Vertalings van gedigte

VERMEER

So lank as wat daardie vrou in die Rijksmuseum
in geskilderde stilte en konsentrasie
dag na dag aanhou om melk
van kruik na skottel te skink
het die Wêreld steeds nie die wêreld
se einde verdien nie.

(vrye vertaling van ‘n gedig deur Wisława Szymboska)

 

OM VIR DIE BARBARE TE WAG

Nou waarvoor drom ons op die dorpsplein saam?

    Die barbare kom kwansuis vandag.

Hoekom is die senaat so traag?
Vir wat draal die senatore so en maak geen wette nie?

    Want die barbare kom kwansuis vandag.
    Waarom sal senatore nou aan wette torring?
    As hulle aankom sal die barbare mos self wette maak.

Hoekom is ons keiser vanoggend so vroeg op,
hoekom sit hy hoog op sy troon by die stadspoort,
sit daar in state met sy kroon op sy kop?

    Want die barbare kom kwansuis vandag.
    Nou wag die keiser daar
    om hul leier te ontmoet. Hy’t selfs ‘n perkamentrol
    as huldeblyk voorberei: dis met allerlei
    mooi broodjies en eretitels gelaai.

Hoekom het ons twee konsuls en landdroste
vandag opgedaag, in geborduurde togas uitgevat;
hoekom dra hulle armbande met ametis ingelê,
ringe met helder, glinsterende smaragde versier;
hoekom vertoon hulle daai kosbare stawwe,
dié met fynbeslaande goud en silwer?

    Want die barbare kom kwansuis vandag;
    En sulke goed beïndruk mos barbare.

Hoekom tree ons voorste redenaars nie soos altyd
na vore om te deel waaroor hulle wonder nie?

    Want die barbare kom kwansuis vandag,
    en hulle verpes hoogdrawende toesprake en opswepery.

Hoekom is almal skielik onthuts
en verward (hoe plegtig lyk hul gesigte nie)?
Hoekom is al die strate en pleine skielik leeg,
soos almal huiswaarts keer, heel ingedagte?

    Want dis nou reeds nag en die barbare het nie opgedaag nie.
    En daar’s enkeles, pas terug van die grensgebiede,
    wat beweer die barbare bestaan nie meer nie.

                 —

Wat op aarde sal ons sonder barbare doen?
Daai mense sou mos ‘n tipe oplossing kon wees.

(vrye vertaling van die gedig deur Konstantyn Kavafis)

 

LEWENSLES

Ek wonder hoekom, in só ‘n stampvol klaskamer,
een dogter eenkant sit.
Niemand sit langs of agter haar nie;
net ‘n leë bladsy voor haar.
Sy praat nie of steek nie haar hand op nie,
kyk net vir my asof sy wil sê, verstaan tog net.

Klein lessenaar, ek skuif in langs haar:
   Sê vir my wat jy wil skryf, vra ek.
   I want to write, fluister sy,
   About the dog that can’t bark,
   but wants to learn how to bark.

Vir dertig jaar gee jy klas
wonder soms wat dit is wat jy gee,
of selfs dít geleer kan word.
Maar dan lê ‘n negejarige dit op ‘n dag uit.

Kom, enkeling, laat ek jou leer om te blaf
         – eendag lank, lank gelede was daar ‘n hond –
en daarna sal ek jou leer om te tjank.

(vrye vertaling van ‘n gedig deur Finuala Dowling)