Retoer

Retoer, Andries Bezuidenhout se debuutbundel as digter, is aan die einde van 2007 deur Protea Boekhuis gepubliseer. Dit is een van die min Afrikaanse digbundels wat ‘n tweede druk beleef het. Hier volg uittreksels uit van die resensies wat oor die bundel verskyn het, asook Martjie Bosman se toespraak by die bekendstelling van die bundel.

Koop die bundel hier.

“Dit is ’n bundel wat op talle vlakke aansluit by dit wat binne daardie tradisie van ’n netjies en goed-gekonstrueerde bundel verwag word. Die titel en voorbladfoto suggereer reeds dat daar gefokus sal word op die idee van reis. ’n Retoer is ’n oënskynlik beplande reis wat impliseer dat jy sal terugkeer na die plek waarvandaan jy vertrek het. Die bundel wys egter herhaaldelik daarop dat die idee van ’n retoer ironies opgeneem moet word: daar is talle afwykings, ingrepe en oponthoude wat veroorsaak dat die patroon hom nie so netjies uitspeel as wat jy verwag het nie. Verder word die bundel saamgebind deur twee deurlopende verwysings, naamlik dié na die wag op ‘n Kaptein wat rekenskap gaan eis (ingegee deur Elsa Joubert se 1963-roman Ons wag op die kaptein) en die Bybelse geskiedenis van Lot in die sondige stede Sodom en Gomorra… In die geheel gesien is Retoer ’n bundel wat ’n besondere gevoeligheid toon vir hedendaagse aktualiteite tesame met ’n bewustheid van die historiese lae wat daaronder lê. Interessant genoeg vir ’n rock-musikant en liriekskrywer is Bezuidenhout se poësie inhoudelik en tegnies nogal tradisioneel, alhoewel hy tref met sy skerp waarnemings en verrassende beelde van die stadsomgewing.”
– Louise Viljoen, LitNet

“Retoer is ’n bundel wat die stem van die post-apartheid- Afrikaanse generasie pertinent in die Afrikaanse poësie registreer. Bezuidenhout se debuut behoort met entoesiasme ontvang te word deur die Afrikaanse emigrantegemeenskap versprei oor die aardbol. Ook Afrikaanssprekendes wat raakpunte soek vir ’n nuwe identiteit in ’n breë demokratiese gemeenskap sal by dié verse aanklank vind.”
– Melt Myburgh, Rapport

“Retoer, Bezuidenhout se poësiedebuut, plaas hom slap bang van meet af aan binne ’n verskeidenheid tradisies in die Afrikaanse letterkunde… Jy kom agter die skrywer het sy huiswerk gedoen en die tekste praat dikwels op verskillende vlakke luidkeels saam met hedendaagse of historiese intertekste. Nie net dit nie, maar ook die sosiaal-maatskaplike (verval), mense wat landuit vlug weens die misdaad en misdaad self – dít als word deel van dié retoer (-kaartjie)… Daar is mooi en hartseer verse, soos dié strofe uit ‘Probeer meestal vergeet’ (bl. 50) oor ’n Suid-Afrikaanse vrou in Vancouver: ‘Sy ruik nie meer die aroma van / gemaalde koffiebone, vars botter, / konfyt en room nie. Sy probeer onthou / hoe stoeppolitoer onder kaal voete voel / wanneer Augustus se koelte die jasmynrank se stuif / stoep toe asem.’ As Retoer die gevolg is van Bezuidenhout se slapeloosheid, hoop ’n mens hy slaap nóg minder in die toekoms.”
– Jo Prins, Beeld

“Die titel en voorblad van Bezuidenhout se debuutbundel verklap reeds dat dit hier oor plekke en reise gaan, meestal letterlik. Retoer veronderstel ‘dat jy weet waar die begin is’ en Sodom en Gomorra, oftewel Pretoria en Johannesburg, is seker net so ’n goeie wegspringplek soos enige ander. Dis die stedelike landskap in al sy naakte waarheid wat hier geskets word. Die reis gaan egter verder, land-uit, waar uitgewekenes probeer vergeet, en ook terug in die (Afrikaner se) geskiedenis. So aktueel soos jy kan kry, soms meer prosa as poësie, maar nietemin raak verwoord.”
– Ilse van Staden, Sarie

“Die driehoek is nou voltooi. WatAndries Bezuidenhoutmet die albums Spergebied (as deel van die Brixton Moord en Roof Orkes) en sy solo-album Insomniak se Droomalmanak begin het, sluit hy nou af met die digbundel Retoer. Die temas, woorde en gevoel van dié drie is so ineengestrengel dat hulle amper nie as afsonderlike eenhede beskou kan word nie. Bezuidenhout vul ook die woorde in die bundel met sketse aan wat teruggryp na die tyd toe die gedigte geskryf is. Hulle sê dieselfde, dra dieselfde gevoel oor… Hierdie bundel kom oor jare. Dit kom ’n mens agter aan die temas wat daarin voorkom. Net soos die albums, is Retoer deurspek met herinneringe, skuldgevoelens en in die algemeen nagmerries oor jong dienspligtiges se ondervindings in die weermag. Vir Bezuidenhout self is die betrokkenheid van genoemde soldate in die townships steeds na aan die nerf… Bezuidenhout se reis strek van Suid-Afrika na verskeie ander wêreldstede, maar soos die titel aandui, is daar tog ’n terugkeer. Hy is glo nou uitgeskryf oor sekere sake: ‘Soos strafwerk het ek dit uitgeskryf en nou kan ek aanbeweeg.’ Al is dit ’n eerlike en persoonlike beswering van duiwels, spreek dit tot die leser. Is dit nie in die eerste instansie wat poësie moet doen nie?”
– Mariana Malan, Die Burger

By die bekendstelling van Andries Bezuidenhout se debuutbundel Retoer (Protea, 2007) – Martjie Bosman

Andries Bezuidenhoutis reeds bekend, as rocksanger en liriekskrywer, as rubriekskrywer en ook miskien as sosiologie-navorser. Vanaand is dit egter my voorreg om die digterAndries Bezuidenhoutbekend te stel, ’n kant van hom wat u miskien ook so sal verras as wat dit my verras het, en die faset van sy skrywerskap wat, wie weet, die ander kan oorstyg en oorleef.

Soos Bezuidenhout self, is sy debuutbundel Retoer veelkantig en by hierdie geleentheid kan ek net enkele dinge aanroer wat my met die lees en herlees daarvan getref het en wat dalk vir u die bundel ’n bietjie kan oopmaak. Nie dat Retoer ’n ontoeganklike bundel is nie. Inteendeel. Maar die skynbare eenvoud van Bezuidenhout se styl is bedrieglik en onder die oppervlak lê, soos die goud van die stad Gomorra wat so ’n belangrike gegewe in die bundel is, heelwat om te ontdek.

Retoer is ’n bundel wat van voor tot agter gelees behoort te word. Kyk ook mooi na die omslag, dan na die inhoudsopgawe en na die verskillende afdelings waarin die gedigte aangebied word: Spronge, Reise, Sodom, Gomorra en Vertrekke. Lees dan die motto: “Wie is die kaptein? Wat gaan ek vir hom sê?” (Ons wag op die kaptein – Elsa Joubert). Aha, sal party van u dink, Bezuidenhout is mos al lankal besig met die kaptein. As u dan die Bybelse aanhaling gelees het oor die geskiedenis van Lot en die stukkie oor die Slagtersnekopstand (waar Bezuidenhouts ’n groot rol gespeel het), kom ’n mens by die eerste gedig, “Pleidooi”. Dis ’n sleutelgedig wat ek graag bietjie nader wil beskou. Die eerste paar reëls lui:

Dus is jy nou hier,
Kaptein,
met vlamme in jou hande
en ’n kraai op jou skouer  …”

Met die lees van hierdie gedig word dit duidelik waarom die motto iets dreigends inhou: die kaptein is nie ’n redder nie, maar eerder ’n soort regter of selfs ’n kaperkaptein met ’n kraai as adjudant of geleigees by wie die spreker ’n pleitskrif wil inlewer. Die “vlamme in jou hande” laat ’n mens ook verstaan waarom daar in die motto van die afdeling na Sodom en Gomorra verwys is. Hierdie stede is mos met vuur en swael vernietig. Hiervandaan af ontvou die res van die bundel as dele van die pleitskrif, as brokke getuienis wat aangebied word ter versagting van die vonnis van die “ons” met wie die spreker hom vereenselwig. Hy sê in die laaste reëls van hierdie gedig:

Al is ons waarskynlik

taamlik
skadelik –

wees ons tog genadig.

Hier word Breyten Breytenbach se woorde “kyk, hy is skadeloos, wees hom tog genadig”, omgedop. Hieroor later meer.

Wat die inhoud van die klagstaat teen die “ons” is, word nêrens nader gespesifiseer nie. Dit bly vaag, en ons kan slegs uit die aard van die verweer wat aangebied word, aflei dat dit te make het met die blote teenwoordigheid van die “ons” hier aan die suidpunt van Afrika, mense wat gedink het hulle gaan net tydelik hier bly, maar so half sonder vaste bedoelings en toevallig al verder die binneland ingetrek het in die “rigting van water en gras.//So loop ons aanhoudend/so hou ons aan loop” (“Wingerdranke groei”, p. 27).

Wie die “ons” is, word wel later aangedui in die gedig “Ons” (p.35): Dié geslag wat nie die Du Plooys van Soetmelksvlei geken het nie, wat nie jammer voel nie, wat nie maak of hulle die land verander het nie, maar wel diegene is “wat in Angola en in Wimpy Bars moes vrek.”

In hierdie gedig word dit reeds duidelik datAndries Bezuidenhoutstem gee aan ’n geslag wat nie baie gehoor word nie, die jongstes van dié wat nog diensplig gedoen het, die laaste ontnugterde “deelnemers’ aan die instandhouding van die vorige bewind. ’n Losgeslane geslag, wil dit lyk in die gedig “Ons”.

Maar ook nie heeltemal losgeslaan nie. Die talle gedigte oor momente uit die geskiedenis van Suid-Afrika (die agt gedigte van die reeks “Retoer”, byvoorbeeld, en “Vernichtungsbefehl”) dui op ’n digter met ’n historiese bewussyn. Gedigte soos “Ons ry iewers naby Ottersfontein verby” en “Afrika se wit kinders” dui op ’n verbondenheid aan familie en vriende, terwyl die twee afdelings “Sodom” en “Gomorra” eintlik ’n ondersoek is na die verbondenheid aan plekke.

Daarby is Bezuidenhout se poësie ook stewig veranker in die Afrikaanse letterkunde. Daardie verwysing na Breytenbach waarsku die leser dat hierdie digter heeltemal bewus is van die tradisie waarbinne hy skryf en dat hy sy eiesoortige antwoord daarop gaan gee. Hy verwys nie, soos talle van sy generasiegenote, by voorkeur na buitelandse skrywers nie. Hier vind jy aanhalings uit en inspelings op Totius se Trekkerswee, op Toon van den Heever se “In die Hoëveld”, op N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman, Karel Schoeman en natuurlik Elsa Joubert. Die motto’s is oorwegend afkomstig uit die lirieke van Afrikaanse sangers en Afrikaanse gedigte. Van die treffendste inspelings is dié op  “Die towenares” van Eugène N. Marais in die droewige “Probeer meestal vergeet”, met die frases “Bedags hoor sy nie meer die spreeus/ se gekwetter… nie”, “Sy ruik nie meer die aroma van/gemaalde koffiebone … nie” en “Wanneer dit donker word/kan sy nie meer na krieke luister nie”, en as die spreker sê “Nou soek sy na woorde”, weet ons dat die stem van die storieverteller vir die banneling/emigrant in Vancouver stil geword het. Teen hierdie agtergrond is dit myns insiens nie vergesog om van die oproep van getuienis en die uitspeel van taferele uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis van Retoer te praat as ’n soort eietydse Die dieper reg nie.

Maar met ’n verskil: Die mense, die landskap is hier nie verhewe of mooi nie, eerder banaal, gestroop. Huislike tonele, stadstonele en landskappe sonder veel maklik herkenbare skoonheid word hier aangebied, soos in die lakonieke slot van “Brixton, Johannesburg”:

Ons skrik as ’n rukwind plathand
teen ’n dakplaat en die agterdeur klap.
Ag, nou ja, sê jy,
ons het nou wel nie ’n uitsig nie,
maar ons het reception.

Bezuidenhout skryf nie juis oor die meer gebruiklike poëtiese temas van liefde en verlatenheid nie. Hy skryf oor gewone mense in alledaagse situasies en oor die vraagstukke waarmee baie van ons tans spook, soos in die gedig “Plein”:

As dit dan eendag
tog daarop neerkom
sal ons vlug. Intussen
sit Lot en sy vrou
in ’n verkeersknoop vas –
noord of suid, met dié twee stede
is dit maar om ’t ewe.

Die leser sou kon vra: Maar is dit kuns? Lyk poësie dan so? So sonder mooi beeldspraak en rym en metriese patrone? Of moet ons die poëtiese dalk ook soek in die hegte struktuur van die bundel as geheel en in die uitgebreide metaforiek wat deur die “wag op die kaptein” gevorm word? Daaroor sal seker nog heelwat gesels word.

In die laaste afdeling, “Vertrekke”, word die kaptein weer aangespreek deur die pleitbesorger. Hy sê:

Ek is moeg
om hier agter woorde
te waak
vir jou, Kaptein,
jy en jou kraai
en jou implemente
van oordeel en wraak.

en ’n beitjie later, met woorde wat klink of dit uit vanoggend se koerant kom en tog ook ’n bietjie na Van Wyk Louw:

Miskien langs die pad
sal ek weer kneel
met jou loop teen my skedel,
miskien in ’n winkelsentrum
tussen die geweer
en die kassier beland
met lood deur my kop,
of dalk ’n mes teen my keel,
’n bottelskerf,
’n strykyster,
kookwater –
alles so

asemrowend

pateties

en doodgewoon.

Word Sodom en Gomorra uiteindelik vernietig? Lees die bundel en besluit self!

Martjie Bosman
20 Februarie 2008