Andries oor sy opname van “Herman”:
“Vir my is ‘Herman’ een van Koos du Plessis se heel mooiste komposisies. Ek hou van die melodie, asook daai pragtige strofe: ‘Waar jy vanaand is, kan ons maar net raai’. Herman Hurter, oor wie die storie in die lied handel, was ‘n vriend van Douglas (‘Duif’) Davis, Koos du Plessis se heel beste vriend, wat eers onlangs oorlede is. Verlede jaar (2024) in Stellenbosch het Douglas ‘n huldigingskonsert vir Koos du Plessis bygewoon en die storie van Herman vertel. Soos ek dit onthou het Koos en Herman mekaar net skrams geken, maar die enkele kere wat die twee mekaar by sosiale geleenthede gesien het, het hulle goed oor die weg gekom. Herman het Koos vertel van sy droom om eendag ‘n seiljag te besit. Herman is later dood in ‘n ongeluk op ‘n snelweg naby Durban, sy kitaar was in die kar se kattebak en Koos het hierdie kitaar na Herman se dood ontvang. Uiteindelik, ná Koos du Plessis se dood (ook in ‘n motorongeluk), is Herman se gebreekte kitaar deur Koos se ma Hester du Plessis aan die dorpsmuseum in Springs geskenk. Soms wonder ek of die kitaar nog daar is, maar dis seker nie belangrik nie.”



