Landskappe in musiek aan ‘n wasgoedlyn

"Wasdag in Observatory, Johannesburg", oil on canvas, 2015, 25x51cm.
“Wasdag in Observatory, Johannesburg”, oil on canvas, 2015, 25x51cm.

“Landskappe kan in olieverf geskilder word, maar ook in musiek uitgebeeld word. Eerskomende Saterdag (20 Februarie) gaan ek Suid-Afrikaanse landskappe saam met ʼn groep musikante wat ek respekteer en mee identifiseer op die verhoog ontgin. Die Wasgoedlyn-projek is een van daardie opwindende Suid-Afrikaanse projekte wat hoë vlakke van kreatiwiteit en professionaliteit met spontaneïteit kombineer. Gewoonlik tree Riku Lätti as ʼn tipe koormeester op. Hy stel die verhoog op en begin dan ʼn aantal musikale gesprekke tussen die kunstenaars. Hy beskyf dit so: ‘Geen twee Wasgoedlynkonserte is dieselfde nie. Daar is wel ‘n paar konstantes: Geen opgesmuktheid, net rou, ongerepte musiek, gespeel deur die skeppers self met die hart op die mou, en voila, ‘n towerwêreld van oorspronklike klank en liriek is telkemale gebore uit die niet.’ Saam met Riku is daar Jackie Lätti, Churchil Naude, Laurinda Hofmeyr, Willim Welsyn en ek, met slegs my kitaar gewapen.” – Andries Bezuidenhout

Waar? Breytenbach-sentrum, Burgerstraat 14, Wellington
Wanneer? Saterdag, 20 Februarie 2016
Hoe laat? 20:00, maar die deure is 19:00 al oop
Skade? R120 om in te kom. Daar’s ʼn splinternuwe verhoog en kroeg!
RSVP? Asseblief, dit help om kratte in die kroeg te tel (en stoele) maar kom gerus op die ingewing van die oomblik. By besprekings@breytenbachsentrum.co.za of by 082 335 3105

Hierdie vertoning is die laaste van ʼn reeks geleenthede wat saam met die groepsuitstalling “Gas” by die Breytenbach-sentrum in Wellington plaasvind. Van my skilderye is saam met werke van Kirby van der Merwe (olieverf op doek en aluminium) en Hanné Koster (fotografie) te sien – tot 3 Maart.

Voorsmaak van Churchil Naude (saam met Riku) op YouTube.