[English text here]
Strate sonder bome is die Brixton Moord & Roof Orkes se vyfde album. Dit is in Desember 2023 op al die streaming platforms vrygestel (Spotify, Apple Music, Deezer, YouTube, Tidal, ens.) en kan by Amazon afgelaai word. Die band beskryf dit as ‘n album wat vorentoe beweeg deur terug te kyk. Soos hulle in die laaste track op die album sing:
Alice of Asfodel, Pringlebaai of Montreal
Wat bepaal of jy vlieg of val
Of van watter kant van Brixton se rand
Jy nou dophou hoe die vure brand?
Die elf nuwe tracks – amper ‘n uur se musiek – is deur Kapelaan Pat Plank (ook bekend as Gerhard Barnard), Moord Greeff (Ockert) en Roof Bezuidenhout (Andries) geskryf. Hierdie drie oorblywende lede van die band het eens binne ‘n omtrek van twee blokke van mekaar af in Brixton, die voorstad van Johannesburg, gewoon. Hulle het mekaar daar ontmoet, as band in die plaaslike kroeg begin optree, en hul band room was in Gerhard se huis op die hoek van Ripley- en Barnesstraat.
Al drie van hulle woon egter nou elders. Andries woon in Alice in die Oos-Kaap, Gerhard in Pringlebaai in die Wes-Kaap, en Ockert in Montreal in Kanada. “Asfodel” in die liriek verwys na die doderyk in die antieke Griekse mitologie, met verwysing na Brixton Barnard (Drikus, Gerhard se jonger broer), wat in 2015 aan breinkanker dood is, en Louis Graham (die band se drummer), wat in 2021 aan Covid-19 dood is.
So die terugkyk handel oor die verlede – oor die outyd in Brixton, oor die dae toe mense nog op Top Star se mynhoop na die inryteater toe gegaan het, toe ‘n mens nog ‘n verkeersboete van R20 betaal het in ‘n Monopoly-bordspel. Ockert se liriek “Tape deck begrafnisbrief” is geïnspireer deur ‘n begrafnisgebruik wat hy tydens ‘n besoek aan Nicaragua waargeneem het – mense wat mixtapes maak en dit kliphard op outydse boombokse in ‘n begrafnisstoet speel. Ockert verbeel hom hoe hierdie toneel in Brixton se strate sou afspeel. Die album se opening track keer na Brixton in die 1990s terug en haal uit ou Brixton Moord & Roof Orkes lirieke aan. Die title track “Strate sonder bome”, ook deur Ockert geskryf, onthou Brixton ook as die plek met kaal sypaadjies. Hieroor sê Ockert dat Brixton ‘n spirituele tuiste vir hom was. Beide die ietwat gehawende woonbuurt, en Brixton die band. “Alhoewel ek destyds – dis nou amper twee dekades gelede – totaal onbewus was van die tuiste wat die band en die woonbuurt gebied het, besef ek nou dat dit waarskynlik vir my ‘n enigmalige ruimte was. Dit was ‘n vreemde mengsel van buitestaanders, intellektuele, kantoorwerkers en arbeiders, wat die ongewone en die anderse verwelkom het. In ‘Strate sonder bome’ kom ‘n reisiger by ‘n huis aan soos ‘n rondloperhond. Daar is ‘n vrouefiguur wat sê: ‘Kom ons gee hom kos.’ Vir my is dit die allerbeste manier waarop ‘n reis kan eindig.”
Wat die album se musikale styl betref, kyk die drieluik van die band ook terug – daar’s lekker oomblikke van old school rock ‘n roll.
Waaroor gaan die vorentoe beweeg dan? Roof verduidelik: “Om aan te beweeg, moet ‘n mens seker iewers aankom. Op ‘n manier het die opneem van die album ons gehelp om aan te beweeg na die verlies van Drikus en Louis. Hierdie is die band se eerste album waarin Drikus nie ‘n rol as musikant of songwriter speel nie. Met ons vorige album ‘Bazaar punk’ het ons gewerk met tracks wat Drikus vir ons nagelaat het. Dit het sy stem vir ‘n laaste keer helder laat opklink, maar ons het gedink dis ook die band se laaste album. Daai agt tracks het egter gemaak dat ek en Gerhard en Ockert met mekaar aanhou kommunikeer het – meestal per e-pos, oor ver afstande heen. Ons was al drie op ‘n manier verras, miskien selfs onkant betrap, toe ons aangehou het om tracks heen en weer te stuur nadat ‘Bazaar punk’ reeds vrygestel is. Dis dalk dié dat ons so dink aan aanbeweeg. Ons verwys na Brixton (die plek) as ons Ithaka – die eiland in die antieke Griekse mitologie waar die reis eindig. As ‘n mens eendag by Ithaka aankom, soos in Konstantin Kavafi (Cavafy in Engels) se gedig Ithaka, het die reis daarheen gemaak dat jy met nuwe oë kyk na die plekke wat jou padlangs gevorm het. Dis dié dat ons so na Brixton toe terugkeer – al weet ons nie of dit ‘n eindbestemming of ‘n halfwegstasie is nie. Ek hoop dit maak sin.”
Gerhard voeg by: “Brixton is sonder twyfel my Ithaka. Toe die songs op hierdie plaat begin vorm aanneem het ek gewonder of ons nie dalk bietjie oor-nostalgies is nie. Ek het egter vir die eerste maal rêrig besef hoe groot impak die plek, en die musiekmaak wat saam met dit gekom het sou hê op my holderstebolder lewenspad vorentoe. Brixton lê in die tru-spieël maar bly lewensgroot vir my. Die album was uiters lekker om aan te werk en ek kyk met groot waardering terug na die begin en met opwagting vorentoe.” Om Kavafi verkeerd aan te haal en te vertaal:
Aan jou het Brixton dié wonderlike reis gegee.
Sonder haar sou jy nooit vertrek het nie.
Nou het sy niks meer oor om aan jou te gee nie.
En as jy haar in armoede aantref, sou Brixton jou nie bedrieg het nie.
Jy sal dan vol wysheid wees, met soveel ondervinding,
dan sal jy verstaan wat hierdie Brixtons beteken.
Die aanbeweeg word ook vasgevat deur “Fransman se jas”, wat handel oor ‘n tronkvoël wat vrygelaat word en probeer om sy verlede in die bende af te skud deur baie vinnig van als af weg te ry. Hy weet dis futiel, maar vir een aand kan hy jaag soos ‘n valk wat vlieg. Eweneens handel “Vrou op die trein in die skildery” oor ‘n vrou wat op ‘n trein sit ná ‘n traumatiese egskeiding – sy voel eensaam, maar op ‘n manier voel sy ook vry. Baie soos die vrou op die trein in “Compartment C, Car 293” wat in 1938 deur die Amerikaanse kunstenaar Edward Hopper geskilder is. “Ek ken jou tipe” praat weer oor die hede en kyk vorentoe, met sosiale kommentaar op nuwe brandstapels en inkwisisies in ‘n wêreld waar feit en fiksie vervleg word en nuwe sondebokke gevind word om vir mense se gevoel van onsekerheid te blameer.
Produksie
Gerhard, Ockert en Andries het die album in die middel van 2022 begin opneem. Al drie het klank-ateljees by hul huise, deels as gevolg van Covid. Ockert het ‘n studio in die kelder by sy huis, maar ook ‘n band rehearsal ruimte waar hy ingerig is om ‘n tromstel op te neem – in Kanada is hy lid van die band Deathdrive. Andries het als gemeng, die finale meng tydens ‘n maandlange verblyf in Kopenhagen in September 2023. Willem Möller het weer die album by Sharpe Street Studios in Glencairn gemaster en voorstelle gemaak met die finale klankmengproses.
Behalwe vir die afwesigheid van Brixton Barnard se stem, is die album se klank baie soos vorige Brixton Moord & Roof Orkes plate – ‘n eklektiese kombinasie van musikale style. Daar is rock, folk, reggae, country en kwêla. Die oorwegende klank is egter ‘n kombinasie van rock en donker ballades, darem ook met vele humoristiese oomblikke. Andries en Gerhard doen die vocals, Andries speel akoestiese kitaar en keyboards, Gerhard speel elektriese kitaar en baskitaar, en Ockert speel drums en ander perkussie.
Oor die maak van die album sê Andries: “Ons het ‘n old school analogue klank probeer kry, alhoewel als digitaal opgeneem en gemeng is. Maar die programmatuur wat ek gebruik het simuleer klassieke analoog kompressors en equalisers – Fairchild en Pultec. Ek hoop mense wat daarna luister kan daardie ‘grit’ hoor.” Ockert voeg by: “Ek is regtig gelukkig met hoe die album klink. Daar iets bekends omtrent die musiek, maar terselfdertyd ook uitdagend. As jy moeg is vir die middelmoot populêre musiek wat oral opgedis word, en jy hou van musikante wat soms bietjie kanse vat, dan is hierdie album vir jou.”
STRATE SONDER BOME – LIRIEKE
[1] BABELAAS IN BRIXTON
Die toring staan paraat, stuur seine wyd en ver
Maar die toring se seine maak die skuifhek deurmekaar
Die toring van Babel met elf nuwe tale
Babbel op die draadloos en TV 1, 2, 3
Laatnag ecstacy op e-tv
Skuins oor die pad roep Hawaiian kitaar
Na iewers daar ver of iemand wat swaar dra
Oorkant die pad langs die slumlord-king
Met sy pimped BMW en sy dobbelmasjien-scheme
Net nog ‘n Lagos scene
Groot hond aangestel om die tuinslang op te pas
En die jeans op die draad en ‘n Klipdrift t-shirt
Dubbels op my lawn, dubbels in my glas
Skokmasjien en ‘n blik vol traangas, staan vas
Die varsity se bloekoms is ons enigste view
Met ‘n ambient sound track se hadedaskreeu
Een nul trippel een helikopter doen ‘n fly-by
Op Ripley se hoek nog ‘n Vrydagaand drive-by
Aai, aai, aai
Babelaas in Brixton, gebreekte bottels in die straat
Spoke op my radio, bose geeste in my jaart
Nuwe tunes in die band room
En die bure raak kwaad ja die bure raak kwaad
Help! skree die bra, I’ve just been shot
But I think I’m o.k. cause it doesn’t hurt a lot
And it’s happened before so I’ll sit here for a while
And it’s clear to me now that someone hates my style
Pro’bly someone that I know who doesn’t really like my style
Babelaas in Brixton, gebreekte bottels in die straat
Spoke op my radio, bose geeste in my jaart
Nuwe tunes in die band room
En die bure raak kwaad ja die bure raak kwaad
Wit wolke en Dali se prent moer af
Maar ons sit tevrede in die Abelarde en wag
Vir die kaptein en ons swaai aan ons droom
En ons kyk ver en verby waar ander dalk skroom
Daar is dou op die ruit en die vlae hang traag suid
Sonder seremonie by die bar uitgesmyt
Met die swaai van jou heupe roep jy my terug
En help my oor die rivier se brug
Paraffienlamp brand in jou donker karavaan
Net sewe rand oor vir die res van die maand
Babelaas in Brixton, gebreekte bottels in die straat
Spoke op my radio, bose geeste in my jaart
Nuwe tunes in die band room
En die bure raak kwaad ja die bure raak kwaad
(Woorde en musiek: Gerhard Barnard)
[2] VROU OP DIE TREIN IN DIE SKILDERY
Haar hare is die kleur van vroegskemer oranje
Hoed uit die dertigs, swart rok en sjampanje
Rou sy of juig sy? Dalk ‘n bietjie van elk
Blaai deur ‘n tydskrif wat op haar skoot lê en verwelk
En nou voel sy so eensaam, maar ook ‘n bietjie vry
Soos die vrou op die trein in die Ed Hopper skildery
Liefde word gewoonte en omgee word plig
Wat as keuse begin het word toe groef en wig
Tussen dit wat ons gedenk en dit wat ons nou krenk
Tussen troufoto-album en afskeepgeskenk
En nou voel sy so eensaam, maar ook ‘n bietjie vry
Soos die vrou op die trein in die Ed Hopper skildery
Een, twee, drie, vier, snytjies van papier
Duisend snytjies deur die jare bring haar tot hier
Wie kry Agaat en wie kry Disgrace?
Boeke in bokse en kinders uit die huis
En nou voel sy so eensaam, maar ook ‘n bietjie vry
Soos die vrou op die trein in die Ed Hopper skildery
Eensaamheid en vryheid loop kruis en munt
Die Janus-gesig wat ons aan mekaar vasbind
Die loop-en-val, die haak-en-steek
Die wag-‘n-bietjie-bos se terughou of losbreek
En nou voel sy so eensaam, maar ook ‘n bietjie vry
Soos die vrou op die trein in die Ed Hopper skildery
(Woorde en musiek: Andries Bezuidenhout)
[3] EK KEN JOU TIPE
Opgekerf deur Occam se mes
Om together te bly doen ek my bes
My voete loop na Yeoville, maar ek gaan Brixton toe
Paal onder water, feit soos ‘n dooie koei
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Hoe groter die twyfel, hoe luider die megafoon
Naelstring van begin tot waar ek nou woon
Strek oor kontinente tot op ‘n breekpunt
Pyl uit ‘n boog, my seile na die wind
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Regse brandstapels, linkse inkwisisie
Muilband op papier en op die televisie
Die waarheid opgestuur in ‘n lugballon
Feite toegespin in ‘n sykokon
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Egte onnoselheid, kunsmatige vernuf
Is jy ernstig of besig om te bluf
En is dit jou gesig op die screen
Jou mond wat die woorde maak, jou oë wat ek sien?
En al wat ek hoor:
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Angel in ‘n byekorf, heuning om die mond
Sianied se kekkellag, speeksel in die grond
Myne in die see, myne op die maan
Skokgolwe en bore soek olie en uraan
En al wat ek hoor:
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
Ek ken nie vir jou nie, maar ek ken jou tipe
(Woorde: Andries Bezuidenhout, musiek: Gerhard Barnard, Andries Bezuidenhout)
[4] TAPE DECK BEGRAFNISBRIEF
Hierdie is ‘n begrafnisbrief per tape deck
Opgeneem op daai ou double decker deck
Daai boom box wat so ‘n bietjie trek
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Daai boom box het stof opgegaar in die garage
Maar dis nou weer baas
Nou weer aan die gang met nuwe double A’s
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Laat ons daai ou Capri V6 vat
Daar gat ons, af met die pad
Wag tot ons Fulham slat
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Draai oop daai ruit
Hang by die venster uit
Daai boombox skree luid:
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
Die man is dood, die man is dood
Die man is weg, die man is weg
(Woorde: Ockert Greeff, musiek: Gerhard Barnard)
[5] FRANSMAN SE JAS
Hy was uitgeput van rus en rondsit
Soms iemand met lem of vuis op sy plek sit
Vir oulaas hoor hy die sleutel knars
As die staalhek oopswaai en die daglig oopbars
Koplighoofdig, halsoorkoplig
Môre moet nog aanbreek, maar vanaand kan hy net ry
Van weg waar hy vandaan kom en waar hy moet gaan bly
Vanaand vlieg hy by als soos ‘n valk verby
Hy was vasgeveter en ingegespe
Boei en belt en koppiespeld
Hare na agter, maar sy rugstring op knip
Buitelig blits, vlieswolke wit
As erewag lag windpomp en telefoonpaal
Stom monumente van hout en staal
Hou maar jou frons, hou maar jou smile
Vanaand sal hy self die rigting bepaal
Koplighoofdig, halsoorkoplig
Môre moet nog aanbreek, maar vanaand kan hy net ry
Van weg waar hy vandaan kom en waar hy moet gaan bly
Vanaand vlieg hy by als soos ‘n valk verby
Met ‘n skeerlem die nommer van sy arm afgeskil
Met ‘n Fransman se jas, sy bloed nou stil
In nêrens se rigting in die pad geval
Oor sy skouer gegluur vir ingeval
Koplighoofdig, halsoorkoplig
Môre moet nog aanbreek, maar vanaand kan hy net ry
Van weg waar hy vandaan kom en waar hy moet gaan bly
Vanaand vlieg hy by als soos ‘n valk verby
(Woorde en musiek: Andries Bezuidenhout)
[6] MENSE SOOS ONS
In Jargonelles na Gert Vlok Nel gaan luister
Drikus speel bass terwyl Gert iets fluister
Van treine daar ver en those in peril at sea
En oor die pad van hier af suid en die woord rivier
Die Hoëveld was eens ‘n antieke meer
Nou vloei fonteine net in name deur skagte wat verweer
Ry oos met Caroline of wes met Collins
Twee eenrigtingstrate vir mense soos ons
Vir mense soos ons, vir mense soos ons
Vir mense soos ons wat nêrens heen gaan nie
Die Abelarde Sanction is net op die hoek
Van Fulham en Ripley as jy dit soek
Damn the Icebergs vanaand se vermaak
Soos ons stadig op quarts Black Label dronk raak
Sê “aah” vir nog ‘n slukkie sê die tandartsstoel
En agter in die bar speel Mark Bennett steeds pool
Ry oos met Caroline of wes met Collins
Twee eenrigtingstrate vir mense soos ons
Vir mense soos ons, vir mense soos ons
Vir mense soos ons wat nêrens heen gaan nie
In Breeze Block is DJ Charles Leonard op die tafels
Dis op vodka en lyne wat ons vanaand uitrafel
Ons met ons plankvloere en plafonne van staal
Die goud lankal op, die sypaadjies kaal
Maar daar’s musiek in die lug en ‘n naald op viniel
Dis ons wat steeds dans tussen bou en verniel
Ry oos met Caroline of wes met Collins
Twee eenrigtingstrate vir mense soos ons
Vir mense soos ons, vir mense soos ons
Vir mense soos ons wat nêrens heen gaan nie
(Woorde en musiek: Andries Bezuidenhout)
[7] TOP STAR
Volg die pad uit Simmondsweg wat boontoe loop
Tot by die movieskerm bo-op Ferreira se mynhoop
Parkeer langs ‘n paaltjie vir blikkerige klank
Met sout-asyn chips in ‘n nuuslose koerant
Die movie kom op as die son gaan sak
Dirkie, eLollipop en Kiepie en Kandas
Jaws, James Bond en Herbie goes bananas
Movies op ‘n mynhoop by Top Star
‘n Skrefie naglug vir wasem teen die ruite
Daai skerm ‘n venster na die wêreld daar buite
Ek vergeet van die werk in die Volla saam met jou
Ek vergeet van als as jy my hand so vashou
Ek weet jou parfuum kom van die counter by Garlicks
Maar vir my ruik jy pure Hollywood, my Darling
Die toasted cheese proe soos kaviaar
As ons movies kyk by Top Star
Soms kyk jou oë by die skerm verby
Staar jy deur die voorruit en voor jy jou kon kry
Sien jy die Hillbrowtoring, die Pontegebou
Daar’s ‘n stad agter die storie hier reg voor jou
‘n Stad met duisend stories maar wie sal dit onthou?
‘n Eerste soen op die back seat en nou
Hoor jy Ag Please Daddy en Welcome to My Car
Tonele deur die jare by Top Star
Die teer het verweer en die skerm is laat sak
Die mynhoop is gesloop om die goud uit te vat
Vir oulaas ‘n aksiefilm uit 2008
Wat nou van Top Star oor is, is ‘n yslike gat
Top Star…
(Woorde en musiek: Andries Bezuidenhout)
[8] ONTDEKKERSWEG
Drive-in milk shakes en swop shops
Drive-thru burgers en Ultra Stops
Drive-by sixpacks en chop shops
Tattersalls en Crazy Slots
Dr Ali van Malawi het kure vir jou
Die depressie of net ‘n bietjie blou
Slap rieme of verlore liefde
Skuldverknorsings of bek-en-klou
Tweedehandse motors, tweedehandse meubels
Tweedehandse liefde op lay buy
Maar als voel weer splinternuut
Als voel weer spiek en span
Op ‘n Ontdekkersweg Sondagmiddag drive
Florasentrum se motorparkade
Chisanyama en Hyperama
Hit en runs en ‘n padblokkade
Izinyoka met koperdrade
In die week kry jy jou tydmors se voorskot
Met ‘n verkeersknoop om elke stukkende robot
Gisteraand se take away oorskot
Jou passasier in ‘n Tupperware kosblik
Tweedehandse motors, tweedehandse meubels
Tweedehandse liefde op lay buy
Maar als voel weer splinternuut
Als voel weer spiek en span
Op ‘n Ontdekkersweg Sondagmiddag drive
Ontdekkersweg is ‘n slagaar
Met Ontdekkersweg kom jy daar
Maar waar dit is weet wie-weet-waar
Op Ontdekkersweg ry jy maar
Tweedehandse motors, tweedehandse meubels
Tweedehandse liefde op lay buy
Maar als voel weer splinternuut
Als voel weer spiek en span
Op ‘n Ontdekkersweg Sondagmiddag drive
(Woorde en musiek: Andries Bezuidenhout)
[9] DIE MONOPOLY SHUFFLE
U aanvangsalaris is twee honderd rand
Gooi nou die stene dat ons sien waar u land
Op Strand-, Commissioner- of Adderleystraat
Musgraveweg of Jan Smuts-laan
Koop ‘n huis of vier of sommer ‘n hotel
By die gemeenskapskas kan u instruksies optel
Oor die wat besit en die wat huur betaal
Ons wat voor is en u wat moet inhaal
U het koffie gemors…
Gaan tronk toe, skuif reguit tronk toe
Moenie eers by begin verby gaan nie
Gaan reguit tronk toe
Te veel om van te kies, so veel om te doen
Hondjie, resies kar of silwer skoen
En waar kry u daardie hoed, die strykyster of boot?
Vir soveel opsies kan selfs dobbelaars begroot
So gaan maar op ‘n uitstappie na Bloemfonteinstasie
Blokkiesraaisel kompetisie wenner konsternasie
En vorder dan maar weer twee honderd rand in
Met elke ompad verby die begin
U het koffie gemors…
Gaan tronk toe, skuif reguit tronk toe
Moenie eers by begin verby gaan nie
Gaan reguit tronk toe
Betaal ‘n boete van tien rand
Of stel u kans op die proef
Dit is u verjaarsdag
Vorder twintig rand in by elke boef
U het te vinnig gery
Betaal ‘n boete van vyftien rand
En as u u weer kon kry
Het u Voortrekkersweg verpand
U het koffie gemors…
So gaan tronk toe, skuif reguit tronk toe
Moenie eers by begin verby gaan nie
Gaan reguit tronk toe
So gaan tronk toe, skuif reguit tronk toe
Moenie eers by begin verby gaan nie
Gaan reguit tronk toe
(Woorde en musiek: Andries Bezuidenhout)
[10] STRATE SONDER BOME
In my drome
Loop ek in strate sonder bome
Daar is ‘n kroeg teen die bult af
Daar waar die honde blaf
Ons speel in die kroeg van lang quarts
Probeer om ‘n band te word
Jy met toe oë, ek met gebalde vuiste
Die kroeg ons Sondagnag tuiste
Reg voor die deur
Op die stoep van die huis
Was daar ‘n klein warm bondeltjie
Met ‘n swart tongetjie
Iemand het hom hier gelos,
Hy sy gesê
Kom ons gee hom kos,
Het sy gesê
In my drome
Loop ek in strate sonder bome
Daar is ‘n huis net oorkant
Met ‘n kombuistafel soos ‘n eiland
In die kombuis drink ons sterk
Jou naels nog swart van werk
Styf om die nek van die Klipdrif
Vlug deur al wat ‘n kitaar riff
Reg voor die deur
Op die stoep van die huis
Was daar ‘n klein warm bondeltjie
Met ‘n swart tongetjie
Iemand het hom hier gelos,
Hy sy gesê
Kom ons gee hom kos,
Het sy gesê
In my drome in strate sonder bome
Lê ek uitgestrek in die son
Op ‘n stoep met rooi stene
Warm gebak onder my bene
Iemand het hom hier gelos!
Roep ‘n vrou
Hy lê hier soos ‘n rondloper hond!
Roep ‘n vrou
Vuil van sy eie stront!
Reg voor die deur
Op die stoep van die huis
Was daar ‘n klein warm bondeltjie
Met ‘n swart tongetjie
Iemand het hom hier gelos,
Hy sy gesê
Kom ons gee hom kos,
Het sy gesê
(Woorde: Ockert Greeff, musiek: Andries Bezuidenhout, Gerhard Barnard)
[11] BRIXTON SE VURE
Son op die dak laat die sink na asem snak
Bakstene ril as die koue hul vasvat
In ‘n greep wat net vlamme kan verlig
Tussen bibber en knetter balanseer my brug
Alice of Asfodel, Pringlebaai of Montreal
Wat bepaal of jy vlieg of val
Of van watter kant van Brixton se rand
Jy nou dophou hoe die vure brand?
Doodgewoon eens daar gewoon
Langs ‘n sonwysertoring wat seisoene aantoon
Geen legendes of epiese verhale
Net amps en drums en kabels en snare
Alice of Asfodel, Pringlebaai of Montreal
Wat bepaal of jy vlieg of val
Of van watter kant van Brixton se rand
Jy nou dophou hoe die vure brand?
Of Brixton nou jou Ithaka is
Of bloot ‘n plek waar die reisiger rus
Waar die winterson aan sement vasgom
Bly die vraag of jy ooit weer terugkom
Alice of Asfodel, Pringlebaai of Montreal
Wat bepaal of jy vlieg of val
Of van watter kant van Brixton se rand
Jy nou dophou hoe die vure brand?
(Woorde: Andries Bezuidenhout, musiek: Gerhard Barnard)