Sinekdogee – ‘n brief aan Suid-Afrika

In 2010, tydens die jaarlikse Versindaba in Stellenbosch, het Marlene van Niekerk ‘n kollokwium, “Brief aan Suid-Afrika”, aangebied. ‘n Hele aantal Suid-Afrikaanse digters is gevra om ‘n antwoord op Allen Ginsberg se “Letter to America” te skryf. Andries se bydrae was “Sinekdogee”, wat uiteindelik ook in Engels vertaal is en saam met ander gedigte deur Umuzi gebundel is as Letter to South Africa: Poets calling the state to order (2011).

Oor die bundel skryf Rustum Kozain in Die Burger: “… Die gedigte wat die Ginsberg een neem en daarmee werk en ­verwerk had ’n reeks goeie versetgedigte ­tot gevolg. Die sterkste eienskap van hierdie gedigte is hul literêre “oor­daad”: woordspelings, wye en ­wilde emosionele registers, ’n ­babbelende, borrelende gejouery en ­gefluistery… Van my ander gunstelinge moet ek die hoofbok, Van ­Niekerk self uitsonder, sowel as die voorbokke Danie Marais, Andries Bezuidenhout en [Leon] De Kock. Hul gedigte ­oorskry ook grense: taal, etiket en vroomheid, en soos die Ginsberg-gedig, jubel die ­gedigte in hul oormaat: dis snaaks, ironies, satiries, kragtig… ’n Resensent in Beeld wys uit dat as dié boek in die 1970’s of 1980’s gepubliseer was, sou dit verban wees. Ek wonder, sou die boek ooit die lig gesien het uit Stellenbosch en te midde van die debatte en argumente oor die sogenaamde wrewel oor die politiek in literatuur? Ek beveel die boek graag aan.”

Luister hier na hoe Andries sy gedig voordra.

Insomniak se droomalmanak

Insomniak se droomalmanak is Andries se eerste solo-album en is in 2003 deur Rhythm Records vrygestel. Soos die titel sê, handel dit oor slapeloosheid en drome. In 2021 is dit as nuwe weergawe vir streaming vrygestel.


Apple Music
Spotify

Uittreksels uit resensies:

Andries Bezuidenhout… se kommentaar op die hedendaagse Suid-Afrika is skerp, op die man af en hartverskeurend mooi. Die lirieke vir sy CD Insomniak se droomalmanak maak vir elkeen sin, of hy uit die generasie linkses van ouds kom, of ‘n produk van die reënboog-situasie is. Die ooreenkomste met die latere werk van Leonard Cohen kan nie misgekyk word nie. Dit is duidelik dat hy ‘n aanhanger van die bobaas van “blou” gevoelens is. In die snit “Bus na Toronto” word een van Cohen se liedjies by die naam genoem en by die lirieke ingewerk. Dit is ook een van die snitte wat tot op die been sny. Soos die titelsnit aandui, is die saambindende tema wakkelê(wees) en droom van rus. Die ironie van iemand wat die wêreld juis in die donker nag duidelik sien, blyk uit feitlik al die lirieke. Op die meeste albums is ‘n snit of twee wat minder indruk maak as die ander. Selde gebeur dit dat elke snit op sy eie manier onder die luisteraar se vel kruip. Sonder om opdringerig te wees, maak Bezuidenhout ‘n sinvolle stelling in elke lied. ‘n Persoonlike gunsteling en hoogtepunt is “Nero van der Merwe se lied” ‘n nagmerrie oor Johannesburg. Gelukkig is dit nie ‘n swaarmoedige album nie. Hy is dikwels onnutsig aan die spot, soos in “Die ballade van Dracula Havenga”, waarin hy die een helfte van die groep Kobus! bykom. Kyk ook na die medewerkers: die Huis Hoëveld Spreekkamerkoor, die Boksburg Bierbrouers Blaasorkes en die Albertsville Kriekekoor, en jy sal weet dat daar nie net gewroeg word nie…
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Oktober 2003

Andries Bezuidenhout subscribes to the introspective, thought-provoking school of minimalist philosophical expression, commenting on life and the world, from the little things to the bigger picture… The poetic themes of the dream world, the waking dream, sleepwalking existence and the reflection of South African city and suburban life, changes, angst and being white these days may be a heady mix, but it works.
– Paul Blom, Cape Argus

[A] proper follow-up to Koos Kombuis’ seminal ‘Niemandsland’… On ‘Insomniak se Droomalmanak’ singer/songwriter Andries Bezuidenhout has taken Koos’ knack for melody and bittersweet Afrikaans lyrics and catapulted them into the new millennium.
– Fred de Vries

Andries Bezuidenhout, of Roof, soos hy in die Brixton Moord en Rooforkes bekend staan het sy eerste solo-album op die rakke. Insomniak se droomalmanak is egter, soos ons die manne uit die Brixtongeweste ken, nie happy clappy tunes nie. Om die waarheid te sê — veral hierdie album is moerse morbied en depressief. Bezuidenhout fokus op heavy realiteite en sing met ‘n somber stem op akoestiese kitaarmusiek. Dis egter van die beste lirieke waarna jy in ‘n lang tyd gaan luister. As jy hou van rustige Afrikaanse musiek is hierdie beslis ‘n moet want goeie liedjieskrywers krap jy nie agter elke tweede bos uit nie. Die stuff waaroor hierdie man sing, is die grou werklikheid…
– Angola Badprop, JIP, 27 Oktober 2003

Spergebied – Brixton Moord en Roof Orkes

Spergebied is die Brixton Moord & Roof Orkes se eerste album, wat in 2002 deur Rhythm Records vrygestel is. Die CD is nie meer in die handel beskikbaar nie, maar kan nog van die web afgelaai word.

Apple Music

Spotify

Rhythm Records se mediaverklaring vir die vrystelling van die CD in 2002:

Die Brixton Moord & Roof Orkes se Debuut-CD, “Spergebied”, word Vrydag, 3 Mei by The Bohemian in Richmond gelaunch.  Nog ‘n Brixton band, Damn the Icbergs, sal by die geleentheid optree.

“Spergebied” word deur Rhythm Records versprei. Die produksie is deur Paul Riekert van Battery 9-faam behartig, en is tussen November 2001 en Januarie 2002 by RP Studios (M3) en One-F Studios in Johannesburg opgeneem.  Die CD bevat ‘n aantal gunstelinge van die band se songs wat handel oor “heel alledaagse” onderwerpe soos oorlog, misdaad, dwelms, drank, emigrasie en road rage.  Hulle enigste liefdeslied, “Witwolke”, is ook op die CD beskikbaar.

“Ons hou die songs oor seks, soos ‘Sussie se Sweep’ en ‘Wie is Lisa Forward?’ maar vir ons volgende CD,” sê Roof Bezuidenhout, sanger en kitaarspeler:  “Ons wou ook nie te vinnig ‘n CD uitbring nie.  Ons dink dis belangrik om eers self jou musiek na die mense toe te vat om te sien wat hulle daarvan dink.  Maar nou begin hulle te veel moun omdat ons nog nie ‘n CD het nie.”

Die band is pas terug in Johannesburg na ‘n aantal landwye optredes, insluitende die Jack Daniel’s Deconstruction Music Festival naby Nigel, die Willie Smit Festival by Oppikoppi in Northam, en Kaktus op die Vlaktes en die Tassenberg Stalteater by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

Die Brixton Moord & Roof Orkes is een van ‘n nuwe generasie Afrikaanse rock bands wat volg in die spore van mense soos Koos Kombuis, Valiant Swart en Johannes Kerkorrel.  Soos Pieter Redelinghuys in Insig (Desember 2001) skryf: “Vandag se kragtige Afrikaanse musiekgroepe gee Afrikaans skop in rock, pop, folk, hip-hop, punk en selfs boeremusiek en ghoema.” Hy noem Diff-olie, Gramadoelas, Beeskraal, Plank, Brixton Moord en Roof Orkes, Spinnekop, Akkedis, Duusman, Brasse Vannie Kaap, en Battery 9 as voorbeelde.

Op die oomblik bestaan die band uit Brixton Barnard op baskitaar, Moord Greeff op tromme en brandewyn, Roof Bezuidenhout op stemme en kitaar, en Kapelaan Pat Plank op lead kitaar.  Musikaal wissel die band se styl tussen melancholiese folk-klanke van songs soos “Asyn” en “Geraamtes in jou kas”, tot die harde rock van “Road Rage” en “Brixton-dae”.

“Dit kan sommige mense afsit,” sê Inspekteur Mary Martins-Engelbrecht oor die gevaar dat die Brixton Moord & Roof Orkes dalk verkeerdelik met die polisie verbind kan word.  Sy het die band al op “Geraas” gesien (Beeld, 27 Desember 2000).  Ongelukkig maak sommige mense nog die fout om te dink die Brixton Moord & Roof Orkes is ‘n polisie-blaasorkes, in plaas van die Afrikaanse rock band van Johannesburg wat hulle wél is.

“Dit is vir ons baie snaaks dat die eenheid óns naamgenoot is,” sê Moord Greeff, die band se tromspeler en skrywer van sommige van hulle lirieke.  Intussen is die polisie se Brixton Moord en Roof Eenheid gesluit om plek te maak vir die Johannesburgse Ernstige Gewelddadige Misdaad Eenheid.

Die band is einde 1999 deur Roof en Moord in Brixton begin toe hulle by die Abelarde Sanction begin optree het.  (Dit het gehelp dat dit binne kruipafstand van beide se huise is). Die Abelarde Sanction is ‘n berugte kroeg in Brixton waar vele bands hulle tande op die live scene slyp.  Sommige van hulle, soos Sunways, Karen Zoid, en Zen Arcade, is nou al bekend, maar baie ander is net eenvoudig só underground dat hulle waarskynlik nooit tot ‘n groter mark sal deurdring nie.

Gelukkig het die Brixton Moord & Roof Orkes vinnig vooruit gegaan, en reeds in April 2000 vir die eerste keer by die Oppikoppi Easter Festival opgtree.  Sedertdien het hulle nog drie keer by Oppikoppi gespeel.  Benewens ‘n verskyning by Aardklop in Potchefstroom, sluit ander venues waar hulle die afgelope twee jaar opgetree het Up The Creek (Hatfield, Pretoria), Bugsy’s Beat Bar (Randburg, Johannesburg), Cool Runnings (Wonderboom, Pretoria), The Nile Crocodile (Lynwood, Pretoria) en Oppistasie (Sannieshof) in.  Hulle het ook al verskynings gemaak op TV programme soos “Geraas”, “Kwêla” en “Draadloos”, en (meestal) gunstige artikels in publikasies soos Beeld, JIP, Insig, The Wire, De Volkskrant, en die Burger losgeslaan.

Uittreksels uit resensies:

Afrikaans music in the folk or folk/rock style has been around for ages, producing excellent song writers like the superb Koos du Plessis and Koos Kombuis, reflecting many aspects of life in South Africa. This album carries on in that fine tradition. Spergebied (restricted or no-go area) is an incredibly frank and honest look at Joburg and its people, particularly those living in the south. No-go areas of the human psyche, despair, hope, deterioration, love and violence are confronted with humour, anger, irony and sensitivity using brilliant imagery. Die Geraamtes in Jou Kas takes an evocative look at the township war and the effect it has left on the young conscripts in the Casspirs. Don’t let me give you the impression that this album is all doom and gloom. There is a great balance and serious fun, some great lines and good music that will leave you wondering when the next Brixton Moord en Roof Orkes CD will be coming out.
– Etienne Creux, Pretoria News, 21 August 2002

Hoor die sirenes van een nul trippel een / hoor die skote in Westbury klap / die sente van ‘n bedelaar, die rande van ‘n pusher / koop nie die vrede wat ons almal voor wag… want soos al die dae, al die dae / soos al die dae was vandag maar kak… Só sing Roof Bezuidenhout op “Brixton Dae”, een van twaalf snitte op die Brixton Moord en Roof Orkes se treffende debuut-CD, “Spergebied”. Daar is volop verwysings na lewe in die stad – misdadigers, padvarke, drank- en dwelmlustiges, geldwolwe en sukkelaars skuur skouers en kry lewe op snitte soos “Geen Land”, “Road Rage”, “Dronk op jou eie”, “As die yuppies jodel” en “Sewe rand vir die maand”. BMRO se rock het egter sy voete geplant is sterk folk-elemente. Dis op enkele snitte waar die angry rockdraak sy vuur spuug (vernaam “Road Rage”). Die res is akoesties van aard en dus sag genoeg om met oorgawe na BMRO se priemende lirieke te luister. “Spergebied” is ‘n knap debuut, ondanks die feit dat dit situasies en plekke skets wat plattelanders en diegene buite die geteisterde grense van Egoli dalk vreemd of onbekend sal vind. Die aggressie sou meer woema gehad het met ‘n elektriese kitaar in die groep (wat ná hierdie opname wel gestalte gekry het in die vorm van Pat Plank). Die vooruitsig laat ‘n mens uitsien na BMRO se opvolg-CD, want Afrikaanse rock het liriekskrywers soos hierdie nodig.
– Pieter Redelinghuis, Insig

Firmly in the middle of the new wave of Afrikaans rock bands, BMRO plays driving folk rock – kind of like Koos du Plessis had he ever heard Nirvana. Yes, they’re really from Brixton, and with the bearded Andries Bezuidenhout at the helm and the eclectric Esme Eva Kwaad as occasional sidekick, they’re becoming a live act to be reckoned with. Their debut album is uncomplicated in sound an filled with great songs (good lyrics is one of their hallmarks) about women, drinking, Jo’burg, yuppies, road rage and life in general. ‘Brixton-dae’ is a classic already, with our heroes waiting for ‘beter dae, want vandag was kak.’ ‘Geen Land’ looks beyond SA’s kak and crime to possible saviours, while ‘Dronk Op Jou Eie’ explores the familiar beauty of getting drunk on your own: ‘Ek wil hurk in die gorrel van ‘n bottel/ Ek wil skuil in die stilte tussen teue.’ On the whole, music that will make you feel better the moring after you did something reprehensible.
– Toast Coetzer, SL Magazine, Desember 2002/Januarie 2003

Every now and then (quite often, actually) I get tired of listening to songs about Nashville, Tennessee, New York, New York, Route 66 and the Vietnam war. Loud applause greets Bruce Springsteen everytime he sings about his Jersey Girl and being Born in the USA. But these (and other) songs mean very little to a born and bred South African like myself. Where are the songs written from the South African perspective about life and living in South Africa? Well, actually there are plenty. A few recent English-speaking (or should that be singing and rapping) artists, like Moodphase 5ive and Syd Kitchen, sing about life as it really is in South Africa, but if you really want songs about Jeffreys Bay, driving through the Karoo, Port St Johns, buying drugs in Stellenbosch and picking up girls from the Strand, listen to the Afrikaans rock poets. There are far too many to name here, but one of the newest Afrikaans rock bands to sing about real life in South Africa are the Brixton Moord en Roof Orkes (Brixton Murder and Robbery Band). To quote their website: “Brixton” here does not refer to the Brixton in London, but to a suburb of Johannesburg, South Africa. The name of the band refers to a notorious police unit (now disbanded), that was stationed in the suburb… On their debut album ‘Spergebied’ (Restricted Area) they sing about the dark side of South Africa, based on their own very real experiences. There are songs about living and jolling in Brixton and Melville (Brixton-Dae), the merits of getting drunk on your own (Dronk op jou eie), road rage (err, Road Rage) and a song for those that leave SA for greener pastures (Geen Land). And I love those little soundbites that link the songs: “this is the final call for passengers Barnard, Greef and Bezuidenhout delaying British Airways flight to London…” and “you have no new messages”. ‘Geraamtes in jou kas’ is about the nightmares that are suffered by the soldiers that had to go into the townships to “maintain the peace”. “Jy onthou die vure/ en die wiele van ‘n Casspir/ en die reuk van brandende rubber/ deur die neus van jou gasmasker”. This is not a very cheerful album on the lyrical side, but the music really rocks. So, to mis-quote Syd (Kitchen, not Barrett), this CD is not for sissies, but the brave listener who ventures into this Restricted Area will be rewarded with some very unrestricted Afrikaans Rock.
– Brian Currin, SA Rock Digest, April 2002

Terug in Skubbe – Brixton Moord en Roof Orkes

Terug in skubbe is die Brixton Moord & Roof Orkes se tweede CD, wat in 2004 by Rhythm Records verskyn het. Die ballade “Fortuinverteller” was darem kalm genoeg om op RSG se playlist te beland, maar die res was te rof. Mense het al verkeerskaartjies gekry terwyl hulle na “Spoed” luister en “Paul van der Zandt” is ʼn immergroen crowd favourite. In 2021 is die album as remastered weergawe vir streaming uitgereik, met twee nuwe akoestiese weergawes van “Vis” en “Dagboek van ‘n swerwer” as bonus tracks.

Apple Music

Spotify

Uittreksels uit resensies:

“Wie wil nou ‘n mens wees?” vra Moord Greeff in “Vis”, die eerste lied op die Brixton Moord & Roof Orkes se jongste album, Terug in Skubbe. Daar sal sekerlik stemme opgaan van skepsels wat mens wíl wees juis omdat dit vir óns ore is dat die musiek van hierdie album bedoel is. Dis net ménse wat sal verstaan waaroor die seer en die soet in die lirieke gaan. Visse, honde en voëls het voorregte, maar musiekwaardering is nie een daarvan nie. Hierdie album laat ‘n mens opnuut wonder oor rockers se intense kennis van die lewe… Greeff ruk lirieke soos dié in “Vis” uit en verwoord die universele wens om aan die daaglikse sleur van menswees te ontsnap. Roof Bezuidenhout maak dit in “Spoed” duidelik waarom almal altyd jaag. Die duiwel haal jou in as jy stil raak… Brixton Barnard is klaarblyklik ontstig oor alledaagse dinge, in ligter trant ook oor die rookverbod in winkelsentrums. Dan lewer hy snydende sosiale kommentaar met “Trane van ‘n Terroris” en vlek die gedagtes van ‘n “Stil Ou” met depressie en moordgedagtes oop. Hy is ook die skepper van die tragiesmooi geskiedenis van “Paul van der Zandt”… In die geheel het hierdie (die groep se tweede) album se musiek meer verskeidenheid as die eerste, wat hoofsaaklik folk-rock bevat… Hul aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het.
– Mariana Malan, Die Burger, 11 Maart 2005.

Terug in skubbe is ‘n tema wat gaan oor omgekeerde evolusie. Soos die meeste songs op die album gaan dit ook oor persoonlike verval en agteruitgang, terwyl die tunes terselfdertyd die mooi daarin probeer raaksien. Gekompliseerde songs wat smag na die ongekompliseerde. Dis min of meer die uitgangspunt. Wanneer jy na dié band se goed luister, gaan dit nie anders kan as om te dink aan ‘n besonderse eiesoortigheid nie. Dit is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê. Sover soos true school gaan, is jy hierso op die regte pad.
– Angola Badprop, Beeld, 18 April 2005.

To bring out a great first album is wonderful but to sustain that growth and creativity and come up with an even better second album (albeit more than two years later) is impressive… With all the social commentary and insights of their excellent first album Spergebied, the new album is much tighter, with a harder edge, in music as well as the lyrics. The brilliant imagery, which is at times cutting, humorous or cynical but never bland, explores the human psyche, especially the darker side… While the powerful poetry of Brixton Moord & Roof Orkes’ lyrics is probably their best feature, it is the beautiful tunes and arrangements with great vocals that complete the whole package to make this very fine album.
– Etienne Creux, Pretoria News, 20 April 2005

Die verskillende stemme is wat die CD laat werk. Nie noodwendig sangstemme nie (maar dié is daar ook). Eerder stemme wat iets te sê of te vertel het, iets wat nog nie tevore gesê of vertel is nie. Terug in skubbe is ‘n lieflike CD. Die grootste gros in hardekoejawel-rock. “Vis”, “Spoed”, “Sussie se sweep” en “Terapie” staan uit. Maar daar is ook dié wat die vrug van folk en country pluk. Bowenal soek ek die Afrikaanse tunes wat vanjaar by songs soos “Lisa Forward” en “Trane van ‘n terroris” kan kers vashou. Terug in skubbe is ‘n juweel.
– Pieter Redelinghuis, Insig, Mei 2005.

Die manne van die Jo’burg Afrikaanse underground het weer gedeliver en ‘n CD uitgebring waarvoor heelwat ander moet terugstaan. Terug in skubbe is ‘n tema van omgekeerde evolusie, maar dui eintlik op ‘n hunkering na eenvoudigheid in ‘n goor samelewing… Ander Afrikaanse bands gaan beslis ‘n paar tips in songwriting kan vang.
– Angola Badprop, Beeld, 2 Mei 2005.

Brixton Moord en Roof se musiek dra ou, afgeleefde Cats; groet jou met ‘n ghrieserige hand en ruik effens na sweet en ou whiskey. Dis liedjies oor middelklas- en minder-as-middelklasmense in middelklas- of minder-as  middelklasbuurte en die middelklas- of minder-a smiddelklasdinge wat hulle doen. Die liedjie waaruit die CD-titel kom, Vis, verwys na ‘n gedig van D.J. Opperman waarin dit gaan oor die vrees om die evolusieleer mis te trap en ‘n paar trappe te gly. In Vis gaan dit egter juis oor iemand wat moeg is daarvoor om ‘n siel te hê, wat vra “wie wil nou ‘n mens wees?”. Daar’s vrek mooi liedjies soos Fortuinverteller en Salome se lot op hierdie album, maar dis veral op gatskop-liedjies soos Trane van ‘n terroris en Spoed (my persoonlike gunsteling) dat Brixton Moord en Roof behoorlik wys wat in hom steek… Wees gewaarsku, die lirieke is nie vir sensitiewe luisteraars bedoel nie. Daar’s rowwe verwysings na rowwe meisies (soos “Sussie van Sannieshof” wat nie donkies aanjaag met haar sweep nie) en rowwe ouens (soos die ou wat al twaalfuur bedags in die kroeg met sy “sielkundige” sit en gesels – “sy naam is Jack en sy van is Daniels”) wat rowwe dinge doen (soos om bouncers met bakstene by te kom)… Kry dit as jy nie bang is vir musiek wat ‘n effense ghriessmaak in jou mond laat nie…
– Jaco Jacobs, Volksblad, 9 Mei 2005

Brixton Moord & Roof Orkes haat dit as mens hulle die Afrikaanse rockgroep met ‘n gewete noem… Maar dis waar. Terug in skubbe is hul beste album tot dusver, hoofsaaklik vanweë die baie afwisseling wat produksie en musiek betref… BMRO rock hier harder as ooit tevore. Maar onthou ook om te luister wat hulle sê.
– Dirk Jordaan, Beeld, 11 Mei 2005.

BMRO extend their survey of South Africa’s psycho-geography with Terug In Skubbe. With their driving garage blues rock blow-outs (“Vis”), pastoral luisterliedjie pit stops and gothic rock overhauls of Koos Doep ballads (“Dagboek van ‘n Swerwer”), the cult Afrikaans rock outsiders percolate a potent post-Voëlvry brew.
– Miles Keylock, CD Wherehouse, Mei 2005

Die loon van die droom – musiekvideo

“Die loon van die droom” kom van Andries se eerste solo-album genaamd Insomniak se droomalmanak (2003). Die Franse filmmaker Laure Saint-Hillier het hierdie video daarvoor gemaak. Die beeldmateriaal is in 2003 op die Weskus geskiet en redigering is in 2004 in Londen voltooi. Die video werk met die dromerigheid wat in die liriek verwoord word. Karla du Plessis is vir die lieflike agtergrondstem op die opname verantwoordelik.

 

Fortuinverteller – live

 

Andries doen ʼn akoestiese weergawe van “Fortuinverteller” by die Versindaba in 2007 – kyk dit op YouTube. Die grootste deel van Fortuinverteller se liriek het Andries tydens ʼn toer van die Brixton Moord en Roof Orkes Kaap toe geskryf, iewers naby Matjiesfontein. Dis later deur die Brixton Moord & Roof Orkes opgeneem en is beskikbaar op die album Terug in skubbe (2004). Karla du Plessis en Valiant Swart het dit ook opgeneem. Daardie weergawe is beskikbaar op Karla du Plessis se CD Steeds op vrye voet (2004).

Sander Nielsen het die liriek in Nederlands vertaal en ʼn video op YouTube gelaai waarin beweer word dat “Fortuinverteller” deur Koos du Plessis geskryf is – kyk hier daarna. Dis waarskynlik weens Karla en Valiant se opname dat aangeneem is dat “Fortuinverteller” deur Karla se pa, Koos du Plessis, geskryf is.

Hier is die liriek:

Jy nooi my na binne – na jou donker karavaan
Met die reuke van wierook trek jy my aan
Kan die rinkel van juwele my vir ‘n oomblik laat rus?
Die swaai van jou heupe my stadig, stadig sus?

Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar, weet jy, my verlede het lankal verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam

Ek sit my voete op jou kussing met my kop agteroor
Soek ‘n antwoord in die donker spirale van jou oë
Jou vingers streel my saggies, steel die spanning uit my lyf
Jou parfuum en droë blare laat my tydelik wegdryf

Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar, weet jy, my verlede het lankal verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam

Die son kom op, dis môre, alles is verklaar
My lewenslyn gebroke, my kaarte deurmekaar
Ek vat die pad, soos altyd, soek kos en ‘n dop
Vir ‘n oomblik nog bedwelm teen die duiwels in my kop

Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar, weet jy, my verlede het lankal verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam

Andries het die volgende aan Mariana Malan gestuur, na ‘n vraag oor waar die liriek vandaan kom:

“Met sommige lirieke spook jy lank. Ander kom spook weer by jou. Ek was halfpad aan die slaap toe ‘Fortuinverteller’ my kom besoek het – iewers tussen Laingsburg en die Hexriviervallei. Ons, dis nou die Brixton Moord & Roof Orkes, was oppad Kaap toe vir een van ons seldsame optredes daar. Ek het die meeste van die pad bestuur, maar teen skemer het Moord Greeff, ons tromslaner, by my oorgeneem. Die volgende woorde het in my kop begin draai: ‘Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf, maar die taal wat ek praat het lank reeds gesterf. Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan, waar my huis is, my land is, of die klank van my naam.’ Of só iets. Ek het dit in die donker neergekrabbel en later daaraan begin skaaf. Dit gaan oor iemand wat ʼn fortuinverteller gaan sien. Sy kan die toekoms voorspel, maar hy wil eerder oor sy verlede uitvind. Dis vir hom net so duister soos die toekoms. Dit gaan oor die soeke na identiteit. Ek was bly toe hulle die lied in die TV-reeks Orion gebruik het. Karla du Plessis en Valiant Swart het ook ʼn mooi weergawe daarvan opgeneem. Dis die orkes se enigste lied wat RSG ooit gespeel het. Nou woon Moord in Kanada en die Brixton Moord & Roof Orkes is iets van die verlede.” (Nota: Die band het later weer “hervorm”.)

 

Pam Golding dink die huis waar die Oersons nou bly is ‘n renovator’s dream

Pam Golding dink die huis waar die Oersons nou bly is 'n renovator's dream

Title: “Pam Golding dink die huis waar die Oersons nou bly is ‘n renovator’s dream”, by Andries Bezuidenhout, oil on canvas, 61 x 76 cm

A street scene in Philipstown, Northen Cape Province. The title explores the tension between attempts to gentrify Karoo towns and local realities of poverty.

Price: Sold