Slaaptyd in die Suburbs – Brixton Moord en Roof Orkes

Slaaptyd Boek Cover“Slaaptyd in die suburbs” is die Brixton Moord & Roof Orkes se derde en laaste album. Dis as ‘n beperkte oplaag van 100 bundels met lirieke en skilderye van Marguerite Visser aan die einde van 2014 vrygestel en as CD aan die begin van 2015. In 2021 is die album vir streaming vrygestel, en ‘n nuwe mix in 2024.

Luister op Apple, Spotify, YouTube, ens.

Uittreksel uit ‘n resensie:

“Brixton Moord & Roof Orkes het nou maar die manier om jou na die werklikheid terug te ruk, of tot wysheid en alternatiewe insigte te bring. Die album Slaaptyd in die Suburbs is geen uitsondering nie. Op hierdie album leer ken ons verskillende mense, elkeen met sy eie klein storie en groot verdriet. Elkeen ken iemand soos Vera, Lenie, ­Mariaan, Marius… Dit was omtrent ’n dekade gelede dat die orkes laas ’n album gemaak het. Hierdie album is dus meer as welkom, al konfronteer dit jou met dinge wat jy soms wil ignoreer. Neem nou maar ‘Klein­burgerlike Kreet’ wat jou opnuut laat kyk na hoe die woonbuurt lyk waar jy bly. Die elektriese heinings en diefwering skree vir jou net soos jy wil skree, al weet jy dit is verniet. En in ‘Die ballade van Vera Naudé’ identifiseer jy met haar versugting van ontburger te wees deur vrees en haat. Dan is daar die heerlike ironiese lied ‘Tankwa-Karoo’ van iemand wat stilte gesoek het, maar dan skielik besef dat dit ook nie is waarna hy gesmag het nie. Hier word weer bevestig dat Totius tog reg was toe hy gesê het die wêreld is ons woning nie. En jy kan met Amanda Strydom saamstem dat die enigste plek waar jy dalk sal rus vind die kamer in jou kop is. Geen album van hierdie orkes gaan jou die son laat sien sonder om bewus te wees van die wolk wat kan inskuif nie. Dit laat jou egter helder sien, en dink laat dit jou dink. Die lirieke is altyd so vasvat waar. ’n Mens kan jou verlustig in die digterlikheid terwyl ’n mes in ’n wond of twee draai. Wat ’n mens veral van hulle waardeer, is die manier waarop hul musiek jou onmiddellik gryp en jou aandag hou. Hier is geen geteem of tranerige wysies nie. Selfs die einde van dae, verlies, ’n tronksel en verlange wil jy met jubelende voete op maat van die musiek tegemoet dans.”
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Mei 2015

Brixton Barnard, die band se baskitaarspeler en skrywer van baie van die musiek, is kort na die vrystelling van die album aan breinkanker oorlede. Lees ‘n huldeblyk op Versindaba.