#Ashtag – ʼn gesprek oor kuns en ekologie

“Openbare swembad, Brandvlei”, olie op doek, 51x61cm, 2015, R9 500
“Openbare swembad, Brandvlei”, olie op doek, 51x61cm, 2015, R9 500

Wat het ʼn olieverfskildery van ʼn leë munisipale swembad in Brandvlei te doen met ʼn foto van ʼn posbus in Beaufort-Wes? Wat is die verband tussen die handelsmerke van oliemaatskappye en die beeldende kuns? Drie kunstenaars, Hanné Koster, Kirby van der Merwe en Andries Bezuidenhout, het saam aan ʼn uitstalling getiteld “Gas” gewerk wat op die oomblik by die Breytenbach-sentrum in Wellington besigtig kan word. Die uitstalling se titel kom van ʼn skildery van ʼn petrolstasie uit die 1940s deur die realistiese Amerikaanse skilder Edward Hopper.

Die drie kunstenaars lewer elk op hul eie manier kommentaar op die ekologiese krisis wat ons in die gesig staar. Hanné Koster stal foto’s uit van landskaptonele met petrolstasies wat in onbruik verval het, stukkende windpompe en doringdraad. Kirby van der Merwe werk meestal in olieverf – soms op doek, maar ook op aluminium – en skilder tonele van brandende takke, oorlogsveterane en die handelsmerke van oliemaatskappye. Andries Bezuidenhout werk ook met olieverf en skilder landskappe vol tekens van menslike bestaan – heinings, telefoondrade, hoogspanningslyne.

Die uitstalling is verlede Saterdag deur die digter Loftus Marais geopen, maar eerskomende Saterdag (13 Februarie, om 11:00) gaan die drie kunstenaars self oor hul werk praat. Tydens hierdie rondleiding deur die galery gaan hulle gaan praat oor wat hul geïnspireer het om die werke aan te pak en oor en die gesprek tussen hul werk. Kom luister wat hulle sê en kom vra self vrae oor die kunswerke.

Toegang is gratis en ʼn glasie wyn kos R10.

RSVP by Anne-Grett Erasmus by galery@breytenbachsentrum.co.za

Meer inligting en aanwysings om by die Breytenbach-sentrum uit te kom hier.