Slaaptyd in die Suburbs

Slaaptyd Boek Cover“Slaaptyd in die suburbs” is die Brixton Moord & Roof Orkes se derde en laaste album. Dis as ‘n beperkte oplaag van 100 bundels met lirieke en skilderye van Marguerite Visser aan die einde van 2014 vrygestel en as CD aan die begin van 2015.

Luister na “C-Maximus”, “Einde van dae” en “Word wakker, Mariaan” op Soundcloud

Uittreksel uit ‘n resensie:

“Brixton Moord & Roof Orkes het nou maar die manier om jou na die werklikheid terug te ruk, of tot wysheid en alternatiewe insigte te bring. Die album Slaaptyd in die Suburbs is geen uitsondering nie. Op hierdie album leer ken ons verskillende mense, elkeen met sy eie klein storie en groot verdriet. Elkeen ken iemand soos Vera, Lenie, ­Mariaan, Marius… Dit was omtrent ’n dekade gelede dat die orkes laas ’n album gemaak het. Hierdie album is dus meer as welkom, al konfronteer dit jou met dinge wat jy soms wil ignoreer. Neem nou maar ‘Klein­burgerlike Kreet’ wat jou opnuut laat kyk na hoe die woonbuurt lyk waar jy bly. Die elektriese heinings en diefwering skree vir jou net soos jy wil skree, al weet jy dit is verniet. En in ‘Die ballade van Vera Naudé’ identifiseer jy met haar versugting van ontburger te wees deur vrees en haat. Dan is daar die heerlike ironiese lied ‘Tankwa-Karoo’ van iemand wat stilte gesoek het, maar dan skielik besef dat dit ook nie is waarna hy gesmag het nie. Hier word weer bevestig dat Totius tog reg was toe hy gesê het die wêreld is ons woning nie. En jy kan met Amanda Strydom saamstem dat die enigste plek waar jy dalk sal rus vind die kamer in jou kop is. Geen album van hierdie orkes gaan jou die son laat sien sonder om bewus te wees van die wolk wat kan inskuif nie. Dit laat jou egter helder sien, en dink laat dit jou dink. Die lirieke is altyd so vasvat waar. ’n Mens kan jou verlustig in die digterlikheid terwyl ’n mes in ’n wond of twee draai. Wat ’n mens veral van hulle waardeer, is die manier waarop hul musiek jou onmiddellik gryp en jou aandag hou. Hier is geen geteem of tranerige wysies nie. Selfs die einde van dae, verlies, ’n tronksel en verlange wil jy met jubelende voete op maat van die musiek tegemoet dans.”
– Mariana Malan, Die Burger, 6 Mei 2015

Brixton Barnard, die band se baskitaarspeler en skrywer van baie van die musiek, is kort na die vrystelling van die album aan breinkanker oorlede. Lees ‘n huldeblyk op Versindaba.

Terug in Skubbe – Brixton Moord & Roof Orkes

Terug in skubbe is die Brixton Moord & Roof Orkes se tweede CD, wat in 2004 by Rhythm Records verskyn het. Die ballade “Fortuinverteller” was darem kalm genoeg om op RSG se playlist te beland, maar die res was te rof. Mense het al verkeerskaartjies gekry terwyl hulle na “Spoed” luister en “Paul van der Zandt” is ʼn immergroen crowd favourite.

Koop dit

Download

Uittreksels uit resensies:

“Wie wil nou ‘n mens wees?” vra Moord Greeff in “Vis”, die eerste lied op die Brixton Moord & Roof Orkes se jongste album, Terug in Skubbe. Daar sal sekerlik stemme opgaan van skepsels wat mens wíl wees juis omdat dit vir óns ore is dat die musiek van hierdie album bedoel is. Dis net ménse wat sal verstaan waaroor die seer en die soet in die lirieke gaan. Visse, honde en voëls het voorregte, maar musiekwaardering is nie een daarvan nie. Hierdie album laat ‘n mens opnuut wonder oor rockers se intense kennis van die lewe… Greeff ruk lirieke soos dié in “Vis” uit en verwoord die universele wens om aan die daaglikse sleur van menswees te ontsnap. Roof Bezuidenhout maak dit in “Spoed” duidelik waarom almal altyd jaag. Die duiwel haal jou in as jy stil raak… Brixton Barnard is klaarblyklik ontstig oor alledaagse dinge, in ligter trant ook oor die rookverbod in winkelsentrums. Dan lewer hy snydende sosiale kommentaar met “Trane van ‘n Terroris” en vlek die gedagtes van ‘n “Stil Ou” met depressie en moordgedagtes oop. Hy is ook die skepper van die tragiesmooi geskiedenis van “Paul van der Zandt”… In die geheel het hierdie (die groep se tweede) album se musiek meer verskeidenheid as die eerste, wat hoofsaaklik folk-rock bevat… Hul aanslag wys kennis en begrip van poësie en kombineer dit op unieke wyse met die musiekgenre wat hulle gekies het.
– Mariana Malan, Die Burger, 11 Maart 2005.

Terug in skubbe is ‘n tema wat gaan oor omgekeerde evolusie. Soos die meeste songs op die album gaan dit ook oor persoonlike verval en agteruitgang, terwyl die tunes terselfdertyd die mooi daarin probeer raaksien. Gekompliseerde songs wat smag na die ongekompliseerde. Dis min of meer die uitgangspunt. Wanneer jy na dié band se goed luister, gaan dit nie anders kan as om te dink aan ‘n besonderse eiesoortigheid nie. Dit is ouens wat weet hoe om te jol, maar ook weet wat hulle uit hul musiek wil hê. Sover soos true school gaan, is jy hierso op die regte pad.
– Angola Badprop, Beeld, 18 April 2005.

To bring out a great first album is wonderful but to sustain that growth and creativity and come up with an even better second album (albeit more than two years later) is impressive… With all the social commentary and insights of their excellent first album Spergebied, the new album is much tighter, with a harder edge, in music as well as the lyrics. The brilliant imagery, which is at times cutting, humorous or cynical but never bland, explores the human psyche, especially the darker side… While the powerful poetry of Brixton Moord & Roof Orkes’ lyrics is probably their best feature, it is the beautiful tunes and arrangements with great vocals that complete the whole package to make this very fine album.
– Etienne Creux, Pretoria News, 20 April 2005

Die verskillende stemme is wat die CD laat werk. Nie noodwendig sangstemme nie (maar dié is daar ook). Eerder stemme wat iets te sê of te vertel het, iets wat nog nie tevore gesê of vertel is nie. Terug in skubbe is ‘n lieflike CD. Die grootste gros in hardekoejawel-rock. “Vis”, “Spoed”, “Sussie se sweep” en “Terapie” staan uit. Maar daar is ook dié wat die vrug van folk en country pluk. Bowenal soek ek die Afrikaanse tunes wat vanjaar by songs soos “Lisa Forward” en “Trane van ‘n terroris” kan kers vashou. Terug in skubbe is ‘n juweel.
– Pieter Redelinghuis, Insig, Mei 2005.

Die manne van die Jo’burg Afrikaanse underground het weer gedeliver en ‘n CD uitgebring waarvoor heelwat ander moet terugstaan. Terug in skubbe is ‘n tema van omgekeerde evolusie, maar dui eintlik op ‘n hunkering na eenvoudigheid in ‘n goor samelewing… Ander Afrikaanse bands gaan beslis ‘n paar tips in songwriting kan vang.
– Angola Badprop, Beeld, 2 Mei 2005.

Brixton Moord en Roof se musiek dra ou, afgeleefde Cats; groet jou met ‘n ghrieserige hand en ruik effens na sweet en ou whiskey. Dis liedjies oor middelklas- en minder-as-middelklasmense in middelklas- of minder-as  middelklasbuurte en die middelklas- of minder-a smiddelklasdinge wat hulle doen. Die liedjie waaruit die CD-titel kom, Vis, verwys na ‘n gedig van D.J. Opperman waarin dit gaan oor die vrees om die evolusieleer mis te trap en ‘n paar trappe te gly. In Vis gaan dit egter juis oor iemand wat moeg is daarvoor om ‘n siel te hê, wat vra “wie wil nou ‘n mens wees?”. Daar’s vrek mooi liedjies soos Fortuinverteller en Salome se lot op hierdie album, maar dis veral op gatskop-liedjies soos Trane van ‘n terroris en Spoed (my persoonlike gunsteling) dat Brixton Moord en Roof behoorlik wys wat in hom steek… Wees gewaarsku, die lirieke is nie vir sensitiewe luisteraars bedoel nie. Daar’s rowwe verwysings na rowwe meisies (soos “Sussie van Sannieshof” wat nie donkies aanjaag met haar sweep nie) en rowwe ouens (soos die ou wat al twaalfuur bedags in die kroeg met sy “sielkundige” sit en gesels – “sy naam is Jack en sy van is Daniels”) wat rowwe dinge doen (soos om bouncers met bakstene by te kom)… Kry dit as jy nie bang is vir musiek wat ‘n effense ghriessmaak in jou mond laat nie…
– Jaco Jacobs, Volksblad, 9 Mei 2005

Brixton Moord & Roof Orkes haat dit as mens hulle die Afrikaanse rockgroep met ‘n gewete noem… Maar dis waar. Terug in skubbe is hul beste album tot dusver, hoofsaaklik vanweë die baie afwisseling wat produksie en musiek betref… BMRO rock hier harder as ooit tevore. Maar onthou ook om te luister wat hulle sê.
– Dirk Jordaan, Beeld, 11 Mei 2005.

BMRO extend their survey of South Africa’s psycho-geography with Terug In Skubbe. With their driving garage blues rock blow-outs (“Vis”), pastoral luisterliedjie pit stops and gothic rock overhauls of Koos Doep ballads (“Dagboek van ‘n Swerwer”), the cult Afrikaans rock outsiders percolate a potent post-Voëlvry brew.
– Miles Keylock, CD Wherehouse, Mei 2005