs uit te span

Andrew Rennie Pringle kyk uit oor die baai
En wonder oor die dag as John Knox hom kom haal
Hoor jy ook die doedelsak en sytamboer se roep?
Die Hoogland se wind het hom hier kom soek

Die Pringles is mos maar ʼn trotse klomp
Al van 1820 af hier in die Oos-Kaap rond
Plase langs die Baviaans
Bou kerke, huise al vallei langs
Sewe generasies al
Vir tweehonderd jaar

Andrew Rennie Pringle kyk uit oor die baai
En wonder oor die dag as John Knox hom kom haal
Hoor jy ook die doedelsak, die sytamboer se roep?
Die Hoogland se wind het hom hier kom soek

In 1986 die plaas aan die Ciskei verloor
Van die landgoed van weleer
Bly nou net die grafte oor
In sy kamer in die Quigney deesdae
Skeer hy voor ontbyt
ʼn Gentleman-boer vol gentleman verwyt

Andrew Rennie Pringle kyk uit oor die baai
En wonder oor die dag as John Knox hom kom haal
Hoor jy ook die doedelsak, die sytamboer se roep?
Die Hoogland se wind het hom hier kom soek

[7] DIE VOLGENDE OGGEND

Ek het sopas wakker geword
Nou’s hier vreemde mense rondom my
Asbakke, bottels, stukkende bord
Glasskerwe en elke ander cliché
Het gelees toe aan die slaap geraak
Wakker geword en dors geraak
My pad na ʼn kroeg om die draai gemaak
En toe met jou aan die gesels geraak

Spyt kom nooit te laat nie
Met my is dit altyd betyds
En as jy vanoggend nog hier was
Sou ek jou spyt kon wys

Gunsteling musiek op die jukebox
Die wêreld se probleme opgelos
Oor gedigte gepraat, jy weet nos
Boeke, films, die mens, die kosmos
Hoe jou hare oor jou ore val
Maak my vanoggend mal
En of ons nie gisteraand dalk wou trou nie
Kan ek nie vanoggend meer onthou nie

Spyt kom nooit te laat nie
Met my is dit altyd betyds
En as jy vanoggend nog hier was
Sou ek jou spyt kon wys

Vergeet om asseblief te sê
Ek dink ek het vergeet om dankie te sê
Miskien vergeet om goeienaand te sê
Vergeet om totsiens te sê
Ek dink ek het vergeet om jou nommer te vra
En vergeet om jou naam te vra

Spyt kom nooit te laat nie
Met my is dit altyd betyds
En as jy vanoggend nog hier was
Sou ek jou spyt kon wys

[8] DUSKANT DOODSTIL

Halfpad wakker en halfpad aan die slaap
Is nie dieselfde plek nie, maar newels waar
Prente versin word en wysies begin sing
Die woord tussenin is die woord aan die begin
My gunsteling kleure is telkens verdun
Die mooiste klank net duskant doodstil
Die sekuurste harmonie net-net nootvas
Jou diepste verlang na waar jy net vinnig was

Daar’s soveel te sê vir die boom en die bas
Die diep blou see, die os op die jas
Die beste idee sit tussen wis en onwis
Die derde wiel is waaraan die as vas is

Van ompaaie hou ek, ry selde direk
Die oopswaai van ʼn plaashek soveel meer pret
As jaag voor die wind, jaag teen tyd
Verdwaal is maar hoe ek my rigting vind
Meestal het ek nie antwoorde nie
Soms ook nie eers die regte vrae nie
Ek hou baie van stories maar sonder punt of boodskap
Van hoe lig weerkaats teen ʼn muur of ʼn staandak

Daar’s soveel te sê vir die boom en die bas
Die diep blou see, die os en die jas
Die beste idee sit tussen wis en onwis
Die derde wiel is waar die as aan vas is

Ek het baie indrukke maar min idees
Hoe als inmekaarsteek kan my min skeel
Die lekkerste wyn kom uit ʼn versnit
ʼn Enkele off-beat maak selfs ʼn mars bekoorlik

Daar’s soveel te sê vir die boom en die bas
Die diep blou see, die os en die jas
Die beste idee sit tussen wis en onwis
Die derde wiel is waar die as aan vas is

[9] NIE JOU SKULD NIE

Dis nie jou skuld dat ek alweer die langpad moes vat nie
In Belfast moes oorslaap in ʼn geensterhotel nie
Al die bourbon in die kroeg opgedrink het nie
My hoofpyn met spek, olie en eiers weg moes sluk nie

Dis nie jou skuld nie
Dis nie jou skuld nie

Dis nie jou skuld dat ek vanoggend met knapsak en bottel vort is nie
Te voet met ʼn grondpad langs tot oorkant die koppie nie
Skop mols- en miershoop heeltemal moer toe
Slaan ape uit moue, jaag bobbejane bergop

Dis nie jou skuld nie
Dis nie jou skuld nie

Hierdie beenwit kneukels op die stuurwiel is nie jou skuld nie
Hierdie kop wat klop soos ʼn ratkas is nie jou skuld nie
Hierdie harde musiek wat so proseliteer is nie jou skuld nie
Honderd en sestig kilo’s per uur is nie jou skuld nie
As ek ry dat ek gly deur die draai is dit nie jou skuld nie
Die duiwel op die sitplek langs my is ook nie jou skuld nie

Dis nie jou skuld nie
Dis nie jou skuld nie

[10] LIED VIR ʼn KIND WAT NOOIT GEBORE SAL WORD NIE

Ek sou jou wou vertel van die Namib en die see
Om in sand te bestuur sou ek jou kon leer
Van maraboes en lepelaars
Die Karoo se rus as die wind bedaar
Die reuk van ʼn boek en drukkersink
Om jou pad deur Yeoville en Houghton te vind
Hoe donderweer die see in sink

Daar’s soveel meer wat ek sou wou ophaal
Maar nog meer as dit waarvan ek jou wou spaar
Dis ook my manier om ʼn land te verlaat

Ek sou jou wou vertel van poker en skaak
Dat wat jy vra meer as die antwoord saak maak
Om lig te trap vir hulle wat te seker is
Dat ʼn uitsig soms beter as mure is
Dat gedigte ligter as wrokke lag
Om stil musiek in geraas te verwag
Om soms te stop en soms te jaag

Daar’s soveel meer wat ek sou wou ophaal
Maar nog meer as dit waarvan ek jou wou spaar
Dis ook my manier om ʼn land te verlaat

Dis net dat ek jou soms so mis
Sonder kind of kraai verdwaal
Agter Kompasberg se mis

Daar’s soveel meer wat ek sou wou ophaal
Maar nog meer as dit waarvan ek jou moes spaar
My enigste manier om ʼn planeet te verlaat

[11] STRANDDROOM

Ek onthou so goed hoe wolke kon tuimel
Kormorante in gelid, die water onstuimig
Louwarm strandmeer, ʼn koue see
Roomyskarretjie, ʼn sonsambreel

Melkhoutbome, ʼn standkafee
Skons met room, bittersoet tee
Hoe goed kan ek als presies onthou
Maar jou afskeidswoorde ongaan my nou

Koraalboomblomme ontplof in vlamme
Meeue wat skree en wegduik agter branders
Vuurtoringsilinder ʼn waskers teen die son
Kyk, daar’s selfs surfers wat met hulle kombi aankom

Melkhoutbome, ʼn standkafee
Skons met room, bittersoet tee
Hoe goed kan ek als presies onthou
Maar jou afskeidswoorde ongaan my nou

Miskien soms ʼn klank, ʼn greep van jou woorde
Jy’s ʼn dromer, het jy gesê, ʼn hopelose dromer
Jy’s hier by my, maar jy wandel in jou slaap
Miskien het ʼn afskeid om jou wakker te maak

Melkhoutbome, ʼn standkafee
ʼn Skon met room, ʼn bitter koppie tee
Kon als daai dag presies so wees
Jou afskeidswoorde ontgaan my steeds

[12] WAARHEEN VANDAAN

Wie’t nou tyd vir reguit ry
Wie’t nou tyd vir mik
Wie’t nou tyd vir nadink
Om te weeg of te wik
Daar’s ʼn kode in die wolke
Raaisels in die see
ʼn Antwoord wat weier om ʼn vraag te gee

Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

Ek bring ʼn boodskap van die gode
Maar niemand wil hoor nie
Iemand moet weet
Maar niemand wil sê nie
Water uit ʼn klip, vuur in die lug
Vlerke is vir sleep en voete is vir vlug

Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

Van my pa het ek ʼn atlas gekry
En van my ma ʼn kompas
Albei het iewers agtergebly
In ʼn trommel of ʼn kas

Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

Al aan die een kant en die ander kant ook maar
Kortpad of langpad, wanneer kom ons aan
Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

[13] LINTE VIR TWEE TROUROKKE

Dis Klaradyn wat daar dans op die dam se wal
Paardeberg se rots waarteen die mis nog hang
Tortelduiwe roep al, ʼn pou waaier oop
Die spaaider is dorp toe om linte te koop

Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn
Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn

Smeer nuwe mis op die vlier van die skuur
Katjiepieringranke hoog teen die muur
Hang tafeldoeke uit, stook die konkavure
Poleer die silwer en brou nog bier

Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn
Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn

Laat die orkes kom met riel en kotiljons
Stem die snare, tot rooidag tiekiedraai ons

Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn
Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn

[14] LIED VIR DIKENI
(met woorde deur Tiyo Soga)

Rooivalk bo berge, rivier en vallei
Hierdie dorp waardeur jy nou ry
Het by sendelinge haar naam gekry

Dis teen die Amatholes wat die wolke so maal
Die kollege hier dra ʼn fort se naam
Sleep barrikades en skietgate saam

Wie sal vir Alice in die nag gaan haal?
By ʼn kruispad of in ʼn kloof het sy verdwaal

Keltiese klipkruis as ʼn monument
Op hakke of gebaadjie stap studente na ʼn tent
Die sendeling kom nou van ʼn ander kontinent

Wie sal vir Alice in die nag gaan haal?
By ʼn kruispad of in ʼn kloof het sy verdwaal

Bybel of kanon, breek of bou
Die grense van destyds
Is die grense van nou

Wie sal vir Alice in die nag gaan haal?
By ʼn kruispad of in ʼn kloof het sy verdwaal

Protect us, o Lord, let Thy light shine
Lizalis idinga lakho
Thixo nkosi yenyaniso
Zonki’intlanga, zonki’izizwe
Ma zizuze usindiso
Lizalis idinga lakho
Thixo nkosi yenyaniso
Zonki’intlanga, zonki’izizwe
Ma zizuze usindiso

Dag/reis – opening van Willem Pretorius uitstalling

Met die bekendstelling van Willem Pretorius se uitstalling Day trip / Dagreis by die Tina Skukan Galery, Pretoria, 17 April 2016

“Dag” verwys na tyd en “reis” verwys na ruimte, die aksie om deur ruimte te beweeg.

  1. Newton

“Absolute space is fixed and we record or plan events within its frame. This is the space of Newton and Descartes and it is usually represented as a pre-existing and immoveable grid amenable to standardized measurement and open to calculation. Geometrically it is […] the space of all manner of cadastral mapping and engineering practices […] Socially this is the space of private property and other bounded territorial designations (such as states, administrative units, city plans and urban grids).”

Ruimte is absoluut. Dit gaan oor die afstand tussen twee punte op ʼn kaart. In die Europese Middeleeue het ʼn dorp se invloed so ver gestrek soos die oor ʼn kerkklok kon hoor lui. Hier in die kolonies was dit so ver soos die oor ʼn kanonskoot kon hoor. ʼn Plaas se grense is bepaal deur die afstand wat ʼn perd in ʼn dag kon drafstap – ʼn dagreis te perd. In hierdie absolute ruimte moet jy van Punt A na Punt B, sê maar van Stella na Rosendal, bloot as voorbeeld. Jy kan nie vlieg nie (daar is nie lughawens in Stella of Rosendal nie) so jy moet ry. Per kar. Die treinspoor is geroes en op plekke reeds verwyder, grensdrade bo-oor gespan, wat ook reeds roes. Jy kan reguit ry, of met ʼn ompad via Londen, maar dit sal lank duur, langer as ʼn dag en dan is dit nie meer ʼn dagreis nie. Dalk ontmoet jy iemand in Londen wat die koers van jou lewe sal verander en dan is die ompad die moeite werd. Om deur Pretoria te ry sou ook kon sin maak, dalk om ʼn kwalifikasie in grafiese ontwerp in byvoorbeeld jaar 2000 te behaal.

Dáár in die hoek is Willem Pretorius se ma. Dis ʼn kombinasie van landskap en portret. Die landskap is Stella, iewers tussen ʼn soutpan, Eybers se Wes-Transvaal en die Kalahari. Die portret is die skilder se ma. Is dit die negentien sewentigs, die sestigs? Die kleredrag lyk sestigs of sewentigs. Die son op die fotografiese papier is moeg en word flouer. Dit skyn reeds vanaf die sestigs of sewentigs op daardie foto, skuif oor huis-, skool- en poskantoorstoep, Cobra-politoer wat lou word, smelt en stof vergader. Dis ʼn belangrike deel van Pretorius se werk, hierdie tweegesprek tussen fotografie en skilder, die son op ʼn lens, die son op die skilder se oogbal, die son in olie op doek. Wit lig loop ook van Punt A na Punt B, maar as jy dit buig, ʼn dagreis vir lig ʼn bietjie van koers af stuur met prisma, lens, of die aarde se koepelatmosfeer, breek dit in kleure uit. Van die sestigs of sewentigs na die onlangse verlede. So van portrette gepraat, Willem Pretorius het twee keer al die top 40 gehaal met Sanlam se portretstudietoekenning. So van die spoed van lig gepraat.

  1. Einstein

“Space is relative in the double sense: that there are multiple geometries from which to choose and that the spatial frame depends crucially upon what it is that is being relativized and by whom […] All forms of measurement depended upon the frame of reference of the observer […] We know, given the differential frictions of distance encountered on the earth’s surface, that the shortest distance (measured in terms of time, cost, energy expended) between two points is not necessarily given by the way the legendary crow flies over physical distance. Furthermore the standpoint of the observer plays a critical role.”

Wat is dit wat maak dat kunstenaars anders na die werklikheid kyk as ander mense? Jy let op. Jy kyk stip en soms vanuit ʼn ander hoek. Oor hierdie uitstalling skryf Willem Pretorius: “ʼn Dagreis verwys hoofsaaklik na ʼn uitstappie êrens in jou nabye omgewing gewoonlik om te kuier of besienswaardighede rondom jou te besoek… Die uitstalling is van dinge wat die kunstenaar op sulke ‘Dagreise’ teëgekom het, dus ʼn tipe van visuele dagboek. Dit bring die kyker tot stilstand by dié dinge waarby die kunstenaar stilgestaan het en sien dit as’t ware deur sy oë, ʼn oomblik gevries in tyd. Die ironie lê daarin dat dit juis die gewone, onopvallende goed is wat dan verhef word tot ʼn olieverfskildery. So wil die kunstenaar sy gehoor dwing om die mooi te sien in die alledaagse, dikwels onder ons neuse, waarby ons so maklik verby jaag.”

Mens kan van Stella af Rosendal toe jaag, of jy kan jou tyd vat en stilhou. Jy kan by kollegas gaan inloer. Mense saam met wie jy al jou werke uitgestal het: Hanneke Benadé, Walter Meyer, Ingrid Winterbach, Henk Serfontein. Jy kan so ver gaan om eers ʼn draai in Piketberg te maak, by Clare Menck, die einste een wat daar anderkant op ʼn skildery in haar gang af loop. Jy kan nadink oor die invloede in jou werk en die hele tradisie van Suid-Afrikaanse kontemporêre realisme. Menck, as sy oor Willem Pretorius se werk praat, verwys na “South African rural vernacular”. Pretorius se oogpunt, die plek van waar hy af waarneem, is vanuit die platteland. Hy is nie ʼn stedeling wat soontoe reis vir vinnige besoeke aan klein dorpies nie. Daar is iets aan die skilderye wat eg voel – dis nie ʼn buitestaander wat Smithfield in die nag skilder nie, of die T-aansluiting as jy Trompsburg in die nag binnery nie. Dis hoe dit lyk en voel.

Relatiewe ruimte is tyd en ruimte. Milan Kundera skryf in sy boek Slowness dat as mens iets wil onthou, jy instinktief stadiger loop. As jy wil vergeet, klim jy op jou motorfiets en jy jaag. Die geheue werk langsaam, vergeet gebeur spoedig. Tegnies, as jy baie vinnig kon ry, vinniger as die spoed van lig, sou jy na die verlede kon terugkeer. Willem Pretorius spesialiseer in lig en die kwaliteit van lig. Die skilderye in hierdie dagreis gaan oor stadig ry, tyd verwyl, nie spandeer nie. Dit gaan oor onthou, soms ʼn wêreld wat vir stedelinge verlore is, maar soms ʼn tyd wat vir altyd verlore is – mansbroeke het in die sewentigs gesit soos hulle net in die sewentigs kon sit.

  1. Leibniz

“The relational view of space holds there is no such thing as space outside of the processes that define it. Processes do not occur in space but define their own spatial frame […] The relational notion of space-time implies the idea of internal relations; external influences get internalized in specific processes or things through time […] In a way, relational conceptions of space-time bring us to the point where mathematics, poetry, and music converge […] If I ask the question: what does Tiananmen Square or ‘Ground Zero’ mean, then the only way I can seek an answer is to think in relational terms.”

Soms wonder ek oor die Vrystaat se stapelwolke – ʼn lug vol helder wolke, soos Karel Schoeman dit noem. Hoekom beur hulle so boontoe? Is dit omdat hulle vir die plat, uitgestrekte landskap skrik as hulle van die Malutiberge af see toe waai? Dis ʼn kuns om daardie wolke as brekers en weerkaatsers van lig te verf. Een van die belangrikste denkers oor kuns in die moderne era is seker die Duits-Joodse filosoof Walter Benjamin. Lank terug lees ek ʼn opstel deur die antropoloog Michael Taussig oor sy besoek aan Benjamin se graf by Port Bou, op die grens tussen Frankryk en Spanje. Benjamin was in September 1940 besig om van die Nazi’s te vlug. Toe dit duidelik word dat hulle nie oor die grens sou kon ontsnap nie, het hy selfmoord gepleeg. Niemand het ooit die tas met geskrifte gevind wat een van sy oorlewende reisgenote gesê het hy gedra het nie. Volgens oorlewering het Benjamin gesê die manuskrip daarin is belangriker as sy lewe.

Hy is onder die naam Benjamin Walter in die Katolieke deel van die begraafplaas begrawe. Hannah Arendt kon nie die graf opspoor toe sy Port Bou besoek nie. Ten spyte daarvan het sy geskryf: “Dit is by verre een van die mooiste en mees fantastiese plekke wat ek nog in my lewe gesien het.” Taussig skryf dat die inwoners van Port Bou ʼn naam vir die wind daar het: transmontaña. “Dit maak jou mal, sê hulle.” In 1994 is ʼn monument ter ere van Benjamin hier opgerig.

Van Punt A na Punt B kan soms so met die geskiedenis verstrengel wees dat dit nie ʼn eenvoudige reis is nie, maak nie saak waar jy staan of heen vlug nie. Walter Benjamin het eens geskryf:

“Daar is ’n skildery van Klee, getiteld Angelus Novus. ’n Engel in die afbeelding lyk of hy stip oor iets nadink, maar op die punt is om daarvandaan weg te beweeg. Sy oë is gesper, sy mond oop, sy vlerke gespan. Dít is hoe die engel van die geskiedenis moet lyk. Sy aangesig is na die verlede toe gedraai. Waar iets vir ons soos ’n ketting van opeenvolgende gebeure lyk, sien hy ’n enkele katastrofe wat onophoudelik soos wrakstukke voor sy voete neergesmyt word. Die engel sou graag wou verpoos, die dooies opwek en dit wat gebreek is, weer heelmaak. Maar ’n storm woed vanuit die Paradys, het hom aan die vlerke beet en waai so onstuimig dat die engel hulle nie weer kan sluit nie. Die storm dryf hom genadeloos die toekoms in, waarop sy rug gekeer is, terwyl die rommelhoop voor hom ten hemele aangroei. Hierdie storm is dit wat ons vooruitgang noem.”

Oor Benjamin se laaste dagreis het Breyten Breytenbach geskryf:

deur die nag gekom
en gemompelweet
dat om te leef nie ʼn opsie is nie,
van die maan nou die uitsmyter se iewerse oog,
dat dit nie genoeg is om te luister
na die gang van die bewe-asem nie,
jy die selfbegeleier as gids vooruit moet kan stuur,
al is dit ook net verby nag se gesig oor die grens
na waar daar daglig en see en mense is

Ons weet Suid-Afrika se landskap lê vol wrakstukke. Van ons landskappe is so deur menslike onnoselheid en gierigheid omvorm dat dit wat voorheen daar was soms onherkenbaar geword – gedwonge verskuiwings, suurwater wat by myne uitsypel en dreig om die Wieg van die Mensdom in die Graf van die Mensdom te verander, ontwikkelaars wat historiese geboue sloop om winkelsentrumtempels op te rig. Soms vind mens egter ook, soos Hannah Arendt, die skoonheid te midde van gruwels en storms (dalk júis): ʼn Vulstasie in die nag waar jy stilhou ten spyte van die feit dat jou kinders reeds slaap omdat die petrol amper klaar is, daardie sonderlinge Vrystaatse donderstorm, die pad net voor sononder as die son só in jou oë skyn dat jy stilhou en dan ʼn foto neem en ʼn motor toevallig die prentjie binnery die oomblik as die sluiter agter jou kameralens knip. Dan gaan sit jy by die huis in Rosendal met die foto en jy vang ʼn vlietende oomblik in olie op doek vas – die kuns se mees duursame medium – en jy weet wat jy pas gedoen het nie net is om van Stella af hierheen toe te ry nie.

Aanhalings uit:

Walter Benjamin, uit Über den Begriff der Geschichte (eie vertaling).

Breyten Breytenbach, “Eine kleine Nachtmusik”, Uit: Vyf en veertig skemeraandsange uit die eenbeendanser se werkruimte (2014, Human & Rousseau)

David Harvey, “Space as a Key Word.” Uit: Spaces of Global Capitalism: Towards a Theory of Uneven Geographical Development (2004, Verso).

Michael Taussig, Walter Benjamin’s Grave (2006, University of Chicago Press).

Erkenning: Van die idees is in hierdie toespraak is deur gesprekke en referate by ʼn colloquium oor ruimtelike geregtigheid in postkolonies by die Universiteit van Kaapstad geïnspireer. Dankie aan Jaco Barnard-Naudé en Julia Chryssostalis, die sameroepers van die colloquium.

‘n Weergawe hiervan, met foto’s, is beskikbaar op Versindaba.