Dink aan planete

 

Dink aan planete” is Andries Bezuidenhout se vyfde album as solo-kunstenaar. Die album bevat veertien oorspronklike komposisies. Een daarvan, “Nagspel”, is ‘n gedig van Koos du Plessis wat deur sy dogter Karla getoonset is. Hierdie is die eerste opname van die lied. In “Nagspel” skryf Koos du Plessis: “Jy probeer jouself herinner/ Maar jy’s gevang deur tyd en plek/ En daar’s iets wat jou verhinder/ Om die oorsprong te ontdek// Want jy’s die som van alle jare/ En algaande word jy blind/ Tog onbegrypend hoor jy snare/ Soms in die nagte in die wind.”
Die tema in “Nagspel” – van iemand wat in tyd en plek vasgevang is, maar nogtans musiek in die nagwind hoor – dien as ‘n tipe tema vir die album. In Du Plessis se “Nagspel” skyn “’n skreef kitaar se klank” deur krake in ‘n deur: “Iets van alle vroeër wake/ Iets van bid en hoop en dank.” Net so, op hierdie nuwe album, dink karakters wat in die lirieke verskyn aan planete en ander ver plekke as ‘n tipe manier om oorspronge te ontdek. ‘n Tuiskoms in liefde is ‘n deurlopende tema, asook minneliedere aan plekke – van Berlyn tot Burgersdorp, laasgenoemde geïnspireer deur skilderye met die dorp as tema deur die skilders Walter Meyer, Ben Coutouvides en Willem Pretorius. Landskapskuns is ook ‘n tema in ‘n ander lied, waar die spreker hom verbeel hy ry deur ‘n landskapskildery en die pad van die Kaap af Alice toe beskryf.
Dan is daar stories van doodgewone mense op doodgewone plekke, soos die karakter Lavinia, wat instaan vir die vrou op soveel dorpe wat misverstaan word – haar eksentrieke smaak vir kuns, kleur en klere word deur almal as iets boos gesien – sy is die dorp se heks. Die een kind wat na haar storie wil luister, word deur sy ouers daarvan weerhou. Tóg sien hy Lavinia as ‘n rigtingwyser na elders, want sy kan die sterre en maan met haar teleskoop lees. In “Na die geliefde land” (die titel verwys na ‘n roman deur Karel Schoeman) keer iemand terug na die plaas waar hy grootgeword het, nou ‘n verlate ruïne.
Die album is in 2021 en 2022 deur Andries in sy studio in Alice in die Oos-Kaap opgeneem, meestal in die nag, as dit stil is. Hy het dit self gemeng en die meester is deur Willem Möller behartig. Dis op 1 September 2022 op streaming platforms vrygestel.

Musiekvideo

Luister na Dink aan planete.

AJ Opperman se artikel oor “Dink aan planete” in Die Burger

DINK AAN PLANETE – LIRIEKE

[1] EK BRING VIR JOU

Vir jou kan ek nie die wêreld beloof nie
Maar miskien eenvoudige woorde
Vir jou kan ek nie die maan beloof nie
Maar dalk ‘n melodie
Ek het nie invloed nie, dalk ‘n bietjie talent
Kampstoele, ‘n koffiekan en ‘n tweemenstent

Ek bring vir jou rustige dae
Ek bring vir jou vrede as jy slaap

Vir jou kan ek nie die aarde beloof nie
Maar ek ken ‘n mooi pad na die Hel
Vir die kan ek nie eers die see beloof nie
Maar ek kan ‘n paar stories vertel

Ek bring vir jou troos as jy huil
Ek bring vir jou ‘n hoek om in te skuil
Ek bring vir jou ‘n warm kombers
Ek bring vir jou ‘n lamp en ‘n kers

Ek het nie baie goed nie
Maar boeke wel in oorvloed
Musiek om na te luister
By ‘n kampvuur se gloed
Ek ken ‘n paar resepte
Vir brood of pannekoek
Maar vir meer as dit sal jy dalk
Maar elders moet gaan soek

Ek bring vir jou troos as jy huil
Ek bring vir jou ‘n hoek om in te skuil
Ek bring vir jou ‘n warm kombers
Ek bring vir jou ‘n lamp en ‘n kers

[2] PAD NA ALICE

Ek verbeel my ek ry deur ‘n landskapskildery
By aalwyne, spekbome en bloekoms verby
Berge bakboord, kranse stuurboord
My pad wat loop deur die vallei
Pad wat aanhou tot dit ophou
By die plek waar jy nou bly

Voet in die hoek, hand op die stuur
Bande wat suisend oor die teerpad skuur
Stapelwolke stook die skemervuur

Vroegoggend Boland tot deur die Tradouw
By Boplaas vir bottels robyne stilgehou
Oor Oudtshoorn, De Rust
Deur Willowmore aangehou
Graaff-Reinet en Bruintjieshoogte
Deur Adelaide tot by jou

Voet in die hoek, hand op die stuur
Bande wat suisend oor die teerpad skuur
Stapelwolke stook die skemervuur

So iewers padlangs verdwyn woorde en taal
Word kleure gemeng van skel na vaal
Het namiddag ‘n dieper gloed in vroegaand gaan haal
Waarvan die weerkaatsing nou
Tussen klowe bly maal

Voet in die hoek, hand op die stuur
Bande wat suisend oor die teerpad skuur
Stapelwolke stook die skemervuur

[3] LIED VIR BERLYN

Van die Fernsehturm sien jy als van bo
Want ‘n nuwe stad leer ken jy mos so
Stad van mure, stad van hekke
Checkpoint Charlie en Brandenburg Tor

Vir Leonard Cohen beter in die Waldbühne leer ken
Om kort daarna maar weer afskeid te kan neem
In Unter den Linden koop ons parfuum
By die Hauptbahnhof hoor ons Lili Marleen

Stad van sloop, stad van bou
Mure word soms in drome onthou
Altyd in sirkels op die S-Bahn se spoor
Op Alexanderplatz my ewewig verloor

As jy betonblokke poets word hulle blink
In rye gestapel kan die lig jou verblind
In Kastanienallee of beton verdwaal
As die verlede jou iewers uit die toekoms kom haal

Soek Rosa Luxemburg langs Kreuzberg se kanaal
Waar Wim Wenders se engele in die skemer dwaal
Die Palast der Republik se versplinterde glas
Hoop groei somtyds waar nagmerries was

Stad van sloop, stad van bou
Mure word soms in drome onthou
Altyd in sirkels op die S-Bahn se spoor
Op Alexanderplatz my ewewig verloor

Vir ‘n Steh Kaffee met jou in Prenzlauer Berg ontmoet
My klere was te donker vir die kleur van my gemoed
Stad van ontheemdes, stad van behoort
Checkpoint Charlie en Ishtar se poort

Stad van sloop, stad van bou
Mure word soms in drome onthou
Altyd in sirkels op die S-Bahn se spoor
Op Alexanderplatz my ewewig verloor

[4] BLY ‘N RUKKIE LANGER

Die oggendskemer is nou amper hier
Die gordyn ruik nog na laasnag se vuur
Stadig verskyn die deken se voue
Warm hier binne, buite die koue
In die herfsseisoen het ‘n kilheid kom sit
Netnou skif die mis van grys na wit
Die melklorrie rammel en ver ‘n trein
Altyd eers klank voor lig verskyn

Slaap ‘n bietjie langer, wat maak dit saak
Wat almal daar buite vandag wil maak
Ek stuur ‘n boodskap dat ek en jy
Net ‘n bietjie langer hier binne wil bly
Bly ‘n rukkie langer hier langs my

Netnou sal ek die luike oopmaak
Netnou stook ek koffie op die Aga
Netnou vir jou waskom kook ek water
Maar asseblief ‘n bietjie later
Slaap nog ‘n ruk, draai eers om
Nog ‘n oomblik voor die son opkom
Later sal die denne die misgordyn terugtrek
Later sal die berge oor die landskap uitstrek

Slaap ‘n bietjie langer, wat maak dit saak
Wat almal daar buite vandag wil maak
Ek stuur ‘n boodskap dat ek en jy
Net ‘n bietjie langer hier binne wil bly
Bly ‘n rukkie langer hier langs my

Teen die gange se mure ‘n familievergadering
Generasies se hoop en verwyt en verwarring
Teen opponerende mure hang hulle daar
In geraamde stiltes staar hul na mekaar
‘n Kameralens se antieke visier
Het ‘n oomblik se voorgee verewig teen ‘n muur
Maar ons is anders, ons lyk nie so nie
So anders as almal wat eens hier gewoon het

Slaap ‘n bietjie langer, wat maak dit saak
Wat almal daar buite vandag wil maak
Ek stuur ‘n boodskap dat ek en jy
Net ‘n bietjie langer hier binne wil bly
Bly ‘n rukkie langer hier langs my

[5] NA DIE GELIEFDE LAND

Ek moet twee keer omdraai voor ek die hek vind
Dis met geroeste slot en ketting vasgebind
Die grensdraad is stukkend so ek klim sommer deur
Die naambord het tot naamloos in die wind verweer

Ek volg ‘n toegegroeide oprit in ‘n bloekomboomlaning
Vyeboord se takke is verwronge geraamtes
Familiekerkhof stene fluister nog die name
Van mense aan wie ek lank terug verwant was

Ek het hier kom stilhou vir ‘n laaste keer
Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer
Ek dokumenteer wat die tyd beslis
Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is

Steenbok verstar en vlug uit die klipskuur
Ek vind die pad na die opstal langs wat oor is van die kraalmuur
Aalwyn is meer gehard as ‘n roostuin
En kaktus hou langer as roosmaryn

Rankers in die balke, vinknes teen die skoorsteen
Onkruid wat doodluiters deur vloerplanke beur
Porseleinteëlskerwe langs die badkamerdeur
Die nok is geknak, die mure verweer

Ek het hier kom stilhou vir ‘n laaste keer
Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer
Ek dokumenteer wat die tyd beslis
Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is

Ek volg my spore terug na die motor langs die teerpad
Al teken van mense hier rond, ‘n plastieksak
Wat windaf moes waai en teen ‘n draad kom hande klap
Vir die pelgrimsprosessie van ‘n verloopte hart

Ek het hier kom stilhou vir ‘n laaste keer
Ek het niks om te sê nie, so ek skryf maar net neer
Ek dokumenteer wat die tyd beslis
Geen lesse te leer nie, dit is wat dit is

[6] SEISOENE VERANDER WEER

Vanoggend weer gevoel die seisoen het gedraai
Ander kleur in die lug, ‘n ander wind wat waai
Teen die berg het die son nou ‘n killer kleur
Die gras is brosser, daar’s ‘n kug in die weer

Soms dink ek aan seisoene, soms dink ek aan jou
Soms dink ek aan planete wat aanhou en aanhou

Seisoene gaan oor afstand, afstand van die son
Soms ver, soms naby, as ons maar net kon
Kies watter dag of uit watter bron
Die tye draai of verandering kan kom

Soms dink ek aan seisoene, soms dink ek aan jou
Soms dink ek aan planete wat aanhou en aanhou

Moeg vir seisoene, moeg vir die weer
Gee my grys in die lug wat verandering kan keer

Soms dink ek aan seisoene, soms dink ek aan jou
Soms dink ek aan planete wat aanhou en aanhou
Draai om sonne, draai om sterre
Draai en draai vir altyd, draai vir nou

[7] GRENSE VAN ONEINDIGHEID

Hoor ek praat met jou sonder woorde
Ek’s beide die oorlog en vrede se verloorder
Die een wat leë houers opgaar
Wat kaal en koud is en onsigbaar

Niks druis so hard soos absolute stilte nie
Niks voel so beklemmend
Soos die grense van oneindigheid nie

Ek’s die een wat branders met ‘n besem opvee
Die een wat wolke in skulpe aangee
Wat vuur probeer giet en sand wil skink
Wat homself verdrink in die oggendwind

Niks druis so hard soos absolute stilte nie
Niks voel so beklemmend
Soos die grense van oneindigheid nie

Ek ‘n fraksie van niks, darem meer as min
Ek’s duskant die niet se einde of begin
Ek’s snel soos klank, langsaam soos lig
Hoekig soos ‘n silinder se aangesig

Niks druis so hard soos absolute stilte nie
Niks voel so beklemmend
Soos die grense van oneindigheid nie

[8] OPGAWE

Kyk hier sit ek voor die klawers in flenters en katoen
Ongelukkig net soveel wat jy met snare en ivoor kan doen
Iewers uit ‘n fles se kolk het ek ‘n wysie gaan roep
Iewers op ‘n boekrak wat ek wou sê gaan soek

Gister, eergister, môre, of miskien die dag daarna
Sal jy my vir ‘n opgaaf van vandag kan vra

Met sleutels sluit ek deure dig, maar ontsluit ‘n melodie
Oor die loute van my amberglas gee ek nie regtig om nie
Soms oorspronklik soms gesteel, meestal sommer net geleen
Nou impromptu, dan berekend, my klavierkonsert vir een

Gister, eergister, môre, of miskien die dag daarna
Sal jy my vir ‘n opgaaf van vandag kan vra

Dis net dat ek soms vergeet wat in die oomblik gebeur
Nalaat om neer te pen wat die note my leer

Gister, eergister, môre, of miskien die dag daarna
Sal jy my vir ‘n opgaaf van vandag kan vra

[9] HEKS VAN DIE KAROO

Persoonlik dink ek nie Lavinia is ‘n heks nie
Al dink almal anders hier so
In bangmaakstories speel sy ‘n hoofrol
Op hierdie dorp in die Karoo
Sy’t sewe katte en ‘n rot in ‘n hok
Teleskoop op die balkon en ‘n kraai op haar nok

Wat lees Lavinia in die sterre
Wat praat sy met die maan
Sien sy patrone in hierdie wolke
Wat ons almal ander verbygaan

Hier rond kook ons mos als tot dit grys is
Lavinia het antieke resepte vol soel speserye
En bottels vol kwepers en perskes en vye
En pakkies met peper en wilde olywe

Wat lees Lavinia in die sterre
Wat praat sy met die maan
Sien sy patrone in hierdie wolke
Wat ons ander verbygaan

Een middag in die winter nooi sy my binne
In potyster brou sy vir ons ‘n koppie tee
Praat oor Kaapstad van lank gelede
Waar als die heeltyd aanhou beweeg
Kabaret en toneel, oor skrywers en akteurs
Vertel van ‘n vriendin, dit was so lank gelede
En voor sy haar storie kon klaar vertel
Hoor ek hoe klop my pa aan die deur

Wat soek jy Lavinia op hierdie Karoodorp
Waar niks aangaan nie
Sien jy patrone in hierdie wolke
Wat ons ander verbygaan

[10] OM BURGERSDORP TE SKILDER

Selfs die landskap hier lyk streng en droog
Stapelwolke afsydig, hang yl en hoog
Calvinistiese kerk die spilpunt waarom
Dorpshuis, bankkluis en kasregister saamdrom

Voel jy, voel jy, voel jy hoe dwaal Piet Klopper se gees
Wonder jy, wonder jy, wonder jy
Wat die engel uit haar marmerboek lees

Soms word iets staangemaak wat beur na bo
Apollo-lig of kerktoring wat uitkyk oor die Karoo
Als ander hier rond lê horisontaal
Die teerpad, die koppies, selfs ‘n telefoonpaal

Voel jy, voel jy, voel jy hoe dwaal Piet Klopper se gees
Wonder jy, wonder jy, wonder jy
Wat die engel uit haar marmerboek lees

Staandak van sink het brakdak vervang
Klinkersteenwinkels wat na klante verlang
Sommige stop en maak ‘n skildery
Maar die meeste ander mense ry net verby

Voel jy, voel jy, voel jy hoe dwaal Piet Klopper se gees
Wonder jy, wonder jy, wonder jy
Wat die engel uit haar marmerboek lees

[11] GESKIEDENIS

Dit voel soms of ons leef in ‘n geskiedenisboek
Oorlog en pes, die doodsengel op besoek
Maar wêreldryke struikel en beskawings swik
Eeu is ‘n oogwink, of hoogstens ‘n hoofstuk

Die eerste keer as tragedie
Die tweede en derde en vierde as klug
Vir die meeste van ons maar net die lewe
Soms kyk ons vooruit, maar meestal terug

Lande se glorie word besing uit torings
Maar die gatkant van die storie kom uit slawe se wonings
Enkeles met visioene, die meeste kap graniet
Vir bakens en mure om grondgebied

Die eerste keer as tragedie
Die tweede en derde en vierde as klug
Vir die meeste van ons maar net die lewe
Soms kyk ons vooruit, maar meestal terug

Honderd keer is Boedapest gestroop
En elke keer is die mense maar genoop
Om skoon te vee en maar aan te hou
Wat anders kan jy doen as om van vooraf te bou

Die eerste keer as tragedie
Die tweede en derde en vierde as klug
Vir die meeste van ons maar net die lewe
Soms kyk ons vooruit, maar meestal terug

Hulle wat van ruïnes monumente maak
Val vas tussen klippe en raak vir ewig aan die slaap

Die eerste keer as tragedie
Die tweede en derde en vierde as klug
Vir die meeste van ons maar net die lewe
Soms kyk ons vooruit, maar meestal terug

[12] NAGSPEL

Die wind speel om die huis se hoeke
Dis ‘n bitter melodie
Wat soos gesigte uit ou boeke
Kom en vra ken jy my nie

Jy probeer jouself herinner
Maar jy’s gevang deur tyd en plek
En daar’s iets wat jou verhinder
Om die oorsprong te ontdek

Want jy’s die som van alle jare
En algaande word jy blind
Tog onbegrypend hoor jy snare
Soms in die nagte in die wind

En deur die deur se krake
Skyn ‘n skreef kitaar se klank
Iets van alle vroeër wake
Iets van bid en hoop en dank

Want wind en ses stil snare
Speel alleen, maar ‘n duet
Van vroeër en van later jare
En jy’s al wat jy nog het

Want jy’s die som van alle jare
En algaande word jy blind
Tog onbeskryflik hoor jy snare
Soms in die nagte in die wind

Woorde: Koos du Plessis, melodie: Karla du Plessis

[13] MAANSPIEDER

Om die maan te soek is ‘n voltydse beroep
Hoe sy die see laat sloep en vloed
Die aankoms en groet van haar sekel gloed
Haar boog te karteer, hoe sy slinger te leer
Haar opstaan en slaap se ritme te probeer
Die koue kant van haar rug te keer

Wat weet ‘n klip wat om die aarde dryf
Wat maak kraters en maanstof ons wys
Nou nog helder, dan weer flouer
Die stomheid van ‘n koue skouer

Soms skuil die maan agter ons planeet
Vir ‘n donker nag, as jy wil weet
Soms word ‘n woestynpad in die nag verlig
Of die fosfor van branders word uitgelig
Maanlig is sag, sal die vel nie skroei nie
En met meer as dit sal sy haar nie vermoei nie

Wat weet ‘n klip wat om die aarde dryf
Wat maak kraters en maanstof ons wys
Nou nog helder, dan weer flouer
Die stomheid van ‘n koue skouer

Inferno refleksie, vlamme weerkaats
Koue en hitte, nog altyd maats
Wolke soms ‘n sluier, wolke soms ‘n raam
Donker en lig loop al lankal saam

Wat weet ‘n klip wat om die aarde dryf
Wat maak kraters en maanstof ons wys
Nou nog helder, dan weer flouer
Die stomheid van ‘n koue skouer

[14] NET NOG ‘N LIEFDESLIED

Elke tweede lied handel oor die liefde
Liefde gewen of liefde verloor
Oor afstand of nabyheid, wolke en reënboë
Die klank van ‘n stem, die kleur van oë

Maar vir jou het ek net hierdie enigste lied
Dis net vir jou, dis spesifiek
Laat geen ander dit sing nie
Vir iemand anders bring nie
Dis al wat ek het om aan te bied

Ek hoor die liefde is universeel
Dis ‘n album vol foto’s en soms ‘n spieël
Soms kan ek my verbeel dis deel en dalk uitdeel
Soms is dit diefstal en soms sommer speel

Maar vir jou het ek net hierdie enigste lied
Dis net vir jou, dis spesifiek
Laat geen ander dit sing nie
Vir iemand anders bring nie
Dis al wat ek het om aan te bied

Soetsappig miskien, of dalk selfs geyk, ‘n
Liefdeslied gee ek jou gelyk
Is meestal te rou te hart op die mou
Maar die een is nietemin net vir jou

So vir jou het ek net hierdie enigste lied
Ek bring dit vir jou, dis spesifiek
Laat geen ander dit dan sing nie
Vir iemand anders bring nie
Dis al wat ek het om aan te bied