Spoorlangs

“Spoorlangs” is Andries Bezuidenhout se vierde solo album. Dit is op 1 Junie 2021 deur DistroKID vrygestel op streaming platforms: Spotify, Apple Music, YouTube, ens.

Waaroor gaan die album?

Andries skryf hieroor: “Spoorlangs gaan oor tipiese Oos-Kaapse stories, oor mense wat tussen Hogsback en Keiskammahoek verdwaal (dis ʼn mooi pad om op te verdwaal), oor klavierlesse op ʼn klein Karoodorpie, oor ʼn man van Skotse afkoms wat sy plaas verloor, oor liefde gewen en liefde verloor, oor mense wat op soek is na rigting op ʼn landskap wat hulle aangrypend mooi vind, maar van vervreem is.”

Produksie:

Sang, instrumente, programmering, opname en meng deur Andries Bezuidenhout; agtergrondsang op “Spoorlangs”, “Klavierles by Mev Kaplan” en “Waarheen vandaan” deur Joey Kok. In 2020 en 2021 in Alice opgeneem, aanvullende opnames in Oos-Londen en Nieu-Bethesda. Joey se stem is op ‘n plaas buite Bela-Bela opgeneem. Klankmeester deur Willem Möller by Sharp Street Studios in Glencairn. Alle lirieke en melodieë deur Andries Bezuidenhout, behalwe ʼn tema van Claude Debussy op “Klavierles by Mev Kaplan”, isiXhosa woorde in “Umasizakhe” tradisioneel en in “Lied vir Dikeni” deur Tiyo Soga. 

Spotify | Apple Music | YouTube | Deezer | Amazon

Media navrae hier.

Mariana Malan gesels met Andries oor die album op Netwerk24 (ook in Die Burger en Beeld gepubliseer).

Fred de Vries se resensie vir Vrye Weekblad, in Nederlands geskryf.

Izak de Vries se onderhoud met Andries oor die album vir LitNet.

Lirieke:

[1] SPOORLANGS

Hierdie storie begin by ʼn huis sonder tuin
ʼn Huis van baksteen diep in die woestyn
Die huis het nie deure of vensters nie
Hier woon ook nie eintlik mense nie

En ek vlug spoorlangs
Ek vlug spoorlangs op die outydse manier
Trein deur die woestyn
Trein deur die woestyn
Trein wat in ʼn lugspieëling verdwyn

ʼn Padkaart is daar vir inspirasie
Dis heel anders as spore en ʼn stasie
Want voete en wiele het hul eie pas
Maar treine is seker die roete vas

En ek vlug spoorlangs
Ek vlug spoorlangs op die outydse manier
Trein deur die woestyn
Trein deur die woestyn
Trein wat op die horison verdwyn

Het jy ook al die klok hoor lui?
Skrif teen die muur, lees vir my
Buitelyne kan ek nog uitmaak
Maar detail het my lankal versaak

En ek vlug spoorlangs
Ek vlug spoorlangs op die outydse manier
Trein deur die woestyn
Trein deur die woestyn
Trein op sand, trein onder ʼn duin

[2] TUSSEN HOGSBACK EN KEISKAMMAHOEK

Draai af dorp-uit by Craig en Lana se kroeg
Die pad is lank, vat padkos, ry vroeg
Daar agter Tim en Ilze se plek versteek
ʼn Mensgemaakte loch en ʼn biblioteek
Eers plantasies dan inheemse woud
Kaapse papegaai en ʼn Piet-my-vrou
ʼn Misbank lig die son loer in
In die vallei daar onder het die dag begin

Ek en jy wat rigting soek
Op die pad tussen Hogsback en Keiskammahoek
Net ek en jy ʼn grondpad en klowe
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo
Iewers tussen Hogsback en Keiskammahoek
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo

Spitsrondawels met skelturkoois mure
Aalwynheinings met grasdakskure
Beeste wat in spikkels teen die heuwels beur
As jy swartwattels uitkap groei geelhout weer
Izingcuka het eens hier geskuil
Soms kan jy hulle nog in die klowe hoor huil
Bo die gesuis van sonbesies hier
Of die stil geruis van die Wolwerivier

Dis net ek en jy wat rigting soek
Op die pad tussen Hogsback en Keiskammahoek
Net ek en jy ʼn grondpad en klowe
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo
Iewers tussen Hogsback en Keiskammahoek
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo

Gedink ons kan afpak gedink ons kan bly
Maar mense soos ons ry net verby
Gedink hier’s ʼn hawe waar ons kan vasmeer
Maar mense soos ons ry maar net deur

Dis net ek en jy wat rigting soek
Op die pad tussen Hogsback en Keiskammahoek
Net ek en jy ʼn grondpad en klowe
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo
Iewers tussen Hogsback en Keiskammahoek
Iewers tussen Hogsback en Qobo Qobo

[3] KLAVIERLES BY MEV KAPLAN
(musikale tema deur Claude Debussy)

Klavierles by Mevrou Kaplan op ʼn Donderdagmiddag
Ek loop draaie deur die dorp om Willie Bothma te vermy
Een keer ʼn week oefen ek en Hafiza
ʼn Duet van Debussy op die upright Steinway
Soms luister ons plate, blaai saam deur ʼn boek
Mevrou Kaplan wat die opera voor die oorlog besoek
Ons praat oor museums, oor dae lank verby
Skildery wat in Wene agter moes bly

Mevrou Kaplan ek onthou nou die kandelaar op jou Steinway
In jou huis wat ruik na vla en kaneel
Ons kon luister ek lees en plate speel
Ek kon myself net somtyds ʼn ander wêreld verbeel

Die stuk van Debussy sou ons opvoer in die skoolsaal
Selfs die kerkraad vergader om die reëlings te bepaal
Maar soos als nou maar was, was die oomblik te veel
En moes ek die duet as solo improviseer

Mevrou Kaplan ek onthou nou die kandelaar op jou Steinway
In jou huis wat ruik na vla en kaneel
Ons kon luister ek lees en plate speel
Ek kon myself net somtyds ʼn ander wêreld verbeel

Die sinagoge nou ʼn pakhuis en Kaplans gesluit
Mevrou Kaplan se kinders is lankal landuit
Haar seun in Sidney, dogter in Tel Aviv
Skryf klokslag elke maand darem nog ʼn brief
Aan die weduwee Kaplan in haar Seepunt woonstel
Wat wonder oor Debussy en Karoodorp klavierspel

Mevrou Kaplan ek onthou nou die kandelaar op jou Steinway
In jou huis wat ruik na vla en kaneel
Ons kon luister ek lees en plate speel
Ek kon myself net somtyds ʼn ander wêreld verbeel

[4] FAMILIERUïNE

Hierdie is nie net ʼn straat nie
Dis iemand se sage
Hierdie is nie net ʼn huis nie
Dis ʼn familie se sake
Daai is nie net ʼn roostuin nie
Daar’s wortels en bene begrawe
In elke vloerplank se kraak
Iets waaroor niemand wil praat nie

Elkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin, die middel en die einde

Hierdie is nie net ʼn kamer nie
Dis leggerkas vir onthou
Hierdie is nie net ʼn boom nie
Dis ʼn plek van om dop te hou
Mure beskerm, mure verdeel
Elkeen sal mure anders verbeel
Rug teen die muur, rigting op soek
Elk met ʼn eie invalshoek

Elkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin, die middel en die einde

Welkom by hierdie familiereünie
ʼn Toer deur ʼn bouval, ʼn ruïne
Miskien moet ons mekaar laat weet
Oor die belangrikheid van vergeet

Elkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin, die middel en die eindeElkeen onthou dit anders
Wat aanvanklik en uiteindelik gebeur het
Elkeen vertel dit anders
Die begin die storie sonder einde

[5] UMASIZAKHE
(refrein uit ʼn tradisionele struggle-lied)

Jou brakdakhuis teen ʼn bult in die Karoo
Luike voor die vensters teen die son daar bo
Kind wat so lees, kind wat so redeneer
As jy eers begin praat sal iets mos gebeur

Thina sizwe se Afrika
Sikalel’ umhlaba wethu

In jou huis op die eiland is jy ʼn gas van die staat
Wat jaarliks ʼn wet vir jou laat pasmaak
Woorde te gevaarlik vir mense om te lees
Woorde wat te diep raak om vry te kan wees

Thina sizwe se Afrika
Sikalel’ umhlaba wethu

Buite die dorp rus jy langs Ma Zondeni
Self vind ek nie woorde om vir jou iets te sê nie

Thina sizwe se Afrika
Sikalel’ umhlaba wethu

[6] DIE BALLADE VAN ANDREW RENNIE PRINGLE

Van die Wildekus wil ek jou vertel
En oor Haga-haga se vakansiehotel
In ʼn linnepak en krawat is Andrew Pringle uitgevat
Sy teekoppie bewe, sy oë groot
Smeer marmelade op sy roosterbrood
Ou tradisie in die Pringle-clan
Om na skeertyd kuslangs uit te span

Andrew Rennie Pringle kyk uit oor die baai
En wonder oor die dag as John Knox hom kom haal
Hoor jy ook die doedelsak en sytamboer se roep?
Die Hoogland se wind het hom hier kom soek

Die Pringles is mos maar ʼn trotse klomp
Al van 1820 af hier in die Oos-Kaap rond
Plase langs die Baviaans
Bou kerke, huise al vallei langs
Sewe generasies al
Vir tweehonderd jaar

Andrew Rennie Pringle kyk uit oor die baai
En wonder oor die dag as John Knox hom kom haal
Hoor jy ook die doedelsak, die sytamboer se roep?
Die Hoogland se wind het hom hier kom soek

In 1986 die plaas aan die Ciskei verloor
Van die landgoed van weleer
Bly nou net die grafte oor
In sy kamer in die Quigney deesdae
Skeer hy voor ontbyt
ʼn Gentleman-boer vol gentleman verwyt

Andrew Rennie Pringle kyk uit oor die baai
En wonder oor die dag as John Knox hom kom haal
Hoor jy ook die doedelsak, die sytamboer se roep?
Die Hoogland se wind het hom hier kom soek

[7] DIE VOLGENDE OGGEND

Ek het sopas wakker geword
Nou’s hier vreemde mense rondom my
Asbakke, bottels, stukkende bord
Glasskerwe en elke ander cliché
Het gelees toe aan die slaap geraak
Wakker geword en dors geraak
My pad na ʼn kroeg om die draai gemaak
En toe met jou aan die gesels geraak

Spyt kom nooit te laat nie
Met my is dit altyd betyds
En as jy vanoggend nog hier was
Sou ek jou spyt kon wys

Gunsteling musiek op die jukebox
Die wêreld se probleme opgelos
Oor gedigte gepraat, jy weet nos
Boeke, films, die mens, die kosmos
Hoe jou hare oor jou ore val
Maak my vanoggend mal
En of ons nie gisteraand dalk wou trou nie
Kan ek nie vanoggend meer onthou nie

Spyt kom nooit te laat nie
Met my is dit altyd betyds
En as jy vanoggend nog hier was
Sou ek jou spyt kon wys

Vergeet om asseblief te sê
Ek dink ek het vergeet om dankie te sê
Miskien vergeet om goeienaand te sê
Vergeet om totsiens te sê
Ek dink ek het vergeet om jou nommer te vra
En vergeet om jou naam te vra

Spyt kom nooit te laat nie
Met my is dit altyd betyds
En as jy vanoggend nog hier was
Sou ek jou spyt kon wys

[8] DUSKANT DOODSTIL

Halfpad wakker en halfpad aan die slaap
Is nie dieselfde plek nie, maar newels waar
Prente versin word en wysies begin sing
Die woord tussenin is die woord aan die begin
My gunsteling kleure is telkens verdun
Die mooiste klank net duskant doodstil
Die sekuurste harmonie net-net nootvas
Jou diepste verlang na waar jy net vinnig was

Daar’s soveel te sê vir die boom en die bas
Die diep blou see, die os op die jas
Die beste idee sit tussen wis en onwis
Die derde wiel is waaraan die as vas is

Van ompaaie hou ek, ry selde direk
Die oopswaai van ʼn plaashek soveel meer pret
As jaag voor die wind, jaag teen tyd
Verdwaal is maar hoe ek my rigting vind
Meestal het ek nie antwoorde nie
Soms ook nie eers die regte vrae nie
Ek hou baie van stories maar sonder punt of boodskap
Van hoe lig weerkaats teen ʼn muur of ʼn staandak

Daar’s soveel te sê vir die boom en die bas
Die diep blou see, die os en die jas
Die beste idee sit tussen wis en onwis
Die derde wiel is waar die as aan vas is

Ek het baie indrukke maar min idees
Hoe als inmekaarsteek kan my min skeel
Die lekkerste wyn kom uit ʼn versnit
ʼn Enkele off-beat maak selfs ʼn mars bekoorlik

Daar’s soveel te sê vir die boom en die bas
Die diep blou see, die os en die jas
Die beste idee sit tussen wis en onwis
Die derde wiel is waar die as aan vas is

[9] NIE JOU SKULD NIE

Dis nie jou skuld dat ek alweer die langpad moes vat nie
In Belfast moes oorslaap in ʼn geensterhotel nie
Al die bourbon in die kroeg opgedrink het nie
My hoofpyn met spek, olie en eiers weg moes sluk nie

Dis nie jou skuld nie
Dis nie jou skuld nie

Dis nie jou skuld dat ek vanoggend met knapsak en bottel vort is nie
Te voet met ʼn grondpad langs tot oorkant die koppie nie
Skop mols- en miershoop heeltemal moer toe
Slaan ape uit moue, jaag bobbejane bergop

Dis nie jou skuld nie
Dis nie jou skuld nie

Hierdie beenwit kneukels op die stuurwiel is nie jou skuld nie
Hierdie kop wat klop soos ʼn ratkas is nie jou skuld nie
Hierdie harde musiek wat so proseliteer is nie jou skuld nie
Honderd en sestig kilo’s per uur is nie jou skuld nie
As ek ry dat ek gly deur die draai is dit nie jou skuld nie
Die duiwel op die sitplek langs my is ook nie jou skuld nie

Dis nie jou skuld nie
Dis nie jou skuld nie

[10] LIED VIR ʼn KIND WAT NOOIT GEBORE SAL WORD NIE

Ek sou jou wou vertel van die Namib en die see
Om in sand te bestuur sou ek jou kon leer
Van maraboes en lepelaars
Die Karoo se rus as die wind bedaar
Die reuk van ʼn boek en drukkersink
Om jou pad deur Yeoville en Houghton te vind
Hoe donderweer die see in sink

Daar’s soveel meer wat ek sou wou ophaal
Maar nog meer as dit waarvan ek jou wou spaar
Dis ook my manier om ʼn land te verlaat

Ek sou jou wou vertel van poker en skaak
Dat wat jy vra meer as die antwoord saak maak
Om lig te trap vir hulle wat te seker is
Dat ʼn uitsig soms beter as mure is
Dat gedigte ligter as wrokke lag
Om stil musiek in geraas te verwag
Om soms te stop en soms te jaag

Daar’s soveel meer wat ek sou wou ophaal
Maar nog meer as dit waarvan ek jou wou spaar
Dis ook my manier om ʼn land te verlaat

Dis net dat ek jou soms so mis
Sonder kind of kraai verdwaal
Agter Kompasberg se mis

Daar’s soveel meer wat ek sou wou ophaal
Maar nog meer as dit waarvan ek jou moes spaar
My enigste manier om ʼn planeet te verlaat

[11] STRANDDROOM

Ek onthou so goed hoe wolke kon tuimel
Kormorante in gelid, die water onstuimig
Louwarm strandmeer, ʼn koue see
Roomyskarretjie, ʼn sonsambreel

Melkhoutbome, ʼn standkafee
Skons met room, bittersoet tee
Hoe goed kan ek als presies onthou
Maar jou afskeidswoorde ongaan my nou

Koraalboomblomme ontplof in vlamme
Meeue wat skree en wegduik agter branders
Vuurtoringsilinder ʼn waskers teen die son
Kyk, daar’s selfs surfers wat met hulle kombi aankom

Melkhoutbome, ʼn standkafee
Skons met room, bittersoet tee
Hoe goed kan ek als presies onthou
Maar jou afskeidswoorde ongaan my nou

Miskien soms ʼn klank, ʼn greep van jou woorde
Jy’s ʼn dromer, het jy gesê, ʼn hopelose dromer
Jy’s hier by my, maar jy wandel in jou slaap
Miskien het ʼn afskeid om jou wakker te maak

Melkhoutbome, ʼn standkafee
ʼn Skon met room, ʼn bitter koppie tee
Kon als daai dag presies so wees
Jou afskeidswoorde ontgaan my steeds

[12] WAARHEEN VANDAAN

Wie’t nou tyd vir reguit ry
Wie’t nou tyd vir mik
Wie’t nou tyd vir nadink
Om te weeg of te wik
Daar’s ʼn kode in die wolke
Raaisels in die see
ʼn Antwoord wat weier om ʼn vraag te gee

Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

Ek bring ʼn boodskap van die gode
Maar niemand wil hoor nie
Iemand moet weet
Maar niemand wil sê nie
Water uit ʼn klip, vuur in die lug
Vlerke is vir sleep en voete is vir vlug

Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

Van my pa het ek ʼn atlas gekry
En van my ma ʼn kompas
Albei het iewers agtergebly
In ʼn trommel of ʼn kas

Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

Al aan die een kant en die ander kant ook maar
Kortpad of langpad, wanneer kom ons aan
Waarheen gaan ons en waar kom ons vandaan
Wat is dit waaraan ons dan so swaar dra?

[13] LINTE VIR TWEE TROUROKKE

Dis Klaradyn wat daar dans op die dam se wal
Paardeberg se rots waarteen die mis nog hang
Tortelduiwe roep al, ʼn pou waaier oop
Die spaaider is dorp toe om linte te koop

Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn
Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn

Smeer nuwe mis op die vlier van die skuur
Katjiepieringranke hoog teen die muur
Hang tafeldoeke uit, stook die konkavure
Poleer die silwer en brou nog bier

Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn
Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn

Laat die orkes kom met riel en kotiljons
Stem die snare, tot rooidag tiekiedraai ons

Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn
Linte vir ʼn trourok, nie net een nie maar twee
Kom dans nou Klaradyn, ons skink solank die wyn

[14] LIED VIR DIKENI
(met woorde deur Tiyo Soga)

Rooivalk bo berge, rivier en vallei
Hierdie dorp waardeur jy nou ry
Het by sendelinge haar naam gekry

Dis teen die Amatholes wat die wolke so maal
Die kollege hier dra ʼn fort se naam
Sleep barrikades en skietgate saam

Wie sal vir Alice in die nag gaan haal?
By ʼn kruispad of in ʼn kloof het sy verdwaal

Keltiese klipkruis as ʼn monument
Op hakke of gebaadjie stap studente na ʼn tent
Die sendeling kom nou van ʼn ander kontinent

Wie sal vir Alice in die nag gaan haal?
By ʼn kruispad of in ʼn kloof het sy verdwaal

Bybel of kanon, breek of bou
Die grense van destyds
Is die grense van nou

Wie sal vir Alice in die nag gaan haal?
By ʼn kruispad of in ʼn kloof het sy verdwaal

Protect us, o Lord, let Thy light shine
Lizalis idinga lakho
Thixo nkosi yenyaniso
Zonki’intlanga, zonki’izizwe
Ma zizuze usindiso
Lizalis idinga lakho
Thixo nkosi yenyaniso
Zonki’intlanga, zonki’izizwe
Ma zizuze usindiso