Koos en Roof kom Pretoria toe!

kk400x400

Kom sit saam met Koos Kombuis en Andries ‘Roof’ Bezuidenhout om die kombuistafel en luister hoe die twee woordkunstenaars heerlik en hartlik gesels tussen splinternuwe liedjies en ook ʼn paar wat ou herinneringe wek. Na suksesvolle optredes op die verhoë by die KKNK in Oudtshoorn, die Stellenbosse Woordfees en die Breytenbach-sentrum se Bôrdienghuis teater in Wellington, is Terug na die Kombuis! nou uiteindelik in Pretoria op die planke. Dra ʼn lady van die bodorp nog tekkies en ʼn oorhangtrui? En wat van liefde wat grense oorsteek? Deesdae dra mense eerder posters as pasboeke. Kom sien waaroor die bohaai gaan! In die woorde van die resensent Herman Lategan: “…gaan kyk self. Dit sal nie ʼn teleurstelling wees nie.”

Waar? Atterbury Teater by Lynnwood Bridge (op die hoek van Lynnwoodweg en die N1)

Wanneer? Vrydag 10 Junie 2016, om 20:00

Bespreek vroegtydig jou kaartjie by Computicket.

Herman Lategan resenseer "Terug na die kombuis" in Ink, die Woordfeeskoerant
Herman Lategan resenseer “Terug na die kombuis” in Ink, die Woordfeeskoerant

Woordfees 2016: Terug na die kombuis

20160308_073201~2

Wat gebeur as ʼn kombuistaal terugkeer na die kombuis? In April 2015 het twee ou vriende, André Letoit (Koos Kombuis) en Andries Bezuidenhout (Roof van die Brixton Moord en Roof Orkes) ʼn verhoog in Oudsthoorn bestyg en die deels geïmproviseerde kabaretvertoning “Terug na die Kombuis” opgekook te midde van beurtkrag, vreemdelingehaat, ekonomiese verval en kulturele polarisasie.

Die bebaarde eks-aktivis en die ewe bebaarde dog meer bedaarde vakbond-deskundige het uitgepak oor alles wat hulle pla; ontnugtering oor korrupsie, klimaatsverandering, oorlog, plae en hulle eie loopbane. Geen doekies is omgedraai nie. Geen boodskap van hoop is uitgedra nie. Vir beide Koos en Roof was die vertoning ʼn ‘nul-punt’, ʼn katarsis, ʼn boedeloorgawe.

Tog was mense gaande daaroor. Die twee digter-sangers keer nou terug na die planke tydens die Stellenbosse Woordfees van 2016 met ekstra rampe en ontnugterings ingeroer, maar ook selfs ʼn knippie hoop en sakke vol humor. Toevallig voel albei baie beter oor die land se toekoms as verlede jaar hierdie tyd.

Met hierdie terugkeer na die kombuis herbesoek die twee van Koos se vroegste songs en praat oor wat die betekenis daarvan in deesdae se vernaderende tye sou wees. Dra ʼn lady van die bodorp nog tekkies en ʼn oorhangtrui? En wat van liefde wat grense oorsteek? Deesdae dra mense eerder posters as pasboeke.

Benewens ʼn herbesoek aan ou gunstelinge soos “Lady van die bodorp”, “Ontug in die lug”, “Lisa se klavier” en “Lente in die Boland” stel beide Koos en Roof splinternuwe komposisies aan hul gehore by die Woordfees bekend. Kom sien waaroor die bohaai gaan!

Lees die humoristiese resensie deur Herman Lategan in Ink (foto deur Nardus Engelbrecht)

Herman Lategan resenseer "Terug na die kombuis" in Ink, die Woordfeeskoerant
Herman Lategan resenseer “Terug na die kombuis” in Ink, die Woordfeeskoerant

Saterdag, 5 Maart 2016, 11:00 Maandag, 7 Maart 2016, 14:30 Vrydag, 11 Maart 2016, 18:00 Woordfees, Stellenbosch

Bespreek betyds ‘n kaartjie by Computicket.

Foto’s deur Nardus Engelbrecht

Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle

Veelvuldige gebruike vir huishoudelike toestelle is Andries Bezuidenhout se tweede digbundel en is in 2014 deur Protea Boekhuis gepubliseer.

In Andries Bezuidenhout se tweede bundel word twee werklikhede wat op die oog af nie raakpunte het nie, naas mekaar geplaas. Aan die een kant is daar die groter ruimte van die Suid-Afrikaanse stad en platteland, en aan die ander kant die intieme ruimte van die huis, veral die kombuis, gevul met verskillende toestelle. In albei hierdie ruimtes is verandering aan die werk. Die slopende werking van die geskiedenis bring verval, afsondering en verlatenheid in stad en dorp mee; in die kombuis is die verandering geheimsinniger, soms meer sinister, en wonder die spreker oor die sameswerings van huishoudelike toestelle teen hulle gebruikers (“Kombuiskomplot”). In die gedig “Muizenberg, renovator’s dream” word die verandering wat die geskiedenis meebring, gesien as die “ewige ritme van bou en verval”, daarenteen is die prosesse in die huis, afkoeling,  reiniging, en voorbereiding van maaltye iets baie meer basies, maar noodsaaklik, soos die digter in “You’ll always find me in the kitchen at parties” aanvoer: “Die geskiedenis, liewe vriende,/word selde in fabrieke vervaardig,/soos enige digter wat haar sous werd is weet:/In kombuise word dit opgekook.”

Andries Bezuidenhout is dosent in arbeidsosiologie aan die Universiteit van Pretoria, maar is ook bekend as rocksanger en visuele kunstenaar. Hy het in 2007 met Retoer as digter gedebuteer.  Retoer was ’n baie goeie verkoper en hierdie bundel behoort ook by baie lesers aanklank te vind.  PRYS: R150.00 (BTW ingesluit); ISBN: 978-1-4853-0072-4; FORMAAT: 213 x 137 mm;  Sagteband; 76 pp; Protea Boekhuis, 2014.

Koop die bundel by Takealot (ook beskikbaar as e-boek) of by Amazon.

Lees Joan Hambidge se resensie van die bundel op Versindaba.

Lees Jaco Barnard-Naude se resensie-essay oor die bundel op LitNet Akademies.

Lees Rudolph Stehle se resensie in Beeld, asook ‘n onderhoud met Andries.

Lees Maggie Marx se resensie van die bundel in Rapport.

Lees ‘n onderhoud met Andries deur Louis Esterhuizen op Versindaba.

Kyk na ‘n onderhoud op YouTube met Andries op die ontbytprogram Dagbreek oor die bundel.

Lees ‘n onderhoud met Andries deur J.B. Roux oor die bundel in Die Burger, asook “Koelkas”, een van die gedigte in die bundel.

Die loon van die droom – musiekvideo

“Die loon van die droom” kom van Andries se eerste solo-album genaamd Insomniak se droomalmanak (2003). Die Franse filmmaker Laure Saint-Hillier het hierdie video daarvoor gemaak. Die beeldmateriaal is in 2003 op die Weskus geskiet en redigering is in 2004 in Londen voltooi. Die video werk met die dromerigheid wat in die liriek verwoord word. Karla du Plessis is vir die lieflike agtergrondstem op die opname verantwoordelik.

 

Bleek Berus

“Bleek Berus” is Andries Bezuidenhout se tweede solo album, wat in 2009 by One-F Music verskyn het. Die volgende is die liriek van een van die tracks van die CD, genaamd “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry”. Daarna volg uittreksels uit resensies van die CD.

Luister na “Die laaste brandwag” en “Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry” op Soundcloud

“Bleek Berus”:
Apple Music
Spotify

Meer oor “Bleek Berus” by One F Music.

Liewe Laetitia, ek het lanklaas geskryf,
jy weet, dinge gaan maar rof in hierdie bedryf,
geen tyd meer vir vriende, of tyd om te onthou,
ʼn vinnige e-mail om kontak te hou.

My kitaar is vol stof waar dit staan in die hoek,
na die trek van die Kaap af is al my LP’s nou soek,
daar was bokse vol foto’s, leggers vol briewe,
die uitsorteer laat ek nou maar oor aan die diewe.

Refrein:

En ek weet nie meer vir wie om my hart te gee nie
en tog het ek nooit daai ou songs verleer nie.
Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry…

Jy weet, ek ry nou die dag verby die Chelsea Hotel,
vensters toegespyker, haar dae is getel,
geen Mini-Cult Cinema, geen Estoril Books.
Hoe gaan dit in Londen, het jy gevind wat jy soek?

Refrein

Bernoldus en Kerkorrel is albei dood
en Kombuis se kinders is al amper groot.
Laetitia, ek weet ek moet jou keuse respekteer,
maar tog moet ek sê ek het iets geleer:

Al weet ek nie vir wie om my hart te gee nie
en al weet ek nie hoe het ek liefhê verleer nie.
Dis net huis toe wat ek nog deur Hillbrow ry
tog is ek vasgeanker, moet ek hier bly,

is ek deel van hierdie land met liefde en haat,
het ek te veel gegee en te veel gevat
om die donker land nou te verlaat,
om die donker, donker land nou te verlaat.

So nag, liewe Laetitia, jy moet lekker slaap,
ek druk alweer “delete”, laat ons dit hierby laat.
Droom sagte drome in die noordelike nag,
in die suide van Afrika sal ek vir jou wag.

Uittreksels uit resensies van “Bleek Berus”:

“ ‘Modest’ is the best word to describe Andries Bezuidenhout. Throughout our two-hour interview he constantly tries to downplay the importance of his work as a singer/songwriter, as someone who carried the Voëlvry spirit into the 21st century. But for me Andries is one of the most exciting and versatile characters in the alternative Afrikaans scene. Many will know him as the singer of the now defunct Brixton Moord en Roof Orkes. But he’s also a sociologist at Wits University and a columnist for Rapport, while last year he published his first volume of poetry, Retoer. It took him five years to come with a follow-up to his first solo album, Insomniak se Droomalmanak. But the recently launched Bleek Berus was well worth the wait. Largely produced by Andries’s ex-band mate Drikus Barnard it has a bleak, almost tinny sound and songs that tell tales of leaving, murder and ecological disaster. Discomforting tunes for an uncertain age, but always with a touch of humour.”
– Fred de Vries, LitNet

“Oukei, hier hoor ek nou ’n liedjie wat vir klassieke status bestem is, is ’n gewaarwording wat jy bitter selde kry. Dis dan wanneer jou bloed ’n snaar word, soos David Kramer sê, en jy vergeet van alles anders in en om jou. Ek het daardie spesiale transendentale hoendervleis ervaar toe ek as omgekrapte 17-jarige in 1988 vir Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band in die ou Grand Central in Kerkstraat gaan kyk het en deur Hillbrow oorweldig is. En byna 20 jaar later by Oppikoppi 2007 word ek deur dieselfde gevoel herbesoek toe Andries Bezuidenhout sy ‘Dis net werk toe wat ek nog deur Hillbrow ry’ begin speel. ‘Certain songs they get so scratched into our souls’ sing The Hold Steady, en Bezuidenhout se Hillbrow, wat direk na Kerkorrel se liedjie en ook Donker donker land verwys, is een van daai – die soort ballade waarop Leonard Cohen trots sou wees… En hierdie is nie die enigste juweel op Bleek berus nie. Bezuidenhout… se tweede album bevat tien ambisieuse snitte wat veral die woord, die werklikheid en die emosie van woestyn verken in duister lirieke, mineurtone en afsydige melodieë vol skaduwees… Bezuidenhout het reeds met sy solo-debuut, Insomniak se droomalmanak (2003), bewys dat hy ’n hoogs begaafde liriekskrywer is, maar sy tweede is musikaal interessanter, veral vanweë Drikus Barnard se musiekregie wat intieme akoestiese kitaarspel treffend met elektroniese klanke en slagwerk inkleur en vervreem. Dis ’n merkwaardige album wat verbete probeer sin maak van ’n ongenaakbare wêreld, en in die proses Bleek berus vind in die treurige skoonheid van woord en klank.”
– Danie Marais, Beeld

“He may describe himself as a mere ‘blip’ on the Afrikaans cultural scene but Andries Bezuidenhout’s new album Bleek Berus (One F Music) positions him as one of the country’s most significant songwriters. This is evident on the poignant Dis Net Werk Toe Wat Ek Nog Deur Hillbrow Ry, a nostalgic lament, which poses the question: What happened to the Voëlvry generation? Johannes Kerkorrel’s Hillbrow was an anthem for the youth that rallied around the Voëlvry movement, so Bezuidenhout’s confession that the only time he thinks about the run-down suburb is when he drives through it on the way to work is a severe indictment of how times have changed between 1989 and 2010. Bezuidenhout acknowledges this in the liner notes when he describes the song as being about the Voëlvry generation who now drive BMWs and are too afraid to pick up hitchhikers. In 1989 Kerkorrel was singing ‘gee you hart vir Hillbrow’ and taking the piss out of racist South Africans behind the wheels of their BMWs voting for the National Party. Bezuidenhout in 2010 is asking the questions: What has become of that punk spirit that fuelled Voëlvry? … As the title suggests, the album is fascinated with the idea of white people finding peace in the new South Africa, reconciling their troubled history and positioning themselves within the social fabric of South Africa — and the bleak dry landscape is the perfect metaphor for that history. While friends emigrate and others live in fear, Bezuidenhout is looking forward — too much a part of this country to quit, but also disenchanted with the way most white people live their lives in the new democratic South Africa. Is the Voëlvry message still relevant to white South Africans in 2010? Bezuidenhout doesn’t have the answers, but he is asking the questions.”
– Lloyd Gedye, Mail & Guardian

“Tematies sny die meeste liedjies aan droë plekke. Soms het dit direk met waterlose landskappe te doen, andersins met plekke waarheen uitgewyk is en daar dan na die waterryke van die ­bekende gesmag word. Moet egter nie stofgetrapte gedagtes of ’n sentimentele geweeklaag verwag nie. Daar is humor en lewenswaar­hede wat werklik vermaak en met jou praat. Bezuidenhout het saamgespan met Drikus Barnard (Brixton van die voormalige Brixton Moord en Roof-orkes). Hulle het sowat twee jaar lank aan die album gewerk. Sy vorige solo-album, Insomniak se Droomalmanak (2003), het destyds al die hoop laat opvlam dat dit opgevolg sou word. Hoewel hy hom meer onlangs met die digkuns besig gehou het (en dit wys in die album), is die nuwe album meer as welkom. In ’n persverklaring word dit ‘hedendaagse Americana en alt-country’ genoem, maar hierdie album is uit Afrika. Waar anders kan die ‘Pikaninie-wiegelied’ só klink? Die elektroniese inkleding is oorspronklik en luister gerus na die ­onverbeterlike stemkombinasie van Bezuidenhout en Marissa West op die snit ‘Droogte’.”
– Marian Malan, Die Burger