Andries Bezuidenhout – Insomniak se droomalmanak (album)

Insomniak se droomalmanak is Andries se eerste solo-album en is in 2003 deur Rhythm Records vrygestel. Soos die titel sê, handel dit oor slapeloosheid en drome. In 2021 is dit as nuwe weergawe vir streaming vrygestel.


Apple Music
Spotify

Uittreksels uit resensies:

Andries Bezuidenhout… se kommentaar op die hedendaagse Suid-Afrika is skerp, op die man af en hartverskeurend mooi. Die lirieke vir sy CD Insomniak se droomalmanak maak vir elkeen sin, of hy uit die generasie linkses van ouds kom, of ‘n produk van die reënboog-situasie is. Die ooreenkomste met die latere werk van Leonard Cohen kan nie misgekyk word nie. Dit is duidelik dat hy ‘n aanhanger van die bobaas van “blou” gevoelens is. In die snit “Bus na Toronto” word een van Cohen se liedjies by die naam genoem en by die lirieke ingewerk. Dit is ook een van die snitte wat tot op die been sny. Soos die titelsnit aandui, is die saambindende tema wakkelê(wees) en droom van rus. Die ironie van iemand wat die wêreld juis in die donker nag duidelik sien, blyk uit feitlik al die lirieke. Op die meeste albums is ‘n snit of twee wat minder indruk maak as die ander. Selde gebeur dit dat elke snit op sy eie manier onder die luisteraar se vel kruip. Sonder om opdringerig te wees, maak Bezuidenhout ‘n sinvolle stelling in elke lied. ‘n Persoonlike gunsteling en hoogtepunt is “Nero van der Merwe se lied” ‘n nagmerrie oor Johannesburg. Gelukkig is dit nie ‘n swaarmoedige album nie. Hy is dikwels onnutsig aan die spot, soos in “Die ballade van Dracula Havenga”, waarin hy die een helfte van die groep Kobus! bykom. Kyk ook na die medewerkers: die Huis Hoëveld Spreekkamerkoor, die Boksburg Bierbrouers Blaasorkes en die Albertsville Kriekekoor, en jy sal weet dat daar nie net gewroeg word nie…
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Oktober 2003

Andries Bezuidenhout subscribes to the introspective, thought-provoking school of minimalist philosophical expression, commenting on life and the world, from the little things to the bigger picture… The poetic themes of the dream world, the waking dream, sleepwalking existence and the reflection of South African city and suburban life, changes, angst and being white these days may be a heady mix, but it works.
– Paul Blom, Cape Argus

[A] proper follow-up to Koos Kombuis’ seminal ‘Niemandsland’… On ‘Insomniak se Droomalmanak’ singer/songwriter Andries Bezuidenhout has taken Koos’ knack for melody and bittersweet Afrikaans lyrics and catapulted them into the new millennium.
– Fred de Vries

Andries Bezuidenhout, of Roof, soos hy in die Brixton Moord en Rooforkes bekend staan het sy eerste solo-album op die rakke. Insomniak se droomalmanak is egter, soos ons die manne uit die Brixtongeweste ken, nie happy clappy tunes nie. Om die waarheid te sê — veral hierdie album is moerse morbied en depressief. Bezuidenhout fokus op heavy realiteite en sing met ‘n somber stem op akoestiese kitaarmusiek. Dis egter van die beste lirieke waarna jy in ‘n lang tyd gaan luister. As jy hou van rustige Afrikaanse musiek is hierdie beslis ‘n moet want goeie liedjieskrywers krap jy nie agter elke tweede bos uit nie. Die stuff waaroor hierdie man sing, is die grou werklikheid…
– Angola Badprop, JIP, 27 Oktober 2003

LIRIEKE EN VIDEO’S

[1] DROOMARGIEF – INLEIDING

Al hierdie drome bêre ek in lêers
In ‘n grys kabinet vergader hulle stof
Tot hulle ontydig, een oggend
As die wekker lui in my kop ontplof

[2] DIE LOON VAN DIE DROOM

Daar’s iewers iets nie meer pluis nie
My wekker klop nie meer kuis nie
My skoene staan by verkeerde maats
En die whisky-bottel se label hang halfmas

Maar pasop vir die droom ja julle wat skroom
Om julself van dié malheid te verskoon
Pasop vir die droom, pasop vir die droom
Die loon van die droom is die droom

My televisie kyk nou skeel
En my radio verseg om te speel
Die stofsuier en die strykyster
Het elkeen ‘n koord om die keel

Maar pasop vir die droom, ja, julle wat skroom
Om julself van dié malheid te verskoon
Pasop vir die droom, pasop vir die droom
Die loon van die droom is die droom

Van vandag af sê jy lewe jy aspris
Maar jy sien jy’t die hele storie mis
Want daar’s rotgif op jou solder
En jou voorland is ‘n kis

Maar pasop vir die droom ja julle wat skroom
Om julself van dié malheid te verskoon
Pasop vir die droom, pasop vir die droom
Die loon van die droom is die droom

[3] WOONSTEL OP DIE KAFEE

Ek hou my liggaam aan die gang
Met rooiworsies en bier
Hamburgerpatties en whiskey
Rooiwyn en breadrolls

In die aande luister ek Pink Floyd
En na die motors in Duncanstraat
Tydens beter buie na Valiant Swart
En soms selfs na Mary Poppins

Maar daar’s wind in my hare
En die son spuit deur my are
En ek retreat, ek retreat
Op ‘n African beat

Ek sit saam met jou in ‘n coffee shop
Loer skelm na die girl met die swart bob
Jy sê jy’t reeds vergeet
Van die familiefoto op die kaggel

Ek hou nie van die yuppies in Hatfield nie
En ek hou nie van die snobs van Waterkloof nie
Maar ek hou van die ruik
Van my stof en storm subkontinent

Maar daar’s wind in my hare
En die son spuit deur my are
En ek retreat, ek retreat
Op ‘n African beat

En al wat vir my oorbly
Is my woonstel op die kafee
Die platespeler en die bad
My kitaar en soms jy

Maar daar’s wind in my hare
En die son spuit deur my are
En ek retreat, ek retreat
Op ‘n African beat

[4] (FOKUS) DEUR ‘n DONKERBRIL

Dis somer in Pretoria, die son skyn skerp
Yskor gloei ‘n hoogoond teen die skemer
Dis weer somer in Pretoria, die son skyn te skerp
Teen die lense wat ek dra voor my oë

Ek kyk na die wêreld deur ‘n donkerbril
Dis al wat ek kan doen om te keer
Om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer
Want die beelde skyn te skerp vir my

Die staatsdiensgeboue staan soos leggerkabinette
En wag vir die volgende dag se nuwe wette
En ek sit in my Volla en wag vir die lig
Wat sê ek kan aangaan met my daaglikse plig

Ek kyk deur die walms met ‘n donkerbril
Dis al wat ek kan doen in verkeer
Om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer
Want die ligte skyn te skerp vir my

Ek sien boeke en stoele en penne en ‘n baas
Wat my dophou oor sy bril en wag om te raas
En ek wag vir teetyd en vir tjailatyd
Want dis al hoe ek oorleef in die roetinestryd

Ek kyk na die wêreld deur ‘n kameralens
Fokus in en verklein
Ek fokus in skadu’s van swart en wit
Want die beelde is te helder vir my

Ek kyk na die wêreld deur ‘n donkerbril
Dis al wat ek kan doen om te keer
Om die werklikheid te sensor, te bestuur, te beheer
Want die beelde skyn te skerp vir my

[5] DIS WINTER

Jy sit vanoggend met sweet in jou hemp
Die vel span wit om jou gesig
Ja loer maar in die spieël vir vandag se grap
Met daardie stoppelbaard wat alweer so krap

Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dit dan nie

Jy vergiftig jouself met ‘n groot pot tee
Wat met elke koppie swarter verkleur
Die nagte word ook kouer en donkerder
So sonder suiker en melk

Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dit dan nie

Jy is besig om jou dae te verklee
Met kaftans waaronder niks meer gebeur
Die kringe om jou oë word blouer
Soos die lewe uitpeul en verwelk
Jy drink ‘n laaste sluk en draai jou serp
om jou masker te bedek

Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dan nie
Dis winter, weet jy dit dan nie

[6] SKEMER

Dis skemer en my ligte is te flou
Om ‘n verskil aan die skadu’s te maak
Dis skemer en my kamer is te grou
Om ‘n verskil aan my drome te maak
Dis skemer en sou jy ook graag wou
Hê dat dit reeds nag moet wees
Hê dat dit reeds dag moet wees
Maar alles behalwe skemer

Tussen die uitlaatgas en die toeters
Het ek rondgery, rondgedwaal om jou te soek
Om weer terug te keer na skemer
Ek het saam met die ritme van die flikkerlig
Tyd gehou, tyd gehou en uitgehou
Om weer terug te keer na skemer

By verkeersligte moes ek stop
Vir verkeerspolisie jok
Oor die kwantiteit van brandstof in my bloed
Om weer terug te keer na skemer
En na die lampe van my kamer se groet

Dis skemer en my ligte is te flou
Om ‘n verskil aan die skadu’s te maak
Dis skemer en my kamer is te grou
Om ‘n verskil aan my drome te maak
Dis skemer en sou jy ook graag wou
Hê dat dit reeds nag moet wees
Hê dat dit reeds dag moet wees
Maar alles behalwe skemer

[7] NERO VAN DER MERWE SE LIED (STAD WAT BRAND)
(Met verskoning aan Karel Schoeman)

Hierdie stad wat eens trots in die veld gestaan het
Met sy myne en sy torings, fabrieke en wonings
In uitgestrekte suburbs, ‘n mensgemaakte woud
Met ‘n hart van yster, ‘n aptyt vir goud

Ons speel ons kitare al lank in hierdie kroeg
Hier voel alles veilig, niemand hoef te wroeg
Oor die oorlog daar buite, of die stad wat brand
Ons sus ons aan die slaap met die snaar se klank

Kom speel dan jou kitaar vir die stad wat brand
Die akkoorde is eenvoudig vir jou linkerhand
Kom hou saam die ritme, die uitsig is getooi
‘n Stad wat brand is van ver af mooi

Dinge het al lankal uitmekaar geval
Aanvanklik nog stadig, later so snel
Baie kon nog vlug, ander kon nie kwel
Om die tekens te lees soos die domino’s val

Nou het elke enjin verstik, elke trein het bly staan
Terwyl mense nog verdwaas hulle gang bly gaan
Tussen mure wat verkrummel, oor strate wat kraak
En stukkende brûe wat nog aan kabels hang

Kom speel dan jou kitaar vir die stad wat brand
Die akkoorde is eenvoudig vir jou linkerhand
Kom hou saam die ritme, die uitsig is getooi
‘n Stad wat brand is van ver af mooi

Iets om te eet kan jy soms nog ruil
Soms kan jy veilig vir ‘n nag of twee skuil
As jy iemand ken, dalk iets om te drink
Al moet dit dan na olie of na diesel stink

Maar die lewe gaan aan, selfs in die verval
Tussen ruïnes en murasies moet mense nog dwaal
Net agter hoë mure en doringdraad
Skuil die druglords en die warlords van die honger en die haat

Kom speel dan jou kitaar vir die stad wat brand
Die akkoorde is eenvoudig vir jou linkerhand
Kom hou saam die ritme, die uitsig is getooi
‘n Stad wat brand is van ver af mooi

[8] BULLETJIE SUURPAP

Bulletjie Suurpap, die malletjie van Brixton Jo’burg
Bulletjie sweet selfs in die winter se koue lug
Maar hy boer met drome en die duiwe in ‘n hok
Sy oë kyk al lank na binne, na die wêreld in sy dop

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

Want hier rond gaan dit baie keer moeilik
Hier rond loop dinge vreeslik skeef
Bulletjie sien nie die nuus op die TV nie
Of die manier hoe baie mense deesdae leef nie

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

Bulletjie jy loop soms in die nag op straat
As net die sterre en die armed response waak
Hoor jy ook kinderstemme saggies huil
En wonder jy ook soms wat agter tuinmure skuil

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

Bulletjie Suurpap, wag vir sy duiwe
Om ‘n boodskap te bring, tyding te bring
Van ‘n lewe iewers anders, ver hiervandaan
Sewe stasies aan, agter die duiwe aan

Bulletjie Suurpap, die crazy lewe in jou kop
Maak dalk baie meer sin as die een hier buite

[9] JOU EIE VOORSTADREWOLUSIE

Jou onkuise wekker tik nog steeds
Koketterig saam met ‘n kerkhofklok
En jy’s bang en jy vrees
Dat jy ook eendag oud sal wees

En jy wik en jy weeg
Maar jy blik en jy bloos nie
Hoewel die tyd jou elke sekonde
Nader aan die einde tik

Jy gooi jou kop agteroor
En skree dat jy alles en almal haat
En jy loop buite in die nag
Met jou hande in jou sakke

Spoeg vir honde en lag vir straatpredikante
Tussen eike en jakarandas
En wit mure en klip mure
En sekondes en ure
En dreine wat wasem asem

Dis maniakke wat die land regeer
Ryk swape wat die wêreld beheer
En jy’s kwaad en jy’s boos
Dat jy ook eendag sò sal wees

Jy gooi jou kop agteroor
En sweer dat jy alles en almal haat
En jy loop buite in die nag
Met jou hande in jou sakke

Jy gooi jou kop agteroor
En skree dat jy alles en almal haat
En jy loop buite in die nag
Met jou hande in jou sakke

[10] WHITEYSOMETHINGS

Ek sien jou weer na dertien jaar
‘n Oproep verras my oor jy verjaar
Ek hoor jy’s in Jo’burg, kom maak ‘n draai
Ons kan praat oor die ou dae
Ons kan bier drink en braai
En ek ry op die snelweg en dink aan die dae
Van sandale en jeans en causes vergaar
Ons was jonk ons was sterk
Ons het Apartheid verwerp
En gevloek en geskree teen staat en teen kerk

So sê my vriend hoe gaan dit nou daar
In jou suburban tronk van kapitalisme
Tref die rentekoers jou ook as die mark so tuimel
Maak die waarde van die Rand dat jou maagsweer ook brand
Sê my tjom, hoe gaan dit nou
Op die folterbank, van kapitalisme
‘n Tweede verband hou die lig aan die brand
‘n Overdraft trek aan jou broek se pant

‘n Rooi oog hou ons dop as ons praat oor die stryd
Hoe die staat ons bedrieg het, hoe ons PW verwyt
Jou nuwe alarm, jou elektriese heining
Jou armed response hou ons kuiertjie veilig
Die nuwe Apartheid van suburban bliss
Hou die diewe uit soos ons sake beslis
Liesl maak in London ‘n nuwe begin
Ek hoor Pierre is in Perth met sy hele gesin

So, sê my vriend hoe gaan dit nou daar
In die suburban tronk van kapitalisme
Tref die rentekoers jou ook as die mark so tuimel
Maak die waarde van die Rand dat jou maagsweer ook brand
Sê my tjom, hoe voel dit nou
Daai dissipline van kapitalisme
‘n Tweede verband hou die lig aan die brand
‘n Overdraft trek aan jou broek se pant
Jou verlede trek aan jou broek se pant
Jou gewete trek na die ander kant

[11] PAD NA ELDORADO

Ons kom vanoor die wêreld on in Jo’burg te kom woon
Ons praat Frans en Zulu, Engels, Swahili, elkeen met dieselfde droom
Alles het begin met die gejaag na goud
‘n Gejaag na goud

Egoli, Egoli, Egoli
Sit aan jou alarm, slaap lekker warm, droom voort
Egoli, Egoli, Egoli
Watch your back, sluit jou hek, en maak geld

Hoofpynpille McDonaldsburgers help my deur die dag
As taxi’s toet, verbygangers vloek, waar hoere vir kliënte wag
En deel jou sente soms vrywillig vir brandspiritus en gom
Vir as die koue kom

Egoli, Egoli, Egoli,
Onder koerante, slaap die trawante nog steeds
Egoli, Egoli, Egoli,
Hou jou bek, bou maar ‘n shack en hou uit

Agter hoë mure en doringdraad word rykdom verberg
Net dan en wan in four by fours the rich come out to play
I saw this parking space myself so why should I pay…
Why should I pay?

Egoli, Egoli, Egoli
Sit aan jou alarm, slaap lekker warm, droom voort
Egoli, Egoli, Egoli
Watch your back, sluit jou hek, en maak geld

Bo uit geboue deur gebreekte vensters staar oë na die son
Die pad na Eldorado sal eendag nog kom
Maar in die meantime hou maar uit, daar’s rykdom een of ander tyd
Een of ander tyd

Egoli, Egoli, Egoli
Onder koerante, slaap die trawante nog steeds
Egoli, Egoli, Egoli
Hou jou bek, bou maar ‘n shack en hou uit

[12] BUS NA TORONTO

Jy luister Famous blue raincoat op ‘n bus na Toronto
Met ‘n bom in jou hart, en sneeu vir jou smart
In die fleur van jou jare maar ‘n chill deur jou are
Verlang jy ooit na die skroeiende son van die karoo
Na die Laeveld se savanna en die Boland se herfs
Na Johannesburg se rye en rye matchboxtande
Wat grynslag onder rook en roet en jou groet
Op ‘n koue wintersoggend as die treine trappe trone
Gedweë in hul spore om die arbeid betyds te besorg

So sing maar jou ode aan Toronto
Laat die koue vrede jou hart maar vat
Dink nie aan die oorlog en die jong man se lot
Hy slaap nou rustig in die Afrika grond

Wikkel jou toe in jou reënjas met die skeur
Op die skouer as mense afsydig sit en tuur
Na landskappe met berge en mere en vrede
Maar dink aan ons wat deur verse marsjeer
In die digkuns van oorlewing en rym van sweer
Metafore van vrede maar ‘n wete dan min
Ons kan help om die metrum van oorlewing te leer
Maar ons skribbel elke dag onder die Afrika son
Ons probeer, ons probeer maar ons verse bly stom

So sing maar jou ode aan Toronto
Laat die koue vrede jou hart maar vat
Dink nie aan die oorlog en die jong man se lot
Hy slaap nou rustig in die Afrika grond

Die generasie van Abraham het geoffer wat dit vra
Hulle seuns op die altaar van Afrika
So baie moes sneuwel vir hul blink BMW’s
Dog tags tussen tande, in ‘n houtjas geklee
Vir hul wit koue kerke en huise by die see

So sing maar jou ode aan Toronto
Laat die koue vrede nie jou hart verhard nie
Dink nie aan die oorlog en die jong man se lot
Hy slaap nou rustig in die Afrika grond

[13] DIE BALLADE VAN DRACULA HAVENGA

Ek woon hier in Dakota nommer 718
‘n Woonstelblok van klinkersteen, beton en glas
Ek het bure na onder en bure na bo
Dis maar wat jy kry as jy in ‘n budgiehok woon

Dis nie die geraas in my kop wat my pla nie
Dis ook nie die drome wat my snags opjaag nie
Dis my bure met hul giere en geraas deur die dag
Maar wat kan ‘n mens dan nou anders hier rond verwag

Die ou met sy houtbeen wat reg bo my woon
Gaan nooit uit in die dag nie, maar hy hou aan met loop
Op die maat van ‘n wals met sy kruk en sy skoen
Soos ‘n driebeen monster met niks om te doen

Dis nie die geraas in my kop wat my pla nie
Dis ook nie die drome wat my snags opjaag nie
Dis my bure met hul giere en geraas deur die dag
Maar wat kan ‘n mens dan nou anders hier rond verwag

Mevrou Markotter kook heeldag met haar potte
Asof sy die wêreld net hier langsaan wil voer
Met haar lap pantoffels loop sy heeldag en skoffel
Tussen kaste en stoof op die kombuis se vloer

Dis nie die geraas in my kop wat my pla nie
Dis ook nie die drome wat my snags opjaag nie
Dis my bure met hul giere en geraas deur die dag
Maar wat kan ‘n mens dan nou anders hier rond verwag

Skuins hier onder bly ‘n skivvy donder
Hy’t lang hare, ‘n kitaar en ‘n attitude
Hy sê hy’t ‘n rock band en sy naam is Kobus
Maar as hy speel sou jy dink hy boer met hoenders

Dis net ek wat stil is tot laat in die nag
As die duiwels wat my folter nie meer kan wag
Dan gil ek my lied, die soet harmonie
Die eggo’s van my lofsang met geen ander klank nie

Die heeldag klap kasdeure oop en toe
Blêr TV’s en radio’s met niks beter om te doen
Respekteer niemand dan die dag se slaap nie
Van hulle wat snags in die donker moet waak nie

[14] INSOMNIAK SE DROOMALMANAK

Jy probeer jou oë alweer met die beelde verblind
Maar tussen wakker en slaap word jy deur ure verslind
Die sekondes en minute grynslag een vir een
Knaag die nag soos ‘n aasdier, tot op die been

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

Om skape te tel, weet jy lankal is verniet
En jy val nie meer so maklik vir ‘n wiegelied
Probeer tog maar Mozart se klarinet konsert
Of Leonard Cohen se wals met sy asem en sy stert

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

Die rapper gryp sy crotch van en wys met sy vingers
Maar jy’t sy bek gesnoer met die remote control
Ook die laatnagekonoom wat die prys van goud bereken
Of die lipsticknuus wat vir niemand iets beteken

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

Springsteen het so lank terug al die waarheid gesing
Al die channels in die wêreld gee jou eintlik maar min
Mannekyne, pikkewyne, tiete, satelliete
Fashion TV, war TV, los my uit dat ek slaap TV

Al hierdie dinge word aangeteken
Alles word noukeurig in detail bewaar
Vir die duisende wat slaap, vanaand in hierdie stad
In elke insomniak se droomalmanak

LANGER WEERGAWE VAN “INSOMNIAK SE DROOMALMANAK”: