Somersonnewende, Philipstown

Somersonnewende, Philipstown

Title: “Somersonnewende, Philipstown”, by Andries Bezuidenhout, oil on mounted canvas, 24 x 35 cm

Philipstown is a typical church town in the Northern Cape part of the Karoo. The painting depicts houses here at midday, on summer solstice – also the artist’s birthday.

Price: Not for sale

Retoer

Retoer, Andries Bezuidenhout se debuutbundel as digter, is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Dit is een van die min Afrikaanse digbundels wat ‘n tweede druk beleef het. Hier volg uittreksels uit van die resensies wat oor die bundel verskyn het, asook Martjie Bosman se toespraak by die bekendstelling van die bundel.

Koop die bundel hier.

“Dit is ’n bundel wat op talle vlakke aansluit by dit wat binne daardie tradisie van ’n netjies en goed-gekonstrueerde bundel verwag word. Die titel en voorbladfoto suggereer reeds dat daar gefokus sal word op die idee van reis. ’n Retoer is ’n oënskynlik beplande reis wat impliseer dat jy sal terugkeer na die plek waarvandaan jy vertrek het. Die bundel wys egter herhaaldelik daarop dat die idee van ’n retoer ironies opgeneem moet word: daar is talle afwykings, ingrepe en oponthoude wat veroorsaak dat die patroon hom nie so netjies uitspeel as wat jy verwag het nie. Verder word die bundel saamgebind deur twee deurlopende verwysings, naamlik dié na die wag op ‘n Kaptein wat rekenskap gaan eis (ingegee deur Elsa Joubert se 1963-roman Ons wag op die kaptein) en die Bybelse geskiedenis van Lot in die sondige stede Sodom en Gomorra… In die geheel gesien is Retoer ’n bundel wat ’n besondere gevoeligheid toon vir hedendaagse aktualiteite tesame met ’n bewustheid van die historiese lae wat daaronder lê. Interessant genoeg vir ’n rock-musikant en liriekskrywer is Bezuidenhout se poësie inhoudelik en tegnies nogal tradisioneel, alhoewel hy tref met sy skerp waarnemings en verrassende beelde van die stadsomgewing.”
– Louise Viljoen, LitNet

“Retoer is ’n bundel wat die stem van die post-apartheid- Afrikaanse generasie pertinent in die Afrikaanse poësie registreer. Bezuidenhout se debuut behoort met entoesiasme ontvang te word deur die Afrikaanse emigrantegemeenskap versprei oor die aardbol. Ook Afrikaanssprekendes wat raakpunte soek vir ’n nuwe identiteit in ’n breë demokratiese gemeenskap sal by dié verse aanklank vind.”
– Melt Myburgh, Rapport

“Retoer, Bezuidenhout se poësiedebuut, plaas hom slap bang van meet af aan binne ’n verskeidenheid tradisies in die Afrikaanse letterkunde… Jy kom agter die skrywer het sy huiswerk gedoen en die tekste praat dikwels op verskillende vlakke luidkeels saam met hedendaagse of historiese intertekste. Nie net dit nie, maar ook die sosiaal-maatskaplike (verval), mense wat landuit vlug weens die misdaad en misdaad self – dít als word deel van dié retoer (-kaartjie)… Daar is mooi en hartseer verse, soos dié strofe uit ‘Probeer meestal vergeet’ (bl. 50) oor ’n Suid-Afrikaanse vrou in Vancouver: ‘Sy ruik nie meer die aroma van / gemaalde koffiebone, vars botter, / konfyt en room nie. Sy probeer onthou / hoe stoeppolitoer onder kaal voete voel / wanneer Augustus se koelte die jasmynrank se stuif / stoep toe asem.’ As Retoer die gevolg is van Bezuidenhout se slapeloosheid, hoop ’n mens hy slaap nóg minder in die toekoms.”
– Jo Prins, Beeld

“Die titel en voorblad van Bezuidenhout se debuutbundel verklap reeds dat dit hier oor plekke en reise gaan, meestal letterlik. Retoer veronderstel ‘dat jy weet waar die begin is’ en Sodom en Gomorra, oftewel Pretoria en Johannesburg, is seker net so ’n goeie wegspringplek soos enige ander. Dis die stedelike landskap in al sy naakte waarheid wat hier geskets word. Die reis gaan egter verder, land-uit, waar uitgewekenes probeer vergeet, en ook terug in die (Afrikaner se) geskiedenis. So aktueel soos jy kan kry, soms meer prosa as poësie, maar nietemin raak verwoord.”
– Ilse van Staden, Sarie

“Die driehoek is nou voltooi. WatAndries Bezuidenhoutmet die albums Spergebied (as deel van die Brixton Moord en Roof Orkes) en sy solo-album Insomniak se Droomalmanak begin het, sluit hy nou af met die digbundel Retoer. Die temas, woorde en gevoel van dié drie is so ineengestrengel dat hulle amper nie as afsonderlike eenhede beskou kan word nie. Bezuidenhout vul ook die woorde in die bundel met sketse aan wat teruggryp na die tyd toe die gedigte geskryf is. Hulle sê dieselfde, dra dieselfde gevoel oor… Hierdie bundel kom oor jare. Dit kom ’n mens agter aan die temas wat daarin voorkom. Net soos die albums, is Retoer deurspek met herinneringe, skuldgevoelens en in die algemeen nagmerries oor jong dienspligtiges se ondervindings in die weermag. Vir Bezuidenhout self is die betrokkenheid van genoemde soldate in die townships steeds na aan die nerf… Bezuidenhout se reis strek van Suid-Afrika na verskeie ander wêreldstede, maar soos die titel aandui, is daar tog ’n terugkeer. Hy is glo nou uitgeskryf oor sekere sake: ‘Soos strafwerk het ek dit uitgeskryf en nou kan ek aanbeweeg.’ Al is dit ’n eerlike en persoonlike beswering van duiwels, spreek dit tot die leser. Is dit nie in die eerste instansie wat poësie moet doen nie?”
– Mariana Malan, Die Burger

By die bekendstelling van Andries Bezuidenhout se debuutbundel Retoer (Protea, 2007) – Martjie Bosman

Andries Bezuidenhoutis reeds bekend, as rocksanger en liriekskrywer, as rubriekskrywer en ook miskien as sosiologie-navorser. Vanaand is dit egter my voorreg om die digterAndries Bezuidenhoutbekend te stel, ’n kant van hom wat u miskien ook so sal verras as wat dit my verras het, en die faset van sy skrywerskap wat, wie weet, die ander kan oorstyg en oorleef.

Soos Bezuidenhout self, is sy debuutbundel Retoer veelkantig en by hierdie geleentheid kan ek net enkele dinge aanroer wat my met die lees en herlees daarvan getref het en wat dalk vir u die bundel ’n bietjie kan oopmaak. Nie dat Retoer ’n ontoeganklike bundel is nie. Inteendeel. Maar die skynbare eenvoud van Bezuidenhout se styl is bedrieglik en onder die oppervlak lê, soos die goud van die stad Gomorra wat so ’n belangrike gegewe in die bundel is, heelwat om te ontdek.

Retoer is ’n bundel wat van voor tot agter gelees behoort te word. Kyk ook mooi na die omslag, dan na die inhoudsopgawe en na die verskillende afdelings waarin die gedigte aangebied word: Spronge, Reise, Sodom, Gomorra en Vertrekke. Lees dan die motto: “Wie is die kaptein? Wat gaan ek vir hom sê?” (Ons wag op die kaptein – Elsa Joubert). Aha, sal party van u dink, Bezuidenhout is mos al lankal besig met die kaptein. As u dan die Bybelse aanhaling gelees het oor die geskiedenis van Lot en die stukkie oor die Slagtersnekopstand (waar Bezuidenhouts ’n groot rol gespeel het), kom ’n mens by die eerste gedig, “Pleidooi”. Dis ’n sleutelgedig wat ek graag bietjie nader wil beskou. Die eerste paar reëls lui:

Dus is jy nou hier,
Kaptein,
met vlamme in jou hande
en ’n kraai op jou skouer  …”

Met die lees van hierdie gedig word dit duidelik waarom die motto iets dreigends inhou: die kaptein is nie ’n redder nie, maar eerder ’n soort regter of selfs ’n kaperkaptein met ’n kraai as adjudant of geleigees by wie die spreker ’n pleitskrif wil inlewer. Die “vlamme in jou hande” laat ’n mens ook verstaan waarom daar in die motto van die afdeling na Sodom en Gomorra verwys is. Hierdie stede is mos met vuur en swael vernietig. Hiervandaan af ontvou die res van die bundel as dele van die pleitskrif, as brokke getuienis wat aangebied word ter versagting van die vonnis van die “ons” met wie die spreker hom vereenselwig. Hy sê in die laaste reëls van hierdie gedig:

Al is ons waarskynlik

taamlik
skadelik –

wees ons tog genadig.

Hier word Breyten Breytenbach se woorde “kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig”, omgedop. Hieroor later meer.

Wat die inhoud van die klagstaat teen die “ons” is, word nêrens nader gespesifiseer nie. Dit bly vaag, en ons kan slegs uit die aard van die verweer wat aangebied word, aflei dat dit te make het met die blote teenwoordigheid van die “ons” hier aan die suidpunt van Afrika, mense wat gedink het hulle gaan net tydelik hier bly, maar so half sonder vaste bedoelings en toevallig al verder die binneland ingetrek het in die “rigting van water en gras.//So loop ons aanhoudend/so hou ons aan loop” (“Wingerdranke groei”, p. 27).

Wie die “ons” is, word wel later aangedui in die gedig “Ons” (p.35): Dié geslag wat nie die Du Plooys van Soetmelksvlei geken het nie, wat nie jammer voel nie, wat nie maak of hulle die land verander het nie, maar wel diegene is “wat in Angola en in Wimpy Bars moes vrek.”

In hierdie gedig word dit reeds duidelik datAndries Bezuidenhoutstem gee aan ’n geslag wat nie baie gehoor word nie, die jongstes van dié wat nog diensplig gedoen het, die laaste ontnugterde “deelnemers’ aan die instandhouding van die vorige bewind. ’n Losgeslane geslag, wil dit lyk in die gedig “Ons”.

Maar ook nie heeltemal losgeslaan nie. Die talle gedigte oor momente uit die geskiedenis van Suid-Afrika (die agt gedigte van die reeks “Retoer”, byvoorbeeld, en “Vernichtungsbefehl”) dui op ’n digter met ’n historiese bewussyn. Gedigte soos “Ons ry iewers naby Ottersfontein verby” en “Afrika se wit kinders” dui op ’n verbondenheid aan familie en vriende, terwyl die twee afdelings “Sodom” en “Gomorra” eintlik ’n ondersoek is na die verbondenheid aan plekke.

Daarby is Bezuidenhout se poësie ook stewig veranker in die Afrikaanse letterkunde. Daardie verwysing na Breytenbach waarsku die leser dat hierdie digter heeltemal bewus is van die tradisie waarbinne hy skryf en dat hy sy eiesoortige antwoord daarop gaan gee. Hy verwys nie, soos talle van sy generasiegenote, by voorkeur na buitelandse skrywers nie. Hier vind jy aanhalings uit en inspelings op Totius se Trekkerswee, op Toon van den Heever se “In die Hoëveld”, op N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman, Karel Schoeman en natuurlik Elsa Joubert. Die motto’s is oorwegend afkomstig uit die lirieke van Afrikaanse sangers en Afrikaanse gedigte. Van die treffendste inspelings is dié op  “Die towenares” van Eugène N. Marais in die droewige “Probeer meestal vergeet”, met die frases “Bedags hoor sy nie meer die spreeus/ se gekwetter… nie”, “Sy ruik nie meer die aroma van/gemaalde koffiebone … nie” en “Wanneer dit donker word/kan sy nie meer na krieke luister nie”, en as die spreker sê “Nou soek sy na woorde”, weet ons dat die stem van die storieverteller vir die banneling/emigrant in Vancouver stil geword het. Teen hierdie agtergrond is dit myns insiens nie vergesog om van die oproep van getuienis en die uitspeel van taferele uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis van Retoer te praat as ’n soort eietydse Die dieper reg nie.

Maar met ’n verskil: Die mense, die landskap is hier nie verhewe of mooi nie, eerder banaal, gestroop. Huislike tonele, stadstonele en landskappe sonder veel maklik herkenbare skoonheid word hier aangebied, soos in die lakonieke slot van “Brixton, Johannesburg”:

Ons skrik as ’n rukwind plathand
teen ’n dakplaat en die agterdeur klap.
Ag, nou ja, sê jy,
ons het nou wel nie ’n uitsig nie,
maar ons het reception.

Bezuidenhout skryf nie juis oor die meer gebruiklike poëtiese temas van liefde en verlatenheid nie. Hy skryf oor gewone mense in alledaagse situasies en oor die vraagstukke waarmee baie van ons tans spook, soos in die gedig “Plein”:

As dit dan eendag
tog daarop neerkom
sal ons vlug. Intussen
sit Lot en sy vrou
in ’n verkeersknoop vas –
noord of suid, met dié twee stede
is dit maar om ’t ewe.

Die leser sou kon vra: Maar is dit kuns? Lyk poësie dan so? So sonder mooi beeldspraak en rym en metriese patrone? Of moet ons die poëtiese dalk ook soek in die hegte struktuur van die bundel as geheel en in die uitgebreide metaforiek wat deur die “wag op die kaptein” gevorm word? Daaroor sal seker nog heelwat gesels word.

In die laaste afdeling, “Vertrekke”, word die kaptein weer aangespreek deur die pleitbesorger. Hy sê:

Ek is moeg
om hier agter woorde
te waak
vir jou, Kaptein,
jy en jou kraai
en jou implemente
van oordeel en wraak.

en ’n beitjie later, met woorde wat klink of dit uit vanoggend se koerant kom en tog ook ’n bietjie na Van Wyk Louw:

Miskien langs die pad
sal ek weer kneel
met jou loop teen my skedel,
miskien in ’n winkelsentrum
tussen die geweer
en die kassier beland
met lood deur my kop,
of dalk ’n mes teen my keel,
’n bottelskerf,
’n strykyster,
kookwater –
alles so

asemrowend

pateties

en doodgewoon.

Word Sodom en Gomorra uiteindelik vernietig? Lees die bundel en besluit self!

Martjie Bosman
20 Februarie 2008

Toeris in Hillbrow

Toeris in Hillbrow is ‘n bundel met van Andries Bezuidenhout se rubrieke wat in Rapport en op LitNet verskyn het, wat in 2010 deur Human en Rossouw gepubliseer is.

Koop die boek hier.

Kyk na ‘n uittreksel uit ‘n onderhoud deur Danie Marais met Andries by die Kaapstadse Boekebeurs op YouTube.

Lees ‘n onderhoud met Andries oor die bundel deur Nadine Petrick op LitNet.

Lees resensies deur Jaco en Ingrid Botha uit Rapport (1 Augustus 2010) hier.

Die volgende is ‘n uittreksel uit ‘n resensie van die bundel deur Darryl David in Tydskrif vir Letterkunde:

“Ek was aanvanklik huiwerig om hierdie boek te resenseer gedagtig aan Alan Paton wat altyd Johannesburg as ’n ‘land without sea and mountains’ beskryf het (om nie eers van Hillbrow te praat nie!). Hoe wonderlik dan was dit nie om in die voetspore van hierdie flaneur te stap—vanaf Amsterdam tot Johannesburg, die Krugerwildtuin en deur die hele Karoo—Richmond, Victoria-Wes, Beaufort-Wes en Trompsburg waar Bezuidenhout sy wegbreekhuisie het. Bezuidenhout is ongetwyfeld wat ek noem ’n ‘Karooster’. Hy ken al die belangrike skrywers en kunstenaars van die Karoo—Gert Vlok Nel en Beaufort-Wes; Karel Schoeman en Trompsburg; Schreiner en haar Karoo; A. G. Visser en Steytlerville; Helen Martins en Nieu-Bethesda. Maar dis ongetwyfeld die sensitiwiteit, die meegevoel van die skrywer wat ’n mens lank na die eksterne reis bybly. Lees in hierdie verband ‘Toe daar nog rus in Rustenburg was’. Bezuidenhout is ongetwyfeld ook ’n man met ’n skerp sin vir humor. ‘Die evolusie van spesies’ is ongetwyfeld by uitstek die rubriek wat hierdie punt illustreer. Boonop moet ’n rubriekskrywer nie net beskrywend wees nie, maar moet ’n uitsonderlike verbeelding verder die hoeksteen van sy skryfwerk wees. ‘Die jagter-versamelaars van name, woorde en wysies’ en ‘Hoe om ’n land te verlaat’ was vir my die uitblinkers in hierdie verband. En elke nou en dan soek ek ’n frase uit ’n bundle wat die bundel onvergeetlik maak. Ek dink ek het dit gevind in die reël: ‘Die geskiedenis het nie ’n herfs of ’n lente nie’ (121)… Iemand het eenkeer geskryf: ‘Journalism is literature in a hurry.’ Hierdie oordeel kan glad nie oor Toeris in Hillbrow van Andries Bezuidenhout gefel word nie. Hierdie bundel as uitvloeisel van die joernalistiek is definitief literatuur en verdien beslis om wyd gelees te word.”

Andries Bezuidenhout – Bleek Berus (album)

Bleek Berus is Andries Bezuidenhout se tweede solo album, wat in 2009 by One-F Music verskyn het. In 2024 is ‘n “remix” van die album vrygestel.

Luister op Apple Music, Spotify, YouTube, ens.

“Bleek Berus” is tussen 2007 en 2009 in Johannesburg deur Drikus Barnard opgeneem en gemeng, behalwe “Die laaste brandwag”, wat in 2004 deur Paul Riekert opgeneem en gemeng is.
Woorde en musiek deur Andries Bezuidenhout, behalwe “Die laaste brandwag” deur Andries Bezuidenhout/tradisioneel. “Mombak se sin” verwys na die “Pikaninie-wiegelied” deur Walter Spiethoff.
Verwerkings deur Drikus Barnard en Andries Bezuidenhout, behalwe “Die laaste brandwag” deur Andries Bezuidenhout en Paul Riekert.
Meester deur Paul Riekert.

Musikante: Drikus Barnard, Andries Bezuidenhout, Karla du Plessis, Andrew Evans, Joanne Jaques, Pat Plank, Paul Riekert, Jan Swart, Marissa West.

Opgedra aan medelede van die voormalige Brixton Moord & Roof Orkes: Ockert Greeff, Steve Savage, Drikus Barnard, Pat Plank en Andrew Evans. En natuurlik Esmé Evakwaad. Dankie aan KykNet vir finansiële ondersteuning vir die opname van “Die laaste brandwag” vir die reeks “Die liedjies wat ons ken” (2004). Spesiale dank aan Fanie Grové vir finansiële en familiale ondersteuning.

Uittreksels uit resensies van “Bleek Berus”:

“ ‘Modest’ is the best word to describe Andries Bezuidenhout. Throughout our two-hour interview he constantly tries to downplay the importance of his work as a singer/songwriter, as someone who carried the Voëlvry spirit into the 21st century. But for me Andries is one of the most exciting and versatile characters in the alternative Afrikaans scene. Many will know him as the singer of the now defunct Brixton Moord en Roof Orkes. But he’s also a sociologist at Wits University and a columnist for Rapport, while last year he published his first volume of poetry, Retoer. It took him five years to come with a follow-up to his first solo album, Insomniak se Droomalmanak. But the recently launched Bleek Berus was well worth the wait. Largely produced by Andries’s ex-band mate Drikus Barnard it has a bleak, almost tinny sound and songs that tell tales of leaving, murder and ecological disaster. Discomforting tunes for an uncertain age, but always with a touch of humour.”
– Fred de Vries, LitNet

“Oukei, hier hoor ek nou ’n liedjie wat vir klassieke status bestem is, is ’n gewaarwording wat jy bitter selde kry. Dis dan wanneer jou bloed ’n snaar word, soos David Kramer sê, en jy vergeet van alles anders in en om jou. Ek het daardie spesiale transendentale hoendervleis ervaar toe ek as omgekrapte 17-jarige in 1988 vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band in die ou Grand Central in Kerkstraat gaan kyk het en deur Hillbrow oorweldig is. En byna 20 jaar later by Oppikoppi 2007 word ek deur dieselfde gevoel herbesoek toe Andries Bezuidenhout sy ‘Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry’ begin speel. ‘Certain songs they get so scratched into our souls’ sing The Hold Steady, en Bezuidenhout se Hillbrow, wat direk na Kerkorrel se liedjie en ook Donker donker land verwys, is een van daai – die soort ballade waarop Leonard Cohen trots sou wees… En hierdie is nie die enigste juweel op Bleek berus nie. Bezuidenhout… se tweede album bevat tien ambisieuse snitte wat veral die woord, die werklikheid en die emosie van woestyn verken in duister lirieke, mineurtone en afsydige melodieë vol skaduwees… Bezuidenhout het reeds met sy solo-debuut, Insomniak se droomalmanak (2003), bewys dat hy ’n hoogs begaafde liriekskrywer is, maar sy tweede is musikaal interessanter, veral vanweë Drikus Barnard se musiekregie wat intieme akoestiese kitaarspel treffend met elektroniese klanke en slagwerk inkleur en vervreem. Dis ’n merkwaardige album wat verbete probeer sin maak van ’n ongenaakbare wêreld, en in die proses Bleek berus vind in die treurige skoonheid van woord en klank.”
– Danie Marais, Beeld

“He may describe himself as a mere ‘blip’ on the Afrikaans cultural scene but Andries Bezuidenhout’s new album Bleek Berus (One F Music) positions him as one of the country’s most significant songwriters. This is evident on the poignant Dis Net Werk Toe Wat Ek Nog Deur Hillbrow Ry, a nostalgic lament, which poses the question: What happened to the Voëlvry generation? Johannes Kerkorrel’s Hillbrow was an anthem for the youth that rallied around the Voëlvry movement, so Bezuidenhout’s confession that the only time he thinks about the run-down suburb is when he drives through it on the way to work is a severe indictment of how times have changed between 1989 and 2010. Bezuidenhout acknowledges this in the liner notes when he describes the song as being about the Voëlvry generation who now drive BMWs and are too afraid to pick up hitchhikers. In 1989 Kerkorrel was singing ‘gee you hart vir Hillbrow’ and taking the piss out of racist South Africans behind the wheels of their BMWs voting for the National Party. Bezuidenhout in 2010 is asking the questions: What has become of that punk spirit that fuelled Voëlvry? … As the title suggests, the album is fascinated with the idea of white people finding peace in the new South Africa, reconciling their troubled history and positioning themselves within the social fabric of South Africa — and the bleak dry landscape is the perfect metaphor for that history. While friends emigrate and others live in fear, Bezuidenhout is looking forward — too much a part of this country to quit, but also disenchanted with the way most white people live their lives in the new democratic South Africa. Is the Voëlvry message still relevant to white South Africans in 2010? Bezuidenhout doesn’t have the answers, but he is asking the questions.”
– Lloyd Gedye, Mail & Guardian

“Tematies sny die meeste liedjies aan droë plekke. Soms het dit direk met waterlose landskappe te doen, andersins met plekke waarheen uitgewyk is en daar dan na die waterryke van die ­bekende gesmag word. Moet egter nie stofgetrapte gedagtes of ’n sentimentele geweeklaag verwag nie. Daar is humor en lewenswaar­hede wat werklik vermaak en met jou praat. Bezuidenhout het saamgespan met Drikus Barnard (Brixton van die voormalige Brixton Moord en Roof-orkes). Hulle het sowat twee jaar lank aan die album gewerk. Sy vorige solo-album, Insomniak se Droomalmanak (2003), het destyds al die hoop laat opvlam dat dit opgevolg sou word. Hoewel hy hom meer onlangs met die digkuns besig gehou het (en dit wys in die album), is die nuwe album meer as welkom. In ’n persverklaring word dit ‘hedendaagse Americana en alt-country’ genoem, maar hierdie album is uit Afrika. Waar anders kan die ‘Pikaninie-wiegelied’ só klink? Die elektroniese inkleding is oorspronklik en luister gerus na die ­onverbeterlike stemkombinasie van Bezuidenhout en Marissa West op die snit ‘Droogte’.”
– Marian Malan, Die Burger

LIRIEK EN MUSIEKVIDEO’S

[1] SANDMYN

Tyd is wind en water
en drome splinters en skerwe
– Jeanne Goosen

Sit jou hoed op, bring jou graaf
As jy die moed het om dit hier te waag
Dis ʼn stortvloed van woorde wat ons nou moet sif
Sommige vertroos maar die meeste vergif
Steek die oor soos ʼn angel, die brein soos ʼn pen
Maar enkele klanke verlig die klem
Van die wurg wat ons vashou, die spoke wat ons jaag
Maar eers moet ons dit die woestyn in waag

Duine skuif oor die rivierbed se gruis
Om die ligging van edelstene uit te wys
Nou moet ons sif, sorteer, distilleer
Want woestynroos, kristal, selfs diamant verweer
So slaan in jou penne, verdedig jou kleim
Sif die sinne sorgvuldig voor begrip verdwyn
Hier myn ons vir klank, vir woord en taal
Want uiteindelik kom die duine om dit terug te haal

Drikus Barnard: Baskitaar, klawers, klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar
Andrew Evans: Tromme

[2] DIE LAASTE BRANDWAG

Hierdie is ʼn ander perspektief op diere wat deur mense as onnosel beskou word. Wie is ons nou om te praat? Dis geskryf as opdrag vir kyknet se program “Die liedjies wat ons ken”. Die lyn oor die gif in die grond het ek waarskynlik by Drikus gesteel.

Ek’s die laaste brandwag, die laaste bobbejaan
Hierdie krans is nou my fort, ek kan nêrens anders gaan
Te laat het ek geroep toe ek die vyand gewaar
Nou’s daar niemand om te waarsku teen die sluipende gevaar
Vir leeus en luiperds was ons altyd maar bang
Vir ʼn uil of ʼn arend wat ons kleintjies vang
Maar die slimste vyand lê lepel met ons gene
Die wreedste roofdier loop op net twee bene

Bobbejaan klim die berg, so haastig, so lastig
Bobbejaan klim die berg, so haastig en so lastig
Bobbejaan klim die berg om die boere te vererg
Hoera! Vir die jollie bobbejaan

Sy oogtande is klein, maar sy masjiene byt
Hy verspied eers versigtig, maar vinnig is jy spyt
Want sy putte en pompe versamel soos luise
Suig die laaste druppel water uit die aarde se sluise
Daar was stamvrug, mispel en wildevy
Nou’s daar doringdraad om boorde wat staan in ʼn ry
En riviere loop in pype diep onder die grond
En ʼn tonnel het die berg in sy skouer verwond

Bobbejaan klim die berg, so haastig, so lastig
Bobbejaan klim die berg, so haastig en so lastig
Bobbejaan klim die berg om die boere te vererg
Hoera! Vir die jollie bobbejaan

Wat gaan jy doen as die laaste boom knak
As jou longe na ʼn laaste happie suurstof snak
As geen dier se karkas oor is om jou tande in te slaan
Na wie sal jy dan met jou leë pens gaan?
As die gif in die grond selfs jou voetsole brand
As jy driftig op soek is na ʼn nuwe land
Sal jou roep, soos myne, weerklink teen die krans
Sal jy die sterre smeek vir net een laaste kans?

Spot maar, lag maar, wat sal jy nou verstaan?
Jy dink mos jy’s besig met jou vooruitgang
As jy lank terug jou hande op die aarde wou hou
Maar nou’s dit te laat, wat help dit nou
Om te waarsku teen vuurmaak en klippe slyp
Teen arrogansie as jou hande na die hemel gryp
Ek’s die laaste brandwag, die laaste bobbejaan
Dis vir eeue reeds wat jy my roepkreet verontagsaam

Bobbejaan klim die berg, so haastig, so lastig
Bobbejaan klim die berg, so haastig en so lastig
Bobbejaan klim die berg om die boere te vererg
Hoera! Vir die jollie bobbejaan

O moenie huil nie, o moenie treur nie
Die Stellenbosse boys kom weer

Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar
Karla du Plessis: Stem
Joanne Jaques: Stem
Pat Plank: Elektriese kitaar
Paul Riekert: Baskitaar, perkussie

[3] MOMBAK SE SIN

Oor ʼn man wie se seun tydens ʼn rooftog doodgeskiet is. Met wie praat hy as hy daar by die kombuistafel sit? Hierdie lied praat met Moord Greeff se liriek “Dronk op jou eie” op die Brixton Moord & Roof Orkes se album “Spergebied”, asook die “Pikaninie-wiegelied” deur Walter Spiethoff.

Welkom by die venster van my kombuis
Die drama wat hier afspeel sal ek jou wys
Een tafel, een stoel en een akteur
Kom wag maar vir Godot by die agterdeur

Die buislig neurie my dronkmanslied
Die yskas sidder om my te ontbied
Kom haal ʼn blokkie koue vir die klingel in jou glas
Kom kry daardie rillings wat jou gorrel was

As jy soms wonder met wie ek praat
As ek mompel by die tafel in die aande laat
As ek nie drink kry ou Mombak sy sin
Byt hy my neus af en ore

Jy dink jy’s onsigbaar maar ek voel jou oë
Jou neus teen die venster, jou onvermoë
Om jou staar te verdoesel verklap jou alweer
Dis Mombak wat waarsku teen jou die voyeur

Verlies is vir mense met iets te verloor
Smart is vir vrate in die middernagkoor
Ek kla nie, ek huil nie, ek vra nie applous nie
Niemand hier is lus om vir iemand te flous nie

As jy soms wonder met wie ek praat
As ek mompel by die tafel in die aande laat
As ek nie sluk kry ou Mombak sy sin
Byt hy my neus af en ore

My pad is reguit, maar ek’s lankal verlore
Ek volg maar gedwee in genetiese spore
Dis ek, manalleen, met ʼn donkermaan
Dis ek en Mombak, net ons twee saam

As jy soms wonder met wie ek praat
As ek mompel by die tafel in die aande laat
As ek nie suip kry ou Mombak sy sin
Byt hy my neus af en ore

Drikus Barnard: Baskitaar, orrel, klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar
Andrew Evans: Tromme
Jan Swart: Elektriese kitaar

[4] KLIPHART

Lüderitz kry fossielwater diep uit die aarde. Wilma Stockenström het ʼn siniese gedig hieroor geskryf, maar hierdie is ʼn liefdeslied met ʼn ompad.

So jy sê my hart is ʼn woestyn
Waarin jou woorde en drome soos water verdwyn
Jy sê my grond is te droog vir plante om te groei
Dat die son dit wat lewe ongenaakbaar skroei

So bring die buie, bring die reën
Laat die wolke hulle trane oor droë grond ween

Maar jy sien hier is stilte wat geen mens kan beskryf nie
Waar masjiene se geraas nie jou vrede verdryf nie
Waar die hemel ongehinderd oor die aardkors skuif
En die horison se arms om die einders buig

Bring die buie, bring die reën
Laat die wolke hulle trane oor droë grond ween

Hier is magma wat deur gleuwe in die aardkors beur
Om die gang van die wind se verweer te steur
Met bonkige rotse gerangskik as rif
Wat oor die landskap lê soos ʼn draak se rug

Bring die buie, bring die reën
Laat die wolke hulle trane oor droë grond ween

En kyk hier is kranse wat skuiling bied
As die wind die sand deur die lug laat klief
Volg net die kontoere, die kleure, die teksture
Die spore lei jou dalk na verborge riviere

So bring die buie, bring die reën
Laat die wolke hulle trane oor droë grond ween
In antieke grotte wag die suiwerste water
Saam met my drome word dit diep in klip bewaar

Drikus Barnard: Baskitaar, perkussie, geprogrammeerde strings, fluite en klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar

[5] HOËVELD-UTOPIAS

Die Hoëveld as woestyn en oor die estetika van lelik. Die titel het ek met toestemming by die sosioloog en historikus Jon Hyslop gesteel.

Die son se gesig word weer bleek belig
Deur die koue filters van die Hoëveldlug
Die sfeer word omvou deur ʼn kras, kil blou
Met vliese van kristal wat aan die koepel klou

Die winter penetreer steen en sement
Gee aan elke huis hier ʼn koue fondament
Karavaan bly staan op baksteen en wiel
Onder die kaal, kaal stokke van ʼn druiweprieel

Hoe lank duur die winter, sê vir my
Of dink jy die seisoen het gekom om te bly?

Dis snerpend teen skemer, nypend in die nag
As Nigel en Balfour op die oggend wag
Vir murg en ryp en pyp te ontdooi
Om die rillings tydelik uit lywe te looi

Die riwwe hier onder is vir hitte verpand
Maar daardie vuur het lankal uitgebrand
Skagte val toe, torings trek skeef
Onder Main Reef Road lê die tonnels nou leeg.

Daar’s dalk klaarheid in kras, ook ʼn wil in kil
Dan word brandende vrae uiteindelik stil
Bring die winter se lug ʼn bleek berus
Wat soos die wind en die mis
Oor jou skouers kom rus

Hoe lank duur die winter, sê vir my
Of dink jy die seisoen het gekom om te bly?

Drikus Barnard: Baskitaar, perkussie, orrels, geprogrammeerde strings
Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar
Jan Swart: Elektriese kitaar

[6] DIS NET WERK TOE WAT EK NOG DEUR HILLBROW RY

Een oor die voëlvry-generasie wat nou self in BMW’s ry en te bang is om rylopers op te laai.

Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf
Jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf
Geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou
ʼn vinnige e-mail om kontak te hou

My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek
Na die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek
Daar was bokse vol foto’s, leggers vol briewe
Die uitsorteer laat ek nou maar oor aan die diewe

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
En tog het ek nooit daai ou songs verleer nie
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry

Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel
Vensters toegespyker, haar dae is getel
Geen Mini-Cult Cinema, geen Estoril Books
Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
En tog het ek nooit daai ou songs verleer nie
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry

Bernoldus en Kerkorrel is albei dood
En Kombuis se kinders is al amper groot
Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer
Maar tog moet ek sê ek het iets geleer

Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie
En al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie
Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry
Tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly
Is ek deel van hierdie land met liefde en haat
Het ek te veel gegee en te veel gevat
Om die donker land nou te verlaat
Om die donker, donker land nou te verlaat

So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap
Ek druk alweer delete, laat ons dit hierby laat
Droom sagte drome in die noordelike nag
In die suide van Afrika sal ek vir jou wag

Drikus Barnard: Baskitaar, perkussie, elektroniese klavier, elektriese kitaar
Andries Bezuidenhout: Stem, nylon- en staalsnaarkitaar

[7] DIE RITME VAN CHAOS

Een oor wit vrees en ʼn onvermoë om vrede te maak met die kontinent waar ons boer.

Voor my is ʼn teerpad, onder my voete gly
Die wit strepe stadig verby
Ek balanseer my op die middel van my weg
ʼn Padbordjie sê daar’s ʼn afdraai voor
Die afdraaipad na Afrika
Maar dis ʼn stofpad, ʼn grondpad, ‘n
Pad met baie klippe, ‘n
Kronkelpad, ʼn hardepad, ‘n
Pad met baie stampe
En die tromme hou die ritme van chaos

En die vroue vra
Is Afrika se nagte dan soveel donkerder
As dié van ander kontinente?
Skyn Afrika se son dan soveel skerper
As dié van ander kontinente?

Alpha en Beta Centauri, vlammende inferno’s
En die Suidekruis gekruisig in die naglug
Ek balanseer my op die middel van my weg
Die padbordjie sê die afdraai is naby
Die afdraaipad na Afrika
Maar dis ʼn stofpad, ʼn grondpad, ‘n
Pad met baie klippe, ‘n
Kronkelpad, ʼn hardepad, ‘n
Pad met baie stampe
En die tromme hou die ritme van chaos

En die vroue vra
Is Afrika se nagte dan soveel donkerder
As dié van ander kontinente?
Skyn Afrika se son dan soveel skerper
As dié van ander kontinente?

En die afdraai is ʼn hartklop
Maar die ritme laat my vrees
Die afdraai is ʼn wete
Iets onstuimig in my gees
En my hartklop hou die ritme van chaos
My hartklop probeer maar om die ritme te hou
Van chaos

Drikus Barnard: Baskitaar, perkussie, orrel, klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar
Marissa West: Stem
Mariska Ison: “Wanneer moet ek sê ‘En die vroue vra’?”

[8] DROOGTE

As jy sukkel om jou woorde of ʼn wysie te vind en terugval op dit wat bekend is.

As jou vingers soekend oor die klawers voel
Die melodie is afsydig, die note koel
En die woorde draai hul rug keer op keer
En weier om die rym en ritme te leer

Maar as ʼn koue nag jou lippe kom soen
Die woestyn die duine deur jou are spoel
Weet jy sand kan ook in riviere vloei
En die maan se weerkaatsing op droë grond bloei

So kyk deur die ruit na die mis, die nag
Na die wolke wat wasig om ʼn volmaan wag
Om deur wind en verbeelding gestaltes te maak
Wat die oog kan betower, die hart kan raak

Maar as ʼn koue nag jou lippe kom soen
Die woestyn die duine deur jou are spoel
Weet jy sand kan ook in riviere vloei
En die maan se weerkaatsing op droë grond bloei

Maar die klawers word gevang deur ʼn meester se sug
Soos die vingers geleer het deur vers en brug
Word bekende geyk, wysheid ʼn leuen
Word elke deuntjie in tyd versteen

Maar as ʼn koue nag jou lippe kom soen
Die woestyn die duine deur jou are spoel
Weet jy sand kan ook in riviere vloei
En die maan se weerkaatsing op droë grond bloei

So hang hierdie lied aan ʼn notebalk
Sodat dit droog kan word en eendag dalk
Vind iemand se vingers die dans oor ivoor
Kan iemand dalk sy pad in melodie verloor

Drikus Barnard: Baskitaar, perkussie, klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, nylonsnaarkitaar
Marissa West: Stem

[9] DIE SPRINKANE SE BEGRAFNIS

Oor hulle wat die kontinent verlaat en ons wat agterbly.

Die donker roep my nader links van die middellyn
Katoë volg my roete wat in die nag verdwyn

En jy is nie hier nie, net Afrika se nag
Jy is nie meer hier nie, net Afrika wat wag

Ek kyk maar deur die lense van my Costello-bril
Knip my oë nou aanhoudend om die slaap se sus te stil

En jy is nie hier nie, net Afrika se nag
Jy is nie meer hier nie, net Afrika wat wag

So jy klim toe op ʼn vliegtuig na ʼn ander firmament
Skud die stof van jou voete van hierdie kontinent

En jy is nie hier nie, net Afrika se nag
Jy is nie meer hier nie, net Afrika wat wag

En die sprinkane hou begrafnis op my kar se voorste ruit
Muggies as confetti vir die dood se bruid

En jy is nie hier nie, net Afrika se nag
Jy is nie meer hier nie, net Afrika wat wag
Dis ek wat nou hier agterbly in Afrika vannag

Drikus Barnard: Klawers, klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, nylon- en staalsnaarkitaar

[10] VERNICHTUNGSBEFEHL

ʼn Ander weergawe van hierdie een is beskikbaar in die digbundel “Retoer”. Oor die skuld van onskuld. In 1904 het die Duitse koloniale regering tweederdes van die Herero’s uitgewis. Hul drinkwater is byvoorbeeld by Omaheke vergiftig.

“Innerhalb der deutschen Grenzen wird jeder Herero, mit oder ohne Gewehr, mit oder ohne Vieh erschossen…”
– Generaal Lothar von Trotha, 1904

Ferdinand, hierdie land laat net besoekers toe
Hulle laat soms koeëls en bottelskerwe agter
Wat heel toevallig onder duine bewaar word
En ná ʼn eeu dalk vir ʼn oomblik
Onverwags in die son kan blink
Om miskien opgetel te word, deur vingers bevoel
In ʼn handpalm gerol, geweeg, gewoel
Die wind hou reëlmatig aan met vee
Die duine skuifel ritmies oor die aarde hul treë
Oor spore van Schutztruppe se stewels
Deur modder, perdepote, ʼn slee se sleep
Wat verstar het, soos die blou oë, blonde hare
Wat onskuldig oor die visier gestaar het
En getrou, miskien selfs gedwee
Die Vernichtungsbefehl aanvaar het

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Ferdinand, die berg wat brand
As baken gloei Königstein al lank
Vir ontdekkers met hul skepe op reis
’N Wit vrou word verewig op ʼn rots se wand
ʼn offerande van die tyd
Lank voor die eerste piramides
Het inwoners van hiérdie woestyn
Figure op klip geverf, gekerf
Om stories vir hul kinders te bewaar
Maar wat nou stom in gesteentes verstik

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Ferdinand, flamink en kormorant
Óók besoekers aan hierdie land
Soos soveel ander wat by waters kom rus
Maar altyd, altyd verder trek
Gemsbok en Damara dik-dik
Hou langs die skedelkus.
In die sand lê ligene swart
Die vensteralge bloei as hulle die mis oplek
Welwitschia mirabilis se twee blare verflard
Wye romp van haarwortels soek na vog
Maar dis dor, en die lewe is tydelik
Kortstondig vir tweeduisend jaar
Die voortbestaan van ʼn spesie onseker
Dit word slegs geduld
Kameeldoring, kokerboom en tamarisk
Boor diep die aarde in
!Narra en tsamma reg vir pluk
ʼn Halfmens spook teen die Spitzkoppe-hange

Ferdinand, altyd van die voete se kant
Waai die wind ʼn duinegraf oop
En word die bene gerangskik, afdraand
Soos die sand die skelet ontbloot

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Ferdinand, die klippe, die sand
Ons ken nie die oorsprong van gneis nie
Slegs die strepe laat ons raai, laat ons raai
Die skis glimmer met spore mika
Maar ons kan net wonder oor hul ontstaan
By Roter Kamm getuig ʼn gat
Hoe die hemel die land bestook het
Met meteoriete van nikkel en yster
Wat aan flarde breek voor hulle brandend uit die lug
Hulself op die aardkors wreek
En dan, as besoekers uit die buitenste ruim
Die landskap vervorm en hulself deel daarvan maak
Om eers later in Windhoek, in ʼn winkelsentrum
Vermonument, geklassifiseer te word
Een middeldeur gesny en gepoets
Blink in die blik van toeriste en die son

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Ferdinand, selfs ʼn diamant
Rus hier nie vir lank nie
En word uitgesnuffel, gesif of gesuig
Of solank bewaak in ʼn Sperrgebiet.
Maar doringdraad kan die mis nie keer nie
Net die son kan, en moet ook onskuld verdamp
Ons luister nie meer na bevele nie
Ons blou oë kyk nie meer
Deur blonde kuiwe of visiere nie
Ons velle te laat deur die son verleer.

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Ferdinand, dis nou ʼn ander land
Tog keer ek soms terug as besoeker
Die son gloei nog helder teen die Khomasberge
By Karibib strek die savannas nog wyd
Die duine kruip statig, stadig soos altyd
In Ovamboland vloei die Kunene konstant
Na April sif die oosweer nog warm
Op Walvisbaai en Swakop neer
Skurwe berge herberg bome in droë Damaraland
Maar weet jy
Al waai Gathemann’s se vlae steeds op die balkon
Bedien hulle al lank nie meer ontbyt nie
Al is Swakopmund nog gehul in die mis
Is die jetty jare terug met doringdraad gesluit
In Windhoek het Keiserstrasse ʼn ander naam
En A la Pergola het afgebrand
Op Lover’s Hill, in Walvisbaai
Waar jy met die tuinslang, laat daardie aand
Raadop, maar vasberade jou kar parkeer het
Is nou ʼn baksteenmonument

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Ferdinand, die geheue verdamp, verdor, droog op
Net die duine hou konstant aan met skuif
En vervorm deur die jare
Besluit self wat word gehul of onthul
Verander so reëlmatig van gestalte
Al is dit ʼn refrein wat herhaal, herhaal
En ek weet nie meer waar jy woon nie
Of dalk is jy lankal dood
Ons stories, ons besoek nou onbenullig
Wat saam met ons en die tyd verslaan
Soos die bitter in die water van die Omaheke
Soos geboue wat verweer, velde wat verbrand
Miskien het een spoor tóg versteen
Gestol in die modder, deur ʼn duin bewaar
Miskien oor ʼn eeu, oor ʼn honderd jaar
Sien Schutztruppe ons bottelskerwe
Deur die mis en die newels die spore van ons stewels
En kan húlle ook wonder, onskuldig wonder
Oor die stories wat die sand vergaar

Ferdinand, hierdie land laat slegs besoekers toe

Maar vir eers bly onbegryplik die woorde, die name
Luitenant, Ferdinand, verdamp, brand, skand, sand, land

Drikus Barnard: Baskitaar, perkussie, orrels, elektroniese strings, klokke en ander klankeffekte
Andries Bezuidenhout: Stem, staalsnaarkitaar