Olive Schreiner: ’n Uitstalling in olie, houtskool en keramiek

Die kunstenaars Susan Bloemhof, Catherine Brennon en Andries Bezuidenhout het aan hierdie uitstalling deelgeneem by die Breytenbach Galery, Burgerstraat 14, Wellington

Die uitstalling is op Saterdag, 14 April 2018 deur die bekroonde biograaf en joernalis Elsabé Brits geopen.

“Voorkamer of the Schreiner House in Cradock”, oil on canvas, 40x50cm

Agtergrond:

Die idee om ’n uitstalling met Olive Schreiner as tema te doen het ontstaan nadat Susan Bloemhof en Andries Bezuidenhout deel was van die herdenking van die Breytenbach-sentrum in Wellington se tiende bestaansjaar en die “Uitdagend Skeppend” uitstalling by Breytenbach Gallery in September 2017.

Andries het voorgestel dat hulle Olive Schreiner en die Karoo as tema kies. Die voorstel het ten dele te make met Andries se verhuising na Alice in die Oos-Kaap, ’n omgewing waar Schreiner vir ’n belangrike deel van haar kinderjare gewoon het. Oor Schreiner as keuse skryf Susan Bloemhof: “Onmiddellik was ek aangetrokke tot hierdie dinamiese vrou en ek wou haar in al haar gedaantes uitbeeld… in haar karakter klim en haar voorstel aan ’n nuwe generasie wat in hierdie huidige klimaat, dalk sekerlik ‘n sterk vroulike rolmodel van nuut kan leer ken en bewonder.”

Anne-Ghrett Erasmus, die Breytenbach Galery se kurator, het voorgestel dat Susan en Andries se werk (meestal skilderye en sketse) uitstekend aangevul sou word deur Catherine Brennon se keramiekwerk. Anne-Ghrett was daarvan bewus dat Catherine reeds vantevore werk met Schreiner as tema gelewer het. Die uitstalling sou dus ’n tipe “driegesprek” oor Schreiner behels, met ’n aantal invalshoeke en kunstenaarsdissiplines.

Oor die ervaring om met Schreiner se lewe en haar romans en ander werke as temas te werk, skryf Susan verder: “Deur jouself kwesbaar te maak – om onsself aan diegene buite ons gemaklike kring van vertroude vriende en familie te deel, om iets van ons brose siel te deel – wat in die dood van die nag aan ons beelde en prente fluister… om hierdie kans te neem, selfs as ons die risiko kén? Dit is ongelooflik moedig. Wat is méér pynlik sowel as beeldskoon?”

Andries skryf weer: “Ek het nog altyd ’n belangstelling in die wisselwerking tussen biografie, geskiedenis en landskappe. Dit was ’n wonderlike ervaring om soveel van die plekke waar Schreiner gewoon het te besoek – Hanover, Cradock, De Aar, asook Hertzog en Healdtown hier om die draai van waar ek nou woon. Haar lewe hier en bewegings het vir my ’n tipe prisma geword waardeur ek my nuwe tuiste ’n die Oos-Kaap kon leer ken. Ek het hierdie besoeke gebruik om ’n aantal historiese foto’s van die huise waar sy gewoon het met behulp van olieverf in keur te verwoord. Ander het ek weer probeer weergee soos hulle nou lyk.”

Catherine het in 1999 reeds ’n kunsprojek met Olive Schreiner as Suid-Afrikaanse ikoon aangepak. Hieroor skryf sy: “In my navorsing oor haar het ek haar as ongewone vrou vir haar tyd ervaar en is deur haar unieke idees oor die huwelik, religie en die lewe in die algemeen gefassineer, veral gegewe die Victoriaanse era waartydens sy gelewe het. Hier het ek ’n vrou met beperkte formele onderwys aangetref, wat met selfvertroue met staatsmanne en politici kon omgaan, maar steeds met ewe veel sukses met gewone mense kon identifiseer. Ek is ook deur haar beskrywings van die Suid-Afrikaanse landskap geïnspireer en het elemente daarvan by my keramiek kunswerke betrek.” Catherine het bekendheid vir haar “Ceramic Dream Boxes” verwerf – pragtige keramiekhouers as simboliese bewaarplekke vir ons drome. In hierdie verband haal sy vir Schreiner aan: “Without dreams and phantoms, man cannot exist.”