Derde golf

ʼn Album met gedigte deur Mercy Kannemeyer, Salvia Ockhuis, Valda Jansen, Lydia Gittens en Andries Bezuidenhout, opname en musiek deur Andries Bezuidenhout

Vrygestel deur die Jakes Gerwel-stigting en PEN Afrikaans

Beskikbaar op YouTube, Apple Music, iTunes, Spotify, Deezer, Amazon, Tidal, ens.

Agtergrond

Ses skrywers, waarvan vyf gedigte ook skryf, woon vir ʼn maand in ʼn twee eeu-oue huis in een van die Oos-Kaap se historiese dorpe, oftewel Somerset-Oos. Dít te midde van ʼn grendeltoestand en aandklokreël as teenvoeter vir die derde vlaag Covid-19 infeksies. ʼn Voormalige president word tronk toe gestuur, vir drie dae brand winkelsentrums en fabrieke. Die inwoners probeer om op hul skryfwerk te fokus – ʼn roman, kortverhaalbundels, ʼn jeugroman, ʼn digbundel – maar wonder ook oor wat rondom hul aangaan.

Gesprekke oor aandete, oor skryf, oor als wat besig is om te gebeur. Hulle gaan gemeenskapsentrum toe om ingeënt te word, gaan stap gemasker deur die dorp. Meestal skryf hulle in hul kamers. ʼn Idee begin posvat, die moontlikheid van gedigte opneem, dalk saam met musiek. Aanvanklike twyfel en irritasie, maar dan meld gedigte aan. Nuwe gedigte word geskryf, ou gedigte word uit die argief gehaal. In die versameling gedigte word iets van die tydgreep waarin hul hulself bevind weerspieël, maar ook iets om hul tyd saam mee te onthou.

Binne die bestek van ʼn maand word sestien gedigte opgeneem en musikaal verwerk – die resultaat is ʼn album getiteld Derde golf. Die album is in ʼn ruimte opgeneem waar mense al van 1827 (so ver vasgestel kan word) af woon. Daar word vertel van spoke wat deur die huis dwaal, van daar die verwysing in Valda Jansen se gedig na spoke wat van gedaante verwissel. Die sestien gedigte op die album is soms liries, soms ernstig, soms snaaks, soms kwaad, maar bowenal probeer hulle om spoke te besweer.

Links na regs: Andries Bezuidenhout, Valda Jansen, Mercy Kannemeyer, Lydia Gittens, Sarie Marais-Nell, Salvia Ockhuis

Digterlike temas

ʼn Deurlopende tema is die spanning tussen beskermde binneruimtes en die wêreld daar buite. Mercy Kannemeyer praat oor die intieme ruimte van liefde, maar ook oor hoe ons vanuit ons binnekamers met die wêreld deur middel van sosiale media omgaan – sy skryf oor Facebook, Twitter en Instagram. Sy spot en lag, maar onder die spot draai ʼn ernstiger duiwel rond. Só ook met haar gedig oor feminisme – derde golf feminisme of andersins – ʼn gespot met erns, maar ernstige spot.

Sommige van die gedigte praat direk oor die Covid pandemie, soos Salvia Ockhuis se gedig oor ʼn familielid wat in ʼn hospitaalbed aan die lewe probeer bly, aan ʼn respirator gekoppel. Een van haar ander gedigte – komende van ʼn verpleegster – is ʼn huldeblyk aan kollegas wat op die voorpunt van die linies die pandemie moet terughou.

Valda Jansen se gedig is op Somerset-Oos geskryf en handel oor ʼn wandeling deur die dorp met die plaaslike apteek as bestemming. Die dorp se stil, rustige atmosfeer word teenoor ʼn doodgewone maar traumatiese insident opgestel om iets van daardie spanning tussen ons intieme ruimtes en die wêreld daar buite vas te vang. Engele en spoke praat met die psigiese ervaring van daardie spanning, waarvan ons op ʼn manier sin moet probeer maak.

Lydia Gittens se twee gedigte is ook tydens haar verblyf in Somerset-Oos geskryf. Een handel oor die jeugroman waaraan sy werk, ʼn hermetiese en bondige opsomming van die boek wat besig is om op haar rekenaar vorm aan te neem. Die ander handel oor ʼn kerkgebou in Somerset-Oos, naby aan die Paulet-huis, met ʼn “Reg van toegang voorbehou” kennisgewing bo die deur. Inperking neem baie vorms aan.

Andries Bezuidenhout herinner homself aan tye toe ʼn mens kon reis – ʼn gedig oor ʼn treinrit in Duitsland, ʼn ander oor liefdesbriewe op lughawens. Een van sy gedigte is tydens ʼn rockfees geskryf (die idee van soveel mense op een plek nou ʼn vae herinnering) en praat oor voëls, bome, klippe en die mens se onvermoë om te midde van harde musiek te hoor wat hulle aan ons probeer sê.

Salvia Ockhuis neem een van haar gedigte op.

Musiek en klankontwerp

Die stemme vir die sestien gedigte is in die sitkamer van die Paulet-huis in Somerset-Oos opgeneem. “Dis ʼn pragtige akoestiese ruimte,” verduidelik Andries, “so ʼn groot vertrek, met houtplafon en vloerplanke, matte en sagte meubels.” Andries het ʼn tydelike ateljee met mikrofone en ander toerusting in die sitkamer opgestel, die gordyne toegetrek en ʼn vuur in die kaggel vir atmosfeer en hitte aangesteek. “In my navorsing oor die meng van klank het ek talle onderhoude met klankingenieurs op YouTube gekyk. Soveel van hulle maak die punt dat ʼn ateljee ʼn vriendelike ruimte vir kunstenaars moet wees. Kunstenaars moet gemaklik voel, sodat hulle van die mikrofone en tegnologie vergeet en sodoende eerder op woorde en die emosionele lading wat dit dra kan konsentreer.”

Die meeste van die gedigte is ʼn paar keer voorgelees en die beste weergawes is uiteindelik gebruik. Sommige is met ʼn klankbaan van tromme voorgelees, ander sonder enige musikale beplanning of begeleiding. “Van Mercy se gedigte is skreeusnaaks en mense in die vertrek het begin lag toe sy dit voorlees. Dit was so ʼn mooi en natuurlike oomblik, dat ek die gelag behou het. Ek dink dit dra by tot die atmosfeer,” sê Andries.

Met die musikale verwerkings wou Andries hê dat die musiek die woorde nie moet oordonder nie, maar eerder die tipe atmosfeer skep wat die inhoud van die gedig onderstreep. Valda Jansen se gedig bevat byvoorbeeld klank uit ʼn video wat sy tydens een van haar wandelinge deur die dorp op haal selfoon geneem het. “Ek was verstom oor die klankkwaliteit,” sê Andries, “as jy mooi luister hoor jy hoe koeie herkou.” Lydia Gittens se gedig oor die kerk is in ʼn katedraal geplaas en Andries se gedig oor die Duitse trein bevat klankgrepe wat op ʼn Duitse trein opgeneem is. “Ek wou landskappe of klankskappe maak waarin die woorde tuis kon voel,” sê Andries.

Wat die instrumentasie betref het Andries die kitaar in sy kamer in Paulet-huis opgeneem en die res is deur middel van digitale sintetiseerders en klankmonsters geprogrammeer.

Oor hierdie proses van gedigte in ʼn album omskep sê Mercy Kannemeyer: “Dit is vir my besonders cool dat poësie in ’n ander formaat (soos ons plaat) vasgevang kan word. Ek wil nou nie ons almal se beuels blaas nie, maar dit maak my opgewonde dat ons ons skryfwerk op hierdie manier kan deel, want dit maak (hopelik!) die speelveld vir poësie wyer. Jy hoef nie tradisioneel te debuteer nie en iets soos ons plaat maak dit duidelik dat dit heeltemal okay is om net pret te hê met poësie (vir my ten minste). Ek beskou myself glad nie as ’n digter nie; ek geniet digkuns en ek geniet dit om te skryf. Boonop voel ek moerse geëerd om saam met my Paulet-huismaats op ʼn plaat te verskyn.”

Die Jakes Gerwel-stigting se Paulet-huis in Somerset-Oos.

Bydraers

Mercy Kannemeyer is ʼn dokumentêre filmmaker, teater regisseur en draaiboekskrywer. Sy woon in Mosselbaai en was in Somerset-Oos om aan ʼn kortverhaalbundel te werk.

Salvia Ockhuis is ʼn kortverhaalskrywer en digter. Een van haar gedigte het pas die AVBOB digkuns kompetisie se derde prys verower. Sy woon in Kaapstad en was in Somerset-Oos om aan ʼn bundel kortverhale te werk.

Valda Jansen is ʼn joernalis, digter en skrywer. Haar roman “Hy kom met die skoenlappers” is met die Jan Rabie-Rapport-prys bekroon. Sy woon in Kaapstad en was in Somerset-Oos om aan ʼn volgende roman te werk.

Lydia Gittens het as skrywer kortverhale en liefdesromans gepubliseer. Sy woon in Pretoria en was in Somerset-Oos om aan haar eerste jeugroman te werk.

Andries Bezuidenhout is ʼn digter, musikant en skilder. Hy woon in Alice en was in Somerset-Oos om aan ʼn derde digbundel te werk.

Mercy Kannemeyer en Valda Jansen voor die Paulet-huis.

DERDE GOLF

1 · LIEFDE IS – MERCY KANNEMEYER

ice cream sonder brein freeze
soutwater in my mond
die titel van ’n opstelvraag
glitters op ’n birthday kaartjie met ’n surprise noot in
ekstra icing op die koek
’n pers rok na die matriekafskeid
’n hallo-drukkie en ’n hoe-gaan-dit?
Dis ook trane
sweet
bloed
kom

binne om te luister

liefde maak nie vol nie

maar dis warm.

2 · ODE AAN ONS LIEFDE – SALVIA OCKHUIS

Jare gelede het ons
ons name
in twee harte oor mekaar
op ’n akkerboomstam
uitgekerf;

jy het plegtig belowe
jou liefde vir my
sal ’n mooi skildery
van ons lewe saam verf

en dat dit sou bly lewe,
selfs nadat jy sou sterf;

jy het jou aai-hande
soms teer,
soms gulsig
oor die kontoere
van my gewillige lyf
in ’n ontdekkingstog
laat vaar

en met jou oë 
wat in myne staar
romantiese drome 
in my jongmeisiehart
gebaar:

ons weë saam
sou deur
helder sterre gaan
en in die landskap 
van ’n volsirkelmaan,
sou ons oorvloed
brood breek,
– oorstelp van liefde –
dit in mekaar
se wyn week.

Nou word
dié naskrif-gedig
in deurleefde inkverf
uitgekerf:

ons lewe was soms
skaars aan oorvloed,
ons had te dikwels
te min wyn

maar in my oë 
het jy die lig
altyd laat skyn

en al is my hande nou
bruin bevlek,
blou beaard,
verkalk aan’t bewe,

bly fier vir jou
my liefde lewe;

ek sal my bietjie brood
weer met jou breek,
my laaste leksel wyn
deur jou lippe dring,

met my mond die oorvloed 
van ons samesyn besing,

ek sal
die mooiste van my lewe
as ode
aan jou liefde bring.

3 · BEDAGS VERANDER DIE SPOKE VAN GEDAANTE – VALDA JANSEN

Ek sit in stilte
hier in Somerset Oos.

ek stap 
en kruis die stilste strate

bokke loop by my verby
koeie herkou op sypaadjies
langs leë wit kerke

die stilte druis 
tot in my kamer

ek nooi die spoke in
Soms slaap ek met die lig aan.
Wil julle nie liewers iewers anders wees nie? 

Ek raak allergies
vir al die wind en diere 
hier op Somerset Oos
en stap op ʼn oggend apteek toe

By al die stil strate kyk ek links en regs
en weer links
ek kruis die stille paaie

In die dag verander die spoke van gedaante

Ek kyk links en regs en weer links
Voor my lê die breedste wydste kruising

Ek sien die vroue van ver af aan die oorkant
hulle sit plat op die sypaadjie
ʼn kind lê en bak in die oggendson
op die muurtjie bokant hul koppe

ek nader die straat
waar ek moet oor.

alles is normaal
sereen, eintlik
ek is allesbehalwe bang

en loop oor die straat
oppad na die apteek wat niksvermoedend wag

ʼn engel moes tog saam met my gedwaal het

Ek kruis die stilste straat
op hierdie stille dorp 

ʼn engel maak my attent
in die middel van die stil straat
iemand jaag met ʼn leë minibussie van voor af
hy het sy flikkerlig onthou en draai haastig haastig
in dieselfde straat
op dieselfde plek
waar ek moet oor
hy vergeet om op die uitkyk te wees
en jaag reg op my af

maar ek verstar nie.
‘n engel fluister: hardloop hardloop

Die neus van die minibustaxi 
sekondes van my lyf af
sou my kop teen die grond kon klap
   maar het nie
sou my beendere in die stof vergruis het
    maar kon nie

Ek staan aan die oorkant by die sittende vroue en kyk
na die skreeuende bande. Die venster sak. ʼn Gesig loer uit van agter ʼn masker.
Sorry. I didn’t see you.

Ek raas vanaf ʼn veilige afstand
die vroue knik hul koppe in ʼn koor
die kind kyk verstar 

Die gesig herhaal: I didn’t see you.

En ek glo hom. Ek weet dit al te goed:
ek glip ongesiens oor baie strate
wat leeg en breed 
oneindig 
braak voor my lê
ek is onsiende onalsiende onaansienlik
ek glip ongesiens oor strate
waar vreemde vroue stilweg toekyk
stil-stil staar

Die skreeuende bande verdwyn
ek smelt saam met die stof in die lug
groet die vroue en die kind
draai om en stap apteek toe

en laat die engele begaan.

Laat ek maar nie meer alleen stap nie
Ek laat die engele begaan

4 · TRA-TRA-ENIGMA – SALVIA OCKHUIS

Winters woed die Tra-tra
kant en wal
na die brandgloed-somers 
deur die hart van Wupperthal;

maar watter doper het eens
op haar walle gestaan:
waar kry die mooi rivier
haar naam tog vandaan;

sy wat swanger 
aan geskiedenis dra:
hóé heet haar weet
so lig: Tra-tra

5 · WINDRYER – LYDIA GITTENS

Half op die grond
Half in die lug
Vry soos die wind
Sit die monsterkind.

Dood op die grond
Dood in die lug
Vas is die wind
Weg is die kind

                                              ʼn Nuwe jy  het begin’t

6 · MY FACEBOOK IS NOOIT TOE NIE – MERCY KANNEMEYER
(op bevel van Professor Marlene van Niekerk)

Die fabel van Facebook
is vir die mens ’n groot faktor.
Die fanatisme met Facebook
word oral in jou farinks afgeforseer.
Bietjie van als word op Facebook
geopenbaar:
die fat,
die feeks,
die fauna en flora,
die feitlike,
die f*@#^* ding steel my tyd
maar wanneer gaan my crush bietjie haar profile update?

Die feministe (Here, help my!)
die fetisje,
my vingers is al flenters ge-scroll,
maar tog bekyk ek
die formalisme,
die foutiewelike en fratsagtige spelling.
My brein is al fyn en
ag foeitog Vader
my professor gaan ’n floute kry,
ek sukkel om te rym, want
my Facebook is nooit toe nie.

7 · BEDINGING – SALVIA OCKHUIS

Jou naam staan opgeteken
in die Covid-19-register,
ʼn ventilator adem jou:

Maar jou naam eggo veral
in die bidgange
van my hart
waar ek
jou lewe bepleit,
die ononderhandelbare probeer beding:

ek sal
in elke spoor van jou trap,
kort-kort elke asem vir jou snak
en sweetdeurdrenk
jou covidkruis dra
of wat wie ook al
vir jou lewe mag vra:

jy kan nie nou al gaan nie.

8 · DIE WARE LANDSKAP IS EEN VAN ROTS – ANDRIES BEZUIDENHOUT
(Oppikoppi, Augustus 2016)

I

Ons weet julle kan nie Voël praat nie, sê die voëls,
nie enige dialek van Tiptols, Hoogtortel of Hadidees nie.
Nee, al is julle in hoë takke hoor julle nie wat ons fluit-fluit nie
of ons storie nie, want dis nie ons wat uit is nie.
Kyk hoe dans hulle op drum beats. Onbewus van Nonnetjiesuile
wat oorhoofs luister. Dis ʼn tweeter, dis ʼn bass bin
wat skel na bo, stamp na onder en ons nie hoor nie
selfs al bly julle stil, want ons weet
julle kan nie ʼn woord Voël verstaan nie.

II

Ons weet julle kan nie Boom praat nie, sê die bome,
nie Hardekools, Maroelees of Wes-Akasia nie.
Ons waai julle nader, trek ons skouers op
maar julle stel net in skaduwee belang.
Hoor hoe sing en snaar hulle. Daai is ʼn houtkitaar
wat hy sy axe noem. Hy chop en riff, hy saag
maar waag nie om te luister na wat ons sê nie
selfs al bly hy stil, want ons weet
julle kan nie ʼn enkele sin Boom verstaan nie.

III

Ons weet julle kan nie Klip praat nie, sê die klippe,
nie Oergneis, Rotsigs of Platskalie nie.
Ons voel die bass drum beats in ons riwwe.
Julle spring en polka en slaan soms op ons neer
maar ons is nie didaktiese klippe nie
ons praat nie preke nie, maar wou tog waarsku
want ons is die langste al hier en verstaan nou al Voël en Boom.
Voëls lewe die kortste en bome effe langer
met julle iewers tussenin. Gebruik miskien die tyd
om Voël en Boom se woordeskat te leer
want spesies gaan soos tale dood en mettertyd
is al wat aanhou klop maar net ʼn klip en nog ʼn klip
en nog ʼn klip en nog ʼn klip.

9 · TWITTER – MERCY KANNEMEYER

Die blou voël vlieg
deur die lug en
swiep deur al wat
’n slimfoon is.
Terwyl die tesourus
terug moet staan
word ons bietjie vir bietjie
uitgelewer aan opinies oor
tennis
tegnologie
televisie (kan jy glo Days of our Lives is nog aan?)
toneelspel
die toestand van ons land (ai tog!)
en talle tierlantyntjies.
Hoe kan ons die twitter-temporisasie stopsit?
Hashtag ek weet nie.

10 · PAPPA – SALVIA OCKHUIS

My pa het oud geword
en klein en krom:
oor sy gesig en moeë lyf
is in diep lyne
die kronkel-storie
van ’n arbeidslewe
ru en stram geskryf.

My pa se woorde
is aan’t verdwaal:
hy bring te dikwels
sy hande by,
laat verontwaardig 
sy gedagtes
– van sin ontsê –
deur stom vingers gly.

My pa se kyk
het dof geword:
hy sien deur waas
wat vae perspektief 
in die skemer van
sy gesigsveld plaas.

My pa se hande
het hul vasvat verloor,
sy knobbel-vingers
bewe as hy werk;
sy voete loop
’n skuifel-spoor,
hy staan nie meer
voor in die kerk.

Maar as hy stil
sy hande vou
en by sy
Heer gaan sit:
word hy weer regop,
weergalm sy woorde,
skyn sy oë
en als in hom
word helder en wit
– soos altyd –
as Pappa bid.

11 · TOEGANG VOORBEHOU – LYDIA GITTENS

                          Weet HY?
jou witgepleisterde graf.
Dat jy,
in Engeltaal
jou Meerling spreek
tot
banneling.

12 · INSTAGRAM – MERCY KANNEMEYER

Ek Instagram
daarom is ek.
My ingewande word
daagliks ingedril met idealistiese beelde oor iets.
Iets oor impalas
Iets oor immigrante
Iets oor insekdoder
Ek wil insluimer,
maar eers moet ek my foto laai
die regte filter kies (inkwell of low-fi)
die gepaste hashtag
sodat my followers kan weet dat ek my muesli met plein yogurt verkies.
Interessant of ironies
Noem dit nes jy wil
Ipso facto (ek ken selfs ’n bietjie Latyn)
Ek is ek is
inaktief,
want ek is op Instagram.

13 · OP DIE TREIN TUSSEN KASSEL EN WITZENHAUSEN – ANDRIES BEZUIDENHOUT
“er schenkt uns ein Grab in der Luft”

Hiérdie aarde, van bloed en water sat, dink ek
op die trein tussen Kassel en Witzenhausen.
As hierdie land ʼn moddermond oop kon klei, wat sou sy bely?

Moenie aan my raak nie, sal sy sug, ek is kapot, my selle versadig,
gewrigte vol jig, elmboë te stram om ʼn boek te lig. Kyk nie
na my lyf, kniekoppe of heupe nie, maar volg my lippe, kyk stip na my mond.

Op hierdie trein tussen Kassel en Witzenhausen,
watter woorde sou sy my vra om te herhaal?
Jou goue hare, Margaretha? Jou asvaal hare, Sulammiet?

Nee, vir eers slegs medepassasiers se woorde, halfbekend.
Lank gelede is ek uitsgespuug na ʼn ander kontinent. Nou skroei
hierdie oerwoorde nog my tong, beensplinters tussen tande.

ʼn Tonnel, mense flits in bedruppelde spieëls, mondhoeke gerem,
kake moeg van vokale hap, verhemeltes rou van medeklinkers rasper,
nekspiere te mat om antieke woorde te blaf.

Sal ek later vanaand in Witzenhausen ʼn voor ploeg, ʼn bed oopgrawe,
my lyf, ʼn vesel, tussen tande loods saam met soveel stukkies
organiese prulle in klei ontbind?

Vir eers ʼn trein, venster, buite die Europese epidermis
wat niks meer het om vir my te sê nie, behalwe dít:
Tale word nie in monde oud nie, monde word om tale oud.

14 · VERPLEEGSTER – SALVIA OCKHUIS

Nogeens moet haar 
moeë oë
opkyk na die lig,
weg van die snerp
van COVID-19 se kil gesig:

al lê die
olie in haar lamp
lankal veels te vlak
en moet sy te dikwels
onder meedoënlose druk
na asem snak;

al eb haar moed
soms soos die dag
se laaste sonnegloed
weg oor die kim

as donker skadu’s dreigend
uit hul skuilings klim,

bly sy die hoop
wat naarstig glim;

sy weet:
haar moeë oë
op die lig,
haar wil wat aanhou beur
is mede-voorvegter
en pasiënt 
se allerlaaste
verweer;

deur ander se heil gerig
is sy die pandemie
se beeldskone gedig.

15 · AS EK ‘N GROTER FEMINIS WAS – MERCY KANNEMEYER
“I sometimes worry that I wouldn’t be such a feminist if I had bigger tits” – Fleabag.

As ek ’n groter feminis was
sou ek nie omgee oor wat ek aantrek nie
ek sou soggens opstaan
die gemaklikste ding oor my kop gooi
en ’n verskil gaan maak.

As ek ’n groter feminis was
sou ek harder praat
ek sou nie bang wees om
ja of nee of asb of dankie te sê nie
ek sou vir mense sê as hulle
oor die lyn trap

As ek ’n groter feminis was
sou ek seker beter na myself gekyk het
gesond eet minder drink
meer vloek
ek sou alles behalwe poes vloek
poes is offensive wanneer jy nie weet waarvan jy praat nie

As ek ’n groter feminis was
sou ek  my geleerdheid prioritiseer
en seker maak dat ek saam met die groot honde kan blaf.

Ek sou op ’n moerse rots gaan staan
en nie worry oor vet bobene en of my spiere bult nie.
As ek ’n groter feminis was
sou ek dit tot die uithoeke van die aard gaan verkondig

Ek is hier! Ek is hier.

Ek sou ook
dan gaan stap
ek sou
leer swem
meer van myself hou
leer hoe om te bestuur
meer lees
leer mediteer
meer bid
minder worry of feminisme aantreklik is op iemand soos ek.

Nou is ek maar ’n kak gemiddelde feminis

Wat kakker poësie probeer pleeg terwyl die wêreld
ongelyk besig is om te vergaan. 

16 · BRIEF HUIS TOE VERTRAAG – ANDRIES BEZUIDENHOUT

hierdie is geen hawe vir briewe nie, nee
hier hik koffers oor klatermarmer teëls
wip vader ʼn kind wat slukwinde skree
moeder in die badkamer wil om     hemels     naam
vir ʼn oomblik langer handeroom insmeer

nou dink ek aan my en jou
en wat mens met sulke vertrekke vergeet
en onthou, maar die gedagte word deur ʼn selfoon oorrompel
wat die kloof tussen rock en rap net halfpad oorbrug

laat my brief aan jou dan
saam met die wiele by daardie tuig se romp ingebuig
en dan tussen hemel en aanloopbaan hang,
laat luidsprekeraankondigings kras paragrawe kaap

hierdie is immers geen hawe vir gebare nie, nee
dis net aan ware digters wat liefde op lughawens verskyn
en boonop hul briewe daaroor laat rym

Publikasie-erkennings: Mercy Kannemeyer se sosiale media gedigte is voorheen in die Penseel digbundel van 2016 gepubliseer. “Bedinging” deur Salvia Ockhuis verskyn in Maskers en mure (Turksvy Publikasies, 2021) en haar ander gedigte is op LitNet gepubliseer. “Brief huis toe vertraag” deur Andries Bezuidenhout is in Ons Klyntji van 2019 gepubliseer.