Andries Bezuidenhout – Om Alice te groet (album)

Oor Om Alice te groet

Op 9 Oktober 2025 vrygestel – luister hier na die album.

Hierdie album kom uit die hart en die maag, eerder as die kop. Alhoewel my en my vrou Irma se verblyf in die Oos-Kaap al ’n tema in my musiek was, het ek nog nooit so intens daaroor nagedink soos met die skryf en opneem van hierdie album nie – dalk juis omdat dit hierdie keer moontlik geword het dat ons daar sou weggaan.

Ons woon nou al vir amper ’n dekade in ’n huurhuis in eDikeni, soos Alice deesdae amptelik heet. Dit was nooit bedoel as ’n permanente tuiste nie. Ons het boeke op rakke gepak, skilderye opgehang en ’n paar bome geplant. Van drie sitrusbome het net een dit gemaak. Ek het begin dink dat iemand anders dalk eendag die vrugte daarvan sou eet. Ek en Irma het albei by die Universiteit van Fort Hare gewerk.

Toe, in 2024, op die dag wat ek my professorale intreerede sou lewer, was daar ’n reeks brandstigtingsaanvalle by die universiteit. Geboue is beskadig en vernietig. Vir mense wat daar werk, was die brande deel van ’n veel langer en ingewikkelder verhaal oor die universiteit en die plek se geskiedenis en toekoms. Baie van ons het hard gewerk om die universiteit op te bou. Vir my het die vure iets aan my ervaring van die plek verander. Vuur het skielik ’n ander soort teenwoordigheid gekry.

Van die eerste liedjies wat hieruit ontstaan het, was Stories van water en vuur. Die lied begin op die pad verby Dimbaza, met die geraamtes van fabrieke wat steeds daar staan, en beweeg dan verby Nthaba kaNdoda na ’n huis langs die Xesi-rivier, met ’n klavier, boeke en stories. Dit gaan oor ruïnes, maar ook oor wat ná ruïnes oorbly. “Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie,” lui die refrein, “maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie.” Op moedverloor se vlakte, om ’n geykte uitdrukking te gebruik, het ek dit geskryf as aanmoediging vir myself. En toe kom meld nege ander nuwe komposisies aan – binne ’n baie kort tydperk.

Die album wat gevolg het, het egter nie ’n album oor brandstigting geword nie.

Ander plekke het na vore getree: Hogsback en die Amathole Berge, die Gamkarivier, Van Wyksdorp en die Carlton Hotel, die Tankwa, die see. Sommige is plekke waar ek gewoon het, ander is plekke waardeur ek gereis het, of waar iemand ’n storie vertel het wat bly vassteek het. Soms is ’n plek niks meer as ’n bergpas waar jy ná middernag stilhou en opkyk nie. Soms dra dit laag op laag geskiedenis wat moeilik van mekaar losgemaak kan word.

Daar was twee ouer komposisies wat ’n huis in hierdie album oor Alice gevind het. Die een het ek geskryf na die dood van die Vrystaatse kunstenaars Willem en Linda Pretorius se seun Lindley. Ek het dit as poging tot ’n trooslied vir hulle opgeneem en destyds aan hulle gestuur – ’n requiem. Dan is daar ’n lieflike gedig van Antjie Krog – Huwelikslied II, uit haar bundel “Verweerskrif” – wat ek lank, lank gelede reeds getoonset het en opgeneem het, maar nog nooit die moed gehad het om vry te stel nie. Ek is bly dat Antjie ingestem het dat ek dit op hierdie album kan sit. Dis ’n sekulêre liefdeslied in Bybelse taal.

In plaas van slegs Alice, die brandende kampus en die Oos-Kaap, het die liedjies al hoe meer begin handel oor die vreemde maniere waarop mense plekke bewoon. Ons trek in en uit. Ons gee name aan berge. Ons bou huise en verloor hulle. Ons plant bome waarvan ander mense dalk die vrugte sal eet. Ons ry vreemde paaie oor en oor, totdat hulle naderhand bekend raak. Ons probeer stories onthou van mense wat voor ons daar was, al weet ons dat ons hulle nooit volledig sal ken nie.

En soms ontdek jy dat ’n plek wat aanvanklik tydelik gevoel het, intussen ’n tuiste geword het.

Vuur en water het so met die skryf en opneem van die album ander betekenisse begin aanneem. In ’n aantal van die lirieke is daar verwysings na ukulanda umoya – ’n ritueel waartydens iemand wat op onnatuurlike wyse dood is se siel teruggeneem word huis toe. In die Oos-Kaap word ’n takkie van ’n vaalblaar-wag-’n-bietjie (umphafa) hiervoor gebruik, in ’n Setswana-weergawe van die ritueel ’n vaalboom (masethla). In Huurhuis, eDikeni is daar ’n verwysing na ons kollega Mboneli Vesele se familie wat sy gees kom haal ná die sluipmoordaanval op hom. In Stories van water en vuur is daar ook verwysings na die ritueel, en in Aswoensdag kom die Setswana-weergawe daarvan in gesprek met ’n Katolieke ritueel wat ook met vuur verband hou. Toe ek aan die album begin werk het, het ek dit nie so beplan nie. Die temas het hulself saam met die woorde by my aangemeld.

Maar daar is ook liefde op hierdie album. Nie noodwendig die soort liefde wat met rose en rooiborsduiwe aangekondig word nie. In Liefde in doringkapok en bitterbos groei dit tussen klip, fossiele, aasvoëls, bitterbos en die as van die vorige aand se vuur. Elders is dit bloot iemand wat langs jou asemhaal terwyl die seewind die gordyne laat beweeg. Teen die einde van die album word dit Antjie Krog se beeld van ’n bekende hand wat onverwags in joune lê.

Miskien is liefde en behoort juis interessant omdat niks permanent is nie.

Twee weergawes

Ek het uiteindelik besluit om die album twee keer op te neem: een keer in Afrikaans en een keer in Engels. Ek het my kollega en vriendin Hombakazi Nqandeka gevra om saam met my te sing op van die opnames. Sy verstaan egter nie Afrikaans nie – sy het in ’n diep landelike deel van die Oos-Kaap grootgeword – so ek wou hê sy moet verstaan waaroor die album gaan. Ek wou ook nie hê ’n album wat aanvanklik deur brandstigting by Fort Hare geïnspireer is, moet ’n binnegesprek in Afrikaans word nie.

Die Afrikaanse weergawe is buitendien nie heeltemal Afrikaans nie. Stories van water en vuur begin met Hombakazi wat in isiXhosa sing: Unga jiki, jonga phambili – moenie omdraai nie, kyk vorentoe. In Aswoensdag skuif sy weer na Engels: I live my life and I pay my rent / I think I’ll give up crying for Lent. Dit het vir my al hoe minder sin gemaak om aan die tale as afsonderlike vertrekke te dink. Die plek waaruit hierdie liedjies kom, is immers self veeltalig. Afrikaans, isiXhosa en Engels loop hier gedurig by mekaar verby, praat met mekaar, en praat soms ook verby mekaar.

Aanvanklik het ek gedink die Engelse weergawes sou bloot vertalings wees. Dit het gou geblyk dat lirieke hulself nie so maklik laat vertaal nie. Woorde moet nie net min of meer dieselfde beteken nie, maar hulle moet ook in dieselfde melodie kan asemhaal. Klinkers moet op die regte plek val, lettergrepe moet saamwerk met ritme, ’n reël moet singbaar wees. Rym wat in een taal vanself kom, word in ’n ander taal geforseerd. ’n Beeld wat in Afrikaans terloops werk, moet soms in Engels uitmekaar gehaal en anders aanmekaar gesit word.

En dan gebeur iets interessants, want vertalings praat terug.

“Altyd, altyd vorentoe” het byvoorbeeld in Engels Always on to old beginnings geword. Dit is nie presies dieselfde gedagte nie. Maar toe die Engelse reël eers daar was, het dit vir my iets van die album verwoord wat ek nog nie in Afrikaans gesê het nie: dat vorentoe beweeg nie beteken dat jy van voor af begin nie. Jy dra die vorige plekke, mense, verliese en liefdes saam.

Daarom is die Engelse album nie bloot ’n gids tot die Afrikaanse een nie. Dit is dieselfde groep liedjies wat ’n tweede keer deur taal beweeg het. Soms lê die twee weergawes baie naby aan mekaar. Soms dwaal hulle ’n entjie uitmekaar. Ek het besluit om sulke dwalings te verwelkom eerder as om al die kalwers op hok te probeer jaag.

Afrikaans is vir my ’n taal met ’n gelaaide geskiedenis, maar ook ’n taal waarin ek skryf, droom, grappies maak, stry en liedjies hoor. Om die liedjies Engels te laat praat, was nie ’n poging om uit Afrikaans te ontsnap nie. Dit was eerder ’n manier om te hoor wat met hulle gebeur wanneer hulle hul bekende huis verlaat.

Om Alice te groet

Die titellied kom betreklik laat op die album. Dit gaan oor die eenvoudige handeling om ’n deur vir oulaas toe te trek, die sleutel te draai, by die hek om te kyk en nie heeltemal te weet wat om met die oomblik te maak nie.

Ek dink dat dit dalk die album se kern vasvat, as daar so iets is. Nie net oor Alice nie, en ook nie net oor vertrek nie. Eerder oor die spanning tussen vertrek en bly, tussen onthou en vergeet, tussen die plek wat jy agterlaat en die plek wat jy saamneem. Die brande is deel van waar hierdie liedjies begin het, maar brande is nie waar die liedjies eindig nie.

Daar is immers altyd weer iets om te plant. Iemand anders eet dalk die vrugte.

En soms, heel onverwags, val die meetsnoere vir ’n ruk in lieflike plekke.

OM ALICE TE GROET – LIRIEKE

Sang, instrumente, programmering, opname en meng: Andries Bezuidenhout
Sang: Joey Kok en Hombakazi Mercy Nqandeka
Klankmeester: Willem Möller

[1] STORIES VAN WATER EN VUUR

Unga jiki, jonga phambili
Unga jiki, jonga phambili

Dimbaza se laaste trein het gaan staan
Maar skelette van fabrieke hurk steeds saam
As jy links draai vind jy Nthaba kaNdoda
Waar ʼn strak monument in beton verslaan

Van vorige beskawings getuig die ruïnes
Maar dis nie Konstantinopel of Rome dié nie
Afgebrande skole is veel meer banaal
As ’n koepel skildery of die Hagia Sofia

Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie
Maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie
Ek’s gebore uit rebellie, grootgemaak op trots
Als wat ’n mens in die truspieël los

So kyk nooit terug na brandende stede nie
Altyd, altyd vorentoe

Langs die Xesi-rivier staan ’n huis met ’n klavier
Generasies se boeke gebore hier
Die storie se luike skarnier nou skeef
Maar op vergeelde blaaie hou woorde aan leef.

Woorde wat prewel van mond tot mond
Geplant in die aarde, wortels in die grond
Vir hulle wat weg is skink ons brandewyn
Camagu, my mense, tot ons ook verdwyn

Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie
Maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie
Ek’s gebore uit rebellie, grootgemaak op trots
Als wat ’n mens in die truspieël los

So kyk nooit terug na brandende stede nie
Altyd, altyd vorentoe

Op daai doodgewone weeksdag
As ek uiteindelik sterf
Neem tog ’n oomblik en
Versamel stokkies op my werf
Brand dan my beneSaam met blare en papier
So vertel ons stories hier
Met water en met vuur

Wat reeds weg is kan jy nie meer verloor nie
Maar as jy dan herbou begin jy nie van voor nie
Ek’s gebore uit rebellie, grootgemaak op trots
Als wat ’n mens in die truspieël los

So kyk nooit terug na brandende stede nie
Altyd, altyd vorentoe

Unga jiki, jonga phambili
Unga jiki, jonga phambili
Unga jiki, qhubeka
Jonga phambili, qhubeka

Sang: Hombakazi Mercy Nqandeka

[2] LIEFDE IN DORINGKAPOK EN BITTERBOS

Laatmiddag teen Grootkloof se rante uit
Swartruggensberge doer, Matroosberg suid
Botterbome skugter in die samesyn
Van gifmelkbos en wilde harpuis

By kobraklip is daar skaliesmeer
Deur skubbesandsteen uit ’n antieke meer
’n Dinosefaliër se verskrikte skedel
Waarskynlik iewers in rots versteen

Liefde kom nie met rooiborsduiwe nie
Maar eerder met aasvoëls en rawe
Liefde bloei nie in rose nie maar mos
In doringkapok en in bitterbos

Eetgery van horingfels en swart basalt
Oral hier onder bossies verstrooi
En teen ’n rotswand is daar nog iemand
Se buitelyne in bruin en rooi

By Waaikop het die kroos Petoors en Albert
Hul brakdak se roustene afgewit
Die legplaats is teruggeneem deur die wind
Maar ‘n kraal kan jy nog skuins teen die heuwel vind

Liefde kom nie met rooiborsduiwe nie
Maar eerder met aasvoëls en rawe
Liefde bloei nie in rose nie maar mos
In doringkapok en in bitterbos

Laasnag se vuur was al as en roet
Toe ’n slangverskrikker vanoggend groet
Opgestaan en die koffiekan
Opgespoor tussen ons skottelgoed

Liefde kom nie met rooiborsduiwe nie
Maar eerder met aasvoëls en rawe
Liefde bloei nie in rose nie maar mos
In doringkapok en in bitterbos

Sang: Joey Kok

[3] HUURHUIS, EDIKENI

Met die lig van ’n huurhuis is daar iets wat traak
Daai tipe gevoel wat jou onrustig maak
Wonings is tydelik, maar huurplekke meer so
Kamers van talm en tyd verloor

Ons probeer iets plant na sewe droë jare
Van drie sitrusboompies het net een dit gemaak
Laat volgende huurders dan die vrugte gebruik
Bitter pomelo vir ’n winter ontbyt

Mentor, student, oumens, of kind
Sal die stories se punt eers aan die einde uitvind

Die berge se vorme nou meer bekend
Vir pieke kan ek my na name wend
Die bewegings van wolke en mense voorspel
Maar verklarings daarvoor myself net voorstel

Jaar vir jaar het ons boeke verbleik
Deur oop gordyne deur die son bekyk
Dalk sal ek eendag die boekrak skuif
Alfabeties, volgens genre ons verblyf beskryf

Mentor, student, oumens, of kind
Sal die stories se punt eers aan die einde uitvind

Roes in die pype, muf in die mure
Wyn en gesels met ons huurder bure
Soms ‘n konneksie wat werklik voel
Miskien het ons iewers tóg ’n doel

Dan die skote wat by die voorhek klap
Inkabi voltrek sy wraak kontrak
Jy’s daar as die familie sy gees kom haal
En ons wat aanhou om ons huur te betaal

Huurkontrak, sprokie, skrywer, of prokureur
Kan kwalik voorsien wat uiteindelik gebeur

[4] DUSKANT LINDLEY

Nie naghemel is geen landskap of portret nie
En sterre is nooit gerangskik na gelang van ’n wet nie
Weens die waai van wolk of bloekomblaar
Is sterre soms weg, of soms net daar

Om duskant Lindley stil te hou
En te kyk hoe Pegasus se vlerke oopvou
Om kort na middernag stil te hou
Om Pegasus se naggalop te aanskou

Niks het ’n doel nie, daar’s net toeval en kans
Maar iewers in die harwar vind jy soms nogtans
‘n Beeld, ’n komposisie, of ‘n patroon
Dit is in daardie oomblik waar iets helders dalk woon

Om duskant Lindley stil te hou
En te kyk hoe Pegasus se vlerke oopvou
Om kort na middernag stil te hou
Om Pegasus se naggalop te aanskou

Wonder jy nie ook oor wat die wrangste is nie
Die blus van vergeet, of die wis van onthou nie
Ek weet wragtag nie oor vergeet en onthou nie
Of die kilheid wat bly hang tussen die toe en die nou nie

Om duskant Lindley stil te hou
En te kyk hoe Pegasus se vlerke oopvou
Om kort na middernag stil te hou
Om Pegasus se naggalop te onthou

[5] ONS RY VAN EDIKENI NA HOGSBACK

Ons ry van eDikeni na Hogsback by villages verby
Turkoois en pienk mure van wattel en van klei
Dan teen die bergpas op deur inheemse woude
Plate en plate varklelies, bobbejaantoue en geelhout

Vir die somer se seisoen is sendelinge altyd bergop
Lovedale se hitte en muskiete maak jou raadop
Hoenders, eende, potte, als op ossewaens
Skape en bokke troppe, selfs skoolkinders kom saam

Vir sendelinge lyk die berg soos ’n vark se rug
En die amaXhosa lank terug sien beeste teen die lug
Dieselfde berg is son of maan
Afhangend van watter kant jy staan

Om met Moeder Aarde te connect moet hy kaalvoet loop
Hy sê hy vibe met daai akasia en wys na ’n denneboom
Mense kom van oral om tuine te kom sien
Azaleas en rododendrons en redwoods by die arboretum

En die spoke loop nog steeds snags by Redcoat Lane
Vertel al die stories van die oorlog van die byl
En die Summerton-familie is geherklassifiseer
En het as gevolg daarvan hul boorde verbeur

Vir sendelinge lyk die berg soos ’n vark se rug
En die amaXhosa lank terug sien beeste teen die lug
Dieselfde berg is son of maan
Afhangend van watter kant jy staan

Ry in Plaatjieskraal se rigting en klim op teen Tor Doone
Doer is Monica Wilson se huis by Hunterstoun
Die manifes is deels geskryf onder haar eikeboom
En Zim Ngqawana se plek van malles op die ander horison

Vir sendelinge lyk die berg soos ’n vark se rug
En die amaXhosa lank terug sien beeste teen die lug
Laataand ry ons huis toe, terug na die vallei
Besef jy ons hou nie vakansie nie, sê jy
Dis sommer net waar ons nou bly

[6] ASWOENSDAG

Sy’t ’n takkie van ’n huilboom afgepluk
Die blare in ‘n ketel vol water gedruk
Die bas gebrand en deur die rook gekyk
En gewonder oor hoe als helderder kon lyk
Die as gevat en op haar voorkop gesmeer
En gedink oor hoe als anders kon gebeur

Sy sê: I live my life and I pay my rent
Sy sê: I think I’ll give up crying for Lent

Sy’t die blare van ’n vaalboom afgepluk
Een daarvan op haar lip gesit
Gedink oor woorde uit monde en pyn
Oor wat ons verdoof met pille en wyn
Van die boom se bas ’n tou gevleg
Vir ’n brug van hier af tot ver, ver weg

Sy sê: I live my life and I pay my rent
Sy sê: I think I’ll give up crying for Lent

Ou, ou bank of ’n nuwe skildery
Soms wil jy rondskuif, soms net bly
Dink vir lank, wik en weeg
Tot sy die dag net aanbeweeg

Sy sê: I live my life and I pay my rent
Sy sê: I think I’ll give up crying for Lent

Sang: Hombakazi Mercy Nqandeka

[7] TREIN SONG

Die stasie is waardig soos ’n ou soldaat
Medaljes gepoets, maar ’n getorringde naat
Versteek onder lapelle getuig van spore
Altoos vir slytasie en roes uitverkore

Van stiptelikheid kan jy niemand hier beskuldig nie
So lees jou koerant en sit geduldig hier
Nou skel die fluitjie, als is in plek
Waens murmureer as die trein vertrek

Die uitsig van die brug oor die Gamkarivier
Gevoel van voldoening oorval my nou hier
Ek kan net so sit en in drome verval
’n Trein is ’n wieg vir die hele heelal

In Turner se tyd was dit nuwe tegnologie
Stoom was vooruitgang, spore iets nuut
Hy skilder die rook, die stoom en staal
Wringkrag uit pigment en olie gehaal 

Stoom of diesel of elektrisiteit
Gly ons terug, of ry ons vooruit
Eintlik kan niks hiervan my traak nie
Niks van hier af daaraan te maak nie

Die uitsig van die brug oor die Gamkarivier
Gevoel van voldoening oorval my nou hier
Ek kan net so sit en in drome verval
’n Trein is ’n wieg vir die hele heelal

Stasies en dorpe skuif stadig verby
Stasie gestroop, stasie wat bly
Takke verlep, maar die boomstam kleef nog
Aan wortels wat spoor na kompos en vog

Stasie vervalle of stasie museum
Treine staan stil of hou aan met dreun
Wie ’t besluit om dié spoor te hou?
Soveel vergeet, soveel onthou

Die uitsig van die brug oor die Gamkarivier
Gevoel van voldoening oorval my nou hier
Ek kan net so sit en in drome verval
’n Trein is ’n wieg vir die hele heelal

Ek onthou nou ’n lied oor die Trans-Karoo
En Matjiesfontein en die een oor die spoor
Tussen treine en stasies van Richard en Lochner
Gertjie se Beaufort en skimme op perronne

Die Briels het gehuil oor die trein na Pretoria
En Charles Jacobie bring die blou trein na vore
Dan ’s daar die een van Hugh Masekela
Oor werkers en myne en die donker stimela

Die uitsig van die brug oor die Gamkarivier
Slegs ‘n paar keer elke eeu vloei water hier
Ek kan net so sit en in drome verval
’n Trein is ’n wieg vir die hele heelal

Blokhuise, brûe van klip en staal
Grootjie wat dinamiet by die myn loop haal
Die Oorsterlyn het hy opgeblaas
En is summier Ceylon toe oorgeplaas

Die spoor hou mos op by Bitterfontein
Die laaste stop, einde van die lyn
Mag ek tog eendag in stilte verdwyn
Die nag in ry soos ’n middernagtrein

[8] ALICE SE BOEKE

Op Alice se tafel is daar altyd ‘n boek
Stories of gedigte wat sy vir jou uitsoek
Kom binne, sê sy, ek’t jou glad nie hoor klop nie
Daar’s skons in die oond en vars gemaalde koffie
Sy vra altyd eers uit oor sus en so
Wat van daai een geword het, sy wil alles hoor

Alice, dis weer tyd vir my om te ry
Wat ek eintlik sou wou doen is om agter te bly
In jou huis vol boeke, jou huis op die hoek
Alice, ek’s verdwaal, kan jy my help soek?

Iemand soos ek is maar sleg met woorde
Die mense op kantoor sê ek’s ingetoë
Maar as ek oor Alice uitvra sal sy dit bewimpel
Seil waaroor ons praat in ‘n heel ander rigting
En praat ek alweer net oor myself
Oor dié boek of dáái fliek laat sy my vertel

Alice, dis weer tyd vir my om te ry
Wat ek eintlik sou wou doen is om agter te bly
In jou huis vol boeke, jou huis op die hoek
Alice, ek’s verdwaal, kan jy my help soek?

Soms hou ek stil as ek gaan draf
Sit ’n blom neer, stof die granietblok af
Wie sy werklik was sal ek nooit weet nie
Maar ek skryf tog ‘n lied om haar nie te vergeet nie

Alice, dis weer tyd vir my om te ry
Wat ek eintlik sou wou doen is om agter te bly
In jou huis vol boeke, jou huis op die hoek
Alice, ek’s verdwaal, kan jy my help soek?

[9] TUSSEN DIE CARLTON EN DIE KAROO

Ons road trip vir kwaadgeld deur die Klein Karoo
Dit was ’n moeilike jaar, kan jy my maar glo
In Van Wyksdorp hou ons stil by die local bar
Die kroegman is Engels, maar hy praat Afrikaans

En waar’s julle vandaan, wil hy hy weet
Ek sê ons woon in Alice, maar Jo ’burg lank gelede
My pa is ook van Jo’ burg, begin die kroegman vertel
Hy’t sy lewe lank gewerk in die Carlton Hotel

Oh Carlton Hotel, you empty shell
Museum for how dreams can come loose at the seams
Oh Carton Hotel, you empty shell
Museum for how dreams can come loose at the seams

Van agter die toonbank vertel hy hoe sy pa
Die trem gevat het van Fordsburg elke dag
Aanvanklik ’n kelner, maar later bestuur
Van die Koffiehuis Café, die een met die klavier

Hy sê almal wat iemand was is by die Carlton verby
Jon en Yoko, Mick Jagger het oorgebly
Hy onthou hoe Mandela vir Paul Simon hier onthaal het
In die tyd toe selfs die rykstes net met kontant betaal het

Oh Carlton Hotel, you empty shell
Museum for how dreams can come loose at the seams
Oh Carton Hotel, you empty shell
Museum for how dreams can come loose at the seams

Dad saved all his tips, vertel hy, vir ‘n huis in die Karoo
Die einste huis hier oorkant, die een waar hy nou woon
Maar ’n jaar voor sy pa finaal sou aftree
Is hy geskiet waar Foxstraat doodloop in Von Wielligh

 Oh Carlton Hotel, you empty shell
Museum for how dreams can come loose at the seams
Oh Carton Hotel, you empty shell
Museum for how dreams can come loose at the seams

En ons stap by die kroeg uit, oogverblindende son
Loop ’n ou man raak wat van oorkant die pad aankom
Is my seun alweer besig, vra hy, om stories te vertel
Moenie ’n woord glo wat hy sê  nie, dis sy kop wat kwel

Sang: Hombakazi Mercy Nqandeka

[10] OM ALICE TE GROET

Nóg ’n einde, nóg ’n begin
Kosyn waar jy vir ’n oomblik besin
Oor waarop jy nou jou rug wil keer
En of jy elders van voor wil probeer

Waarheen om te ry, waar om te slaap
Na soveel jare se vrank gemak
By watter bergpas sal jy stilhou
Naboom of aalwyn van nader beskou

Om vir oulaas ’n deur toe te trek
Die sleutel te draai en by die hek
Terug te kyk na venster en dak
Half onseker oor wat om te maak

Beweeg net aan, want hier ’t niks gebeur nie
Niks om te sien nie, niks om te leer nie
Pirouette siklies, tyd in ‘n vakuum
Als wat stilstaan voel uitgedien

Om vir oulaas ’n deur toe te trek
Die sleutel te draai en by die hek
Terug te kyk na venster en dak
Half onseker oor wat om te maak

Koop dan ’n kaartjie eerder as ’n bed
Die wind se rigting is al wat jy het
Passaat eerder as kaart en transport
Aanstaltes eerder as skanse of ‘n fort

Om vir oulaas ’n deur toe te trek
Die sleutel te draai en by die hek
Terug te kyk na venster en dak
Half onseker oor wat om te maak

[11] VAN CONSTANTIA NA DIE TANKWA

Op die ouderdom van veertig het hy als verloor
Sy besigheid, sy huis, sy vrou en sy ego
En al wat oor was, was ’n tweedehandse bakkie
En sy niggie se plaas in die Ceres Karoo

Op die ruïnes van ’n kliphuis sit hy ‘n dak
Lê water aan na ’n nabye boorgat
Ver om te val van ’n kasarm in Constantia
Na ‘n herdershuis op ’n plaas in die Tankwa

Wat is sy storie, wat het gebeur?
Dis hy, die Karoo en die karige reën

Hy maak vriende met die miere in sy buitekombuis
En ’n paartjie muishonde wat hulself kom wys
’n Gemsboktrop kom drink uit die bad
Wat hy inrig as drinkgat naby sy huis

En kook met kapokbos pleks van roosmaryn
Vind rotskuns wat deur eeue stadig verdwyn
Maar nou nog vertel van wie hier moes woon
In die nag verbeel hy, hy kan hulle hoor

Wat is sy storie, wat het gebeur?
Dis hy, die Karoo en die karige reën

Soms, laatmiddag, as die son gaan skuinslê
Begin hy ’n voetpad teen die berghang uitlê
Met sy voete wat gereeld soos ‘n pelgrim stap
En klippe wat hy as rigtingwysers uitpak

Klippe met ligene en mospatrone
Soms heel besonder, soms doodgewone
Stollings van lawa en sandsteen en gneis
Van sy voetpad se rigting moet die klippe getuig

Wat is sy storie, wat het gebeur?
Dis hy, die Karoo en die karige reën

Maar die ’s nie juis ’n storie met ’n lewensles nie
Geen skrif aan die muur nie, net teen rotse figure
En ’n man met sy spoke wat oueres hier ontmoet
Antieke spoke wat kom aanmeld by sy kampvuur se gloed

Wat is sy storie, wat het gebeur?
Dis hy, die Karoo en die karige reën
Warrelwind somers, droë winterweer
Volg maar hoe seisoene die vlaktes verkleur

[12] ONS WOON LANGS DIE SEE IN ‘N GAT IN DIE LUG

Die seewind wou met gordyne kom dans
’n Riel of ’n polka, of sommer ’n wals
Ek hoor hoe jy langs my asem haal
Op die kussing jou hare, jou skouers kaal

Ons woon langs die see in ’n gat in die lug
Soos Yolande en Breyten jare terug
Die balkon se skuifdeur wawyd oop
Naguiltjies roep en kiewiete loop

Hoe het die meetsnoere so geval
In lieflike plekke? Heel per toeval
Woon ons ek en jy in ’n woonstel saam
Woon ek en jy langs die oseaan

Kus wilde piesangs en melkhoutbome
Die wind bly stil maar blare volkome
Bereid om te fluister van lewende lug
Dis blare wat snags genoegsaam sug

Die maan oor die see laat ’n misbank gloei
By die mond ’n nagreier paartjie wat broei
Die see se ruis is die klank van rus
Klankbaan wat ons drome toe sus

Hoe het die meetsnoere so geval
In lieflike plekke? Heel per toeval
Woon ek en jy in ’n woonstel saam
Woon ek en jy langs die oseaan

In my hart steeds die Hoëveld se mynhoop rante
Kragdraad pilare van staal en die brande
Se reuk in die winter as hergeboorte
Van karee, bloekom en suikerbos boorde

Maar vir eers net somer, son en saffier
Dalk keer ons terug, maar nou is ons hier
Waar branders presies teen strande slaan
Waar seegetye speel met die maan

Hoe het die meetsnoere so geval
In lieflike plekke? Heel per toeval
Woon ek en jy in ’n woonstel saam
Woon ek en jy langs die oseaan

[13] HUWELIKSLIED II (ANTJIE KROG)

Onverwags jou hand in myne
Die bekende stand van jou duim
‘n Palm wat altyd homself is

Jou hand gee ’n mildheid af
‘n Restant wat ek nie kan benoem nie
As jy my vashou hou haal ek vrylik asem

Ons liefde lê die wêreld vol
Dag vir dag weeg jy met my
Totdat ek woord kan wik van glans na geur

Striemend van lig pak jy stelte in
So onbestrede ver en helder is dit selfde
Van die wand pluk jy my terug

Haal my tot menslikheid om
Draai my na die rand van geregtigheid
Om geen naams ontwil

Niemand kan taal meer beman as jy nie
Niemand ontbind soos jy elke fluistering
Uit verlaat en verlies nie

Soomloos pyl jy, rand vreesloos vrot aan
Uit al die ander het jy my gekies
Maar intussen het jy grys geword

En onkant, weerloos in jou skede
Om myself het jy my ingevat
Uit my longe het ek jou lief

Jou eerbaarheid vul die lengte van ons liefde
Lankuit hou jou rus en duurte in stand
My oë maak rondom jou oop

My mond word blind aan jou bemaak
Jy deurgrond en herken my
Jy brand van ver af uit my ooghoeke

Maar jou hand vanmiddag ingedagte in myne
Openbaar dat ons een vlees en uiteindelik
Van kant tot wal mekaar se gelykes is

Jy sal doodgaan net soos ek
En net soos ek sal jy alleen dit doen
Nie eers die dood nie, nie eer die dood nie

Liefste, kan ons hiervan skei

Uit Antjie Krog se bundel Verweerskrif.