Onplaats

“Onplaats” is Andries Bezuidenhout se derde solo album en is in April 2020 deur Die Wasgoedlyn vrygestel. Dit bevat twaalf oorspronklike komposisies, waarvan die lirieke en musiek deur Andries geskryf is, buiten “Tussen Platvoet en Stoompomp”, waarvan die melodie deur Herman van Veen gekomponeer is. Die album word aan die ou en nuwe Gereformeerde Blues Band opgedra, deels as dankbetuiging teenoor Riku Lätti en Willem Möller, wat elk ʼn belangrike rol gespeel het met die produksie van die album. Riku het gehelp met verwerkings en besluite oor musikante om op van die tracks te speel en Willem Möller het die finale meng en meester van die album behartig.

Stream of download hier.

Wat beteken Onplaats?

Andries se antwoord: “Daar’s twee maniere hoe ek dit titel verstaan. Op een vlak is dit ʼn grappige verwysing na die feit dat ek die album net op die web vrystel. Dis die eerste album wat ek glad nie as CD vrystel nie, laat staan nog vinielplate van laat druk. So, dis nie ʼn plaat nie – dis ʼn onplaat.

“Die ander vlak is meer filosofies van aard. Dit kom uit ʼn gesprek met Herman van Veen (verskoon my, dis nie bedoel as ‘name dropping’ nie). Ek was in 2015 in Nederland om by ‘n Suid-Afrikaanse fees op te tree en hy was die gasheer. Hy het gevra dat ek ‘n liriek moet stuur, wat hy toe getoonset het. Ek het ‘Tussen Platvoet en Stoompomp’ vir hom aangestuur. Dit handel oor iemand wat op ʼn plaas wil woon iewers tussen plekke genaamd Platvoet en Stoompomp. Toevallig is daar werklik sulke plekke in die Vrystaat, maar min mense weet daarvan. Herman van Veen het oor ʼn moontlike Nederlandse vertaling gepraat en hy wou verwys na ʼn plaas (of plaats) ‘tussen niks en nêrens’. Ek wou weet waarom hy nie soortgelyke name soos Platvoet en Stoompomp in Nederland kon vind nie.

“Sy antwoord was dat daar nie ʼn enkele plek in Nederland was wat almal nie van weet nie. Ek het toe ʼn paar name op ʼn kaart gaan soek as voorbeeld, maar in elke geval kon Herman die plek se geskiedenis ophaal – byvoorbeeld dat ʼn biskop daar in, sê nou maar, die jaar 1415 onthoof is. Dit was ʼn interessante punt oor die verskille tussen Nederland en Suid-Afrika. Nederland is meer intiem, aan mekaar bekend, terwyl Suid-Afrika nog plekke het waarvan niemand nog gehoor het nie. Van daar die ‘onplaats’ – ʼn plek wat net in die verbeelding bestaan, ʼn onplek.”

Vertrek – video

“Vertrek” praat oor iemand wat altyd jaag, wat nooit ʼn vaste adres wil hê nie en sy briewe verkieslik op die volgende dorp se poskantoor gaan haal. Die liriek speel met die verskillende betekenisse van die woord “vertrek”: “ʼn Huis het vertrekke, ʼn gesig kan vertrek/ van liefde of haat of bedrog./ Die enigste vertrek waarvan ek wil weet/ is die een wat op afskeid volg.” Die video gebruik tydsverloop (time-lapse) fotografie van road trips deur die Karoo – die pad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp, asook tussen Middelburg en Hanover. Oor die video sê Andries: “Ek het aan landskapskilderye gedink toe ek oor die video se konsep gedink het. Wolke en die lug is gewoonlik só ʼn belangrike deel van sulke skilderye, dit neem tipies twee derdes van die skildery se oppervlakte op. Waar ʼn skildery een prent is, moes dit beelde in hierdie video super vinnig beweeg – die effek daarvan is dat die landskap amper te vinnig beweeg om te kan eien, maar die wolke bo in die lug verskaf ʼn ankerpunt. Ek wou hê mense wat na die video kyk moet amper meer op die wolke fokus as die landskap self.”

Media

Bespreking van die album deur Francois Lion-Cachet, asook foto’s deur Andries en ‘n playlist van interessante Afrikaanse musiek op Klyntji.

Onderhoud met Andries deur Henry Cloete op LitNet.

Resensie van die album deur Daniel Luckhoff Wessels op Texx and the City website oor Suid-Afrikaanse musiek.

Onderhoud met Andries deur Henno Kruger op Running Wolf Rant.

Watkykjy se resensie (parental advisory).

Onderhoud met Andries deur AJ Opperman vir Netwerk24 (pay wall).

Onderhoud met Andries deur Jaco Hough-Coetzee in Huisgenoot.

Musikante op “Onplaats”:

Andries Bezuidenhout: Stem, staal- en nylonsnaar akoestiese kitare.

Emma van Biljon en Lisa Bezuidenhout: Kinderstemme.

Vangile Bingwa: Backing vocals en koor.

Rosa Da Costa-Bezuidenhout: Backing vocals en koor.

Mark Ellis: Baskitaar.

Lathitha Espin: Backing vocals.

Joey Kok: Backing vocals.

Jackie Lätti: Koor.

Riku Lätti: Elektriese kitaar en keyboards.

Jean Marais: Drums en ander perkussie.

Willem Möller: Elektriese en akoestiese kitaar.

Jake Rabie: Koor.

Lukas van Garderen: Keyboards.

Produksie:

“Onplaats” is tussen September 2018 en April 2020 opgeneem. Andries se stem en kitare is in Alice, Nieu-Bethesda, Lowlands-landgoed (naby Cradock) en Oos-Londen opgeneem. Vangile se stem is in Alice opgeneem. Joey, Jake, Lathitha, Rosa, Emma en Lisa se stemme, asook Lukas se keyboard, is by Lowlands opgeneem. Drums deur Jean en baskitaar deur Mark is by Mark-Tunes Studio in Stellenbosch opgeneem. Riku se kitare en keyboard en Jackie se vocals is by Wasgoedlyn Studio in Strand opgeneem. Willem Möller se kitaar is by Sharp Street Studio in Glencairn opgeneem. Finale meng en meester deur Willem Möller by Sharp Street Studio in Glencairn.

Waar on te koop of stream.

Die nuwe Gereformeerde Blues Band, Desember 2019 in Muizenberg. Van links na regs: Lloyd Ross, Churchil Naude, Riku Lätti, Tonia Selley, Jackie Lätti, Willem Möller. Foto: Andries Bezuidenhout

“Onplaats” lirieke:

[1] AASVOËLS BO LANGENHOVENPARK

ʼn Driebeenjakkals het ʼn lam gevang
by die laaste plaas voor Loxton se dam.
Aasvoël wag vol begeerte op die windpomp,
aan stomende wolke hang nog ʼn klomp
en op wat nou nog oor is van telefoondrade
sit die gulsige oë van witborsrawe.

Refrein:
Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik,
julle vreters van aas, kom pik pik pik.
Druk jou snawel tussen sening en been,
jy moet pik pik pik as dit karkasse reën.

Splinternuwe Prado het ʼn steenbok getrap
op Williston en Carnarvon se pad.
GPS gee koördinate van die feesmaal
vir vos se kind om die buit te kom haal.
Aan die lug wat oorkook, die verwagte aasvoël
en rawe op die koop toe voltooi die skool.

Refrein

ʼn Middelklasfamilie het bankrot gespeel
in Langenhovenpark se beste deel.
Prokureurs, ouditeurs en al die ander teurs
vergader in dasse vir elkeen se deel.
Die fiskaal fladder in met ʼn hofbevel
wat die terme van die aasmaal stip uitspel.

Refrein

Jou adres jou skakel in die voedselketting –
roofdier, aasdier, of prooi se nering,
oogtande, snawel of herkouer se bek.
Pik jy aan oorskiet, of breek jy ʼn nek?

Refrein

[2] SOMER

Palms aan flarde van ou orkane,
maar nie nou nie, nie hier nie,
nie nou nie, nie hier nie,
net die wind in jou hare.
Met my mond kan ek dit proe,
en inasem.

Jy’s storm en stil soos die strand en die see,
jy’s storm en stil soos die strand en die see,
jy’s storm en stil soos die strand en die see.

Duine geblyk deur die harde son,
maar nie nou nie, nie hier nie,
nie nou nie, nie hier nie,
net die lig op jou rug.
Ek kan daaraan raak,
dit vashou.

Jy’s warm en koud soos die strand en die see,
jy’s warm en koud soos die strand en die see,
jy’s warm en koud soos die strand en die see.

Rotse geslyp deur aanhoudende branders,
maar nie nou nie, nie hier nie,
nie nou nie, nie hier nie,
net ʼn druppel in jou nek
wat ek met my vinger afvee
en aan proe.

Jy’s droog en sout soos die strand en die see,
jy’s droog en sout soos die strand en die see,
jy’s droog en sout die strand en die see.

[3] TUSSEN PLATVOET EN STOOMPOMP

(Musiek: Herman van Veen)

Kom boer saam met my op my lappie grond,
dis nêrens op ʼn kaart nie, maar dis rond en bont –
iewers op die pad tussen Platvoet en Stoompomp.

Dis ʼn plaas sonder geskiedenis en sonder toekoms,
net ʼn nou en ʼn hier in die skaduwee van bloekoms.

Kom boer saam met my op my stukkie landgoed
waar die niks en die niet saans die son groet –
iewers op die pad tussen Stoompomp en Platvoet.

Die grense is ʼn hand en nie ʼn vuis nie,
daar’s blyplek en skuiling, maar nie ʼn huis nie.
Dan plant ons iets soos grondboon en sonneblom
en dans vir reën in die oggendson.

Kom boer saam met my op my stukkie landgoed
waar die niks en die niet saans die son groet –
iewers op die pad tussen Stoompomp en Platvoet.

[4] ONDIEN SE WIEGELIED

Nou laat die sand die son se laaste hitte vry,
bring jou beker koffie en kom sit hier langs my.

Refrein:

Van anderkant die duine lewer golwe kommentaar,
met fosforstemme fluister hulle: “Toemaar, toemaar.”

Hier’s ʼn velkaros, hardekool, dennebolle en ysterhout,
want netnou is dit donker en die nagwind hier is koud.

Refrein

Alles is nou ver van hier, net ons, die nag, die see, ʼn vuur
en mossels met fyn arikruik en die stroopsoet van ʼn vyeblik.

Refrein

“Kom terug na die oorsprong, kom terug, kom terug
ons abba jou saggies, ons dra jou op ons rug.”

[5] VERSKONINGS

Laetitia jy’t gebel toe ek my tas oplig
om in te weeg vir die oornagvlug.
Jy wou ernstig praat, maar ek was weer te laat
en moes my pad inderhaas na Hek 12 toe maak.

Refrein:
Jy sien wat regtig gebeur in die hoek van jou oog
en die ware verhaal kom eers as woorde opdroog
en wie dan vertrou as jy jou eie stories
so verkeerd onthou, so verkeerd onthou, so verkeerd onthou

Laetitia, jy’t gebel toe die kliënt begin skel
in ʼn vergadering oor die afloop van my grootste kontrak.
Tussen skerm en fondament val beton op die grond
en moes ek sonder mondering dinamiet ontlont.

Refrein

Laetitia, ek bel terug en ek hoor die sug
in jou instruksie om ʼn boodskap te laat.
Jy’s seker te besig, maar ek weet jy’s daar,
so hier’s my verskoning elektronies bewaar.
As jy daarna luister en jy kan dit ontsyfer,
sal jy my ook laat weet, want ek het reeds vergeet?
Die strekking van leuens het ek afgelees
van etikette op bottels voor hierdie spieël.

Refrein

[6] DUNGEONS & DRAGONS

Soggens om vyf op my dikwielfiets
om die regering se beeld vir sakgeld te verkoop.
Mamelodi was te ver om van te hoor,
maar die rook kon ons sien as ons skool toe loop.

Refrein:

Daardie een aand Salome, daardie een aand Salome
was ons meer as net vriende gewees.
Daardie een aand Salome, daardie een aand Salome
was ons meer as net vriende gewees.

Pac Man, Commodore en ZX Spectrum
het van ons pioniersprogrammeerders gemaak.
Veldskool, kadette en Voorstrekkerkampe
om ons teen die Beatles weerbaar te maak.

Refrein

Crinkle paper oor die garage se buislig,
“Like an earth quake” en later “Say you, say me”
en na cane, passion fruit en lemonade
was Trompies en Saartjies nie meer so skaam nie.

Refrein

Nou’s jy getroud met ʼn man van Kalifornië,
foto’s van jou kinders op jou facebookprofiel.
My drank en my rekenaar sterker as destyds,
daar’s pille en alarms vir my laatnag nostalgie.

Refrein

Jy’s weg na die eksamen, glo na die Vrystaat,
wou nooit verklap wie die pa was nie.
Prosedure in Swaziland, of aanneemouers?
Ek wonder soms, maar nou maak dit nie saak nie.

Refrein

[7] SUSTER GELUK

Jou adres is duister, ek kan jou nie roep nie,
niks is gewaarborg as ek na jou soek nie.
Jy dra ʼn donkerbril, pupille ʼn prisma,
ek kyk stip, maar versigtig, as ek na jou staar.

Refrein:
Die hegste vriendskap in ʼn loopgraaf gesmee
verdamp as oorlog aan vrede oorgee.

Trou kan jy sweer, maar net tentatief,
tot die lewe ons skei het jy my lief.
Jy het fynskrif vir my koffie, klousules vir my pap,
hoe nader die dans hoe meer tone word getrap.

Refrein

As jy klop dink twee keer voor ek oopmaak,
ek weet nooit wie ek saam met jou binnelaat.
My naam is Geluk, die suster van Toeval,
Rampspoed is my stiefma en Noodlot my pa.

Refrein

[8] WILGEDORP SE RASIONALISERINGSBALLADE

In die dertigs, na die depressie,
is die stasie hier gebou
en het toe vir vyf dekades
Wilgedorp se tyd gehou.

Kort daarna, bank en skool,
koöperasie en ʼn kerk,
silo’s en selfs ʼn haarsalon
vir Maurice om in te werk.

Dis die stasiemeestervrou
wat die kannabeddings onderhou
terwyl portiere vroeg al poets, poleer
aan die koperletters bo die deur.

Passasiers kom uit die stad
bly by die Masonic Hotel.
In die kroeg kan jy sien hulle luister
na die stories wat ons vertel.

As die goederetrein na middernag
my in die stoepkamer kom wakkermaak
kan ek omdraai met die wete
ek kan ure langer slaap.

Dis die stasiemeestervrou
wat die kannabeddings onderhou
terwyl portiere vroeg al poets, poleer
aan die koperletters bo die deur.

 “Onlewensvatbaar,”
sê konsultant en amptenaar.
Nou staan spore langs die silo’s braak.
Wat gaan die boere maak?

Spekuleer, meganiseer,
masjien maak op waar mens makeer,
Frankensteinpitte intensiveer,
gate onder lorries in die teer.

Met die spoor gekom om hier te bly
en toe weer padlangs weggery,
want ʼn stasie sonder treine
is ʼn plek waar jy net agterbly.

Die wagkamer is stil,
net ʼn dwaalgees op die perron,
maar as jy fyn luister kan jy nog hoor
hoe die laaste trein verbykom.

Met die spoor gekom om hier te bly
en toe weer padlangs weggery,
want ʼn stasie sonder treine
is ʼn plek waar jy net agterbly.

[9] DIE SPOORLOSE VERDWYNING VAN ELVIS DU PREEZ

Kom laat ek vertel van Elvis du Preez
al het dit ʼn ruk gelede gebeur.
Elvis wat so voetslaan, Elvis wat so stap,
met velskoene en kakies en kouse wat krap.

Almal was bang as Elvis inbars
by Incognito op ʼn double time mars.
Jy soek net nie kak met ʼn bras brush cut,
jy sukkel nie sommer met ʼn honderd en agt.

Refrein:
Elvis rook Lexington en Boxer-tabak,
gestop in ʼn pyp uit ʼn seilknapsak.
Elvis drink whisky uit ʼn blik hip flask,
deur ʼn bannelingoupa op Ceylon gemaak.

Wat noem jy ʼn budgie met masjiengeweer?
Eenvoudige antwoord: Jy roep hom meneer.
As Elvis se skouer jou stamp by die bar
knik jy eerbiedig vir die vriendelike gebaar.

Met bulderende arms maak Elvis amok,
mik na elke paar bene in enige rok
en as die tegniek die teiken mis
ontluik daar ʼn crooner wat sing en sus.

Refrein

En toe het Elvis spoorloos verdwyn.
Hulle sê dit was mans met ʼn bakkie en boeie.
Laat daardie aand haar opgelaai
en wat toe gebeur het, kan ons net raai.

Elvis, ek verdwaal ook soms in die strate.

Ek kom van Pretoria, maar hierdie is nou Tshwane.
Is jy nog iewers in Sunnyside, stukkende blom?
Dis dalk nou veiliger om uit te kom.

Refrein

[10] LAST ROUND REGULARS

Dit kan enige stad wees, enige dorp wees
Enige land wees, enige straat wees
Maar dis die einde van die winter, die strate is nat
Modder wat van karre se wiele af spat
Dis net na middernag, die laaste bus staan en wag
Om die last round regulars huis toe te vat

Mompel, mompel as jy nagtelik strompel
Die koudste wintersfront kan jou vannag nie oorrompel
Want jy’t whisky as jas, brandy as sambreel
Wat bruis deur jou aarde om die rillings te steel
Die aarde draai, maar dis nie jou kop nie
Die bome dans, maar dis nie die dop nie
Jou gang is seker, jou pas is sterk
Teen die mis en die reën dra jy jou serp

En soos jy daar gaan, sê my, wat is jou naam?
Kan jy my dalk sê wat dra jy met jou saam?
Die gewig van te veel in die lig van te min,
Die stomheid van verloor, die stompheid van wen?
Motherless, vuisvoos, ook nou hopeloos
Maar karre ry verby, die maan wat skyn
Jy soek na jou sleutel, jy soek na die sleutel
Van die slot… van jou premiepondok…

Dit kan enige stad wees, enige dorp wees
Enige land wees, enige straat wees
Maar dis die einde van die winter, die strate is nat
Modder wat van karre se wiele af spat
Dis net na middernag, die laaste bus staan al en wag
Om die last round regulars huis toe te vat

[11] VERTREK

Wie wil in turfgrond wortelskiet,
wie wil nou in boorde rank?
Wie wil deur ʼn snoeiskêr getem word
as vrugbare plant?

Refrein:
My vaste adres was nog altyd
Poste Restante gewees
en die oomblik as ek weer vertrek
sal ek tyd hê om jou briewe te lees

ʼn Landskap word nog altyd die mooiste
in ʼn truspieël geraam
en die een waarvan jy al vergeet
is die mees onthoubare pleknaam.

Refrein

Ek’s waaisand, ek’s rook, ek’s ʼn kiem in die lug,
ek’s wiele, ek’s vlerke, ek’s die wind in jou gesig.
Motorhawe, lughawe, hawe met ʼn kaai –
my gunstelinghawe se naam is Koebaai.

Refrein

ʼn Huis het vertrekke, ʼn gesig kan vertrek
van liefde of haat of bedrog.
Die enigste vertrek waarvan ek wil weet
is die een wat op afskeid volg.

[12] LUKAS IMPOSSIBLE

Lukas van Johannesburg doen heelflips by Boogaloo’s,
Urban X en Revolution, nose blunt slides in Hillbrow.
Tyd staan stil met ʼn backflip, alles stol met ʼn ollie impossible,
ʼn spine transfer se big sky-oomblik hou jou bo die aarde vas.

Wind, water, grond en vuur – alles lyk soms helder hier
as alles skielik stilstaan.

Dae doen pop shuv-its, ure kan ook five-o grind,
die no-slides van sekondes laat almanakke stilstaan.
Kan Shaka dan ʼn heelflip doen, Paul Kruger ʼn Smith grind?
Kan Cecil Rhodes ʼn tail-slide doen tot by die Suezkanaal?

Kyk vorentoe, kyk terug, of weg – alles lyk soms minder sleg
as alles skielik stilstaan.

Lukas lees soms boeke oor die geskiedenis se geskiedenis,
oor mummies en oor piramides, wat waar was voor ons daar was.
Kan Ramses dan ʼn kickflip doen, Toetankhamon ʼn feeble grind?
Kan Cleopatra ʼn drop-in maak van Kaïro tot die Kaap?

Wind, water, grond en vuur – alles lyk soms helder hier
as alles skielik stilstaan.
Kyk vorentoe, kyk terug, of weg – alles lyk soms minder sleg
as alles skielik stilstaan.

Terug in Skubbe – Brixton Moord en Roof Orkes

Terug in skubbe is die Brixton Moord & Roof Orkes se tweede CD, wat in 2004 by Rhythm Records verskyn het. Die ballade “Fortuinverteller” was darem kalm genoeg om op RSG se playlist te beland, maar die res was te rof. Mense het al verkeerskaartjies gekry terwyl hulle na “Spoed” luister en “Paul van der Zandt” is ʼn immergroen crowd favourite.

Apple Music

Spotify

Uittreksels uit resensies:

“Wie wil nou ‘n mens wees?” vra Moord Greeff in “Vis”, die eerste lied op die Brixton Moord & Roof Orkes se jongste album, Terug in Skubbe. Daar sal sekerlik stemme opgaan van skepsels wat mens wíl wees juis omdat dit vir óns ore is dat die musiek van hierdie album bedoel is. Dis net ménse wat sal verstaan waaroor die seer en die soet in die lirieke gaan. Visse, honde en voëls het voorregte, maar musiekwaardering is nie een daarvan nie. Hierdie album laat ‘n mens opnuut wonder oor rockers se intense kennis van die lewe… Greeff ruk lirieke soos dié in “Vis” uit en verwoord die universele wens om aan die daaglikse sleur van menswees te ontsnap. Roof Bezuidenhout maak dit in “Spoed” duidelik waarom almal altyd jaag. Die duiwel haal jou in as jy stil raak… Brixton Barnard is klaarblyklik ontstig oor alledaagse dinge, in ligter trant ook oor die rookverbod in winkelsentrums. Dan lewer hy snydende sosiale kommentaar met “Trane van ‘n Terroris” en vlek die gedagtes van ‘n “Stil Ou” met depressie en moordgedagtes oop. Hy is ook die skepper van die tragiesmooi geskiedenis van “Paul van der Zandt”… In die geheel het hierdie (die groep se tweede) album se musiek meer verskeidenheid as die eerste, wat hoofsaaklik folk-rock bevat… Hul aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het.
– Mariana Malan, Die Burger, 11 Maart 2005.

Terug in skubbe is ‘n tema wat gaan oor omgekeerde evolusie. Soos die meeste songs op die album gaan dit ook oor persoonlike verval en agteruitgang, terwyl die tunes terselfdertyd die mooi daarin probeer raaksien. Gekompliseerde songs wat smag na die ongekompliseerde. Dis min of meer die uitgangspunt. Wanneer jy na dié band se goed luister, gaan dit nie anders kan as om te dink aan ‘n besonderse eiesoortigheid nie. Dit is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê. Sover soos true school gaan, is jy hierso op die regte pad.
– Angola Badprop, Beeld, 18 April 2005.

To bring out a great first album is wonderful but to sustain that growth and creativity and come up with an even better second album (albeit more than two years later) is impressive… With all the social commentary and insights of their excellent first album Spergebied, the new album is much tighter, with a harder edge, in music as well as the lyrics. The brilliant imagery, which is at times cutting, humorous or cynical but never bland, explores the human psyche, especially the darker side… While the powerful poetry of Brixton Moord & Roof Orkes’ lyrics is probably their best feature, it is the beautiful tunes and arrangements with great vocals that complete the whole package to make this very fine album.
– Etienne Creux, Pretoria News, 20 April 2005

Die verskillende stemme is wat die CD laat werk. Nie noodwendig sangstemme nie (maar dié is daar ook). Eerder stemme wat iets te sê of te vertel het, iets wat nog nie tevore gesê of vertel is nie. Terug in skubbe is ‘n lieflike CD. Die grootste gros in hardekoejawel-rock. “Vis”, “Spoed”, “Sussie se sweep” en “Terapie” staan uit. Maar daar is ook dié wat die vrug van folk en country pluk. Bowenal soek ek die Afrikaanse tunes wat vanjaar by songs soos “Lisa Forward” en “Trane van ‘n terroris” kan kers vashou. Terug in skubbe is ‘n juweel.
– Pieter Redelinghuis, Insig, Mei 2005.

Die manne van die Jo’burg Afrikaanse underground het weer gedeliver en ‘n CD uitgebring waarvoor heelwat ander moet terugstaan. Terug in skubbe is ‘n tema van omgekeerde evolusie, maar dui eintlik op ‘n hunkering na eenvoudigheid in ‘n goor samelewing… Ander Afrikaanse bands gaan beslis ‘n paar tips in songwriting kan vang.
– Angola Badprop, Beeld, 2 Mei 2005.

Brixton Moord en Roof se musiek dra ou, afgeleefde Cats; groet jou met ‘n ghrieserige hand en ruik effens na sweet en ou whiskey. Dis liedjies oor middelklas- en minder-as-middelklasmense in middelklas- of minder-as  middelklasbuurte en die middelklas- of minder-a smiddelklasdinge wat hulle doen. Die liedjie waaruit die CD-titel kom, Vis, verwys na ‘n gedig van D.J. Opperman waarin dit gaan oor die vrees om die evolusieleer mis te trap en ‘n paar trappe te gly. In Vis gaan dit egter juis oor iemand wat moeg is daarvoor om ‘n siel te hê, wat vra “wie wil nou ‘n mens wees?”. Daar’s vrek mooi liedjies soos Fortuinverteller en Salome se lot op hierdie album, maar dis veral op gatskop-liedjies soos Trane van ‘n terroris en Spoed (my persoonlike gunsteling) dat Brixton Moord en Roof behoorlik wys wat in hom steek… Wees gewaarsku, die lirieke is nie vir sensitiewe luisteraars bedoel nie. Daar’s rowwe verwysings na rowwe meisies (soos “Sussie van Sannieshof” wat nie donkies aanjaag met haar sweep nie) en rowwe ouens (soos die ou wat al twaalfuur bedags in die kroeg met sy “sielkundige” sit en gesels – “sy naam is Jack en sy van is Daniels”) wat rowwe dinge doen (soos om bouncers met bakstene by te kom)… Kry dit as jy nie bang is vir musiek wat ‘n effense ghriessmaak in jou mond laat nie…
– Jaco Jacobs, Volksblad, 9 Mei 2005

Brixton Moord & Roof Orkes haat dit as mens hulle die Afrikaanse rockgroep met ‘n gewete noem… Maar dis waar. Terug in skubbe is hul beste album tot dusver, hoofsaaklik vanweë die baie afwisseling wat produksie en musiek betref… BMRO rock hier harder as ooit tevore. Maar onthou ook om te luister wat hulle sê.
– Dirk Jordaan, Beeld, 11 Mei 2005.

BMRO extend their survey of South Africa’s psycho-geography with Terug In Skubbe. With their driving garage blues rock blow-outs (“Vis”), pastoral luisterliedjie pit stops and gothic rock overhauls of Koos Doep ballads (“Dagboek van ‘n Swerwer”), the cult Afrikaans rock outsiders percolate a potent post-Voëlvry brew.
– Miles Keylock, CD Wherehouse, Mei 2005

Die loon van die droom – musiekvideo

“Die loon van die droom” kom van Andries se eerste solo-album genaamd Insomniak se droomalmanak (2003). Die Franse filmmaker Laure Saint-Hillier het hierdie video daarvoor gemaak. Die beeldmateriaal is in 2003 op die Weskus geskiet en redigering is in 2004 in Londen voltooi. Die video werk met die dromerigheid wat in die liriek verwoord word. Karla du Plessis is vir die lieflike agtergrondstem op die opname verantwoordelik.

 

Bleek Berus

“Bleek Berus” is Andries Bezuidenhout se tweede solo album, wat in 2009 by One-F Music verskyn het. Die volgende is die liriek van een van die tracks van die CD, genaamd “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry”. Daarna volg uittreksels uit resensies van die CD.

Luister na “Die laaste brandwag” en “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry” op Soundcloud

“Bleek Berus”:
Apple Music
Spotify

Meer oor “Bleek Berus” by One F Music.

Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf,
jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf,
geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou,
ʼn vinnige e-mail om kontak te hou.

My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek,
na die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek,
daar was bokse vol foto’s, leggers vol briewe,
die uitsorteer laat ek nou maar oor aan die diewe.

Refrein:

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry…

Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel,
vensters toegespyker, haar dae is getel,
geen Mini-Cult Cinema, geen Estoril Books.
Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?

Refrein

Bernoldus en Kerkorrel is albei dood
en Kombuis se kinders is al amper groot.
Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer,
maar tog moet ek sê ek het iets geleer:

Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie
en al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie.
Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry
tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly,

is ek deel van hierdie land met liefde en haat,
het ek te veel gegee en te veel gevat
om die donker land nou te verlaat,
om die donker, donker land nou te verlaat.

So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap,
ek druk alweer “delete”, laat ons dit hierby laat.
Droom sagte drome in die noordelike nag,
in die suide van Afrika sal ek vir jou wag.

Uittreksels uit resensies van “Bleek Berus”:

“ ‘Modest’ is the best word to describe Andries Bezuidenhout. Throughout our two-hour interview he constantly tries to downplay the importance of his work as a singer/songwriter, as someone who carried the Voëlvry spirit into the 21st century. But for me Andries is one of the most exciting and versatile characters in the alternative Afrikaans scene. Many will know him as the singer of the now defunct Brixton Moord en Roof Orkes. But he’s also a sociologist at Wits University and a columnist for Rapport, while last year he published his first volume of poetry, Retoer. It took him five years to come with a follow-up to his first solo album, Insomniak se Droomalmanak. But the recently launched Bleek Berus was well worth the wait. Largely produced by Andries’s ex-band mate Drikus Barnard it has a bleak, almost tinny sound and songs that tell tales of leaving, murder and ecological disaster. Discomforting tunes for an uncertain age, but always with a touch of humour.”
– Fred de Vries, LitNet

“Oukei, hier hoor ek nou ’n liedjie wat vir klassieke status bestem is, is ’n gewaarwording wat jy bitter selde kry. Dis dan wanneer jou bloed ’n snaar word, soos David Kramer sê, en jy vergeet van alles anders in en om jou. Ek het daardie spesiale transendentale hoendervleis ervaar toe ek as omgekrapte 17-jarige in 1988 vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band in die ou Grand Central in Kerkstraat gaan kyk het en deur Hillbrow oorweldig is. En byna 20 jaar later by Oppikoppi 2007 word ek deur dieselfde gevoel herbesoek toe Andries Bezuidenhout sy ‘Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry’ begin speel. ‘Certain songs they get so scratched into our souls’ sing The Hold Steady, en Bezuidenhout se Hillbrow, wat direk na Kerkorrel se liedjie en ook Donker donker land verwys, is een van daai – die soort ballade waarop Leonard Cohen trots sou wees… En hierdie is nie die enigste juweel op Bleek berus nie. Bezuidenhout… se tweede album bevat tien ambisieuse snitte wat veral die woord, die werklikheid en die emosie van woestyn verken in duister lirieke, mineurtone en afsydige melodieë vol skaduwees… Bezuidenhout het reeds met sy solo-debuut, Insomniak se droomalmanak (2003), bewys dat hy ’n hoogs begaafde liriekskrywer is, maar sy tweede is musikaal interessanter, veral vanweë Drikus Barnard se musiekregie wat intieme akoestiese kitaarspel treffend met elektroniese klanke en slagwerk inkleur en vervreem. Dis ’n merkwaardige album wat verbete probeer sin maak van ’n ongenaakbare wêreld, en in die proses Bleek berus vind in die treurige skoonheid van woord en klank.”
– Danie Marais, Beeld

“He may describe himself as a mere ‘blip’ on the Afrikaans cultural scene but Andries Bezuidenhout’s new album Bleek Berus (One F Music) positions him as one of the country’s most significant songwriters. This is evident on the poignant Dis Net Werk Toe Wat Ek Nog Deur Hillbrow Ry, a nostalgic lament, which poses the question: What happened to the Voëlvry generation? Johannes Kerkorrel’s Hillbrow was an anthem for the youth that rallied around the Voëlvry movement, so Bezuidenhout’s confession that the only time he thinks about the run-down suburb is when he drives through it on the way to work is a severe indictment of how times have changed between 1989 and 2010. Bezuidenhout acknowledges this in the liner notes when he describes the song as being about the Voëlvry generation who now drive BMWs and are too afraid to pick up hitchhikers. In 1989 Kerkorrel was singing ‘gee you hart vir Hillbrow’ and taking the piss out of racist South Africans behind the wheels of their BMWs voting for the National Party. Bezuidenhout in 2010 is asking the questions: What has become of that punk spirit that fuelled Voëlvry? … As the title suggests, the album is fascinated with the idea of white people finding peace in the new South Africa, reconciling their troubled history and positioning themselves within the social fabric of South Africa — and the bleak dry landscape is the perfect metaphor for that history. While friends emigrate and others live in fear, Bezuidenhout is looking forward — too much a part of this country to quit, but also disenchanted with the way most white people live their lives in the new democratic South Africa. Is the Voëlvry message still relevant to white South Africans in 2010? Bezuidenhout doesn’t have the answers, but he is asking the questions.”
– Lloyd Gedye, Mail & Guardian

“Tematies sny die meeste liedjies aan droë plekke. Soms het dit direk met waterlose landskappe te doen, andersins met plekke waarheen uitgewyk is en daar dan na die waterryke van die ­bekende gesmag word. Moet egter nie stofgetrapte gedagtes of ’n sentimentele geweeklaag verwag nie. Daar is humor en lewenswaar­hede wat werklik vermaak en met jou praat. Bezuidenhout het saamgespan met Drikus Barnard (Brixton van die voormalige Brixton Moord en Roof-orkes). Hulle het sowat twee jaar lank aan die album gewerk. Sy vorige solo-album, Insomniak se Droomalmanak (2003), het destyds al die hoop laat opvlam dat dit opgevolg sou word. Hoewel hy hom meer onlangs met die digkuns besig gehou het (en dit wys in die album), is die nuwe album meer as welkom. In ’n persverklaring word dit ‘hedendaagse Americana en alt-country’ genoem, maar hierdie album is uit Afrika. Waar anders kan die ‘Pikaninie-wiegelied’ só klink? Die elektroniese inkleding is oorspronklik en luister gerus na die ­onverbeterlike stemkombinasie van Bezuidenhout en Marissa West op die snit ‘Droogte’.”
– Marian Malan, Die Burger