Trooskantates

Afrikaanse musikant, digter, skilder en lid van die Brixton Moord & Roof Orkes se vyfde solo-album. Tien nuwe komposisies vir onstuimige tye. Musiek wat troos sonder om te sus. Die album is op 5 Julie 2024 vrygestel.

Musiek en woorde deur Andries Bezuidenhout, behalwe “Explorer of Nahoon”, melodie deur Andries Bezuidenhout en Lukas van Garderen
Opgeneem en gemeng deur Andries Bezuidenhout
Meester deur Willem Möller by Sharp Street Studio

Luister hier.

LIRIEKE EN MUSIEKVIDEO’S

[1] RESTOURANTEUR

Stop, stop, hou stil hier
Ek is kelner en skoonmaker, sjef en sommelier
Elke nuwe gas word behandel soos familie
Die malligheid daar buite kom glad nie deur die mure nie
Eetgerei gerangskik ter wille van die rym
Ter wille van die melodie elke tafeldoek se grein

Wat ek voorsit is vrede, wat ek opdis is rus
Respyt van die ewigheid is al wat op die spyskaart is

Vir die wêreld se probleme het niemand meer raad nie
So fokus op die koffie is die koppie op die tafel
Hier’s kelders met vate vol vrede en wyn
Spense met wense wat verlange laat verdwyn
Pas gemaalde koffie, vars gebakte brood
Uitgedrukte vrugtesap van lemoene uit die boord

Wat ek voorsit is vrede, wat ek opdis is rus
Respyt van die ewigheid is al wat op die spyskaart is

Soms op my eie in die koue kombuis
In die oggendure hoor ek hoe die yskaste druis

Wat ek voorsit is vrede, wat ek opdis is rus
Respyt van die ewigheid is al wat op die spyskaart is

[2] DROOM VAN DIE KAMDEBOO

Kyk in die truspieël kom die son nou op
Koffie uit die Stanley vir ‘n oomblik se stop
By bankies van beton onder ‘n bloekomboom
Onderkant die bergpas is die Kamdeboo

Die spoedmeter is vlot en volkome tweetalig
Dit praat kilo’s per uur, maar is ook in myle vaardig
Jy lees jou spoed nie op ‘n naald nie, maar horisontaal
Soos ons seil verby ‘n rooivalk op ‘n telefoonpaal

Rooi leersitplekke, kattebak met vinne
Mixtape op die deck vir die beat hier binne
Tussen Pearston en Graaff-Reinet my grootste wens, ‘n
Blink swart convertible seventies Benz

Ja, Lucy Jordan kan die Eiffeltoring maar hou
Van Thelma en Louise kan ek net die einde onthou
Na Bagdad Café sal jy vir ewig hier rond soek
En vir Jack Kerouac het ons dekades gelede gegroet

Matchbox full of diamonds, en Riders on the storm
Die Mystic Boer dans doer in ‘n warrelwind rond
Oor die speakers sing Kerkorrel weer oor ‘n sprinkaanplaag
Soos die vlaktes in die skemer in ‘n berghang verdwaal

Rooi leersitplekke, kattebak met vinne
Mixtape op die deck vir die beat hier binne
Tussen Pearston en Graaff-Reinet my grootste wens, ‘n
Blink swart convertible seventies Benz

Ons het nêrens om te wees nie, nêrens om heen te gaan nie
En hoe ons hier gekom het gaan niemand juis aan nie
Telefoonpale, vlieswolke daar bo
Net ons en die vlaktes van die Kamdeboo

Rooi leersitplekke, kattebak met vinne
Mixtape op die deck vir die beat hier binne
Tussen Pearston en Graaff-Reinet my grootste wens, ‘n
Blink swart convertible seventies Benz

Is hierdie die waarheid, of iets wat ek onthou
Of dalk net ‘n wens of ‘n droom vir nou
Maar dis ek agter die stuur en jy langs my
Van Pearston al die pad by Graaff-Reinet verby

[3] ROEP VAN DIE ROOIVLERKSPREEU

As die son net vir ‘n oomblik
Agter berge weg wou bly
Sou ek dalk tog uiteindelik
In drome weg kon gly
Maar die wekker op die boekrak
Hou aan om te marsjeer
Teen ‘n onverbiddelike pas
Word ure aangekeer

As jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu
En as jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu

Jou vroeg kon hoor in die oggendmis
Nog voor jy op die geut kom sit
Jou roep is ongedurig
Jou fladder wispelturig
My generasie vrees sentiment
Ons harte klop koue sement
Is dit die dat ek so projekteer
Oor wat mens by ‘n spreeu kan leer

As jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu
En as jy iewers sou land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu

Ek ken Central Park en Voldelpark
Selfs Zanzibar se ou nagmark
Sou jy daar aard wonder ek
Hoe kies ‘n spreeu sy landingsplek
Hier’s darem minder ligte
En daarom skyn die sterre stip
Herinner my tog hieraan
As jy môre teen my venster pik

En as jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu
En as jy iewers sou land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu

[4] PHILIP GLASS OP DIE HOËVELD

Saterdagmiddag, jy bestuur
Die vensters is oop, ek’s die passasier
Die son flankeer met skaduwees so rondom vier
Na ‘n middagete met pizza en bier

Oor die speakers lewer Philip Glass kommentaar
Klawermelodie wat oor en oor herhaal
Ek neem foto’s deur die venster met my selfoonkamera
Die stad is ‘n draaiboek en ek is die skriba

Die lewe boots kuns na
Dis ‘n Hoëveld wintersdag in Afrika
En as jy so ry skuif als
In stadige aksie verby

Straatlamp lyk soms soos ‘n beeldhouwerk
In ‘n hoekkafee kan jy skilderye opmerk
Franchise flits ‘n neonlig naam
Winkelpop wink deur ‘n vensterraam

Die man met die teken wat staan op die hoek
Verduidelik oor hoekom hy nog steeds na werk soek
Verkeersligte neem ‘n smoke break met beurtkrag
Jy wag telkens geduldig jou beurt af

Die lewe boots kuns na
Dis ‘n Hoëveld wintersdag in Afrika
En as jy so ry skuif als
In stadige aksie verby

Oor of jy gebore word het jy geen keuse nie
Of wat gebeur aan die begin van jou lewe nie
Ek dink ons het mekaar darem gekies
So tussen die wankel van wins en verlies

Maar ons hier in die kar is geen kunsfilm nie
Al beweer die klankbaan klavier iets anders nie
Laat die fantasie ons elders heen vat
Ek skrik wakker as die band in ‘n slaggat klap

Die lewe boots kuns na
Dis ‘n Hoëveld wintersdag in Afrika
En as jy so ry skuif als
In stadige aksie verby

[5] EXPLORER OF NAHOON

Seewind in my hare, ‘n uil hoe-hoe
Jou kamerlig brand nog by jou huis in Nahoon
Wat ek moet doen weet net Ballyhoo
Hulle het die nommer van die Man in the Moon

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

Ek’s ‘n outydse ontdekker van suburban strate
Die teerpad is soos die oseaan se water
Maar golwe trek hier rond net deur die lug
Ek stuur seine in die nag na jou toe terug

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

Soms verlang ek na ‘n land sonder grense
Plekke sonder name, geboue of mense
Sou jy daar wees op ‘n nuwe planeet
Of het jy reeds van my naam vergeet

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

Ek is buite in die straat onder die maan
Ek’s ‘n mot en die huisligte trek my aan
Ek is Vasco da Gama ek is Magellaan
Hoe’t ek beland in ‘n wentelbaan
Wat om jou draai om jou kom en jou gaan
Tussen waar jy slaap en waar ek staan
Uit hierdie sirkel kan ek nie tree nie
Uit die om en om swenk kan ek nie breek nie
En wat dit beteken kan ek nie weet nie
Maar oor Yuri Gagarin kan ek nie vergeet nie

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

[6] SEINE IN ANALOOG

In die dae toe daar nog telefoondrade was
Met of sonder swawels of hadidas
Of toetspatrone wat TV-skerms arresteer
En zig-zag antennas wat radiogolwe aankeer

Is dit jy wat vanaand die sesuur nuus lees
Is dit jy wat sê wat die weer se bui gaan wees
Al slaan ek hoe hard op die kassie se buis
Is daar net sneeu, snee, sneeu, sneeu wat suis

Roep ek jou met Morsekode
Roep ek jou met ‘n rooksein
Voor ek vergeet, voor ek vergeet
Voor ek vergeet en jou stem verdwyn

Op ‘n tweerigtingradio soek ek jou kanaal
Maar my seine het iewers in die nag verdwaal
Ek roep jou eenmaal, ek roep jou tweemaal
Ek roep na jou in my brabbeltaal

Ek lig die gehoorbuis, maar hoor net kringfluit
Ek bel jou nommer steeds uit my kop uit
Katode klink iewers in ‘n foonsentrale
Stol in die lugleegte tussen twee pale

Roep ek jou met Morsekode
Roep ek jou met ‘n rooksein
Voor ek vergeet, voor ek vergeet
Voor ek vergeet en jou stem verdwyn

Soms hoor ek jou klingel
In ‘n lang tiekie se draaie
Soms hoor ek jou fluister
In ‘n telefoongids se blaaie
Soms sis jy deur
Hierdie telefoonhokkie deur
Soms voel ek jou deur
Hierdie lugleegte beur

Roep ek jou met Morsekode
Roep ek jou met ‘n rooksein
Voor ek vergeet, voor ek vergeet
Voor ek vergeet en jou stem verdwyn

[7] VALSBAAI SE WAARHEID

Lank, lank gelede is kalk hier
Uit skulpe gebrand en gemaal
En is snoek en harders met sloepe
Al die pad kaai toe gehaal
Nou daar nie net ‘n hawe nie
Maar ook ‘n stasieperron
Waar ‘n trein vol skaduwees
Elke oggend Victoriaans verbykom

Die enigste waarheid
Dryf op die deinings van Valsbaai
Die enigste klaarheid
Is in die misbank se waai

By Café Olympia
Koel my koppie swart koffie solank af
Terwyl lycra met honde aan leibande
Op die promenade verby draf
In tie-dye en batik
Kom tree daai hippie hier af
En ‘n ingenieur uit die Kongo
Versamel munte as ‘n karwag

Die enigste waarheid
Dryf op die deinings van Valsbaai
Die enigste klaarheid
Is in die misbank se waai

Ons almal wat hier saam
Oor die einde van die wêreld rou
Tussen die oomblikke wat ons vergeet
En die oomblikke wat ons onthou
Elkeen van êrens elders nou hier
Maar gaan elders heen
Hierdie plek buite geskiedenis
Tussen baai en sandsteen

Die enigste waarheid
Dryf op die deinings van Valsbaai
Die enigste klaarheid
Is in die misbank se waai

Dit als verneem ek
By die visserman op die hawe
Ek is weer in Kalkbaai vir ‘n week
Om dooie drome te begrawe

[8] SKADUWEE

My skaduwee volg my
Soos ‘n geykte kwaal
Al jaag ek soos die duiwel
Kom my skaduwee my haal
Bene en arms
Van wisselende lengtes
Afhangend van hoe son en maan
Om mekaar bly wentel

Skaduwee is iets wat jy
Mettertyd gewaar
Op teer of grasperk, teen ‘n muur
En eensklaps is dit daar
Eintlik sou ek graag met iemand
Skaduwees wou ruil
En voel hoe voel dit om ‘n slag
Van ‘n ander een te skuil

Ek en jy skaduwee
Jy en ek is een, maar twee
En waarheen ek ook vlieg of vlug
Keer ek weer na jou toe terug

Ek het ‘n slag al probeer
Om my skaduwee uit te vee
Om van die ding af weg te hardloop
Of van daarvan weg te sweef
Maar ek weet dis altyd aan my vas
Selfs ook as ek sou droom
In die donker skuil dit daar
Begrens my soos ‘n soom

Die ding is aan my voete vas
En hou my op my tone
Desperate dans roetine
Met angstige patrone
Ek laat die kwessie aan die tyd oor
Miskien ook aan geluk
Ek wag maar vir die dag wanneer
My skaduwee my insluk

Ek en jy skaduwee
Jy en ek is een, maar twee
En waarheen ek ook vlieg of vlug
Keer ek weer na jou toe terug

Refleksie is ‘n skaduwee
In ‘n venster of ‘n spieël
Afruk wat die kyker koggel
En met jou sinne speel
Want binne in die spieëlbeeld
Is die loopvlak verdeel
Met ‘n ek en met ‘n skaduwee
Wat die kalklig kom steel

Ek en jy skaduwee
Jy en ek is een, maar twee
En waarheen ek ook vlieg of vlug
Keer ek weer na jou toe terug

[9] WENTELBAAN

Soos altyd vanaand weer sy tafel opgesoek
Die een met die uitsig, die een in die hoek
Na die spyskaart hoef hy al lank nie meer te kyk nie
Van sy gewone keuse sal hy nooit afwyk nie

Gitswart son, silwer maan
Sterre op skrefies en ons verstaan
Dat als nog altyd om elkander draai
Dat ‘n wentelbaan als weer van vooraf laat herhaal

Bolognese en bier om mee te begin
Bottel Bordeaux om oor die dag te besin
Hierdie dans met glas en porselein
Het hy oor die jare reeds kleingekry

Gitswart son, silwer maan
Sterre op skrefies en ons verstaan
Dat als nog altyd om elkander draai
Dat ‘n wentelbaan als weer van vooraf laat herhaal

Die dag is duister, maar snags sien hy skerp
As die straatlampe lig op die onderwerp werp
Patrone word duidelik in ‘n maanskaduwee
Voorwerpe kry vorm as die donker vibreer

Gitswart son, silwer maan
Sterre op skrefies en ons verstaan
Dat als nog altyd om elkander draai
Dat ‘n wentelbaan als weer van vooraf laat herhaal

[10] RESTOURANTEUR SLUIT TOE

Instrumental

© Andries Bezuidenhout

Explorer of Nahoon – music video

A song about the suburbs, in this case the suburbs of East London in South Africa’s Eastern Cape Province. From the albums No place for time here and Trooskantates (both released on 5 July 2024). The song contains a reference to “Man in the moon”, a 1980s South African hit song by the East London band Ballyhoo.

Lyric by Andries Bezuidenhout, music by Lukas van Garderen and Andries Bezuidenhout
Recorded and mixed by Andries Bezuidenhout
Mastered by Willem Möller

Lied vir Berlyn/ Song for Berlin – music video

Van die album Dink aan planete (2022), beelde wat met ‘n besoek aan Berlyn in 2023 geneem is en met kunsmatige intelligensie ‘n bietjie meer dromerig gemaak is. ‘n Lied oor ‘n stad met ‘n traumatiese geskiedenis – die afbreek van ou geboue en monumente en die oprig van nuwes. Die meeste van die videomateriaal is van die Humboldt Forum se dak geneem, met ‘n pragtige uitsig oor die stad.

English translation of “Lied vir Berlyn”. An outsider’s view of a complicated and beautiful city, where old buildings and walls are demolished and new ones are erected.