Andries Bezuidenhout – Onplaats (album)

“Onplaats” is Andries Bezuidenhout se derde solo album en is in April 2020 deur Die Wasgoedlyn vrygestel. Dit bevat twaalf oorspronklike komposisies, waarvan die lirieke en musiek deur Andries geskryf is, buiten “Tussen Platvoet en Stoompomp”, waarvan die melodie deur Herman van Veen gekomponeer is. Die album word aan die ou en nuwe Gereformeerde Blues Band opgedra, deels as dankbetuiging teenoor Riku Lätti en Willem Möller, wat elk ʼn belangrike rol gespeel het met die produksie van die album. Riku het gehelp met verwerkings en besluite oor musikante om op van die tracks te speel en Willem Möller het die finale meng en meester van die album behartig.

Stream of download hier.

Wat beteken Onplaats?

Andries se antwoord: “Daar’s twee maniere hoe ek dit titel verstaan. Op een vlak is dit ʼn grappige verwysing na die feit dat ek die album net op die web vrystel. Dis die eerste album wat ek glad nie as CD vrystel nie, laat staan nog vinielplate van laat druk. So, dis nie ʼn plaat nie – dis ʼn onplaat.

“Die ander vlak is meer filosofies van aard. Dit kom uit ʼn gesprek met Herman van Veen (verskoon my, dis nie bedoel as ‘name dropping’ nie). Ek was in 2015 in Nederland om by ‘n Suid-Afrikaanse fees op te tree en hy was die gasheer. Hy het gevra dat ek ‘n liriek moet stuur, wat hy toe getoonset het. Ek het ‘Tussen Platvoet en Stoompomp’ vir hom aangestuur. Dit handel oor iemand wat op ʼn plaas wil woon iewers tussen plekke genaamd Platvoet en Stoompomp. Toevallig is daar werklik sulke plekke in die Vrystaat, maar min mense weet daarvan. Herman van Veen het oor ʼn moontlike Nederlandse vertaling gepraat en hy wou verwys na ʼn plaas (of plaats) ‘tussen niks en nêrens’. Ek wou weet waarom hy nie soortgelyke name soos Platvoet en Stoompomp in Nederland kon vind nie.

“Sy antwoord was dat daar nie ʼn enkele plek in Nederland was wat almal nie van weet nie. Ek het toe ʼn paar name op ʼn kaart gaan soek as voorbeeld, maar in elke geval kon Herman die plek se geskiedenis ophaal – byvoorbeeld dat ʼn biskop daar in, sê nou maar, die jaar 1415 onthoof is. Dit was ʼn interessante punt oor die verskille tussen Nederland en Suid-Afrika. Nederland is meer intiem, aan mekaar bekend, terwyl Suid-Afrika nog plekke het waarvan niemand nog gehoor het nie. Van daar die ‘onplaats’ – ʼn plek wat net in die verbeelding bestaan, ʼn onplek.”

Vertrek – video

“Vertrek” praat oor iemand wat altyd jaag, wat nooit ʼn vaste adres wil hê nie en sy briewe verkieslik op die volgende dorp se poskantoor gaan haal. Die liriek speel met die verskillende betekenisse van die woord “vertrek”: “ʼn Huis het vertrekke, ʼn gesig kan vertrek/ van liefde of haat of bedrog./ Die enigste vertrek waarvan ek wil weet/ is die een wat op afskeid volg.” Die video gebruik tydsverloop (time-lapse) fotografie van road trips deur die Karoo – die pad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp, asook tussen Middelburg en Hanover. Oor die video sê Andries: “Ek het aan landskapskilderye gedink toe ek oor die video se konsep gedink het. Wolke en die lug is gewoonlik só ʼn belangrike deel van sulke skilderye, dit neem tipies twee derdes van die skildery se oppervlakte op. Waar ʼn skildery een prent is, moes dit beelde in hierdie video super vinnig beweeg – die effek daarvan is dat die landskap amper te vinnig beweeg om te kan eien, maar die wolke bo in die lug verskaf ʼn ankerpunt. Ek wou hê mense wat na die video kyk moet amper meer op die wolke fokus as die landskap self.”

Media

Bespreking van die album deur Francois Lion-Cachet, asook foto’s deur Andries en ‘n playlist van interessante Afrikaanse musiek op Klyntji.

Onderhoud met Andries deur Henry Cloete op LitNet.

Resensie van die album deur Daniel Luckhoff Wessels op Texx and the City website oor Suid-Afrikaanse musiek.

Onderhoud met Andries deur Henno Kruger op Running Wolf Rant.

Watkykjy se resensie (parental advisory).

Onderhoud met Andries deur AJ Opperman vir Netwerk24 (pay wall).

 

Onderhoud met Andries deur Jaco Hough-Coetzee in Huisgenoot.

Musikante op “Onplaats”:

Andries Bezuidenhout: Stem, staal- en nylonsnaar akoestiese kitare.

Emma van Biljon en Lisa Bezuidenhout: Kinderstemme.

Vangile Bingwa: Backing vocals en koor.

Rosa Da Costa-Bezuidenhout: Backing vocals en koor.

Mark Ellis: Baskitaar.

Lathitha Espin: Backing vocals.

Joey Kok: Backing vocals.

Jackie Lätti: Koor.

Riku Lätti: Elektriese kitaar en keyboards.

Jean Marais: Drums en ander perkussie.

Willem Möller: Elektriese en akoestiese kitaar.

Jake Rabie: Koor.

Lukas van Garderen: Keyboards.

Produksie:

“Onplaats” is tussen September 2018 en April 2020 opgeneem. Andries se stem en kitare is in Alice, Nieu-Bethesda, Lowlands-landgoed (naby Cradock) en Oos-Londen opgeneem. Vangile se stem is in Alice opgeneem. Joey, Jake, Lathitha, Rosa, Emma en Lisa se stemme, asook Lukas se keyboard, is by Lowlands opgeneem. Drums deur Jean en baskitaar deur Mark is by Mark-Tunes Studio in Stellenbosch opgeneem. Riku se kitare en keyboard en Jackie se vocals is by Wasgoedlyn Studio in Strand opgeneem. Willem Möller se kitaar is by Sharp Street Studio in Glencairn opgeneem. Finale meng en meester deur Willem Möller by Sharp Street Studio in Glencairn.

Waar on te koop of stream.

 

Die nuwe Gereformeerde Blues Band, Desember 2019 in Muizenberg. Van links na regs: Lloyd Ross, Churchil Naude, Riku Lätti, Tonia Selley, Jackie Lätti, Willem Möller. Foto: Andries Bezuidenhout

LIRIEKE EN VIDEO’S:

[1] AASVOËLS BO LANGENHOVENPARK

ʼn Driebeenjakkals het ʼn lam gevang
by die laaste plaas voor Loxton se dam.
Aasvoël wag vol begeerte op die windpomp,
aan stomende wolke hang nog ʼn klomp
en op wat nou nog oor is van telefoondrade
sit die gulsige oë van witborsrawe.

Refrein:
Kom pik aan die karkas, kom pik pik pik,
julle vreters van aas, kom pik pik pik.
Druk jou snawel tussen sening en been,
jy moet pik pik pik as dit karkasse reën.

Splinternuwe Prado het ʼn steenbok getrap
op Williston en Carnarvon se pad.
GPS gee koördinate van die feesmaal
vir vos se kind om die buit te kom haal.
Aan die lug wat oorkook, die verwagte aasvoël
en rawe op die koop toe voltooi die skool.

Refrein

ʼn Middelklasfamilie het bankrot gespeel
in Langenhovenpark se beste deel.
Prokureurs, ouditeurs en al die ander teurs
vergader in dasse vir elkeen se deel.
Die fiskaal fladder in met ʼn hofbevel
wat die terme van die aasmaal stip uitspel.

Refrein

Jou adres jou skakel in die voedselketting –
roofdier, aasdier, of prooi se nering,
oogtande, snawel of herkouer se bek.
Pik jy aan oorskiet, of breek jy ʼn nek?

Refrein

[2] SOMER

Palms aan flarde van ou orkane,
maar nie nou nie, nie hier nie,
nie nou nie, nie hier nie,
net die wind in jou hare.
Met my mond kan ek dit proe,
en inasem.

Jy’s storm en stil soos die strand en die see,
jy’s storm en stil soos die strand en die see,
jy’s storm en stil soos die strand en die see.

Duine geblyk deur die harde son,
maar nie nou nie, nie hier nie,
nie nou nie, nie hier nie,
net die lig op jou rug.
Ek kan daaraan raak,
dit vashou.

Jy’s warm en koud soos die strand en die see,
jy’s warm en koud soos die strand en die see,
jy’s warm en koud soos die strand en die see.

Rotse geslyp deur aanhoudende branders,
maar nie nou nie, nie hier nie,
nie nou nie, nie hier nie,
net ʼn druppel in jou nek
wat ek met my vinger afvee
en aan proe.

Jy’s droog en sout soos die strand en die see,
jy’s droog en sout soos die strand en die see,
jy’s droog en sout die strand en die see.

[3] TUSSEN PLATVOET EN STOOMPOMP

(Musiek: Herman van Veen)

Kom boer saam met my op my lappie grond,
dis nêrens op ʼn kaart nie, maar dis rond en bont –
iewers op die pad tussen Platvoet en Stoompomp.

Dis ʼn plaas sonder geskiedenis en sonder toekoms,
net ʼn nou en ʼn hier in die skaduwee van bloekoms.

Kom boer saam met my op my stukkie landgoed
waar die niks en die niet saans die son groet –
iewers op die pad tussen Stoompomp en Platvoet.

Die grense is ʼn hand en nie ʼn vuis nie,
daar’s blyplek en skuiling, maar nie ʼn huis nie.
Dan plant ons iets soos grondboon en sonneblom
en dans vir reën in die oggendson.

Kom boer saam met my op my stukkie landgoed
waar die niks en die niet saans die son groet –
iewers op die pad tussen Stoompomp en Platvoet.

[4] ONDIEN SE WIEGELIED

Nou laat die sand die son se laaste hitte vry,
bring jou beker koffie en kom sit hier langs my.

Refrein:

Van anderkant die duine lewer golwe kommentaar,
met fosforstemme fluister hulle: “Toemaar, toemaar.”

Hier’s ʼn velkaros, hardekool, dennebolle en ysterhout,
want netnou is dit donker en die nagwind hier is koud.

Refrein

Alles is nou ver van hier, net ons, die nag, die see, ʼn vuur
en mossels met fyn arikruik en die stroopsoet van ʼn vyeblik.

Refrein

“Kom terug na die oorsprong, kom terug, kom terug
ons abba jou saggies, ons dra jou op ons rug.”

[5] VERSKONINGS

Laetitia jy’t gebel toe ek my tas oplig
om in te weeg vir die oornagvlug.
Jy wou ernstig praat, maar ek was weer te laat
en moes my pad inderhaas na Hek 12 toe maak.

Refrein:
Jy sien wat regtig gebeur in die hoek van jou oog
en die ware verhaal kom eers as woorde opdroog
en wie dan vertrou as jy jou eie stories
so verkeerd onthou, so verkeerd onthou, so verkeerd onthou

Laetitia, jy’t gebel toe die kliënt begin skel
in ʼn vergadering oor die afloop van my grootste kontrak.
Tussen skerm en fondament val beton op die grond
en moes ek sonder mondering dinamiet ontlont.

Refrein

Laetitia, ek bel terug en ek hoor die sug
in jou instruksie om ʼn boodskap te laat.
Jy’s seker te besig, maar ek weet jy’s daar,
so hier’s my verskoning elektronies bewaar.
As jy daarna luister en jy kan dit ontsyfer,
sal jy my ook laat weet, want ek het reeds vergeet?
Die strekking van leuens het ek afgelees
van etikette op bottels voor hierdie spieël.

Refrein

[6] DUNGEONS & DRAGONS

Soggens om vyf op my dikwielfiets
om die regering se beeld vir sakgeld te verkoop.
Mamelodi was te ver om van te hoor,
maar die rook kon ons sien as ons skool toe loop.

Refrein:

Daardie een aand Salome, daardie een aand Salome
was ons meer as net vriende gewees.
Daardie een aand Salome, daardie een aand Salome
was ons meer as net vriende gewees.

Pac Man, Commodore en ZX Spectrum
het van ons pioniersprogrammeerders gemaak.
Veldskool, kadette en Voorstrekkerkampe
om ons teen die Beatles weerbaar te maak.

Refrein

Crinkle paper oor die garage se buislig,
“Like an earth quake” en later “Say you, say me”
en na cane, passion fruit en lemonade
was Trompies en Saartjies nie meer so skaam nie.

Refrein

Nou’s jy getroud met ʼn man van Kalifornië,
foto’s van jou kinders op jou facebookprofiel.
My drank en my rekenaar sterker as destyds,
daar’s pille en alarms vir my laatnag nostalgie.

Refrein

Jy’s weg na die eksamen, glo na die Vrystaat,
wou nooit verklap wie die pa was nie.
Prosedure in Swaziland, of aanneemouers?
Ek wonder soms, maar nou maak dit nie saak nie.

Refrein

[7] SUSTER GELUK

Jou adres is duister, ek kan jou nie roep nie,
niks is gewaarborg as ek na jou soek nie.
Jy dra ʼn donkerbril, pupille ʼn prisma,
ek kyk stip, maar versigtig, as ek na jou staar.

Refrein:
Die hegste vriendskap in ʼn loopgraaf gesmee
verdamp as oorlog aan vrede oorgee.

Trou kan jy sweer, maar net tentatief,
tot die lewe ons skei het jy my lief.
Jy het fynskrif vir my koffie, klousules vir my pap,
hoe nader die dans hoe meer tone word getrap.

Refrein

As jy klop dink twee keer voor ek oopmaak,
ek weet nooit wie ek saam met jou binnelaat.
My naam is Geluk, die suster van Toeval,
Rampspoed is my stiefma en Noodlot my pa.

Refrein

[8] WILGEDORP SE RASIONALISERINGSBALLADE

In die dertigs, na die depressie,
is die stasie hier gebou
en het toe vir vyf dekades
Wilgedorp se tyd gehou.

Kort daarna, bank en skool,
koöperasie en ʼn kerk,
silo’s en selfs ʼn haarsalon
vir Maurice om in te werk.

Dis die stasiemeestervrou
wat die kannabeddings onderhou
terwyl portiere vroeg al poets, poleer
aan die koperletters bo die deur.

Passasiers kom uit die stad
bly by die Masonic Hotel.
In die kroeg kan jy sien hulle luister
na die stories wat ons vertel.

As die goederetrein na middernag
my in die stoepkamer kom wakkermaak
kan ek omdraai met die wete
ek kan ure langer slaap.

Dis die stasiemeestervrou
wat die kannabeddings onderhou
terwyl portiere vroeg al poets, poleer
aan die koperletters bo die deur.

 “Onlewensvatbaar,”
sê konsultant en amptenaar.
Nou staan spore langs die silo’s braak.
Wat gaan die boere maak?

Spekuleer, meganiseer,
masjien maak op waar mens makeer,
Frankensteinpitte intensiveer,
gate onder lorries in die teer.

Met die spoor gekom om hier te bly
en toe weer padlangs weggery,
want ʼn stasie sonder treine
is ʼn plek waar jy net agterbly.

Die wagkamer is stil,
net ʼn dwaalgees op die perron,
maar as jy fyn luister kan jy nog hoor
hoe die laaste trein verbykom.

Met die spoor gekom om hier te bly
en toe weer padlangs weggery,
want ʼn stasie sonder treine
is ʼn plek waar jy net agterbly.

[9] DIE SPOORLOSE VERDWYNING VAN ELVIS DU PREEZ

Kom laat ek vertel van Elvis du Preez
al het dit ʼn ruk gelede gebeur.
Elvis wat so voetslaan, Elvis wat so stap,
met velskoene en kakies en kouse wat krap.

Almal was bang as Elvis inbars
by Incognito op ʼn double time mars.
Jy soek net nie kak met ʼn bras brush cut,
jy sukkel nie sommer met ʼn honderd en agt.

Refrein:
Elvis rook Lexington en Boxer-tabak,
gestop in ʼn pyp uit ʼn seilknapsak.
Elvis drink whisky uit ʼn blik hip flask,
deur ʼn bannelingoupa op Ceylon gemaak.

Wat noem jy ʼn budgie met masjiengeweer?
Eenvoudige antwoord: Jy roep hom meneer.
As Elvis se skouer jou stamp by die bar
knik jy eerbiedig vir die vriendelike gebaar.

Met bulderende arms maak Elvis amok,
mik na elke paar bene in enige rok
en as die tegniek die teiken mis
ontluik daar ʼn crooner wat sing en sus.

Refrein

En toe het Elvis spoorloos verdwyn.
Hulle sê dit was mans met ʼn bakkie en boeie.
Laat daardie aand haar opgelaai
en wat toe gebeur het, kan ons net raai.

Elvis, ek verdwaal ook soms in die strate.

Ek kom van Pretoria, maar hierdie is nou Tshwane.
Is jy nog iewers in Sunnyside, stukkende blom?
Dis dalk nou veiliger om uit te kom.

Refrein

[10] LAST ROUND REGULARS

Dit kan enige stad wees, enige dorp wees
Enige land wees, enige straat wees
Maar dis die einde van die winter, die strate is nat
Modder wat van karre se wiele af spat
Dis net na middernag, die laaste bus staan en wag
Om die last round regulars huis toe te vat

Mompel, mompel as jy nagtelik strompel
Die koudste wintersfront kan jou vannag nie oorrompel
Want jy’t whisky as jas, brandy as sambreel
Wat bruis deur jou aarde om die rillings te steel
Die aarde draai, maar dis nie jou kop nie
Die bome dans, maar dis nie die dop nie
Jou gang is seker, jou pas is sterk
Teen die mis en die reën dra jy jou serp

En soos jy daar gaan, sê my, wat is jou naam?
Kan jy my dalk sê wat dra jy met jou saam?
Die gewig van te veel in die lig van te min,
Die stomheid van verloor, die stompheid van wen?
Motherless, vuisvoos, ook nou hopeloos
Maar karre ry verby, die maan wat skyn
Jy soek na jou sleutel, jy soek na die sleutel
Van die slot… van jou premiepondok…

Dit kan enige stad wees, enige dorp wees
Enige land wees, enige straat wees
Maar dis die einde van die winter, die strate is nat
Modder wat van karre se wiele af spat
Dis net na middernag, die laaste bus staan al en wag
Om die last round regulars huis toe te vat

[11] VERTREK

Wie wil in turfgrond wortelskiet,
wie wil nou in boorde rank?
Wie wil deur ʼn snoeiskêr getem word
as vrugbare plant?

Refrein:
My vaste adres was nog altyd
Poste Restante gewees
en die oomblik as ek weer vertrek
sal ek tyd hê om jou briewe te lees

ʼn Landskap word nog altyd die mooiste
in ʼn truspieël geraam
en die een waarvan jy al vergeet
is die mees onthoubare pleknaam.

Refrein

Ek’s waaisand, ek’s rook, ek’s ʼn kiem in die lug,
ek’s wiele, ek’s vlerke, ek’s die wind in jou gesig.
Motorhawe, lughawe, hawe met ʼn kaai –
my gunstelinghawe se naam is Koebaai.

Refrein

ʼn Huis het vertrekke, ʼn gesig kan vertrek
van liefde of haat of bedrog.
Die enigste vertrek waarvan ek wil weet
is die een wat op afskeid volg.

[12] LUKAS IMPOSSIBLE

Lukas van Johannesburg doen heelflips by Boogaloo’s,
Urban X en Revolution, nose blunt slides in Hillbrow.
Tyd staan stil met ʼn backflip, alles stol met ʼn ollie impossible,
ʼn spine transfer se big sky-oomblik hou jou bo die aarde vas.

Wind, water, grond en vuur – alles lyk soms helder hier
as alles skielik stilstaan.

Dae doen pop shuv-its, ure kan ook five-o grind,
die no-slides van sekondes laat almanakke stilstaan.
Kan Shaka dan ʼn heelflip doen, Paul Kruger ʼn Smith grind?
Kan Cecil Rhodes ʼn tail-slide doen tot by die Suezkanaal?

Kyk vorentoe, kyk terug, of weg – alles lyk soms minder sleg
as alles skielik stilstaan.

Lukas lees soms boeke oor die geskiedenis se geskiedenis,
oor mummies en oor piramides, wat waar was voor ons daar was.
Kan Ramses dan ʼn kickflip doen, Toetankhamon ʼn feeble grind?
Kan Cleopatra ʼn drop-in maak van Kaïro tot die Kaap?

Wind, water, grond en vuur – alles lyk soms helder hier
as alles skielik stilstaan.
Kyk vorentoe, kyk terug, of weg – alles lyk soms minder sleg
as alles skielik stilstaan.

Koos en Roof kom Pretoria toe!

kk400x400

Kom sit saam met Koos Kombuis en Andries ‘Roof’ Bezuidenhout om die kombuistafel en luister hoe die twee woordkunstenaars heerlik en hartlik gesels tussen splinternuwe liedjies en ook ʼn paar wat ou herinneringe wek. Na suksesvolle optredes op die verhoë by die KKNK in Oudtshoorn, die Stellenbosse Woordfees en die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis teater in Wellington, is Terug na die Kombuis! nou uiteindelik in Pretoria op die planke. Dra ʼn lady van die bodorp nog tekkies en ʼn oorhangtrui? En wat van liefde wat grense oorsteek? Deesdae dra mense eerder posters as pasboeke. Kom sien waaroor die bohaai gaan! In die woorde van die resensent Herman Lategan: “…gaan kyk self. Dit sal nie ʼn teleurstelling wees nie.”

Waar? Atterbury Teater by Lynnwood Bridge (op die hoek van Lynnwoodweg en die N1)

Wanneer? Vrydag 10 Junie 2016, om 20:00

Bespreek vroegtydig jou kaartjie by Computicket.

Herman Lategan resenseer "Terug na die kombuis" in Ink, die Woordfeeskoerant
Herman Lategan resenseer “Terug na die kombuis” in Ink, die Woordfeeskoerant

Woordfees 2016: Terug na die kombuis

20160308_073201~2

Wat gebeur as ʼn kombuistaal terugkeer na die kombuis? In April 2015 het twee ou vriende, André Letoit (Koos Kombuis) en Andries Bezuidenhout (Roof van die Brixton Moord en Roof Orkes) ʼn verhoog in Oudsthoorn bestyg en die deels geïmproviseerde kabaretvertoning “Terug na die Kombuis” opgekook te midde van beurtkrag, vreemdelingehaat, ekonomiese verval en kulturele polarisasie.

Die bebaarde eks-aktivis en die ewe bebaarde dog meer bedaarde vakbond-deskundige het uitgepak oor alles wat hulle pla; ontnugtering oor korrupsie, klimaatsverandering, oorlog, plae en hulle eie loopbane. Geen doekies is omgedraai nie. Geen boodskap van hoop is uitgedra nie. Vir beide Koos en Roof was die vertoning ʼn ‘nul-punt’, ʼn katarsis, ʼn boedeloorgawe.

Tog was mense gaande daaroor. Die twee digter-sangers keer nou terug na die planke tydens die Stellenbosse Woordfees van 2016 met ekstra rampe en ontnugterings ingeroer, maar ook selfs ʼn knippie hoop en sakke vol humor. Toevallig voel albei baie beter oor die land se toekoms as verlede jaar hierdie tyd.

Met hierdie terugkeer na die kombuis herbesoek die twee van Koos se vroegste songs en praat oor wat die betekenis daarvan in deesdae se vernaderende tye sou wees. Dra ʼn lady van die bodorp nog tekkies en ʼn oorhangtrui? En wat van liefde wat grense oorsteek? Deesdae dra mense eerder posters as pasboeke.

Benewens ʼn herbesoek aan ou gunstelinge soos “Lady van die bodorp”, “Ontug in die lug”, “Lisa se klavier” en “Lente in die Boland” stel beide Koos en Roof splinternuwe komposisies aan hul gehore by die Woordfees bekend. Kom sien waaroor die bohaai gaan!

Lees die humoristiese resensie deur Herman Lategan in Ink (foto deur Nardus Engelbrecht)

Herman Lategan resenseer "Terug na die kombuis" in Ink, die Woordfeeskoerant
Herman Lategan resenseer “Terug na die kombuis” in Ink, die Woordfeeskoerant

Saterdag, 5 Maart 2016, 11:00 Maandag, 7 Maart 2016, 14:30 Vrydag, 11 Maart 2016, 18:00 Woordfees, Stellenbosch

Bespreek betyds ‘n kaartjie by Computicket.

Foto’s deur Nardus Engelbrecht

Slaaptyd in die Suburbs – Brixton Moord en Roof Orkes

Slaaptyd Boek Cover“Slaaptyd in die suburbs” is die Brixton Moord & Roof Orkes se derde en laaste album. Dis as ‘n beperkte oplaag van 100 bundels met lirieke en skilderye van Marguerite Visser aan die einde van 2014 vrygestel en as CD aan die begin van 2015. In 2021 is die album vir streaming vrygestel, en ‘n nuwe mix in 2024.

Luister op Apple, Spotify, YouTube, ens.

Uittreksel uit ‘n resensie:

“Brixton Moord & Roof Orkes het nou maar die manier om jou na die werklikheid terug te ruk, of tot wysheid en alternatiewe insigte te bring. Die album Slaaptyd in die Suburbs is geen uitsondering nie. Op hierdie album leer ken ons verskillende mense, elkeen met sy eie klein storie en groot verdriet. Elkeen ken iemand soos Vera, Lenie, ­Mariaan, Marius… Dit was omtrent ’n dekade gelede dat die orkes laas ’n album gemaak het. Hierdie album is dus meer as welkom, al konfronteer dit jou met dinge wat jy soms wil ignoreer. Neem nou maar ‘Klein­burgerlike Kreet’ wat jou opnuut laat kyk na hoe die woonbuurt lyk waar jy bly. Die elektriese heinings en diefwering skree vir jou net soos jy wil skree, al weet jy dit is verniet. En in ‘Die ballade van Vera Naudé’ identifiseer jy met haar versugting van ontburger te wees deur vrees en haat. Dan is daar die heerlike ironiese lied ‘Tankwa-Karoo’ van iemand wat stilte gesoek het, maar dan skielik besef dat dit ook nie is waarna hy gesmag het nie. Hier word weer bevestig dat Totius tog reg was toe hy gesê het die wêreld is ons woning nie. En jy kan met Amanda Strydom saamstem dat die enigste plek waar jy dalk sal rus vind die kamer in jou kop is. Geen album van hierdie orkes gaan jou die son laat sien sonder om bewus te wees van die wolk wat kan inskuif nie. Dit laat jou egter helder sien, en dink laat dit jou dink. Die lirieke is altyd so vasvat waar. ’n Mens kan jou verlustig in die digterlikheid terwyl ’n mes in ’n wond of twee draai. Wat ’n mens veral van hulle waardeer, is die manier waarop hul musiek jou onmiddellik gryp en jou aandag hou. Hier is geen geteem of tranerige wysies nie. Selfs die einde van dae, verlies, ’n tronksel en verlange wil jy met jubelende voete op maat van die musiek tegemoet dans.”
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Mei 2015

Brixton Barnard, die band se baskitaarspeler en skrywer van baie van die musiek, is kort na die vrystelling van die album aan breinkanker oorlede. Lees ‘n huldeblyk op Versindaba.

Andries Bezuidenhout – Insomniak se droomalmanak (album)

Insomniak se droomalmanak is Andries se eerste solo-album en is in 2003 deur Rhythm Records vrygestel. Soos die titel sê, handel dit oor slapeloosheid en drome. In 2021 is dit as nuwe weergawe vir streaming vrygestel.


Apple Music
Spotify

Uittreksels uit resensies:

Andries Bezuidenhout… se kommentaar op die hedendaagse Suid-Afrika is skerp, op die man af en hartverskeurend mooi. Die lirieke vir sy CD Insomniak se droomalmanak maak vir elkeen sin, of hy uit die generasie linkses van ouds kom, of ‘n produk van die reënboog-situasie is. Die ooreenkomste met die latere werk van Leonard Cohen kan nie misgekyk word nie. Dit is duidelik dat hy ‘n aanhanger van die bobaas van “blou” gevoelens is. In die snit “Bus na Toronto” word een van Cohen se liedjies by die naam genoem en by die lirieke ingewerk. Dit is ook een van die snitte wat tot op die been sny. Soos die titelsnit aandui, is die saambindende tema wakkelê(wees) en droom van rus. Die ironie van iemand wat die wêreld juis in die donker nag duidelik sien, blyk uit feitlik al die lirieke. Op die meeste albums is ‘n snit of twee wat minder indruk maak as die ander. Selde gebeur dit dat elke snit op sy eie manier onder die luisteraar se vel kruip. Sonder om opdringerig te wees, maak Bezuidenhout ‘n sinvolle stelling in elke lied. ‘n Persoonlike gunsteling en hoogtepunt is “Nero van der Merwe se lied” ‘n nagmerrie oor Johannesburg. Gelukkig is dit nie ‘n swaarmoedige album nie. Hy is dikwels onnutsig aan die spot, soos in “Die ballade van Dracula Havenga”, waarin hy die een helfte van die groep Kobus! bykom. Kyk ook na die medewerkers: die Huis Hoëveld Spreekkamerkoor, die Boksburg Bierbrouers Blaasorkes en die Albertsville Kriekekoor, en jy sal weet dat daar nie net gewroeg word nie…
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Oktober 2003

Andries Bezuidenhout subscribes to the introspective, thought-provoking school of minimalist philosophical expression, commenting on life and the world, from the little things to the bigger picture… The poetic themes of the dream world, the waking dream, sleepwalking existence and the reflection of South African city and suburban life, changes, angst and being white these days may be a heady mix, but it works.
– Paul Blom, Cape Argus

[A] proper follow-up to Koos Kombuis’ seminal ‘Niemandsland’… On ‘Insomniak se Droomalmanak’ singer/songwriter Andries Bezuidenhout has taken Koos’ knack for melody and bittersweet Afrikaans lyrics and catapulted them into the new millennium.
– Fred de Vries

Andries Bezuidenhout, of Roof, soos hy in die Brixton Moord en Rooforkes bekend staan het sy eerste solo-album op die rakke. Insomniak se droomalmanak is egter, soos ons die manne uit die Brixtongeweste ken, nie happy clappy tunes nie. Om die waarheid te sê — veral hierdie album is moerse morbied en depressief. Bezuidenhout fokus op heavy realiteite en sing met ‘n somber stem op akoestiese kitaarmusiek. Dis egter van die beste lirieke waarna jy in ‘n lang tyd gaan luister. As jy hou van rustige Afrikaanse musiek is hierdie beslis ‘n moet want goeie liedjieskrywers krap jy nie agter elke tweede bos uit nie. Die stuff waaroor hierdie man sing, is die grou werklikheid…
– Angola Badprop, JIP, 27 Oktober 2003

LIRIEKE EN VIDEO’S

[1] DROOMARGIEF – INLEIDING

Al hierdie drome bêre ek in lêers
In ‘n grys kabinet vergader hulle stof
Tot hulle ontydig, een oggend
As die wekker lui in my kop ontplof

[2] DIE LOON VAN DIE DROOM

Daar’s iewers iets nie meer pluis nie
My wekker klop nie meer kuis nie
My skoene staan by verkeerde maats
En die whisky-bottel se label hang halfmas

Maar pasop vir die droom ja julle wat skroom
Om julself van dié malheid te verskoon
Pasop vir die droom, pasop vir die droom
Die loon van die droom is die droom

My televisie kyk nou skeel
En my radio verseg om te speel
Die stofsuier en die strykyster
Het elkeen ‘n koord om die keel

Maar pasop vir die droom, ja, julle wat skroom
Om julself van dié malheid te verskoon
Pasop vir die droom, pasop vir die droom
Die loon van die droom is die droom

Van vandag af sê jy lewe jy aspris
Maar jy sien jy’t die hele storie mis
Want daar’s rotgif op jou solder
En jou voorland is ‘n kis

Maar pasop vir die droom ja julle wat skroom
Om julself van dié malheid te verskoon
Pasop vir die droom, pasop vir die droom
Die loon van die droom is die droom

[3] WOONSTEL OP DIE KAFEE

Ek hou my liggaam aan die gang
Met rooiworsies en bier
Hamburgerpatties en whiskey
Rooiwyn en breadrolls

In die aande luister ek Pink Floyd
En na die motors in Duncanstraat
Tydens beter buie na Valiant Swart
En soms selfs na Mary Poppins

Maar daar’s wind in my hare
En die son spuit deur my are
En ek retreat, ek retreat
Op ‘n African beat

Ek sit saam met jou in ‘n coffee shop
Loer skelm na die girl met die swart bob
Jy sê jy’t reeds vergeet
Van die familiefoto op die kaggel

Ek hou nie van die yuppies in Hatfield nie
En ek hou nie van die snobs van Waterkloof nie
Maar ek hou van die ruik
Van my stof en storm subkontinent

Maar daar’s wind in my hare
En die son spuit deur my are
En ek retreat, ek retreat
Op ‘n African beat

En al wat vir my oorbly
Is my woonstel op die kafee
Die platespeler en die bad
My kitaar en soms jy

Maar daar’s wind in my hare
En die son spuit deur my are
En ek retreat, ek retreat
Op ‘n African beat

[4] (FOKUS) DEUR ‘n DONKERBRIL

Dis somer in Pretoria, die son skyn skerp
Yskor gloei ‘n hoogoond teen die skemer
Dis weer somer in Pretoria, die son skyn te skerp
Teen die lense wat ek dra voor my oë

Ek kyk na die wêreld deur ‘n donkerbril
Dis al wat ek kan doen om te keer
Om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer
Want die beelde skyn te skerp vir my

Die staatsdiensgeboue staan soos leggerkabinette
En wag vir die volgende dag se nuwe wette
En ek sit in my Volla en wag vir die lig
Wat sê ek kan aangaan met my daaglikse plig

Ek kyk deur die walms met ‘n donkerbril
Dis al wat ek kan doen in verkeer
Om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer
Want die ligte skyn te skerp vir my

Ek sien boeke en stoele en penne en ‘n baas
Wat my dophou oor sy bril en wag om te raas
En ek wag vir teetyd en vir tjailatyd
Want dis al hoe ek oorleef in die roetinestryd

Ek kyk na die wêreld deur ‘n kameralens
Fokus in en verklein
Ek fokus in skadu’s van swart en wit
Want die beelde is te helder vir my

Ek kyk na die wêreld deur ‘n donkerbril
Dis al wat ek kan doen om te keer
Om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer
Want die beelde skyn te skerp vir my

[5] DIS WINTER

Jy sit vanoggend met sweet in jou hemp
Die vel span wit om jou gesig
Ja loer maar in die spieël vir vandag se grap
Met daardie stoppelbaard wat alweer so krap

Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dit dan nie

Jy vergiftig jouself met ‘n groot pot tee
Wat met elke koppie swarter verkleur
Die nagte word ook kouer en donkerder
So sonder suiker en melk

Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dit dan nie

Jy is besig om jou dae te verklee
Met kaftans waaronder niks meer gebeur
Die kringe om jou oë word blouer
Soos die lewe uitpeul en verwelk
Jy drink ‘n laaste sluk en draai jou serp
om jou masker te bedek

Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dit dan nie

[6] SKEMER

Dis skemer en my ligte is te flou
Om ‘n verskil aan die skadu’s te maak
Dis skemer en my kamer is te grou
Om ‘n verskil aan my drome te maak
Dis skemer en sou jy ook graag wou
Hê dat dit reeds nag moet wees
Hê dat dit reeds dag moet wees
Maar alles behalwe skemer

Tussen die uitlaatgas en die toeters
Het ek rondgery, rondgedwaal om jou te soek
Om weer terug te keer na skemer
Ek het saam met die ritme van die flikkerlig
Tyd gehou, tyd gehou en uitgehou
Om weer terug te keer na skemer

By verkeersligte moes ek stop
Vir verkeerspolisie jok
Oor die kwantiteit van brandstof in my bloed
Om weer terug te keer na skemer
En na die lampe van my kamer se groet

Dis skemer en my ligte is te flou
Om ‘n verskil aan die skadu’s te maak
Dis skemer en my kamer is te grou
Om ‘n verskil aan my drome te maak
Dis skemer en sou jy ook graag wou
Hê dat dit reeds nag moet wees
Hê dat dit reeds dag moet wees
Maar alles behalwe skemer

[7] NERO VAN DER MERWE SE LIED (STAD WAT BRAND)
(Met verskoning aan Karel Schoeman)

Hierdie stad wat eens trots in die veld gestaan het
Met sy myne en sy torings, fabrieke en wonings
In uitgestrekte suburbs, ‘n mensgemaakte woud
Met ‘n hart van yster, ‘n aptyt vir goud

Ons speel ons kitare al lank in hierdie kroeg
Hier voel alles veilig, niemand hoef te wroeg
Oor die oorlog daar buite, of die stad wat brand
Ons sus ons aan die slaap met die snaar se klank

Kom speel dan jou kitaar vir die stad wat brand
Die akkoorde is eenvoudig vir jou linkerhand
Kom hou saam die ritme, die uitsig is getooi
‘n Stad wat brand is van ver af mooi

Dinge het al lankal uitmekaar geval
Aanvanklik nog stadig, later so snel
Baie kon nog vlug, ander kon nie kwel
Om die tekens te lees soos die domino’s val

Nou het elke enjin verstik, elke trein het bly staan
Terwyl mense nog verdwaas hulle gang bly gaan
Tussen mure wat verkrummel, oor strate wat kraak
En stukkende brûe wat nog aan kabels hang

Kom speel dan jou kitaar vir die stad wat brand
Die akkoorde is eenvoudig vir jou linkerhand
Kom hou saam die ritme, die uitsig is getooi
‘n Stad wat brand is van ver af mooi

Iets om te eet kan jy soms nog ruil
Soms kan jy veilig vir ‘n nag of twee skuil
As jy iemand ken, dalk iets om te drink
Al moet dit dan na olie of na diesel stink

Maar die lewe gaan aan, selfs in die verval
Tussen ruïnes en murasies moet mense nog dwaal
Net agter hoë mure en doringdraad
Skuil die druglords en die warlords van die honger en die haat

Kom speel dan jou kitaar vir die stad wat brand
Die akkoorde is eenvoudig vir jou linkerhand
Kom hou saam die ritme, die uitsig is getooi
‘n Stad wat brand is van ver af mooi

[8] BULLETJIE SUURPAP

Bulletjie Suurpap, die malletjie van Brixton Jo’burg
Bulletjie sweet selfs in die winter se koue lug
Maar hy boer met drome en die duiwe in ‘n hok
Sy oë kyk al lank na binne, na die wêreld in sy dop

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

Want hier rond gaan dit baie keer moeilik
Hier rond loop dinge vreeslik skeef
Bulletjie sien nie die nuus op die TV nie
Of die manier hoe baie mense deesdae leef nie

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

Bulletjie jy loop soms in die nag op straat
As net die sterre en die armed response waak
Hoor jy ook kinderstemme saggies huil
En wonder jy ook soms wat agter tuinmure skuil

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

Bulletjie Suurpap, wag vir sy duiwe
Om ‘n boodskap te bring, tyding te bring
Van ‘n lewe iewers anders, ver hiervandaan
Sewe stasies aan, agter die duiwe aan

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

[9] JOU EIE VOORSTADREWOLUSIE

Jou onkuise wekker tik nog steeds
Koketterig saam met ‘n kerkhofklok
En jy’s bang en jy vrees
Dat jy ook eendag oud sal wees

En jy wik en jy weeg
Maar jy blik en jy bloos nie
Hoewel die tyd jou elke sekonde
Nader aan die einde tik

Jy gooi jou kop agteroor
En skree dat jy alles en almal haat
En jy loop buite in die nag
Met jou hande in jou sakke

Spoeg vir honde en lag vir straatpredikante
Tussen eike en jakarandas
En wit mure en klip mure
En sekondes en ure
En dreine wat wasem asem

Dis maniakke wat die land regeer
Ryk swape wat die wêreld beheer
En jy’s kwaad en jy’s boos
Dat jy ook eendag sò sal wees

Jy gooi jou kop agteroor
En sweer dat jy alles en almal haat
En jy loop buite in die nag
Met jou hande in jou sakke

Jy gooi jou kop agteroor
En skree dat jy alles en almal haat
En jy loop buite in die nag
Met jou hande in jou sakke

[10] WHITEYSOMETHINGS

Ek sien jou weer na dertien jaar
‘n Oproep verras my oor jy verjaar
Ek hoor jy’s in Jo’burg, kom maak ‘n draai
Ons kan praat oor die ou dae
Ons kan bier drink en braai
En ek ry op die snelweg en dink aan die dae
Van sandale en jeans en causes vergaar
Ons was jonk ons was sterk
Ons het Apartheid verwerp
En gevloek en geskree teen staat en teen kerk

So sê my vriend hoe gaan dit nou daar
In jou suburban tronk van kapitalisme
Tref die rentekoers jou ook as die mark so tuimel
Maak die waarde van die Rand dat jou maagsweer ook brand
Sê my tjom, hoe gaan dit nou
Op die folterbank, van kapitalisme
‘n Tweede verband hou die lig aan die brand
‘n Overdraft trek aan jou broek se pant

‘n Rooi oog hou ons dop as ons praat oor die stryd
Hoe die staat ons bedrieg het, hoe ons PW verwyt
Jou nuwe alarm, jou elektriese heining
Jou armed response hou ons kuiertjie veilig
Die nuwe Apartheid van suburban bliss
Hou die diewe uit soos ons sake beslis
Liesl maak in London ‘n nuwe begin
Ek hoor Pierre is in Perth met sy hele gesin

So, sê my vriend hoe gaan dit nou daar
In die suburban tronk van kapitalisme
Tref die rentekoers jou ook as die mark so tuimel
Maak die waarde van die Rand dat jou maagsweer ook brand
Sê my tjom, hoe voel dit nou
Daai dissipline van kapitalisme
‘n Tweede verband hou die lig aan die brand
‘n Overdraft trek aan jou broek se pant
Jou verlede trek aan jou broek se pant
Jou gewete trek na die ander kant

[11] PAD NA ELDORADO

Ons kom vanoor die wêreld on in Jo’burg te kom woon
Ons praat Frans en Zulu, Engels, Swahili, elkeen met dieselfde droom
Alles het begin met die gejaag na goud
‘n Gejaag na goud

Egoli, Egoli, Egoli
Sit aan jou alarm, slaap lekker warm, droom voort
Egoli, Egoli, Egoli
Watch your back, sluit jou hek, en maak geld

Hoofpynpille McDonaldsburgers help my deur die dag
As taxi’s toet, verbygangers vloek, waar hoere vir kliënte wag
En deel jou sente soms vrywillig vir brandspiritus en gom
Vir as die koue kom

Egoli, Egoli, Egoli,
Onder koerante, slaap die trawante nog steeds
Egoli, Egoli, Egoli,
Hou jou bek, bou maar ‘n shack en hou uit

Agter hoë mure en doringdraad word rykdom verberg
Net dan en wan in four by fours the rich come out to play
I saw this parking space myself so why should I pay…
Why should I pay?

Egoli, Egoli, Egoli
Sit aan jou alarm, slaap lekker warm, droom voort
Egoli, Egoli, Egoli
Watch your back, sluit jou hek, en maak geld

Bo uit geboue deur gebreekte vensters staar oë na die son
Die pad na Eldorado sal eendag nog kom
Maar in die meantime hou maar uit, daar’s rykdom een of ander tyd
Een of ander tyd

Egoli, Egoli, Egoli
Onder koerante, slaap die trawante nog steeds
Egoli, Egoli, Egoli
Hou jou bek, bou maar ‘n shack en hou uit

[12] BUS NA TORONTO

Jy luister Famous blue raincoat op ‘n bus na Toronto
Met ‘n bom in jou hart, en sneeu vir jou smart
In die fleur van jou jare maar ‘n chill deur jou are
Verlang jy ooit na die skroeiende son van die karoo
Na die Laeveld se savanna en die Boland se herfs
Na Johannesburg se rye en rye matchboxtande
Wat grynslag onder rook en roet en jou groet
Op ‘n koue wintersoggend as die treine trappe trone
Gedweë in hul spore om die arbeid betyds te besorg

So sing maar jou ode aan Toronto
Laat die koue vrede jou hart maar vat
Dink nie aan die oorlog en die jong man se lot
Hy slaap nou rustig in die Afrika grond

Wikkel jou toe in jou reënjas met die skeur
Op die skouer as mense afsydig sit en tuur
Na landskappe met berge en mere en vrede
Maar dink aan ons wat deur verse marsjeer
In die digkuns van oorlewing en rym van sweer
Metafore van vrede maar ‘n wete dan min
Ons kan help om die metrum van oorlewing te leer
Maar ons skribbel elke dag onder die Afrika son
Ons probeer, ons probeer maar ons verse bly stom

So sing maar jou ode aan Toronto
Laat die koue vrede jou hart maar vat
Dink nie aan die oorlog en die jong man se lot
Hy slaap nou rustig in die Afrika grond

Die generasie van Abraham het geoffer wat dit vra
Hulle seuns op die altaar van Afrika
So baie moes sneuwel vir hul blink BMW’s
Dog tags tussen tande, in ‘n houtjas geklee
Vir hul wit koue kerke en huise by die see

So sing maar jou ode aan Toronto
Laat die koue vrede nie jou hart verhard nie
Dink nie aan die oorlog en die jong man se lot
Hy slaap nou rustig in die Afrika grond

[13] DIE BALLADE VAN DRACULA HAVENGA

Ek woon hier in Dakota nommer 718
‘n Woonstelblok van klinkersteen, beton en glas
Ek het bure na onder en bure na bo
Dis maar wat jy kry as jy in ‘n budgiehok woon

Dis nie die geraas in my kop wat my pla nie
Dis ook nie die drome wat my snags opjaag nie
Dis my bure met hul giere en geraas deur die dag
Maar wat kan ‘n mens dan nou anders hier rond verwag

Die ou met sy houtbeen wat reg bo my woon
Gaan nooit uit in die dag nie, maar hy hou aan met loop
Op die maat van ‘n wals met sy kruk en sy skoen
Soos ‘n driebeen monster met niks om te doen

Dis nie die geraas in my kop wat my pla nie
Dis ook nie die drome wat my snags opjaag nie
Dis my bure met hul giere en geraas deur die dag
Maar wat kan ‘n mens dan nou anders hier rond verwag

Mevrou Markotter kook heeldag met haar potte
Asof sy die wêreld net hier langsaan wil voer
Met haar lap pantoffels loop sy heeldag en skoffel
Tussen kaste en stoof op die kombuis se vloer

Dis nie die geraas in my kop wat my pla nie
Dis ook nie die drome wat my snags opjaag nie
Dis my bure met hul giere en geraas deur die dag
Maar wat kan ‘n mens dan nou anders hier rond verwag

Skuins hier onder bly ‘n skivvy donder
Hy’t lang hare, ‘n kitaar en ‘n attitude
Hy sê hy’t ‘n rock band en sy naam is Kobus
Maar as hy speel sou jy dink hy boer met hoenders

Dis net ek wat stil is tot laat in die nag
As die duiwels wat my folter nie meer kan wag
Dan gil ek my lied, die soet harmonie
Die eggo’s van my lofsang met geen ander klank nie

Die heeldag klap kasdeure oop en toe
Blêr TV’s en radio’s met niks beter om te doen
Respekteer niemand dan die dag se slaap nie
Van hulle wat snags in die donker moet waak nie

[14] INSOMNIAK SE DROOMALMANAK

Jy probeer jou oë alweer met die beelde verblind
Maar tussen wakker en slaap word jy deur ure verslind
Die sekondes en minute grynslag een vir een
Knaag die nag soos ‘n aasdier, tot op die been

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

Om skape te tel, weet jy lankal is verniet
En jy val nie meer so maklik vir ‘n wiegelied
Probeer tog maar Mozart se klarinet konsert
Of Leonard Cohen se wals met sy asem en sy stert

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

Die rapper gryp sy crotch van en wys met sy vingers
Maar jy’t sy bek gesnoer met die remote control
Ook die laatnagekonoom wat die prys van goud bereken
Of die lipsticknuus wat vir niemand iets beteken

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

Springsteen het so lank terug al die waarheid gesing
Al die channels in die wêreld gee jou eintlik maar min
Mannekyne, pikkewyne, tiete, satelliete
Fashion TV, war TV, los my uit dat ek slaap TV

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

LANGER WEERGAWE VAN “INSOMNIAK SE DROOMALMANAK”: