Andries doen ʼn akoestiese weergawe van “Fortuinverteller” by die Versindaba in 2007 – kyk dit op YouTube. Die grootste deel van Fortuinverteller se liriek het Andries tydens ʼn toer van die Brixton Moord en Roof Orkes Kaap toe geskryf, iewers naby Matjiesfontein. Dis later deur die Brixton Moord & Roof Orkes opgeneem en is beskikbaar op die album Terug in skubbe (2004). Karla du Plessis en Valiant Swart het dit ook opgeneem. Daardie weergawe is beskikbaar op Karla du Plessis se CD Steeds op vrye voet (2004).
Sander Nielsen het die liriek in Nederlands vertaal en ʼn video op YouTube gelaai waarin beweer word dat “Fortuinverteller” deur Koos du Plessis geskryf is – kyk hier daarna. Dis waarskynlik weens Karla en Valiant se opname dat aangeneem is dat “Fortuinverteller” deur Karla se pa, Koos du Plessis, geskryf is.
Hier is die liriek:
Jy nooi my na binne – na jou donker karavaan
Met die reuke van wierook trek jy my aan
Kan die rinkel van juwele my vir ‘n oomblik laat rus?
Die swaai van jou heupe my stadig, stadig sus?
Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar, weet jy, my verlede het lankal verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam
Ek sit my voete op jou kussing met my kop agteroor
Soek ‘n antwoord in die donker spirale van jou oë
Jou vingers streel my saggies, steel die spanning uit my lyf
Jou parfuum en droë blare laat my tydelik wegdryf
Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar, weet jy, my verlede het lankal verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam
Die son kom op, dis môre, alles is verklaar
My lewenslyn gebroke, my kaarte deurmekaar
Ek vat die pad, soos altyd, soek kos en ‘n dop
Vir ‘n oomblik nog bedwelm teen die duiwels in my kop
Jy sê jy sien die toekoms, jy kan dit duidelik lees
Kaarte en kristalle sê wat die uitkoms kan wees
Ek gee jou my palm, jy lees my lewenslyn
Maar, weet jy, my verlede het lankal verdwyn
Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf
Maar die taal wat ek praat, het lank terug gesterf
Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan
Waar my huis is, my land is, of die klank van my naam
Andries het die volgende aan Mariana Malan gestuur, na ‘n vraag oor waar die liriek vandaan kom:
“Met sommige lirieke spook jy lank. Ander kom spook weer by jou. Ek was halfpad aan die slaap toe ‘Fortuinverteller’ my kom besoek het – iewers tussen Laingsburg en die Hexriviervallei. Ons, dis nou die Brixton Moord & Roof Orkes, was oppad Kaap toe vir een van ons seldsame optredes daar. Ek het die meeste van die pad bestuur, maar teen skemer het Moord Greeff, ons tromslaner, by my oorgeneem. Die volgende woorde het in my kop begin draai: ‘Hierdie woorde en sinne het ek iewers geërf, maar die taal wat ek praat het lank reeds gesterf. Ek het eendag vergeet waar kom ek vandaan, waar my huis is, my land is, of die klank van my naam.’ Of só iets. Ek het dit in die donker neergekrabbel en later daaraan begin skaaf. Dit gaan oor iemand wat ʼn fortuinverteller gaan sien. Sy kan die toekoms voorspel, maar hy wil eerder oor sy verlede uitvind. Dis vir hom net so duister soos die toekoms. Dit gaan oor die soeke na identiteit. Ek was bly toe hulle die lied in die TV-reeks Orion gebruik het. Karla du Plessis en Valiant Swart het ook ʼn mooi weergawe daarvan opgeneem. Dis die orkes se enigste lied wat RSG ooit gespeel het. Nou woon Moord in Kanada en die Brixton Moord & Roof Orkes is iets van die verlede.” (Nota: Die band het later weer “hervorm”.)