Paintings, music, writing

Andries Bezuidenhout – Op soek na Koos Doep (album)

Op soek na Koos Doep is ‘n album met covers en toonsettings van Koos du Plessis se gedigte. Die toonsettings is meestal deur Karla du Plessis, maar daar is ook een van Andries Bezuidenhout s’n. Andries het die album in 2024 in Oos-Londen en Alice opgeneem en gemeng en in 2025 het Willem Möller die klankmeester behartig.

MEDIA

AJ Opperman van Netwerk24 lewer verslag van ‘n besoek aan Andries in eDikeni (Alice) – toeganklik vir intekenare van Netwerk24, kliek hier.

Nota: Soos die twaalf musiekvideo’s aan die einde van elke maand vir die volgende jaar verskyn, sal hierdie bladsy opdateer word.

[1] HERBERGIER – woorde en musiek deur Koos du Plessis

“Herbergier” is die titelsnit van Koos du Plessis se derde plaat, wat in Desember 1982 vrygestel is. In sy oorsig van Koos du Plessis se lewe en werk wat in Erfdeel gepubliseer is, beskryf Andries “Herbergier” as een van Koos du Plessis se mooiste lirieke en verwys na die “onkonvensionele oorskakeling vanaf ‘n A-majeur- na die hartseer A-mineur-akkoord wat die melodie so verskriklik mooi maak”.

[2] AS ALMAL VER IS – woorde en musiek deur Koos du Plessis

“As almal ver is” is die titelsnit van Koos du Plessis se tweede plaat, wat in 1981 vrygestel is. Koos se familie vertel dat die lied geskryf is toe Mornay en die drie dogters op vakansie aan die Suidkus was en Koos eers ‘n week later by hulle sou aansluit. Van die beeldmateriaal in die video kom uit die film The Dark Mirror (1946). Kunswerke met spieëls en eensaamheid as temas speel ook ‘n rol.

[3] DWAALSPOOR – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis

Karla du Plessis het hierdie toonsetting van een van haar pa se verse self opgeneem – dit is as “Jou vreemde naam” op haar eerste album Woordeloos (1999) beskikbaar. Die materiaal wat in die video gebruik is kom alles uit ou films wat in die openbare domein beskikbaar is, onder andere promosiefilms van General Motors wat in die laat-1920s vervaardig is (kort voor die Groot Depressie), dokumentêre films oor Suid Afrika wat in die 1950s deur die Kanadese openbare uitsaaidiens vervaardig is, films wat deur Noord-Amerikaanse families tydens vakansiereise gemaak is, asook die films The Ghost Train (1941), My Favorite Wife (1940), Female (1933) en Detour (1945).

[4] GROET SONDER WOORDE – woorde en musiek deur Koos du Plessis

Van Koos du Plessis se album As almal ver is… Vir sy opname het Andries die struktuur van die lied verander deur die refrein aan die einde te herhaal.

[5] HERINNERINGE – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis

Karla du Plessis het hierdie toonsetting van een van haar pa se verse ook self opgeneem. Dit is op haar album Woordeloos (1999) beskikbaar. Oor hierdie opname skryf Andries: “Ek het hierdie opname met groot ontsag aangepak. Dit is een van Karla se heel mooiste toonsettings en ‘n mens kan glad nie op haar lieflike opname daarvan verbeter nie. Verder is die vers so persoonlik. Dit gaan vir my saam met Koos du Plessis se lied ‘Mornay’, een van die heel mooiste liefdesliedere in Afrikaans. Die ‘sestal geskommelde letters’ in die liriek verwys ook na haar naam. Fools rush in… maar die lied is net vir my so mooi dat ek nie kon help om dit aan te pak nie.”

[6] JANTJIE VAN DIE BERGE – woorde en musiek deur Koos du Plessis

Oorspronklik van Koos du Plessis se eerste album Skadu’s teen die muur. Oor die musiekvideo skryf Andries: “Koos du Plessis se lied ‘Jantjie van die Berge’ is op ware gebeurtenisse gebaseer. Jantjie was ‘n tipe outsider, sommige sou hom seker ‘n boemelaar noem, wat in die Magaliesberge gewoon het. Vir die video het ek ‘n ou film met die titel The Beast of Yucca Flats (1961) gebruik. Ek was besig om deur ‘n aantal films te werk toe ek hierdie figuur opmerk, wat my dadelik aan Jantjie van die Berge laat dink het. Die film het natuurlik ‘n heel ander storie, so ek het dit verder ingekleur met Suid-Afrikaanse materiaal wat ek self verfilm het.”

[7] HERMAN – woorde en  musiek deur Koos du Plessis

Oorspronklik van Koos du Plessis se album Skadu’s teen die muur. Oor die opname en musiekvideo skryf Andries: “Vir my is ‘Herman’ een van Koos du Plessis se heel mooiste komposisies. Ek hou van die melodie, asook daai pragtige strofe: ‘Waar jy vanaand is, kan ons maar net raai’. Herman Hurter, oor wie die storie in die lied handel, was ‘n vriend van Douglas (‘Duif’) Davis, Koos du Plessis se heel beste vriend, wat eers onlangs oorlede is. Verlede jaar (2024) in Stellenbosch het Douglas ‘n huldigingskonsert vir Koos du Plessis bygewoon en die storie van Herman vertel. Soos ek dit onthou het Koos en Herman mekaar net skrams geken, maar die enkele kere wat die twee mekaar by sosiale geleenthede gesien het, het hulle goed oor die weg gekom. Herman het Koos vertel van sy droom om eendag ‘n seiljag te besit. Herman is later dood in ‘n ongeluk op ‘n snelweg naby Durban, sy kitaar was in die kar se kattebak en Koos het hierdie kitaar na Herman se dood ontvang. Uiteindelik, ná Koos du Plessis se dood (ook in ‘n motorongeluk), is Herman se gebreekte kitaar deur Koos se ma Hester du Plessis aan die dorpsmuseum in Springs geskenk. Soms wonder ek of die kitaar nog daar is, maar dis seker nie belangrik nie. Vir hierdie opname het ek ‘n musikale tema uit die oorspronklike weergawe op Koos du Plessis se album Skadu’s teen die muur behou en my eie verwerking daar rondom gebou. Die video is saamgestel met grepe uit ou familiefilms (uit die 1930s), asook dokumentêre films uit die laat-1920s wat deur General Motors vrygestel is. Ek het iets van die nostalgiese gevoel van die lied in die video probeer vasvang.”
 

[8] MIDDERNAGREISIGER – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Andries Bezuidenhout

Andries se toonsetting van “Middernagreisiger” was ‘n opdrag van Anna Davel, wat die twee van Koos du Plessis se verse bymekaargesit het om een liriek te maak – die een as verse en die ander as refrein. 

[9] NAGSPEL – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis

Karla het self nog nie hierdie toonsetting van haar opgeneem nie, maar die akkoorde is in Erfdeel beskikbaar. Andries het die lied onthou van optredes in die 1990s saam met Karla en Liela Groenewald en gevoel die toonsetting moet as’t ware op die rekord geplaas word. 

[10] OP DIE PAD NA NOOITGEDACHT – woorde en musiek deur Koos du Plessis

Die volksliedjie as spookstorie. Ook van Koos du Plessis se plaat Skadu’s teen die muur. Die lied se melodie onderstreep die spanning, as dit telkens met ‘n halftoon boontoe van rat verwissel. ‘n Meer rockerige weergawe as die oorspronklike weergawe van die storie. Andries voel Valiant Swart sal ‘n veel beter weergawe van hierdie een as hy kan doen.

[11] SKADU’S TEEN DIE MUUR – woorde en musiek deur Koos du Plessis

Daar is vele covers van “Skadu’s teen die muur”, ook ‘n donker een deur Van Coke Kartel. Die titelsnit van Koos du Plessis se eerste album. As ‘n mens nou ‘n lied moet uitsonder om aan te dui waartoe Koos du Plessis as liriekskrywer in staat is, sou dit seker hierdie een wees. Die video gebruik time-lapse videografie saam met ‘n aantal ou films, wat as’t ware as skadu’s teen die mure van die ou opstal geprojekteer word.

[12] TEEN SKEMER – woorde en musiek deur Koos du Plessis

“Teen skemer” het aanvanklik op Koos se plaat verskyn, ‘n pragtige opname deur Koos du Plessis se goeie vriend, wyle Lucas Maree. Koos du Plessis se eie weergawe is postuum op die album Die vierde horison vrygestel. ‘n Mens kan sekerlik nie hierop verbeter nie, maar nietemin, hier is nog ‘n weergawe van ‘n lied wat kort voor Koos du Plessis se dood geskryf is.

Herman – musiekvideo

Andries oor sy opname van “Herman”:

“Vir my is ‘Herman’ een van Koos du Plessis se heel mooiste komposisies. Ek hou van die melodie, asook daai pragtige strofe: ‘Waar jy vanaand is, kan ons maar net raai’. Herman Hurter, oor wie die storie in die lied handel, was ‘n vriend van Douglas (‘Duif’) Davis, Koos du Plessis se heel beste vriend, wat eers onlangs oorlede is. Verlede jaar (2024) in Stellenbosch het Douglas ‘n huldigingskonsert vir Koos du Plessis bygewoon en die storie van Herman vertel. Soos ek dit onthou het Koos en Herman mekaar net skrams geken, maar die enkele kere wat die twee mekaar by sosiale geleenthede gesien het, het hulle goed oor die weg gekom. Herman het Koos vertel van sy droom om eendag ‘n seiljag te besit. Herman is later dood in ‘n ongeluk op ‘n snelweg naby Durban, sy kitaar was in die kar se kattebak en Koos het hierdie kitaar na Herman se dood ontvang. Uiteindelik, ná Koos du Plessis se dood (ook in ‘n motorongeluk), is Herman se gebreekte kitaar deur Koos se ma Hester du Plessis aan die dorpsmuseum in Springs geskenk. Soms wonder ek of die kitaar nog daar is, maar dis seker nie belangrik nie.”

Herman Hurter saam met Douglas Davis en sy vrou Heloise
Herman Hurter
Koos du Plessis en Douglas Davis
Koos du Plessis en Douglas Davis

Heks van die Karoo/Witch from the Karoo – music video

Andries comments on these two videos: “This one is about that one tannie in every South African town or suburb who is not a tannie. She doesn’t buy her clothes at Edgars or Woolworths – she has her own style. She listens to opera and jazz on her record player and doesn’t cook her food until it is grey. She is an oujongnooi, a spinster, and this makes people very nervous. She doesn’t fit into the town’s norms of what women should do, say, and how they should behave. During her life she has travelled, she has seen other parts of the world, and the town is not her only world. She reads widely. The dominee, especially, doesn’t like this. She is weird, bohemian, volksvreemd. Some call her a heks, a witch. They tell their children stories to scare them away from her. But the clever ones know that she is a kind of role model – an alternative to their parents, their teachers, the ooms and tannies. Her presence reminds them of the possibility that they too can be different, if only they are a little bit brave.

“I had great fun filming and editing this video. The scenes are mostly from Carnarvon in the Karoo, where we stayed at one of the cottages attached to the Lord Carnarvon small hotel and guesthouse. Some of the footage from other Karoo towns. I’ve made a visual collage, which, I hope, adds up to a coherent image of the small town in the song.”

Pad na Alice – music video

A track from the album “Dink aan planete“, about driving from Cape Town to Alice (now called eDikeni) in the Eastern Cape. The song describes the changing landscape from the Boland to the Karoo, and finally to the Albany thickets that characterise the landscape round Alice. A road trip that feels like driving through a landscape painting. 

Valsbaai se waarheid – music video

Andries on this music video: “When I need time to recover from life, the universe and everything, I retreat to Kalk Bay for a few days. My favourite place to check in used to be a ramshackle Victorian double story guesthouse, with views of False Bay. Then it got renovated (beautifully so) and for a while – due to popular demand – it was still made available to guests. Since lockdown, unfortunately, it has been a private residence. But I found a nice apartment to rent as a crash pad, spitting distance from the wonderful Café Olympia. There are two book shops in Kalk Bay: Zebra Books, where you can find first editions and where I found a beautiful book on the opera stages designed by David Hockney. They often have Wopko Jensma lino cuts and prints for sale. Then, down the road, is Kalk Bay Books. This shop stocks an excellent selection of contemporary reads and second hand books. I usually get Geoff Dyer’s latest books there, and their playlists keep me hanging around for much longer than I intended to. There’s also a piano in the book shop. My other favourite activity is walking in the harbour and sitting down at Kalky’s for fish and chips – you can’t have it more authentic than that. So, here’s a new music video about Kalk Bay as a place outside of time. Of course, it is also a typical South African story, with its loss and hurt and people who had to make way for others to settle. The song is called ‘Valsbaai se waarheid’ [False Bay’s truth] and comes from my album Trooskantates.”

Woordfees 2024 – Skielik is jy vry

Veertig jaar gelede het Afrikaans een van sy begaafste sanger-liedjieskrywers verloor, maar Koos du Plessis se stem het nooit stil geraak nie. Danie Marais, Andries Bezuidenhout en Irma du Plessis, Koos se dogter en samesteller van die bundel Erfdeel: Koos du Plessis – versamelde werke, gesels oor die man agter die musiek, terwyl Andries, Lise Swart, Churchil Naudé en Schalk van der Merwe Koos se woorde en deuntjies laat draal op die verhoog.

Kaartjies en meer inligting hier beskikbaar.

Beware of the Dream – music video

A track from the album No place for time here (Dikeni Records, 2024). The track was originally released in Afrikaans in 2003. The video combines AI animation generated with prompts from the song’s lyrics, and extracts from books, letters, texts that are related to the theme of dreams and nightmares. A somewhat Gothic approach to the topic.

Andries Bezuidenhout – Trooskantates (album)

Afrikaanse musikant, digter, skilder en lid van die Brixton Moord & Roof Orkes se vyfde solo-album. Tien nuwe komposisies vir onstuimige tye. Musiek wat troos sonder om te sus. Die album is op 5 Julie 2024 vrygestel.

Musiek en woorde deur Andries Bezuidenhout, behalwe “Explorer of Nahoon”, melodie deur Andries Bezuidenhout en Lukas van Garderen
Opgeneem en gemeng deur Andries Bezuidenhout
Meester deur Willem Möller by Sharp Street Studio

Luister hier.

LIRIEKE EN MUSIEKVIDEO’S

[1] RESTOURANTEUR

Stop, stop, hou stil hier
Ek is kelner en skoonmaker, sjef en sommelier
Elke nuwe gas word behandel soos familie
Die malligheid daar buite kom glad nie deur die mure nie
Eetgerei gerangskik ter wille van die rym
Ter wille van die melodie elke tafeldoek se grein

Wat ek voorsit is vrede, wat ek opdis is rus
Respyt van die ewigheid is al wat op die spyskaart is

Vir die wêreld se probleme het niemand meer raad nie
So fokus op die koffie is die koppie op die tafel
Hier’s kelders met vate vol vrede en wyn
Spense met wense wat verlange laat verdwyn
Pas gemaalde koffie, vars gebakte brood
Uitgedrukte vrugtesap van lemoene uit die boord

Wat ek voorsit is vrede, wat ek opdis is rus
Respyt van die ewigheid is al wat op die spyskaart is

Soms op my eie in die koue kombuis
In die oggendure hoor ek hoe die yskaste druis

Wat ek voorsit is vrede, wat ek opdis is rus
Respyt van die ewigheid is al wat op die spyskaart is

[2] DROOM VAN DIE KAMDEBOO

Kyk in die truspieël kom die son nou op
Koffie uit die Stanley vir ‘n oomblik se stop
By bankies van beton onder ‘n bloekomboom
Onderkant die bergpas is die Kamdeboo

Die spoedmeter is vlot en volkome tweetalig
Dit praat kilo’s per uur, maar is ook in myle vaardig
Jy lees jou spoed nie op ‘n naald nie, maar horisontaal
Soos ons seil verby ‘n rooivalk op ‘n telefoonpaal

Rooi leersitplekke, kattebak met vinne
Mixtape op die deck vir die beat hier binne
Tussen Pearston en Graaff-Reinet my grootste wens, ‘n
Blink swart convertible seventies Benz

Ja, Lucy Jordan kan die Eiffeltoring maar hou
Van Thelma en Louise kan ek net die einde onthou
Na Bagdad Café sal jy vir ewig hier rond soek
En vir Jack Kerouac het ons dekades gelede gegroet

Matchbox full of diamonds, en Riders on the storm
Die Mystic Boer dans doer in ‘n warrelwind rond
Oor die speakers sing Kerkorrel weer oor ‘n sprinkaanplaag
Soos die vlaktes in die skemer in ‘n berghang verdwaal

Rooi leersitplekke, kattebak met vinne
Mixtape op die deck vir die beat hier binne
Tussen Pearston en Graaff-Reinet my grootste wens, ‘n
Blink swart convertible seventies Benz

Ons het nêrens om te wees nie, nêrens om heen te gaan nie
En hoe ons hier gekom het gaan niemand juis aan nie
Telefoonpale, vlieswolke daar bo
Net ons en die vlaktes van die Kamdeboo

Rooi leersitplekke, kattebak met vinne
Mixtape op die deck vir die beat hier binne
Tussen Pearston en Graaff-Reinet my grootste wens, ‘n
Blink swart convertible seventies Benz

Is hierdie die waarheid, of iets wat ek onthou
Of dalk net ‘n wens of ‘n droom vir nou
Maar dis ek agter die stuur en jy langs my
Van Pearston al die pad by Graaff-Reinet verby

[3] ROEP VAN DIE ROOIVLERKSPREEU

As die son net vir ‘n oomblik
Agter berge weg wou bly
Sou ek dalk tog uiteindelik
In drome weg kon gly
Maar die wekker op die boekrak
Hou aan om te marsjeer
Teen ‘n onverbiddelike pas
Word ure aangekeer

As jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu
En as jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu

Jou vroeg kon hoor in die oggendmis
Nog voor jy op die geut kom sit
Jou roep is ongedurig
Jou fladder wispelturig
My generasie vrees sentiment
Ons harte klop koue sement
Is dit die dat ek so projekteer
Oor wat mens by ‘n spreeu kan leer

As jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu
En as jy iewers sou land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu

Ek ken Central Park en Voldelpark
Selfs Zanzibar se ou nagmark
Sou jy daar aard wonder ek
Hoe kies ‘n spreeu sy landingsplek
Hier’s darem minder ligte
En daarom skyn die sterre stip
Herinner my tog hieraan
As jy môre teen my venster pik

En as jy iewers land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu
En as jy iewers sou land
Maak jy nes of vlieg jy weg
Rooivlerkspreeu, o rooivlerkspreeu
Jy’s ook in die verkeerde eeu

[4] PHILIP GLASS OP DIE HOËVELD

Saterdagmiddag, jy bestuur
Die vensters is oop, ek’s die passasier
Die son flankeer met skaduwees so rondom vier
Na ‘n middagete met pizza en bier

Oor die speakers lewer Philip Glass kommentaar
Klawermelodie wat oor en oor herhaal
Ek neem foto’s deur die venster met my selfoonkamera
Die stad is ‘n draaiboek en ek is die skriba

Die lewe boots kuns na
Dis ‘n Hoëveld wintersdag in Afrika
En as jy so ry skuif als
In stadige aksie verby

Straatlamp lyk soms soos ‘n beeldhouwerk
In ‘n hoekkafee kan jy skilderye opmerk
Franchise flits ‘n neonlig naam
Winkelpop wink deur ‘n vensterraam

Die man met die teken wat staan op die hoek
Verduidelik oor hoekom hy nog steeds na werk soek
Verkeersligte neem ‘n smoke break met beurtkrag
Jy wag telkens geduldig jou beurt af

Die lewe boots kuns na
Dis ‘n Hoëveld wintersdag in Afrika
En as jy so ry skuif als
In stadige aksie verby

Oor of jy gebore word het jy geen keuse nie
Of wat gebeur aan die begin van jou lewe nie
Ek dink ons het mekaar darem gekies
So tussen die wankel van wins en verlies

Maar ons hier in die kar is geen kunsfilm nie
Al beweer die klankbaan klavier iets anders nie
Laat die fantasie ons elders heen vat
Ek skrik wakker as die band in ‘n slaggat klap

Die lewe boots kuns na
Dis ‘n Hoëveld wintersdag in Afrika
En as jy so ry skuif als
In stadige aksie verby

[5] EXPLORER OF NAHOON

Seewind in my hare, ‘n uil hoe-hoe
Jou kamerlig brand nog by jou huis in Nahoon
Wat ek moet doen weet net Ballyhoo
Hulle het die nommer van die Man in the Moon

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

Ek’s ‘n outydse ontdekker van suburban strate
Die teerpad is soos die oseaan se water
Maar golwe trek hier rond net deur die lug
Ek stuur seine in die nag na jou toe terug

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

Soms verlang ek na ‘n land sonder grense
Plekke sonder name, geboue of mense
Sou jy daar wees op ‘n nuwe planeet
Of het jy reeds van my naam vergeet

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

Ek is buite in die straat onder die maan
Ek’s ‘n mot en die huisligte trek my aan
Ek is Vasco da Gama ek is Magellaan
Hoe’t ek beland in ‘n wentelbaan
Wat om jou draai om jou kom en jou gaan
Tussen waar jy slaap en waar ek staan
Uit hierdie sirkel kan ek nie tree nie
Uit die om en om swenk kan ek nie breek nie
En wat dit beteken kan ek nie weet nie
Maar oor Yuri Gagarin kan ek nie vergeet nie

Want ek’s Laika alleen in ‘n wentelbaan
Laika wat huil vir jou en die maan

[6] SEINE IN ANALOOG

In die dae toe daar nog telefoondrade was
Met of sonder swawels of hadidas
Of toetspatrone wat TV-skerms arresteer
En zig-zag antennas wat radiogolwe aankeer

Is dit jy wat vanaand die sesuur nuus lees
Is dit jy wat sê wat die weer se bui gaan wees
Al slaan ek hoe hard op die kassie se buis
Is daar net sneeu, snee, sneeu, sneeu wat suis

Roep ek jou met Morsekode
Roep ek jou met ‘n rooksein
Voor ek vergeet, voor ek vergeet
Voor ek vergeet en jou stem verdwyn

Op ‘n tweerigtingradio soek ek jou kanaal
Maar my seine het iewers in die nag verdwaal
Ek roep jou eenmaal, ek roep jou tweemaal
Ek roep na jou in my brabbeltaal

Ek lig die gehoorbuis, maar hoor net kringfluit
Ek bel jou nommer steeds uit my kop uit
Katode klink iewers in ‘n foonsentrale
Stol in die lugleegte tussen twee pale

Roep ek jou met Morsekode
Roep ek jou met ‘n rooksein
Voor ek vergeet, voor ek vergeet
Voor ek vergeet en jou stem verdwyn

Soms hoor ek jou klingel
In ‘n lang tiekie se draaie
Soms hoor ek jou fluister
In ‘n telefoongids se blaaie
Soms sis jy deur
Hierdie telefoonhokkie deur
Soms voel ek jou deur
Hierdie lugleegte beur

Roep ek jou met Morsekode
Roep ek jou met ‘n rooksein
Voor ek vergeet, voor ek vergeet
Voor ek vergeet en jou stem verdwyn

[7] VALSBAAI SE WAARHEID

Lank, lank gelede is kalk hier
Uit skulpe gebrand en gemaal
En is snoek en harders met sloepe
Al die pad kaai toe gehaal
Nou daar nie net ‘n hawe nie
Maar ook ‘n stasieperron
Waar ‘n trein vol skaduwees
Elke oggend Victoriaans verbykom

Die enigste waarheid
Dryf op die deinings van Valsbaai
Die enigste klaarheid
Is in die misbank se waai

By Café Olympia
Koel my koppie swart koffie solank af
Terwyl lycra met honde aan leibande
Op die promenade verby draf
In tie-dye en batik
Kom tree daai hippie hier af
En ‘n ingenieur uit die Kongo
Versamel munte as ‘n karwag

Die enigste waarheid
Dryf op die deinings van Valsbaai
Die enigste klaarheid
Is in die misbank se waai

Ons almal wat hier saam
Oor die einde van die wêreld rou
Tussen die oomblikke wat ons vergeet
En die oomblikke wat ons onthou
Elkeen van êrens elders nou hier
Maar gaan elders heen
Hierdie plek buite geskiedenis
Tussen baai en sandsteen

Die enigste waarheid
Dryf op die deinings van Valsbaai
Die enigste klaarheid
Is in die misbank se waai

Dit als verneem ek
By die visserman op die hawe
Ek is weer in Kalkbaai vir ‘n week
Om dooie drome te begrawe

[8] SKADUWEE

My skaduwee volg my
Soos ‘n geykte kwaal
Al jaag ek soos die duiwel
Kom my skaduwee my haal
Bene en arms
Van wisselende lengtes
Afhangend van hoe son en maan
Om mekaar bly wentel

Skaduwee is iets wat jy
Mettertyd gewaar
Op teer of grasperk, teen ‘n muur
En eensklaps is dit daar
Eintlik sou ek graag met iemand
Skaduwees wou ruil
En voel hoe voel dit om ‘n slag
Van ‘n ander een te skuil

Ek en jy skaduwee
Jy en ek is een, maar twee
En waarheen ek ook vlieg of vlug
Keer ek weer na jou toe terug

Ek het ‘n slag al probeer
Om my skaduwee uit te vee
Om van die ding af weg te hardloop
Of van daarvan weg te sweef
Maar ek weet dis altyd aan my vas
Selfs ook as ek sou droom
In die donker skuil dit daar
Begrens my soos ‘n soom

Die ding is aan my voete vas
En hou my op my tone
Desperate dans roetine
Met angstige patrone
Ek laat die kwessie aan die tyd oor
Miskien ook aan geluk
Ek wag maar vir die dag wanneer
My skaduwee my insluk

Ek en jy skaduwee
Jy en ek is een, maar twee
En waarheen ek ook vlieg of vlug
Keer ek weer na jou toe terug

Refleksie is ‘n skaduwee
In ‘n venster of ‘n spieël
Afruk wat die kyker koggel
En met jou sinne speel
Want binne in die spieëlbeeld
Is die loopvlak verdeel
Met ‘n ek en met ‘n skaduwee
Wat die kalklig kom steel

Ek en jy skaduwee
Jy en ek is een, maar twee
En waarheen ek ook vlieg of vlug
Keer ek weer na jou toe terug

[9] WENTELBAAN

Soos altyd vanaand weer sy tafel opgesoek
Die een met die uitsig, die een in die hoek
Na die spyskaart hoef hy al lank nie meer te kyk nie
Van sy gewone keuse sal hy nooit afwyk nie

Gitswart son, silwer maan
Sterre op skrefies en ons verstaan
Dat als nog altyd om elkander draai
Dat ‘n wentelbaan als weer van vooraf laat herhaal

Bolognese en bier om mee te begin
Bottel Bordeaux om oor die dag te besin
Hierdie dans met glas en porselein
Het hy oor die jare reeds kleingekry

Gitswart son, silwer maan
Sterre op skrefies en ons verstaan
Dat als nog altyd om elkander draai
Dat ‘n wentelbaan als weer van vooraf laat herhaal

Die dag is duister, maar snags sien hy skerp
As die straatlampe lig op die onderwerp werp
Patrone word duidelik in ‘n maanskaduwee
Voorwerpe kry vorm as die donker vibreer

Gitswart son, silwer maan
Sterre op skrefies en ons verstaan
Dat als nog altyd om elkander draai
Dat ‘n wentelbaan als weer van vooraf laat herhaal

[10] RESTOURANTEUR SLUIT TOE

Instrumental

© Andries Bezuidenhout