Op soek na Koos Doep is ‘n album met covers en toonsettings van Koos du Plessis se gedigte. Die toonsettings is meestal deur Karla du Plessis, maar daar is ook een van Andries Bezuidenhout s’n. Andries het die album in 2024 in Oos-Londen en Alice opgeneem en gemeng en in 2025 het Willem Möller die klankmeester behartig.
MEDIA
AJ Opperman van Netwerk24 lewer verslag van ‘n besoek aan Andries in eDikeni (Alice) – toeganklik vir intekenare van Netwerk24, kliek hier.
Nota: Soos die twaalf musiekvideo’s aan die einde van elke maand vir die volgende jaar verskyn, sal hierdie bladsy opdateer word.
[1] HERBERGIER – woorde en musiek deur Koos du Plessis
“Herbergier” is die titelsnit van Koos du Plessis se derde plaat, wat in Desember 1982 vrygestel is. In sy oorsig van Koos du Plessis se lewe en werk wat in Erfdeel gepubliseer is, beskryf Andries “Herbergier” as een van Koos du Plessis se mooiste lirieke en verwys na die “onkonvensionele oorskakeling vanaf ‘n A-majeur- na die hartseer A-mineur-akkoord wat die melodie so verskriklik mooi maak”.
[2] AS ALMAL VER IS – woorde en musiek deur Koos du Plessis
“As almal ver is” is die titelsnit van Koos du Plessis se tweede plaat, wat in 1981 vrygestel is. Koos se familie vertel dat die lied geskryf is toe Mornay en die drie dogters op vakansie aan die Suidkus was en Koos eers ‘n week later by hulle sou aansluit. Van die beeldmateriaal in die video kom uit die film The Dark Mirror (1946). Kunswerke met spieëls en eensaamheid as temas speel ook ‘n rol.
[3] DWAALSPOOR – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis
Karla du Plessis het hierdie toonsetting van een van haar pa se verse self opgeneem – dit is as “Jou vreemde naam” op haar eerste album Woordeloos (1999) beskikbaar. Die materiaal wat in die video gebruik is kom alles uit ou films wat in die openbare domein beskikbaar is, onder andere promosiefilms van General Motors wat in die laat-1920s vervaardig is (kort voor die Groot Depressie), dokumentêre films oor Suid Afrika wat in die 1950s deur die Kanadese openbare uitsaaidiens vervaardig is, films wat deur Noord-Amerikaanse families tydens vakansiereise gemaak is, asook die films The Ghost Train (1941), My Favorite Wife (1940), Female (1933) en Detour (1945).
[4] GROET SONDER WOORDE – woorde en musiek deur Koos du Plessis
Van Koos du Plessis se album As almal ver is… Vir sy opname het Andries die struktuur van die lied verander deur die refrein aan die einde te herhaal.
[5] HERINNERINGE – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis
Karla du Plessis het hierdie toonsetting van een van haar pa se verse ook self opgeneem. Dit is op haar album Woordeloos (1999) beskikbaar. Oor hierdie opname skryf Andries: “Ek het hierdie opname met groot ontsag aangepak. Dit is een van Karla se heel mooiste toonsettings en ‘n mens kan glad nie op haar lieflike opname daarvan verbeter nie. Verder is die vers so persoonlik. Dit gaan vir my saam met Koos du Plessis se lied ‘Mornay’, een van die heel mooiste liefdesliedere in Afrikaans. Die ‘sestal geskommelde letters’ in die liriek verwys ook na haar naam. Fools rush in… maar die lied is net vir my so mooi dat ek nie kon help om dit aan te pak nie.”
[6] JANTJIE VAN DIE BERGE – woorde en musiek deur Koos du Plessis
Oorspronklik van Koos du Plessis se eerste album Skadu’s teen die muur. Oor die musiekvideo skryf Andries: “Koos du Plessis se lied ‘Jantjie van die Berge’ is op ware gebeurtenisse gebaseer. Jantjie was ‘n tipe outsider, sommige sou hom seker ‘n boemelaar noem, wat in die Magaliesberge gewoon het. Vir die video het ek ‘n ou film met die titel The Beast of Yucca Flats (1961) gebruik. Ek was besig om deur ‘n aantal films te werk toe ek hierdie figuur opmerk, wat my dadelik aan Jantjie van die Berge laat dink het. Die film het natuurlik ‘n heel ander storie, so ek het dit verder ingekleur met Suid-Afrikaanse materiaal wat ek self verfilm het.”
[7] HERMAN – woorde en musiek deur Koos du Plessis
[8] MIDDERNAGREISIGER – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Andries Bezuidenhout
Andries se toonsetting van “Middernagreisiger” was ‘n opdrag van Anna Davel, wat die twee van Koos du Plessis se verse bymekaargesit het om een liriek te maak – die een as verse en die ander as refrein.
[9] NAGSPEL – woorde deur Koos du Plessis, musiek deur Karla du Plessis
Karla het self nog nie hierdie toonsetting van haar opgeneem nie, maar die akkoorde is in Erfdeel beskikbaar. Andries het die lied onthou van optredes in die 1990s saam met Karla en Liela Groenewald en gevoel die toonsetting moet as’t ware op die rekord geplaas word.
[10] OP DIE PAD NA NOOITGEDACHT – woorde en musiek deur Koos du Plessis
Die volksliedjie as spookstorie. Ook van Koos du Plessis se plaat Skadu’s teen die muur. Die lied se melodie onderstreep die spanning, as dit telkens met ‘n halftoon boontoe van rat verwissel. ‘n Meer rockerige weergawe as die oorspronklike weergawe van die storie. Andries voel Valiant Swart sal ‘n veel beter weergawe van hierdie een as hy kan doen.
[11] SKADU’S TEEN DIE MUUR – woorde en musiek deur Koos du Plessis
Daar is vele covers van “Skadu’s teen die muur”, ook ‘n donker een deur Van Coke Kartel. Die titelsnit van Koos du Plessis se eerste album. As ‘n mens nou ‘n lied moet uitsonder om aan te dui waartoe Koos du Plessis as liriekskrywer in staat is, sou dit seker hierdie een wees. Die video gebruik time-lapse videografie saam met ‘n aantal ou films, wat as’t ware as skadu’s teen die mure van die ou opstal geprojekteer word.
[12] TEEN SKEMER – woorde en musiek deur Koos du Plessis
“Teen skemer” het aanvanklik op Koos se plaat verskyn, ‘n pragtige opname deur Koos du Plessis se goeie vriend, wyle Lucas Maree. Koos du Plessis se eie weergawe is postuum op die album Die vierde horison vrygestel. ‘n Mens kan sekerlik nie hierop verbeter nie, maar nietemin, hier is nog ‘n weergawe van ‘n lied wat kort voor Koos du Plessis se dood geskryf is.